Clinton uitgevang dat sy lieg oor Benghazi

Die konserwatiewe groep Judicial Watch het dokumente vrygestel wat verband hou met die aanval in Benghazi op 11 September 2012, waartydens ‘n Amerikaanse ambassadeur en ‘n paar CIA-grootkoppe vermoor is.

Die dokumente bewys dat die Obama-administrasie en in besonder Hillary Clinton geweet dat die aanval in Benghazi deel was van ‘n Al-Qaeda-operasie.

Clinton en die Obama-administrasie het in die openbaar beweer die aanval was in reaksie op ‘n anti-Moslem film wat op die Internet versprei is.

Judicial Watch het telefoontranskripsies van die aand van 11 September 2012 vrygestel waarin die destydse minister van buitelandse sake Hillary Clinton die destydse Egiptiese premier Hisham Kandil vertel die terreuraanval “het niks te doen met die film nie”.

Clinton het ook haar dogter ingelig per e-pos dat die aanval deur ‘n “Al-Qaeda-agtige groep” uitgevoer is.

Die Amerikaanse administrasie kon dit nie erken nie, aangesien hulle besig was om die terreurgroep te befonds om ‘n staatsgreep in Sirië te gaan uitvoer.

Net ure voordat die ambassadeur vermoor is, het hy gesprekke met ‘n Turkse verteenwoordiger gehad wat die Siriese operasie sou bestuur. Clinton kon nie bekostig dat dit op die lappe kom nie.

Opposisie stook rewolusie na oproermaker in aanhouding sterf

Die leier van Gambië se sterkste opposisieparty is Saterdag ná ’n tweede ronde betogings in dié land in hegtenis geneem.

Die opposisie stook ‘n rewolusie in die land.

Lede van die opposisieparty eis antwoorde oor die dood van een van die party se leiers terwyl hy in aanhouding was.

Intussen is twee ander ook glo in aanhouding dood, maar Reuters kon nie die name verskaf nie.

Die United Democratic Party (UDP) se leier, Ousainou Darboe, ’n menseregte-advokaat, is saam met drie ander partyleiers deur die polisie weggelei kort nadat hulle met ’n protesoptog vanaf sy huis in die hoofstad, Banjoel, begin het.

Veiligheidsmagte gewapen met aanvalsgewere, het volgens ooggetuies die betogers met traangas bestook.

“Ousainou Darboe en ander senior uitvoerende lede is in hegtenis en verskeie mense is aangerand,” het Modou Ceesay, ’n ooggetuie aan AFP gesê.

Sowat 150 ondersteuners het saam met Darboe geëis dat geregtigheid geskied nadat die party se sektretaris, Solo Sandeng, Donderdag in polisie-aanhouding gesterf het.

Gambië het onlangs aangekondig dat hulle as gasheer vir die Organisasie van Islamitiese Samewerking se beraad in 2018 sal optree.

Aan die einde van die jaar sal die inwoners ‘n nuwe president kies.

Gambiaanse opposisielede het verlede week ‘n beroep gedoen dat perke vir presidensiële termyne in Gambië ingestel word.

President Jammeh is een van ‘n aantal Afrika-leiers wat termynperke uit hul grondwet gehaal het na ‘n referendum.

Laerhuis stem teen Rousseff

Brasilië se laerhuis het Sondag ‘n tweederdemeerderheid behaal wat beteken dat pres. Dilma Rousseff in ‘n staat van beskuldiging gestel kan word.

Indien die land se senaat nou ook ten gunste van dié stap teen Rousseff stem, sal sy uit haar pos geskors word terwyl die senaat oor haar lot besin.

Bewerings is ondersoek dat Rousseff wetgewing oor begrotings in 2014 oortree het om haar herverkiesing te verseker. Volgens die president word die bewerings aangedik om haar te dwing om te bedank.

Terwyl Rousseff om politieke oorlewing veg, sukkel haar regering te midde van ‘n resessie en die land se grootste korrupsieskandaal nog.

Rousseff beweer adjunkpresident Michel Temer lei ‘n sameswering om haar uit die kussings te lig.

“Hulle werk nou openlik saam om ‘n president wat wettig verkies is, te destabiliseer,” het Rousseff vroeër gesê.

Haar opmerking kom na ‘n stemposboodskap waarin Temer aan ondersteuners vra dat hulle regering van nasionale eenheid eis om Brasilië se politieke krisis op te los.

Hy het die stemposboodskap klaarblyklik opsetlik laat uitlek waarin hy sy aanvaardingtoespraak “as hy binnekort oorneem by Rousseff”, oefen.

Temer sal waarneem as Rousseff uit die kussings gelig word. Hy het ontken dat hy teen Rousseff saamspan.

Duitsland gaan migrante dwing tot integrasie

Die Duitse kanselier, Angela Merkel, se regerende koalisie het die week ooreengekom op streng maatreëls om migrante en vlugtelinge te integreer.

Dit sluit sanksies in teen diegene wat versuim om aan programme, soos taalklasse, deel te neem.

Die ooreenkoms is tydens ’n ses uur lange laatnag onderhandeling tussen Merkel se konserwatiewe Christen Unie (CDU) en die Sosiaal Demokrate (SPD) bereik, en sluit planne vir nuwe teenterreurwetgewing in.

Die wetsontwerp op integrasie het ’n wortel-en-stok-benadering wat gesubsidieerde kursusse voorsien om nuwe aankomelinge te help om aan te pas by die Duitse leefwyse.

Die migrante sal ook in klein dorpies gevestig word en uit groot stede gehou word. Sodoende sal die Duitsers ook nie hoef te vrees vir hul veiligheid nie, sê politici.

Die leier van die SPD sê hulle wil nie omheinde veiligheidsbuurte in Duitsland sien soos in die VSA nie.

Die migrante wat nie aanmeld vir die opleiding nie, se verblyfpermitte sal geweier word.

Parys-terreurverdagte het Duitse kernsentrum se planne gehad

Salah Abdesalam, ’n hoofverdagte in die Parys-terreuraanvalle, het dokumente oor die Duitse kernnavorsingsentrum, Juelich in sy woonstel in die Molenbeek-gebied van Brussel gehad, het ’n groep Duitse koerante gister berig.

Juelich is ná aan die grens met België geleë en kernafval word daar geberg, het Reuters berig.

Die sentrum het in ’n verklaring gesê daar is geen aanduidings van gevaar nie, maar dat hulle in kontak met veiligheidsowerhede en kern-toesighouers is.

Kommer dat Islamitiese militante hul aandag op die kernnywerheid se swak plekke toespits, het opgelaai ná die aanvalle in Brussel waar selfmoordbomaanvallers die lewens van 32 mense geëis het.

Pentagon moet begroting laat klop met Russiese ‘aanvalle’

Pentagon-amptenare het probeer die verbyvlugte van Russiese vegvliegtuie as “nagebootste aanvalle” voor te hou terwyl hulle die VSA se militêre begroting bespreek.

Een amptenaar het die voorval sonder ironie beskryf as een van die “aggressiefste” optredes deur Rusland in die onlangse verlede, terwyl die Amerikaanse vloot digby Rusland in die Baltiese See militêre oefeninge uitvoer.

Die Sukhoi SU-24’s, sonder wapentuig, het glo baie behendig laag verby die USS Donald Cook gevlieg.

Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie, NAVO, is tans besig met sy grootste militêre opbou in Oos-Europa sedert die Koue Oorlog as teenvoeter vir wat Navo as ’n “meer aggressiewe Rusland” beskou.

Maar die Pentagon het nie kommentaar gelewer daarop dat die USS Donald Cook die week binne die operasionele gebied van die Russiese vloot se Baltiese basis was nie.

Met EU-lidland wat traag is om NAVO se duur aankope te befonds, moet die Pentagon steun op ‘n “bedreiging” sodat hulle begroting kan klop.

Die Russiese ministerie van verdediging het gesê sy vliegtuie het alle vereiste veiligheidsmaatreëls nagekom toe dit oor ’n Amerikaanse oorlogskip in internasionale water gevlieg het en kritiek oor die risiko verwerp.

SU-24-vliegtuie het toetsvlugte onderneem en “nadat hulle die oorlogskip opgemerk het, het hulle weggedraai ten einde alle veiligheidsmaatreëls na te kom,” het die ministerie gesê.

Die Amerikaanse weermag se bevelsentrum in Europa het die insident nogtans probeer voorhou as ‘n “gesimuleerde aanval” omdat een van die verbyvlugte glo nege meter van die USS Donald Cook was.

Terwyl Washington die voorval as “aggressie” beskryf, het vlootsoldate op die skip ten tyde van die Russiese verbyvlugte dit met belangstelling en sonder die minste kommer gadegeslaan.

“Hierdie optrede het die potensiaal om spanning tussen die twee lande onnodig te verhoog en kan tot wanberekeninge lei,” lui die bevelsentrum se alarmistiese verklaring.

Die Amerikaans Vloot self, het egter gesê dat die verbyvlugte nie ‘n werklike bedreiging ingehou het nie.

Betrekkinge tussen Rusland en die Neocons het versuur nadat pres. Vladimir Poetin ‘n stokke gesteek het voor hul stropingspogings.

Dene onttrek uit Suid-Soedan na hulpwerkers geskiet word

Onbekende gewa­pende mans het twee ­noodlenigingswerkers in Suid-Soedan ­doodgeskiet.

Dit sal ’n invloed op die werksaamhede van die Deense groep, die Danish Demining Group (DDG) hê, wat landmyne in die suidelike Yei-streek onskadelik stel.

Volgens ’n verklaring van DDG was die twee oorledenes deel van ’n groep van sewe wat van hul basis in Yei onderweg na hul werkplek was, toe die voertuig waarin hulle gery het, aangeval is.

Die ander vyf werknemers is ongedeerd.

Die twee hulpwerkers was plaaslike inwoners en in diens van die Dene.

“Wat gebeur het, is tragies,” het Christian Jakob Hansen, die afdelingshoof van die Raad op Deense Vlugtelinge aan die Metroxpress koerant gesê.

“Ons het ons aktiwiteite in die gebied waar dit plaasgevind het gestop. Ons het dit gedoen ten einde aan die oorsake van die spesifieke omstandighede van die situasie te kom.”

Die Raad op Deense Vlugtelinge werk sedert 2005 in Suid-Soedan en die DDG sedert 2006 om landmyne ­onskadelik te stel en gewa­pende ­geweldpleging te verminder.

Reeds 50 hulpwerkers is reeds in die gebied gedood oor die afgelope twee jaar.

Kerry vra nie om verskoning vir Hirosjima nie

John Kerry het die week die eerste Amerikaanse minister van buitelandse sake geword om sy respek by die Hirosjima-gedenkteken vir die slagoffers van die 1945 Amerikaanse kernaanval te betoon.

Dit was egter ‘n balanseertoertjie van “respek” en “geen berou” nie.

Hy het die museum bestempel as iets wat “’n mens se maag laat draai” en “‘n herinnering om aan die noodsaaklikheid van ‘n wêreld vry van ­kernwapens” te werk.

Kerry se besoek is deur vredesaktiviste in Japan beskryf as ‘n vyeblaar vir Amerikaanse planne om hul kernwapenarsenaal op te knap.

Op ’n voorstel van Kerry het die ministers ook ’n impromptu besoek gebring aan die atoombom-koepel, die skelet­agtige oorblyfsels van ’n struktuur wat naby die hiposentrum van die bomontploffing was, en nou ’n Unesco wêrelderfenisplek is.

Maar in plaas van die voortsetting van die onderhandelinge met die Russe en ander kernmagte vir die wêreldwye afskaffing van kernwapens, beplan die VSA tans ‘n totale opknapping van sy kernwapenprogram, insluitend nuwe generasies van kernplofkoppe, bomwerpers, landgebaseerde missiele, en duikbote.

Die geprojekteerde van die opknapping oor die volgende 30 jaar word beraam op $1 triljoen.

Laaste 100 adjunkte moet Rousseff se lot bepaal

Die Brasiliaanse president, Dilma Rousseff, se lot berus op die lojaliteit van die laaste 100 adjunkte in die kongres, wat nog moes stem of sy in ’n staat van beskuldiging geplaas sal word.

In ’n komplekse proses was ondersteuners en opponente van Brasilië se eerste vroulike president in ’n wedloop gewikkel om die getalle agter hulle te verenig om geskiedenis te maak wanneer die laerhuis van die kongres volgende week stem.

’n Komitee van die kongres het láát Maandag vir ’n nie-bindende maatreël gestem om haar in ’n staat van beskuldiging te plaas.

Wanneer aanstaande week gestem word, is ’n tweederde meerderheid nodig om Rousseff se saak na die senaat vir die staat van beskuldiging-verhoor te stuur.

Rousseff word daarvan be­skuldig dat sy die staat se boeke gekook het om die swak toestand van die regering se begroting te verdoesel tydens haar 2014-herverkiesing wat sy ­gewen het.

Brexit wink na Cameron moet bieg oor Panama-dossier

Die Britse premier, David Cameron, moes sy inkomstebelastingopgawes van die afgelope sewe jaar bekend maak in die hoop om sy kritici se monde te snoer oor sy buitelandsde beleggings.

Cameron het die eerste Britse leier geword om sy finansiële sake bloot te lê, maar sy mededingers in sy eie party asook die Arbeiders, het bloed geruik.

Die premier se eie party steun nie Brittanje se deelname aan die EU nie en Boris Johnson, Londen se burgemeester se planne vir Brexit is besonder gewild onder die Tories, terwyl Cameron homself verbind het aan die EU.

Die blootlegging kom slegs ure nadat hy ’n byeenkoms van Konserwatiewe Party aktiviste meegedeel het dat hy verkeerd was deur te huiwer met die erkentenis van sy belegging in Blairmore Holdings.

Sy pa, Ian, ’n miljoenêr aandelemakelaar, het die belegging deur die Panamese regsmaatskappy Mossack Fonseca gereël.

Uit die drie bladsye opsomming van die eerste minister se verdienstes en belasting, wat hy sedert 2009 daarop betaal het, blyk dit dat hy 9 501 Britse pond wins gemaak het toe hy die aandele in 2010 verkoop het, kort voordat hy eerste minister geword het.

Sy vrou het dieselfde bedrag verdien, wat meegebring het dat hulle net-net die betaling van kapitale belasting vrygespring het.

Volgens die dokumente het Cameron die afgelope jaar 75 898 pond belasting betaal.

Cameron het planne aangekondig om ’n sogenaamde taakmag in die lewe te roep om Britse konsortiums en individue se betrokkenheid te ondersoek in fondse en maatskappye wat deur Mossack Fonseca geregistreer is.

In ’n verklaring sê hy ondersoekbeamptes onder leiding van belastingowerhede en die nasionale agentskap vir misdaadondersoeke sou optree teen enige verkeerde optrede wat verband hou met die Panama-dossier.

Vroeër het Cameron ’n openbare “mea culpa” uitgereik vir sy aanvanklike mislukking om sy belegging in Blairmore te erken. Hy het vir vier dae vrae oor die kwessie gesystap voordat hy Donderdag in ’n televisie-onderhoud met die sak patats vorendag gekom het.

“Ek kon dit beter hanteer het. Ek weet daar is lesse hieruit te leer, en ek sal dit leer. Moenie No. 10 Downing Street of naamlose raadgewers die skuld gee nie. Gee my die skuld,” het hy Saterdag gesê.

Comores stem

Kiesers in die Indiese Oseaan Comore-eilandgroep het Sondag gaan stem vir ’n president, met die huidige visepresident en ’n voormalige staatsgreep­leier wat die land vir sewe jaar regeer het as die gunstelinge.

Die tweede ronde presidentsverkiesings kom nadat visepresident Mohamed Ali Soilihi, ook bekend as Mamadou, die eerste ronde in Februarie met 17,88 persent van die stemme gewen het, het AFP berig.

Die twee ander kandidate is die goewerneur van Grande Comore-eiland, Mouigni Baraka, wie 15,62 persent in die eerste ronde gekry het en die 1999-staatsgreepleier, kolonel Azali Assoumani, wie 15,10 persent steun gehad het.

Assoumani word as Mamadou se sterkste teenstander beskou en het die steun van die Juwa-opposisieparty, wat nie ’n kandidaat in die tweede ronde gestel het nie.

Die Juwa-party is verdeel oor die besluit en 15 hooggeplaastes in die party het bedank en Mamadou gesteun.

Assoumani het in 1999 aan bewind gekom nadat hy die waarnemende president, Tadjidine Ben Said Massounde, in ’n staatsgreep omver gewerp het.

Drie jaar later het hy die presidentsverkiesing gewen en uit­getree nadat sy termyn in 2006 ten einde geloop het.

Indien die verkiesing vlot verloop, sal die opvolger van pres. Ikililou Dhoinine na verwagting binne drie dae aangewys word.

Die drie eilande, Anjouan, Grand Comore en Moheli, wat die Comore vorm, het ’n bevolking van net minder as 800 000 mense, van wie byna almal Soenni Moslems is.

Die voltooiing van Dhoinine se vyf jaar ampstermyn word allerweë as ’n teken van toenemende stabiliteit in die verarmde eilandgroep gesien.

Al gaan dié eilande, tussen Madagaskar en Mosambiek, gebuk onder armoede voer die land vanilla, naeltjies en ilang-ilang-parfuumessens uit.

Die Comore is die wêreld se top produsent van ilang-ilang, wat van ’n blom afkomstig is. Die olie is ’n sleutelbestandeel van die Chanel No 5-parfuum en word ook in verskeie ander parfuums gebruik.

Bernie gewild, maar Hillary loop voor

Bernie Sanders het met sy jongste reeks oorwinnings oor Hillary Clinton gewys dat hy besonder gewild is by kiesers.

Die voorloper in die wedloop om afgevaardigdes is egter steeds Hillary.

Sanders en Clinton wedywer in die Amerikaanse presidensiële verkiesingswedloop om as die Demokrate se kandidaat aangewys te word.

Met sy oorwinning Saterdag in Wyoming het Sanders sewe van die laaste agt voorverkiesings gewen.

Die jongste oorwinning het hom egter nie veel in die sak gebring wat afgevaardigdes betref nie, omdat voorverkiesings in Wyoming op proporsionele verteenwoordiging ­geskied.

Aangesien Wyoming net 14 afgevaardigdes vir die Demokrate het, is dit die minste van enige van die state.

Sanders en Clinton het gevolglik elk sewe afgevaardigdes ingepalm.

Clinton is nog ver voor en het byna die helfte van die 2383 afgevaardigdes wat sy benodig om benoem te word.

Albei van hulle het die week stemme in New York gewerf waar daar 291 afgevaardigdes is. Die New Yorkse verkiesing word op 19 April gehou.

Dodetal na Hindoetempel afbrand styg

Die dodetal in die reusebrand in ’n tempel in die suide van Indië het tot meer as 100 mense gestyg.

Die polisie soek tans na 10 mense wat verbind word met die brand.

Teen Sondag het die dodetal in ’n massiewe brand in ’n Hindu-tempel in die suide van Indië op 102 gestaan, met 280 mense wat beseer is, het die hoofminister van die Kerala-staat, Oommen Chandy, aan verslaggewers gesê.

Die brand het na ’n reuse-ontploffing tydens ’n vuurwerkvertoning ontstaan. Klaarblyklik het die tempel nie toestemmining gehad om die vuurwerke te gebruik nie.

’n Span spesialisdokters is uit Nieu Delhi na die ramptoneel gestuur om diegene by te staan wat ernstige brandwonde in die voorval by die Puttingal Devi-tempel opgedoen het.

Die vloot en lugmag het helikopers gestuur om die mees kritieke pasiënte na die hoofstad te vlieg.

Brandweermanne en die polisie het deur die nag gesukkel om die brand in die kusdord Paravur onder beheer te bring.

Teen dagbreek kon stukke beton en verbrande oorblyfsels op die toneel gesien word.

Die Indiese eerste minister, Narendra Modi, het aangedui dat hy na die dorp sou vlieg en het gesê families van die oorledenes sou elk 200 000 rupees ($3 500) ontvang. Diegene wat beseer is, sou elk 50 000 rupees ontvang.

Die brand het uitgebreek toe duisende mense by die tempelkomplek vergader het om na die vuurwerke te kyk wat die jaarlikse feestelikheid by die tempel afsluit.

Polisie in Masedonië keer massastormloop van migrante

Meer as 300 immigrante is vir beserings behandel nadat die polisie traangas, skokgranate en rubberkoeëls ingespan het om oproerige indringers terug te dryf van ‘n grensdraad.

Die mediese hulporganisasie Dokters Sonder Grense (MSF) het bevestig dat meer as driehonderd migrante beseer is.

Jeugdige migrante het die polisie met klippe bestook en wetstoepassers het op ‘n skare migrante losgebrand wat probeer het om van Griekeland af deur die grens te breek.

Dosyne immigrante en vlugtelinge is Sondag deur die Masedoniese polisie teruggedryf het hulpwerkers gesê, in ‘n daad wat deur Griekeland as “gevaarlik en betreurenswaardig” veroordeel is.

Meer as 10,000 migrante en vlugtelinge is gestrand by die Griekse grens in die dorpie Idomeni sedert Februarie want regoor die Balkan het lande hul roetes na Wes-Europa intussen afgesper.

‘n Vroeëre poging deur ‘n groot groep migrante om deur die grensdraad te breek het tot die konfrontasie gelei, het ‘n amptenaar gesê.

Volgens Griekeland het die polisie aan die Masedoniese kant van die grens besluit om tot aksie oor te gaan. Die owerhede wou net bevestig dat hulle traangas moes gebruik.

‘n Woordvoerder van die MSF-organisasie, Jonas Hagenson sê mediese personeel het sowat tweehonderd mense vir traanrook-inaseming behandel.

Hy sê die meeste mense wat behandeling ontvang het was mans, maar daar is ook vroue en kinders van onder vyf jaar oud, wat behandeling moes kry.

Mense met kneusplekke beweer dat hulle deur die polisie aangerand is.

Volgens Hagenson is sewe pasiënte na ‘n plaaslike hospitaal geneem met oop wonde, moontlike beenbreuke en meer ernstige beserings.