Vyf bejaardes sterf, drie kritiek na bussie verongeluk

Drie inwoners van die Bult Aftree-oord in Bultfontein in die Vrystaat is in ‘n kritieke toestand in die Mediclinic Bloemfontein.

Dit kom ná ‘n ongeluk Donderdag, waarin ‘n bussie waarin die groep gereis het, omgeslaan het ongeveer 6 km buite Bulftontein.
 
Die inwoners was op pad terug van ‘n uitstappie na Florisbad naby Bloemfontein. Lettie Muller, Daan Minnie, Dinie Aschar en Charlotte Lategan is op die toneel dood.
 
Amanda Appelgryn, woordvoerder van die hospitaal, sê vyf pasiënte is opgeneem.

Die bestuurder van die oord, Gert Bezuidenhout, sê Marie Ehlers is in die hospitaal oorlede.
 
Volgens hom is die bestuurder en ‘n verpleegster wat ook in die bussie gereis het, net lig beseer.

Die bussie is glo van agter deur ‘n bakkie getref. Die bakkie wou verbysteek, maar moes terugval vir ‘n aankomende vragmotor. In die proses het die bakkie die bussie getref.
 
‘n Woordvoerder van Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein het gesê die bestuurder van die bussie, Hendrik Neethling, is reeds ontslaan. Hy het ‘n sny in die kop en sy skouer is beseer.
 
Die verpleegster is getraumatiseer, maar fisies ongedeerd.