Frankryk raak al hoe vlootblouer: Marine Le Pen sit geen voet verkeerd in aanloop tot 2de rondte

Die opstand van die kiesers teen hul eie politici, gelei deur Marine Le Pen van die Front National, is steeds in volle swang in die aanloop tot die tweede rondte van die streeksverkiesings in Frankryk. Gisteraand het ‘n kandidaat van die linkse Groen-ekologiese party tydens ‘n bespreking op BFMTV erken dat daar ‘n “kloof tussen ons politici en die volk bestaan”. Dit is juis hierdie kloof tussen kiesers en ‘n bedorwe “politieke klas” van politici, wat net in hul eie posisies belangstel, wat die meteoriese opgang van die Front National voed.

Marine Le Pen het ook gisteraand ‘n hele vyf minute lank op die land se grootste TV-kanaal, TF1, verskyn en moeilike vrae van die nuusleser foutloos beantwoord. Gevra of daar “twee faksies” in haar party is, ‘n Christelike en ‘n sekulêre faksie, het sy die bestaan van enige verskille ontken. Die vraag is gevra na aanleiding van haar niggie, Marion Maréchal-Le Pen, die kandidaat in die PACA-streek (Provence-Alpes-Côte d’Azur) wat onlangs gesê het dat Moslems die Griekse en Latynse kultuur, asook “sestien eeue van Christendom in Frankryk” moet aanvaar, wat hewige en selfs histeriese kritiek vanuit linkse en Sosialistiese kringe ontketen het. Die voormalige Sosialistiese minister van kultuur, Jack Lang, waarmee die Afrikaanse digter Breyten Breytenbach op ‘n stadium bevriend was, het teen Maréchal-Le Pen se “onnoselheid en jammerlike onkunde oor die land en fanatisme” uitgevaar.

Lang, ‘n Franse Jood, is tans voorsitter van die Instituut vir die Arabiese Wêreld in Parys, ‘n museum en biblioteek wat aan Arabiese kultuur en Islam gewy is. Volgens die Franse Huffington Post het Jack Lang gesê:

“Haar oorlogsverklaring teen Moslems is terselfdertyd ‘n belediging vir die Franse nasie wat geslag vir geslag deur die aankoms van verskeie godsdienste gevorm en verryk is, asook vir die burgers wat nie glo nie… Om die geskiedenis van Frankryk met die kroningsritueel van Reims te verbind, getuig van ‘n onnoselheid, ‘n jammerlike onkunde oor die land, asook fanatisme.”

Marine Le Pen het gisteraand op TF1 gesê dat sy in die noordelike Nord-Pas-de-Calais-Picardie-streek waar sy haarself verkiesbaar stel as “streekspresident van al die inwoners, van watter godsdiens of politieke oortuiging ook al” gaan regeer. Volgens haar moet “al die politieke denkrigtings” op die streeksraad verteenwoordig wees, iets wat nou onmoontlik gaan wees aangesien die Sosialistiese Party se Pierre de Saintignon en sy hele kandidaatlys aan die tweede rondte in dié streek onttrek het om die regse kandidaat, Xavier Bertrand van die Republikeine, ‘n beter kans te bied om Le Pen te klop.

Tydens die eerste rondte het sy egter ver voorgeloop en die verwagting is dat sy en haar niggie heel waarskynlik die noordelike en suidelike streke waar hulle verkiesbaar is, gaan inpalm. Die amptelike uitslae van die verkiesing tydens die eerste rondte in die noordelike streek lyk só:

Party                           Kandidaat                                   Stemme            Persentasie

Front National          Mme Marine LE PEN              909 009            40,64%

Union de la Droite   M. Xavier BERTRAND            558 359             24,96%

Union de la Gauche M. Pierre DE SAINTIGNON  405 189              18,12%

Parti communiste français M. Fabien ROUSSEL   119 084              5,32%

EELV et gauche       Mme Sandrine ROUSSEAU   108 005              4,83%

Debout la France     M. Jean-Philippe TANGUY     53 360                2,39%

Extrême gauche      M. Eric PECQUEUR                  39 039                1,75%

Divers droite           M. Sylvain BLONDEL                30 325                1,36%

Divers                       M. Eric MASCARO                    14 353                  0,64%

Marine Le Pen beskuldig die Sosialistiese Party daarvan dat hulle hul kiesers as “stemvee” beskou wat hulle eers nodig gehad het en nou tydens die tweede rondte “wegstuur”.