Vyf bejaardes sterf, drie kritiek na bussie verongeluk

Drie inwoners van die Bult Aftree-oord in Bultfontein in die Vrystaat is in ‘n kritieke toestand in die Mediclinic Bloemfontein.

Dit kom ná ‘n ongeluk Donderdag, waarin ‘n bussie waarin die groep gereis het, omgeslaan het ongeveer 6 km buite Bulftontein.
 
Die inwoners was op pad terug van ‘n uitstappie na Florisbad naby Bloemfontein. Lettie Muller, Daan Minnie, Dinie Aschar en Charlotte Lategan is op die toneel dood.
 
Amanda Appelgryn, woordvoerder van die hospitaal, sê vyf pasiënte is opgeneem.

Die bestuurder van die oord, Gert Bezuidenhout, sê Marie Ehlers is in die hospitaal oorlede.
 
Volgens hom is die bestuurder en ‘n verpleegster wat ook in die bussie gereis het, net lig beseer.

Die bussie is glo van agter deur ‘n bakkie getref. Die bakkie wou verbysteek, maar moes terugval vir ‘n aankomende vragmotor. In die proses het die bakkie die bussie getref.
 
‘n Woordvoerder van Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein het gesê die bestuurder van die bussie, Hendrik Neethling, is reeds ontslaan. Hy het ‘n sny in die kop en sy skouer is beseer.
 
Die verpleegster is getraumatiseer, maar fisies ongedeerd.

Metrobus jaag van brug af

‘n Metrobus het Woensdagoggend deur ‘n brugreling in die Johannesburgse middestad gebars en neus eerste in ‘n pad onder die brug te lande gekom.

Die busbestuurder is beseer, maar nie ernstig nie. Volgens ER24 het die bestuurder matige beserings opgedoen nadat die bus van die Queen Elizabeth-brug af gery het.

Daar was geen passasiers in die bus toe die ongeluk gebeur het nie.

metrobus

Wonderwerk na boot seun se gesig oopkloof

‘n Seun van Centurion het oorleef nadat ‘n boot bo-oor hom gery en verskeie wonde veroorsaak het.

‘n Rubberboot se stuurvin het die gesig van ‘n jong Centurion-seun Saterdag oopgekloof toe hy in ‘n fratsongeluk onder die boot beland het. Hy het ernstige beserings aan sy gesig en lyf opgedoen, het die Centurion Rekord berig.

“Dit is ‘n wonderwerk dat my kind leef,” het Keanu van der Linde (14) se ma, Sonja, Maandag gesê. “Dit kon soveel erger gewees het.”

Keanu, ‘n leerling aan die Cornwall Hill College, het saam met sy broer Wally (18) en hulle twee neefs in ‘n plaasdam naby Standerton, Mpumalanga, van ‘n rubberboot af gehengel toe die ongeluk gebeur het.

Hulle het tydens die skoolvakansie by hul pa op die plaas gekuier.

“Keanu was in die water besig om die visnette uit te trek, toe die boot skielik na die een kant swaai en bo-oor hom vaar,” het Sonja aan Rekord gesê.

“Wally het dadelik in die water gespring, vir Keanu in die boot getel en ys in ‘n handdoek om sy kop gebind. Hy het met sy broer na die naaste hospitaal gejaag om mediese hulp te kry.”

Die rubberboot se stuurvin het die regterkant van Keanu se gesig oopgekloof en ‘n diep wond van sowat 25cm gelaat. Sy bo- en onderkaak en regterwangbeen is ook gebreek.

Die vin het hom agter sy oor getref en sy aorta met ‘n sentimeter gemis.

Keanu het nog ‘n wond tussen sy oë opgedoen en die motorbootskroef het hom ook verskeie kere op die arm gekap en wonde gelaat.

Sonja sê dit is ‘n wonderwerk dat haar seun nie onherstelbare skade of kopbeserings opgedoen het nie.

“Dit is danksy die Here se genade dat hy die fratsongeluk oorleef het,” het sy gesê.

Keanu sterk sedertdien in die hoësorgeenheid van die Little Company of Mary-hospitaal in Groenkloof aan.

Sonja het almal vir hulle bystand en gebede bedank en sê sy is baie dankbaar teenoor haar seun, Wally, wat kalm en beredeneerd opgetree het terwyl hy sy broer se lewe gered het.

Broers sterf in VSA toe hulle trompop bots

Die dag na Kersdag het in ’n nagmerrie ontaard toe drie Suid-Afrikaners, waarvan twee broers is, in ’n trompop botsing in Suid-Dakota in Amerika was.

Een van hulle, Werner (Shoepie) Swart (33), wat saam met sy vriend gery het, is opslag dood.

Volgens die twee broers, MC (33) en Johan (26) Weldon, se oom, mnr. Hercus Mahoney, het Johan eerste in sy bakkie werk toe gery, terwyl MC en Werner eers ’n ruk ná hom gery het.

Daar word vermoed dat Johan ná sy aankoms terug huis toe gery het om suiker te gaan haal.

MC en Werner het in MC se Dodge Ram-bakkie eers in die dorpie Isabel ontbyt gaan koop.

“Die broers het nie geweet hulle sou mekaar om 7vm daardie oggend weer op die plaaspad tegemoet kom nie,” het mnr. Mahoney gesê.

Hul bakkies het op ’n blinde hoogte trompop gebots.

Dandré Schrambriel, hul stiefbroer het beeste gevoer, rook in die lug gesien en hom daarheen gehaas.

Die bakkie waarin MC en Werner was, het aan die brand geslaan en Dandré het Werner en Johan uit hul bakkies gesleep.

MC is uit sy bakkie geslinger. Sy een skouer is vergruis en sy been, kakebeen en bekken is gebreek en hy is tans aan ’n asemhalingstoestel gekoppel. Johan se een arm, sy bekken en albei bene is gebreek en ’n ribbebeen het sy long deurboor.

Mnr. Mahoney het gesê dat dit sleg gaan met MC en dat hy vier dae gelede ook ’n beroerte-aanval gehad het. “Johan herstel vinnig.”

Die broers is in die waakeenhede van onderskeidelik die Sanford- en St. Alexius-hospitaal.Hul ouers is jare gelede dood en hul stiefpa, mnr. Andries Schambriel, het gehelp om hulle groot te maak.

Mnr. Mahoney het gesê dat die drie mans saam as plaaswerkers op die Lindskov Ranch, ’n groot bees- en saaiboerdery in Suid-Dakota gewerk het.“

Johan het reeds drie jaar daar gewerk, MC meer as ’n jaar en Werner slegs sowat twee maande en toe gebeur dié ramp,” het hy gesê.

Die werkgewer van Lindskov Ranch, mnr. Bryce Lindskov, het sy medelye in ’n brief aan Werner se familie uitgespreek.

Werner se roudiens vind op Vrydag, 9 Januarie om 11vm in die Evangelies Gereformeerde Kerk op Kriel plaas.

Bron: Ridge Times

Staat hou Zuma se seun verantwoordelik vir dood van insittende

Die noodlottige ongeluk waarin ‘n swart passasier, Phumzile Dube in Februarie op die M1 by Sandton dood is, is die president se seun se skuld.

Die staat het aangevoer dat Duduzane Zuma, seun van president Jacob Zuma, verantwoordelik is vir dood van ‘n taxi-insittende.

Die getuienisleier, Yusuf Baba het in die geregtelike ondersoek na die ongeluk in die Randburgse landdroshof gesê dat die seun van President Jacob Zuma nie sy spoed in swak weerstoestande verminder het nie.

Volgens hom, kon die ongeluk waarin Zuma met sy luukse motor in die minibus-taxi vasgery het, voorkom gewees het.

Zuma het na bewering met sy motor deur ‘n poel water gery en daarna beheer verloor toe die voertuig gegly het.

Baba sê Zuma het nogtans vinniger as 100 kilometer per uur bly ry ten spyte van swaar reën en swak sig.

Vragmotorbestuurder wat verwoesting op N12 saai, vas

Die bestuurder van die vragmotor wat die ongeluk op die N12 in Alberton veroorsaak het, sal volgens die polisie op vier aanklagte van strafbare manslag in die hof verskyn.

Die 44-jarige bestuurder van die beweerde onpadwaardige vragmotor was glo Dinsdagoggend vir die ongeluk verantwoordelik wat verwoesting op die hoofweg gesaai het.

Kapt. Doniah Mothutsane, polisiewoordvoerder, sê hy staar ‘n klag van strafbare manslag in die gesig.

Eienaars van veroerdienste word oor die algemeen beskuldig van ‘n gebrek aan instandhouding, te lang afstande wat gereis word, en nalatigheid deur vragmotorbestuurders.

Vier mense is dood en nog 17 beseer toe die vragmotor Dinsdag in bykans vyftig voertuie vasgery het.

Die bestuurder is Woensdag in hegtenis geneem en sal in Palm Ridge se landroshof verskyn.

Een van die remme van die vragmotor het glo nie ’n remskoen gehad nie.

Die polisieondersoek gaan nog voort.

Een van die 17 beseerdes is in ’n kritieke toestand in die hospitaal, het Santi Steinman, Netcare 911-woordvoerder, bevestig.

Tien brand dood in gru-ongeluk

witrivierTien mense het Woensdagaand doodgebrand na ‘n botsing tussen ‘n bus, ‘n vragmotor en ‘n derde voertuig op die R40 naby Witrivier in Mpumalanga.

‘n Woordvoerder van die provinsie se Departement van Gemeenskapsveiligheid, Joseph Mabuza, sê tot dusver het die ondersoek daarop gedui dat die vragmotorbestuurder beheer oor sy voertuig verloor en teen ‘n bus en ‘n kleiner voertuig gebots het.

Die slagoffers is glo onherkenbaar verbrand in die ongeluk.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die bus was reeds in vlamme gehul toe noodwerkers op die toneel aankom en brandbestryders het lank gesukkel om die brande te blus.

Meiring het gesê 35 mense is beseer, waarvan 5 passasiers in ‘n kritieke toestand is.

Die beseerdes is na hospitale in die gebied geneem.

‘n Voorlopige ondersoek toon dat die vragmotorbestuurder beheer oor sy voertuig verloor het.

Die Mbombela-munisipaliteit in Mpumalanga het hulle meegevoel betuig met die familie van die slagoffers.

Familie van mense wat vermis word, is gevra om met die polisiestasie op Witrivier in verbinding te tree.

 

Werkers beseer toe visfabriekvloer meegee

eyethu_2‘n Onbekende aantal werkers is beseer toe die vloer van ‘n visfabriek in die hawe in Port Elizabeth in die Oos-Kaap ingetuimel het, het RSG berig.

Meer as 80 fabriekswerkers van Eyethu Fishing het gereed gemaak vir hulle skof toe die vloer waarop hulle gestaan het, ingetuimel en hulle meters ver geval het.

Die beseerdes is Donderddagaand in hospitale in die omgewing opgeneem.

Nooddienste en ambulanse het die beseerdes na hospitale in die omgewing vervoer.

Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie.

Die hawebestuur sal later vandag ‘n verklaring uitreik.

Die Nasionale hawe-owerheid ondersoek tans die oorsaak van die ongeluk.

Zuma spreek sy skok uit na ontploffing op N1 polisielede eis

zuma2President Zuma het sy skok uitgespreek oor die ongeluk waarin vier polisiebeamptes en ‘n bestuurder dood is toe ‘n kleinhandelvragmotor agter in ‘n vragmotor vol plofstof vasgery het.

‘n Deel van die pad, die N1 tussen Polokwane en Mokopane is erg beskadig in ‘n ongeluk waarin vyf mense, insluitend vier polisiebeamptes omgekom het.

Die twee vragmotors het vroeg vanoggend gebots voordat hulle aan die brand geslaan het. Een van die vragmotors het plofstof vervoer.

Die polisiebeamptes is dood terwyl hulle probeer het om ‘n vragmotorbestuurder te red. Meer as ‘n kilometer van die N-1 is afgesper terwyl forensiese ondersoekbeamptes op die toneel is.

Die SABC se verslaggewer op die toneel berig dat daar ‘n groot gat aan een kant van die pad is, en dat struike aan albei kante van die pad afgebrand het.

Drie polisiebeamptes en drie ander motoriste wat in die ongeluk beseer is, is na ‘n hospitaal geneem. Hulle toestand is kritiek.

Die Nasionale Polisiekommisaris, Riah Phiyega, het ook vanoggend op die toneel aangekom

Die provinsiale polisiekommisaris het Phiyega vroeër ingelig oor die ondersoek.

Die oorlewende vragmotorbestuurder en sy veiligheidswag word deur die polisie ondervra.

Die pad sal gesluit bly terwyl die ondersoek voortgaan.

Aanloopbaan by Lanseria gesluit na ongeluk

lanseria‘n Aanloopbaan by die Lanseria-lughawe, noord van Johannesburg, moes tydelik gesluit word nadat die wiele van ‘n vliegtuig se onderstel ingevou het.

‘n Woordvoerder vir Lanseria, Claudette Vianello sê daar was vier mense in die vliegtuig, maar niemand is beseer tydens die voorval nie.

Sy sê die wiele het voor landing wel uitgekom, maar toe ingevou. Die aanloopbaan was vir 45 minute gesluit, maar is nou weer oopgestel.

Burgerlugvaart sal die voorval ondersoek.

Michael Schumacher ernstig beseer in ski-ongeluk

Michael Schumacher besig om te ski
Michael Schumacher besig om te ski

Michael Schumacher, die voormalige Grand Prix-wêreldkampioen en een van die suksesvolste in die geskiedenis van motorsport, verkeer tans in ‘n koma in die hospitaal ná ‘n ski-ongeluk in die Franse Alpe wat gister plaasgevind het.

Die Duitse renjaer, wat 44 jaar oud is en verlede jaar vir die tweede keer uitgetree het, het met sy kop op ‘n rots by die Meribel-skioord geval.

Met sy aankoms by die Universiteitshospitaal van Grenoble, die Franse stad op die Switserse grens, was hy in ‘n koma en het onmiddellike breinchirurgie benodig, luidens ‘n verklaring van die hospitaal. Geen besonderhede oor sy beserings en prognose is egter vrygestel nie.

But doctors haven’t released details about his injuries or his prognosis.

Die direkteur van die oord, Christophe Gernignon-Lecomte, sê die voorval het plaasgevind terwyl Schumacher teen Sondagoggend hors piste, oftewel buite die gemerkte skihange, geski het. Die presiese plek waar hy geval het was tussen die Georges Baduis Piste en die La Biche Piste.

Blykbaar het Schumacher wel ‘n skihelm gedra toe hy sy kop gestam het. Die reddingspan was binne minute by hom, waarna hy per helikopter na ‘n nabygeleë hospitaal geneem is.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie duidelik nie. Volgens die oorddirekteur wag hulle vir die polisieverslag. “Daar is ‘n ondersoek geopen. Ons beklemtoon dat daar geen sneeustorting was nie en dat hy hors piste geski het.”

Schumacher se mediawoordvoerder, Sabine Kehm, het ‘n verklaring op die amptelike F1-webwerf geplaas, waarin sy bevestig dat die ongeluk tydens ‘n “privaatskitog” plaasgevind het.

“Hy is hospitaal toe geneem en ontvang professionele mediese hulp,” sê sy. “Ons vra vir begrip en dat ons nie konstant inligting oor sy gesondheid kan verskaf nie. Hy het ‘n helm gedra en was nie alleen nie. Wat die val betref, was niemand anders betrokke nie.”

Die nooddiens in Meribel het bevestig dat Schumacher ‘n valhelm gedra het. Hy is van die Moutiers-hospitaal na die Grenoble-hospitaal oorgeplaas.

‘n Ander woordvoerder meen dat die besering nie “lewensgevaarlik” is nie en dat Schumacher op die ongelukstoneel by sy bewussyn was. Die voormalige Franse F1-bestuurder, Olivier Panis, het die hospitaal in Grenoble besoek, maar kon nie vir Schumacher te siene kry nie.

“Ek sal môre terugkom. Ja, ek is bekommerd,” het Panis gesê.

Schumacher het in 1996 leer ski toe hy vir Ferrari begin jaag het. Die Italiaanse renspan het jaarliks ‘n mediageleentheid in die Alpe gehou. Schumacher het vinnig leer ski en van toe af telkens ‘n vriendskaplike skiren gewen.

Volgens een joernalis kon die “aangebore vreesloosheid” van die Formule-renjaer hom egter verlei het om te vinnig te probeer ski.

Polisie ondersoek dood van paartjie in Noord-Kaapse motorongeluk

roadsouthafricaDie Kimberleyse polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag ná ‘n ongeluk wat ongeveer 20 km buite Kimberley op die Barkley-Wes-pad plaasgevind het. Die manlike bestuurder (27) en sy vroulike passasier was blykbaar in die rigting van Barkly-Wes onderweg na Kimberley in ‘n wit Audi A3.

Na bewering het die bestuurder omstreeks 00:20 op Maandag 16 Desember beheer oor die voertuig verloor, waarna dit deur ‘n heining aan die regterkant van die pad gebreek en etlike meter ver in veld in gerol het. Die bestuurder is uit die voertuig geslinger en sowel hy as sy passassier is op die toneel dood. Die twee oorledenes het alleen gereis en daarom kan hul identiteit nie tans bekendgemaak word alvorens die naastebestaandes in kennis gestel is nie.

Alle inligting aangaande die voorval kan aan Speurkonstabel Gwyneth Paulsen by 082 302 0407 oorgedra word. Volgens die polisie gaan die ondersoek voort. – praag en polisieverklarring

‘Heks’ gejag na Moloto-ongeluk

Molotopad
Molotopadblokkade

Die polisie in Mpumalanga moes ‘n bejaarde swartvrou na veiligheid bring om haar te beskerm teen ‘n woedende skare.

Inwoners van Waterval het gedreig om haar lewendig te verbrand.

Hulle sê die vrou is ‘n heks en verantwoordelik vir die tragiese busongeluk op die Molotopad twee weke gelede. Dertig mense is dood in die ongeluk met ‘n bus en twee vragmotors.

Een van die Molotopadgebruikers, Anastacia Terane, het aan IOL gesê die oorsake van ongelukke op dié, sowel as ander paaie, word toegeskryf aan toordery en geheimsinnige verskynings wat oor die pad kom en bestuurders verlei.

Sy meen dit is omdat Suid-Afrika nog nie verander het na Apartheid nie, en mense steeds openbare vervoer moet gebruik om te gaan werk. Sy sê die bestuurders is ook oormoeg.

Gebedsessies is reeds voorheen gehou op die Molotopad om die voortgesette slagting te verminder.

Die inwoners het die bejaarde vrou se huis afgebrand en die polisie moes haar inderhaas na veiligheid bring nadat die skare aangedring het dat sy die bestuurder getoor het.

Die aanval op die bejaarde kom nadat talle Putcobusse, geskut is in ‘n gesamentlike-multi-dissiplinêre padblokkade op die Molotopad buite Pretoria.

Honderde pendelaars was gestrand as gevolg van die operasie en dié stap het waarskynlik gemoedere verder opgejaag.

Die minister van vervoer, Dipuo Peters het polisie en verkeersbeamptes vergesel by die padblokkade, voordat sy ‘n aankondiging oor die e-tolstelsel verlede Woensdag gemaak het.

Peters sê die operasie sal voortgaan op verskeie plekke: “Ons sal op strategiese punte wees om seker te maak dat ons kyk padwaardigheid van voertuie, soos na die lisensievoorwaardes van bestuurders en seker maak dat motoriste die korrekte permit het om op die pad te wees. Ons wil ook seker maak dat ons met die passasiers in aanraking kom en hulle bewus maak van die feit dat dit ook hul verantwoordelikheid is om hul bestemming in een stuk te bereik.”

Twee kritiek na hyskraan-ongeluk in Pretoria

erTwee mense is ernstig beseer en nog drie het ligte beserings opgedoen toe ‘n hyskraan in die ooste van Pretoria teen drie voertuie gebots het.

Die ongeluk het op die hoek van Solomon Mahlangu- en Garsfontein-rylaan plaasgevind.

Volgens die nooddienste het die bestuurder beheer oor die hyskraan verloor toe die remme waarskynlik onklaar geraak het. 

Dit het deur die omheinings van twee huise gebars en in ‘n sloot tot stilstand gekom. 

Die hyskraanbestuurder en ‘n motoris is in ‘n kritieke toestand. 

Die nooddienste het gevra dat mense die gebied vir die volgende uur moet vermy. – Sapa