Die leier van Gambië se sterkste opposisieparty is Saterdag ná ’n tweede ronde betogings in dié land in hegtenis geneem.
Die opposisie stook ‘n rewolusie in die land.
Lede van die opposisieparty eis antwoorde oor die dood van een van die party se leiers terwyl hy in aanhouding was.
Intussen is twee ander ook glo in aanhouding dood, maar Reuters kon nie die name verskaf nie.
Die United Democratic Party (UDP) se leier, Ousainou Darboe, ’n menseregte-advokaat, is saam met drie ander partyleiers deur die polisie weggelei kort nadat hulle met ’n protesoptog vanaf sy huis in die hoofstad, Banjoel, begin het.
Veiligheidsmagte gewapen met aanvalsgewere, het volgens ooggetuies die betogers met traangas bestook.
“Ousainou Darboe en ander senior uitvoerende lede is in hegtenis en verskeie mense is aangerand,” het Modou Ceesay, ’n ooggetuie aan AFP gesê.
Sowat 150 ondersteuners het saam met Darboe geëis dat geregtigheid geskied nadat die party se sektretaris, Solo Sandeng, Donderdag in polisie-aanhouding gesterf het.
Gambië het onlangs aangekondig dat hulle as gasheer vir die Organisasie van Islamitiese Samewerking se beraad in 2018 sal optree.
Aan die einde van die jaar sal die inwoners ‘n nuwe president kies.
Gambiaanse opposisielede het verlede week ‘n beroep gedoen dat perke vir presidensiële termyne in Gambië ingestel word.
President Jammeh is een van ‘n aantal Afrika-leiers wat termynperke uit hul grondwet gehaal het na ‘n referendum.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.