Turkse premier prys Facebook-stigter Zuckerberg

Die Turkse president Erdogan het Donderdag die stigter van Facebook, Mark Zuckerberg geprys vir die klem wat Zuckerberg plaas op die verskil tussen Islam en terreur.

Hy het ‘n boodskap aan die miljardêr gestuur ter ondersteuning omdat hy Moslems teen diskriminasie beskerm.

Erdogan, wat voorheen gedreig het om Facebook te verbied in sy land, het sy amptelike webwerf gebruik om te reageer op Zuckerberg, in Turks sowel as in Engels.

“Ek het baie waardering vir Mark Zuckerberg se boodskap wat die groot verskil tussen Islam en terrorisme uitwys, aangesien hierdie twee konsepte dikwels in dieselfde asem genoem word deesdae,” het hy geskryf.

“Islam is ‘n godsdiens van vrede.”

Erdogan is onlangs deur die Russiese president daarvan beskuldig dat hy direk meewerk om ISIS, die Islamitiese staat, te befonds.

Die ondersteunende boodskap kom net dae nadat die Republikeinse presidensiële kandidaat Donald Trump internasionale verontwaardiging uitgelok het deur ‘n verbod te vra op Moslems wat reis na die Verenigde State van Amerika.

Erdogan, wat in Augustus herverkies is as Turkye se premier nadat hy reeds vir meer as ‘n dekade aan bewind was, het voorheen geen geheim van sy minagting vir sosiale media gemaak nie.

Die regering het Twitter en YouTube dae voor Maart 2014 se plaaslike verkiesings geblokkeer nadat nuus van ‘n beweerde korrupsieskandaal versprei is.

Maar die Turkse leier wat glo Ottomaans in skole wil inbring, het sy standpunte effens versag in die afgelope tyd.

Ottomaans, terloops, is Turks wat in Arabiese skrif geskryf word, anders as Turks wat vandag mbv ‘n Westerse alfabet geskryf word.

Sy amptelike Facebook-bladsy plaas deesdae gereeld sy toesprake en verklarings.

Trump stel sy besoek aan Israel af

Die handskoene is af in die stryd tussen ‘n Amerikaanse presidentskandidaat en Israel.

Politici in Israel het Woensdag hul regering gevra om Donald Trump, voorloper in die Republikeinse Party se benoemingstryd vir 2016 se presidentsverkiesing, die land te verbied.

“Ek beveel aan dat teen terroriste en ekstremistiese Islam geveg word, maar ek sou nie ’n boikot van, verwerping van of oorlog teen Moslems in die algemeen verklaar nie,” het Yuval Steinitz, minister van energie, aan Army Radio in Israel gesê.

Benyamin Netanyahu, Israeliese premier, het ook Trump se opmerkings dat Moslems verbied moet word om na die VSA te reis, in ’n verklaring skerp veroordeel.

“Israel respekteer alle gelowe en beskerm die regte van sy burgers met ywer,” het hy gesê.

Trump het intussen getwiet dat hy eers besoek sal bring aan Israel nadat hy tot Amerikaanse president verkies is. Na wat berig word het Trump beplan om die Tempelberg te besoek.

Trump se voorneme om Israel te besoek het konsternasie by Joodse leiers veroorsaak wat in ‘n felle stryd teen Palestyne gewikkel is en daarvan beskuldig word dat hulle onverpoos ‘n ongenaakbare veldtog teen Arabiese Moslems, ook vroue en kinders, voer.

Trump se anti-Moslemuitsprake het hom intussen ’n eredoktorsgraad van ’n Skotse universiteit gekos.

Die Robert Gordon University in Aberdeen, Skotland, het ’n eredoktorsgraad wat in 2010 aan Trump toegeken was, teruggetrek.

Die universiteit het getwiet Trump se stelling is “totaal in stryd met die etos en waardes van die universiteit”.

Die Landmark-groep, een van die grootste kleinhandelmaatskappye in die Midde-Ooste, gaan glo alle “Trump Home”-handelsware van hul rakke verwyder uit protes teen Trump se uitlatings.

Griekse polisie skuif migrante na skermutselinge uitbreek

Die Griekse polisie moes inderhaas Woensdag 2300 migrante wat gestrand was vir drie weke lank by die grens met Masedonië na Athene verskuif weens oplaaiende spanning. Die fortuinsoekers hoop op asiel in Noord-Europa.

Skermutselinge het uitgebreek, alhoewel nie op die skaal van die onlangse botsings tussen die polisie en die migrante nie, wat die owerhede genoop het om die toestand te probeer ontlont.

Die fortuinsoekers is meestal uit Pakistan, Marokko, Algerië en Somalië waar daar geen konflikte is nie.

Hulle is eers in tente gehuisves in ysige toestande naby die dorp van Idomeni.

Toue mense het saamgedrom om kos te ontvang, wat deur liefdadigheidsorganisasies beskikbaar gestel word, by die vlugtelingkamp naby die noordelike Griekse dorp.

Masedoniese owerhede laat net vlugtelinge uit Sirië, Afganistan en Irak toe om die grens na hul land oor te steek.

Die Griekse polisie sê ongeveer 1 400 migrante van ander nasionaliteite is op die Grieks-Masedoniese grens gestrand en slaap in skuilings wat deur welsynsorganisasies verskaf word.

Die verdinking van ‘n Siriese vrou en haar sewe kinders in die Egeïese See het intussen die nuus gehaal om anti-immigrasiesteun te probeer keer.

Dit is die jongste tragedie wat voorgehou word sodat medelye gewek kan word vir diesulkes wat poog om Griekeland vanaf Turkye te bereik.

Die vrou se man het die bootvaart oorleef. Die Asago-familie het blykbaar van die Islamitiese Staat gevlug. Sewentien mense het reeds vandeesweek naby Turkye verdrink.

Franse verkiesing: Sosialis speel die ‘rassekaart’

Claude Bartolone, die Sosialistiese kandidaat vir die Île-de-France, die streek van 15 miljoen mense wat die hoofstad Parys insluit, het die “rassekaart” gespeel. In ‘n onderhoud met die linkse tydskrif Le nouvel observateur het hy sy opponent van die sentrum-regse Republikeine, Valérie Pécresse, daarvan beskuldig dat sy “agteraf Versailles, Neuilly en die blanke ras verdedig… Sy gebruik dieselfde taal as die Front National, sy gebruik dieselfde subliminale beeld om vrees te saai.” Versailles en Neuilly is albei duur, welgestelde voorstede van Parys wat deur blanke Franse bewoon word, terwyl Bartolone ‘n verteenwoordiger van die gekleurde buurt Seine-Saint-Denis ten noorde van Parys is.

In reaksie het die kandidaat van die Front National, Wallerand de Saint-Just volgens die TV-kanaal BFMTV gesê: “Ons verwerp die buitensporige en kinderagtige beskuldigings van meneer Bartolone. Niemand praat oor ras in dié veldtog nie.”

Valérie Pécresse, wat in die eerste rondte die meeste stemme in die Ile-de-France gekry het, is egter hewig onsteld deur Bartolone, wat van Italiaanse afkoms is, se uitlatings. Sy het op Radio classique gesê:

“Dis ellendig. Ek is skaam vir politiek. As die middele die doel heilig, dink ek die Fransiliane (inwoners van die streek) sal dit straf. Dié verklarings wat my van rassisme beskuldig het ‘n reeks reaksies ontketen. Ek het so pas ‘n telefoonoproep van Calixthe Bevala, die stigter van Africains de France (en ‘n swart skryfster) ontvang, wat my ondersteun. Sy het teenoor my gesê: “Ek vind dit ongevraag, oneerlik, dis verguising.”

‘Die afstammeling van Mussolini en Eva Braun?’

Pécresse het ondersteuning van haar party ontvang, wat ook ‘n verskoning van Bartolone eis. Haar woordvoerder Geoffroy Didier het verklaar:

“Nie net behoort Claude Bartolone nie president van die streek te word nie, maar hy is nie gepas om aan te bly as president van die Nasionale Vergadering (die Franse parlement) nie. Hy verloën reeds sy beloftes: terwyl die slagspreuk van sy veldtog ‘n “menslike Île-de-France” is, gee hy hom oor aan aanvalle wat van haat spreek.”

Die voorsitter van die UDI-party, Jean-Christophe Lagarde, is van mening dat “Claude Bartolone oorverhit is. Hy doen ‘n beroep op kiesers om vir Xavier Bertrand (teen Marine Le Pen in Nord-Pas-de-Calais-Picardie) en Christian Estrosi (in PACA) te stem om die Front National te versper. Hy verduidelik dat regs en verregs nie dieselfde ding is nie. En in die Île-de-France wil hy die indruk skep dat Valérie Pécresse die afstammeling van Mussolini en Eva Braun is? Ek eis van hom dat hy om verskoning vra en terugtrek wat hy gesê het… Die vrees om te verloor regverdig nie sommer enigiets nie. Ons moet mekaar respekteer.”

Intussen het die sentrum-regse koerant ‘n meningsopname van Ipsos gepubliseer wat bevind dat Marine Le Pen slegs 47% stemme teenoor Xavier Bertrand se 53% Sondag in die tweede rondte gaan behaal, wat sou beteken dat die gesamentlike Links-Regse front teen haar daarin kan slaag om haar uit die presidentstoel van Nord-Pas-de-Calais-Picardie te hou. In die verlede het meningsopnames egter die omvang van die Front National se steun onderskat. Ook geniet die FN die meeste steun onder jongmense wat gewoonlik traag is om te stem. Indien die Front daarin slaag om genoeg jongmense na die stembusse te lok, kan hy steeds die knoop deurhaak, volgens sommige waarnemers.

Die sakekoerant Les Echos staan ook skepties teenoor die meningsopname en meen die “republikeinse front” van Links en Regs teen Marine Le Pen, is reeds besig “om te kraak”, waarvan Bartolone se rassismebeskuldiging ‘n voorbeeld sou wees.

Volgens die koerant se politieke rubriekskryfster, Cécile Cornudet, “kry ‘n mens drie dae na die FN se 28% tydens die eerste rondte van die streeksverkiesings die indruk van ‘n ‘red wat daar te redde is’ by die hoofstroompartye, waar bitterheid en weerwraak oorheers”. Sy wys op die verdeeldheid van beide die regse en die linkse partye, terwyl die Front National as die opkomende party verenig in sy strewe en waardes is.

Terroris van aanval op universiteit vas

‘n Amerikaans-gebore Islamitiese rebel wat vermoedelik een van die aanhitsers was van die terreuraanval op die Garissa-universiteit in Kenia vroeër vanjaar, het homself die naweek aan die Somaliese weermag oorgegee.

Abdimalik Jones het onlangs weggebreek van al-Sjabaab om aan te sluit by vegters wat die Islamitiese Staat (ISIS) ondersteun, het dpa berig.

Somaliese soldate het hom gevind waar hy naby die hawestad Barawe in die Laer Shabelle-streek weggekruip het. Hy is beveel om homself oor te gee.

Sowat 148 mense, meestal studente, is dood toe al-Sjabaab-militante in April op die kampus in die noordooste van Kenia toegeslaan het.

Jones sal na Mogadisjoe geneem word waar hy verder ondersoek sal word.

Histerie bars los na Trump se oproep om Moslems na VSA te verbied

Donald Trump het Maandag op ‘n verkiesingsaamtrek in Suid-Carolina staatgemaak op Amerikaanse wetgewing wat Moslemimmigrante na die VSA verbied.

‘n Amerikaanse Openbare Wet 414, hoofstuk 2, artikel 212, bepaal dat enige potensiële immigrant wat geaffilieer is met enige organisasie of groep wat die vernietiging of omverwerping van die Amerikaanse staat vra, deur die wet verbied word om na die VSA te immigreer.

In die Midde-Ooste preek Imams gereeld teen die groot Satan nadat die VSA verskeie Moslemlande binnegeval geval het oor die afgelope dekade.

Die Republikeine se presidensiële kandidaat het ook mediamagnaat Rupert Murdoch se opmerkings oor Moslems met sy meer as vyf miljoen volgelinge gedeel.

Murdoch het oor Trump se oproep dat Moslems nie toegelaat behoort te word in die VSA nie, gesê dit maak sin om ‘n “volledige pouse” in die toelating van Moslems na die Verenigde State af te kondig.

Linkses en Demokrate het geskuim om die mond oor Trump se voorstel en losgetrek teen Amerika se “rassistiese” wetgewing wat Chinese immigrante voorheen uitgesluit het.

Josh Earnest, woordvoerder van die Withuis, het namens die huidige president verklaar dat Trump sy uittrede uit die benoemingstryd behoort aan te kondig. Earnest het sonder ironie na Trump se “vals hare” verwys as ‘n diskwalifiserende kwessie.

Die Moslem-egpaar, Syed Rizwan Farook en Tashfeen Malik, het verlede week 14 mense in San Bernardino, Kalifornië, doodgeskiet. Malik was glo ‘n ISIS-simpatiseerder.

Trump het voorgestel dat alle Moslems, selfs dié wat in die VSA gebore is en oorsee reis, toegang tot die land geweier behoort te word “tot ons land se verteenwoordigers kan vasstel wat de hel aangaan”.

“Tot ons in staat is om die probleem en die gevaarlike bedreiging wat dit inhou te bepaal en te verstaan, kan ons land nie die prooi wees van afskuwelike aanvalle deur mense wat geen respek vir die lewe het nie,” het Trump gesê.

Hillary Clinton, voorloper in die Demokratiese Party se benoemingstryd, het op Twitter uitgevaar teen Trump se voorstel as “verwerplik, bevooroordeeld en verdelend”.

Jeb Bush, ‘n kandidaat vir die Republikeinse Party se benoeming, het getwiet: “Donald Trump is mal. Sy beleidsvoorstelle is nie ernstig nie.”

Armanatha Nasir, woordvoerder van Indonesië se departement van buitelandse sake, het gesê sy regering gaan nie kommentaar lewer op verkiesingsveldtogte in ander lande nie, “maar as die land met die grootste Moslembevolking ter wêreld wil Indonesië bevestig dat Islam vrede en verdraagsaamheid bepleit.”

Die VN het weer sy sekretaris-generaal, Ban Ki Moon, se standpunt oor xenofobie op grond van ras of godsdiens herhaal.

`n Woordvoerder van die VN het reageer op Trump se voorstel na aanleiding van die terreuraanval in San Bernardino in Kalifornië.

Een van Ban Ki-Moon se woordvoerders, Farhan Haq, sê hulle is bewus van die verskillende politieke veldtogte, maar glo nie dat enige vorm van xenofobie of haatspraak teen `n spesifieke groep deur enigiemand gesteun kan word nie.

Maar die skerpste reaksie het gekom uit Brittanje waar selfs die Britse premier losgetrek het teen Trump.

David Cameron het die gebruik van Britse leiers om nie kommentaar te lewer op Amerikaanse presidensiële aanspraakmakers nie, laat vaar en Trump openlik gekritiseer as “verdelend, onbehulpsaam en eenvoudig verkeerd”.

Trump het vroeër na Londen verwys as een van die stede waar wetstoepassers dit nie waag in sekere Moslemdele van die stad nie.

Oproepe om Trump te verbied om die VK te besoek het 20.000 handtekeninge op ‘n petisie ingesamel binne ‘n paar uur.

Frankryk raak al hoe vlootblouer: Marine Le Pen sit geen voet verkeerd in aanloop tot 2de rondte

Die opstand van die kiesers teen hul eie politici, gelei deur Marine Le Pen van die Front National, is steeds in volle swang in die aanloop tot die tweede rondte van die streeksverkiesings in Frankryk. Gisteraand het ‘n kandidaat van die linkse Groen-ekologiese party tydens ‘n bespreking op BFMTV erken dat daar ‘n “kloof tussen ons politici en die volk bestaan”. Dit is juis hierdie kloof tussen kiesers en ‘n bedorwe “politieke klas” van politici, wat net in hul eie posisies belangstel, wat die meteoriese opgang van die Front National voed.

Marine Le Pen het ook gisteraand ‘n hele vyf minute lank op die land se grootste TV-kanaal, TF1, verskyn en moeilike vrae van die nuusleser foutloos beantwoord. Gevra of daar “twee faksies” in haar party is, ‘n Christelike en ‘n sekulêre faksie, het sy die bestaan van enige verskille ontken. Die vraag is gevra na aanleiding van haar niggie, Marion Maréchal-Le Pen, die kandidaat in die PACA-streek (Provence-Alpes-Côte d’Azur) wat onlangs gesê het dat Moslems die Griekse en Latynse kultuur, asook “sestien eeue van Christendom in Frankryk” moet aanvaar, wat hewige en selfs histeriese kritiek vanuit linkse en Sosialistiese kringe ontketen het. Die voormalige Sosialistiese minister van kultuur, Jack Lang, waarmee die Afrikaanse digter Breyten Breytenbach op ‘n stadium bevriend was, het teen Maréchal-Le Pen se “onnoselheid en jammerlike onkunde oor die land en fanatisme” uitgevaar.

Lang, ‘n Franse Jood, is tans voorsitter van die Instituut vir die Arabiese Wêreld in Parys, ‘n museum en biblioteek wat aan Arabiese kultuur en Islam gewy is. Volgens die Franse Huffington Post het Jack Lang gesê:

“Haar oorlogsverklaring teen Moslems is terselfdertyd ‘n belediging vir die Franse nasie wat geslag vir geslag deur die aankoms van verskeie godsdienste gevorm en verryk is, asook vir die burgers wat nie glo nie… Om die geskiedenis van Frankryk met die kroningsritueel van Reims te verbind, getuig van ‘n onnoselheid, ‘n jammerlike onkunde oor die land, asook fanatisme.”

Marine Le Pen het gisteraand op TF1 gesê dat sy in die noordelike Nord-Pas-de-Calais-Picardie-streek waar sy haarself verkiesbaar stel as “streekspresident van al die inwoners, van watter godsdiens of politieke oortuiging ook al” gaan regeer. Volgens haar moet “al die politieke denkrigtings” op die streeksraad verteenwoordig wees, iets wat nou onmoontlik gaan wees aangesien die Sosialistiese Party se Pierre de Saintignon en sy hele kandidaatlys aan die tweede rondte in dié streek onttrek het om die regse kandidaat, Xavier Bertrand van die Republikeine, ‘n beter kans te bied om Le Pen te klop.

Tydens die eerste rondte het sy egter ver voorgeloop en die verwagting is dat sy en haar niggie heel waarskynlik die noordelike en suidelike streke waar hulle verkiesbaar is, gaan inpalm. Die amptelike uitslae van die verkiesing tydens die eerste rondte in die noordelike streek lyk só:

Party                           Kandidaat                                   Stemme            Persentasie

Front National          Mme Marine LE PEN              909 009            40,64%

Union de la Droite   M. Xavier BERTRAND            558 359             24,96%

Union de la Gauche M. Pierre DE SAINTIGNON  405 189              18,12%

Parti communiste français M. Fabien ROUSSEL   119 084              5,32%

EELV et gauche       Mme Sandrine ROUSSEAU   108 005              4,83%

Debout la France     M. Jean-Philippe TANGUY     53 360                2,39%

Extrême gauche      M. Eric PECQUEUR                  39 039                1,75%

Divers droite           M. Sylvain BLONDEL                30 325                1,36%

Divers                       M. Eric MASCARO                    14 353                  0,64%

Marine Le Pen beskuldig die Sosialistiese Party daarvan dat hulle hul kiesers as “stemvee” beskou wat hulle eers nodig gehad het en nou tydens die tweede rondte “wegstuur”.

 

ISIS aanvaar verantwoordelikheid vir bomaanval in Jemen

Die goewerneur van Aden in Jemen is Sondag dood in ’n motorbomontploffing waarvoor die Islamitiese Staat-groep (ISIS) verantwoordelikheid aanvaar het.

Die aanval het plaasgevind in Jemen se suidelike hawestad, waarheen pres. Abd-Rabbu Mansour Hadi teruggekeer het om toesig oor die oorlog teen die Iran-geallieerde Houthis te hou.

’n Plaaslike woordvoerder sê minstens ses lede van genl. Jaafar Mohammed Saad se gevolg is ook in die aanval dood.
Verskeie mense is in die voorval beseer.

Die gebied is beskou as ‘n vesting van die regering wat deur Saoedi-Arabië gesteun word nadat dié land in Maart ‘n oorlog verklaar het teen wat hulle beskou as Iran se invloed.

Trump wil Moslems na VSA verbied

Die opkomende Republikeinse presidentskandidaat in die VSA, die sakeman Donald Trump het ‘n oproep om die totale verbod op die toelating van Moslems in die land gedoen.

Trump het sy oproep verdedig onder luide toejuiging by ‘n saamtrek op die USS Yorktown in Mount Pleasant toe hy gesê het: “Ons het geen idee of hulle van ons hou of ons haat nie.”

“Ons is buite beheer; ons het geen idee wat in ons land inkom nie,” het Trump gesê by die byeenkoms in Suid-Carolina. “Ek wil hê ISIS moet oorgee.”

Trump het gesê hy het na President Obama se toespraak Sondagaand gekyk en die president lyk asof “hy nie weet hoekom hy daar was nie. Hy weier om die term ‘radikale Islamitiese terrorisme’ te gebruik. Hy[Obama] weet nie wat de hel aangaan nie”.

Trump sê tot die land se leiers kan bepaal wat, soos hy dit stel, die omvang die terreurprobleem is, moet Moslems die land verbied word. Hy sê hulle respekteer nie lewe nie.

Trump se oproep is in skrille kontras met die president Barack Obama se oproep Maandag dat die land hom nie skuldig moet maak aan “diskriminasie” nie.

Obama se oproep was in reaksie op die aanval by San Bernardino in Kalifornië waarin veertien mense doodgeskiet is deur ‘n Moslemegpaar. Die vrou het glo bande met ISIS gehad.

Obama sê die terreuraanval in San Bernadino kan nie beskou word as deel van ISIS se aanslag nie omdat daar nog nie genoeg inligting beskikbaar is nie.

Die FBI het intussen bevestig dat hulle die aanval as ‘n terreuraanslag ondersoek.

Obama het gesê om die stryd teen terreur te wen, moet Moslemgemeenskappe se samewerking gewen word, eerder as om hulle met agterdog en haat te verstoot.

Jane’s IHS meen ISIS ly verliese

Ontleding van oopbroninligting, wat sosiale media insluit, deur die Britse Jane’s IHS-span het beraam dat die totale maandelikse inkomste van die Islamitiese staat tot laat in 2015 nog $80 miljoen beloop het, maar dat hulle verliese ly weens bomaanvalle deur Rusland.

Die grootste bedrae, sowat 50 persent, kom uit belasting en konfiskering, terwyl ongeveer 43 persent afkomstig is van oliesmokkel. Dwelmsmokkelary, die verkoop van elektrisiteit en skenkings sorg vir die res.

Die sowat 80 miljoen dollar wat ISIS per maand ontvang, is dus grotendeels van belasting wat afgedwing word en beslaglegging in gebiede onder die groep se beheer.

Die inkomste uit oliehandel word deur Turkye gewaarborg wat die roete waardeur die olie vervoer word, bied.

ISIS se finansiële hulpbronne stel terroriste in staat om ‘n gedugte bedreiging vir Westerse lande te wees.

Die smokkel van antieke goedere, ander misdaad en buitelandse donateurs uit Saoedi-Arabië en Katar dra volgens die verslag ook by die geldkas.

Daar is vroeë aanduidings dat die groep sukkel om sy begroting te balanseer, met die verslae van salarisse van sy vegters verminder is, prysstygings van elektrisiteit en ander basiese dienste aangekondig is, en die bekendstelling van ‘n nuwe landboubelasting.

Beramings is moeilik gegewe die groep se gedesentraliseerde aard.

‘n Financial Times-ondersoek in Oktober het ISIS se olie-inkomste op sowat $1.5 miljoen dag gestel, terwyl die IHS meen dit is nader aan $1.1 miljoen dag.