Die Israelse regering het ‘n uiters omstrede voorstel goedgekeur om Christene en Arabiere van hul regte te stroop.
Dié groepe, wat 20% van die bevolking uitmaak, sal dalk binnekort met ‘n mindere status tevrede moet wees.
Dié besluit beteken dat Israel se status as ‘n nasionale tuisland vir die Joodse volk in wetgewing vervat mag word.
Die wetsontwerp, wat die Knesset se goedkeuring vereis, kom te midde van spanning tussen die Israeli’s en Palestyne wat skerp toegeneem het.
Kritici waarsku dat dié besluit veral diskriminasie teen die 1,7 miljoen Arabiese burgers sal wettig, wat spanning verder sal verhoog.
Teenstanders, insluitend ‘n paar ministers, het gesê die nuwe wetgewing definieer “nasionale regte” vir die Jode en nie vir sy minderhede nie.
Hulle het dit veroordeel as rassisties.
Die premier, Benjamin Netanyahu het ook ‘n afsonderlike inisiatief aangekondig om Arabiese inwoners van hul verblyf- en welsynsregte te stroop indien hulle aan betogings deelneem.
Die kabinet het ná ‘n moeilike vergadering die voorstel met 14 stemme teenoor 6 aanvaar.
Onder diegene wat hul teenkanting uitgespreek het, was die minister van finansies, Yair Lapid, wat gesê het hy dink aan die familie van ‘n Christen-polisieman wat verlede week vermoor is in dodelike aanval op ‘n Jerusalem-sinagoge.
“Wat sal ons sy familie vertel? Dat hy ‘n tweede-klas burger in die staat van Israel is?”
Netanyahu het aangevoer dat die wet nodig is, want die gedagte van Israel as ‘n Joodse tuisland word tans uitgedaag.
“Ek verstaan ook nie diegene wat ‘n beroep doen vir twee state nie. Hulle is bly om ‘n Palestynse nasionale staat te erken, maar sterk gekant teen ‘n Joodse nasionale staat,” het hy gesê.
Volgens berigte in die Hebreeuse media, het die Prokureur-generaal, Yehuda Weinstein, ook sy kommer uitgespreek, gedeel deur sommige godsdiensleiers, dat die nuwe wet effektief groter klem op Israel se Joodse karakter plaas ten koste van sy demokratiese aard.
Die nuwe wet sal die Joodse karakter van die staat verskans.
