Duitsland gaan migrante dwing tot integrasie

Die Duitse kanselier, Angela Merkel, se regerende koalisie het die week ooreengekom op streng maatreëls om migrante en vlugtelinge te integreer.

Dit sluit sanksies in teen diegene wat versuim om aan programme, soos taalklasse, deel te neem.

Die ooreenkoms is tydens ’n ses uur lange laatnag onderhandeling tussen Merkel se konserwatiewe Christen Unie (CDU) en die Sosiaal Demokrate (SPD) bereik, en sluit planne vir nuwe teenterreurwetgewing in.

Die wetsontwerp op integrasie het ’n wortel-en-stok-benadering wat gesubsidieerde kursusse voorsien om nuwe aankomelinge te help om aan te pas by die Duitse leefwyse.

Die migrante sal ook in klein dorpies gevestig word en uit groot stede gehou word. Sodoende sal die Duitsers ook nie hoef te vrees vir hul veiligheid nie, sê politici.

Die leier van die SPD sê hulle wil nie omheinde veiligheidsbuurte in Duitsland sien soos in die VSA nie.

Die migrante wat nie aanmeld vir die opleiding nie, se verblyfpermitte sal geweier word.

Byna 200 000 Zimbabwiese verblyfaansoeke goedgekeur

Die Suid-Afrikaanse regering het Dinsdag gesê hulle sal die uitreiking van werk- en studiepermitte vir 200.000 Zimbabwiërs wat aansoek gedoen het om verblyf teen die einde van volgende maand voltooi.

Die Minister van Binnelandse Sake Malusi Gigaba het Maandag gesê 99,7 persent (197.303) van die byna 200.000 aansoeke is binne die eerste ses maande van die projek deurgewerk.

Gigaba het gesê 185.075 van die aansoeke ingedien, is reeds goedgekeur het die Chronicle berig.

Die afsnydatum vir die ontvangs van aansoeke was Desember 2014. Aansoeke is beoordeel deur die departement, met 31 Julie 2015 wat as sperdatum vir departementele beoordeling en verwerking gestel is.

Gigaba het gesê die aansoeke wat afgekeur is, is weens klein administratiewe oorwegings soos onvoltooide vorms en ontbrekende dokumente.

Die departement het benadruk dat alle Zimbabwiese burgers welkom in Suid-Afrika sal wees met die nodige dokumentasie.

Hy het ook ‘n beroep op Zimbabwiërs gedoen wat versuim het om permitte vir hul verblyf te regulariseer, om dadelik hul papierwerk deur die normale kanale in orde te kry.

“Wanneer die proses voltooi is, word diegene met afgekeurde permitte onwettige immigrante. Dit is belangrik vir hulle om hul verblyf te wettig en sulke onnodige situasies te vermy,” het Gigaba gesê.

Zimbabwe se konsul-generaal in Suid-Afrika, Batiraishe Mukonoweshuro het aan sy landsburgers die versekering gegee dat die feit dat 12.228 aansoeke afgekeur is, nie beteken dat Suid-Afrika aansoekers sal wegwys nie.

Gigaba kondig nuwe verblyfregulasies aan

Malusi Gigaba
Malusi Gigaba

Die minister van Binnelandse Sake, Malusi Gigaba, het gesê diegene wat meen dat die wysigings aan immigrasieregulasies ongrondwetlik is, moet dit na die hof neem.

Gigaba het belangrike wysigings rakende buitelanders se verblyfvoorwaardes in Suid-Afrika bekend gemaak.

Die maatreëls sluit in dat alle kinders wat reis hulle eie paspoorte moet hê en dat permitte vir studie se voorwaardes streng toegepas sal word vir die tydperk wat toegewys word.

Sakelui met visums sal ook ten minste van 60 persent plaaslike arbeid gebruik moet maak.

Hy sê besoekers wat hulle verblyfvoorwaardes aan die land oorskry sal nie langer beboet word nie, maar as ongewens verklaar word.

Permitte aan Zimbabwiërs, bekend as visums, verstryk vanjaar maar Gigaba sê “baie dinkwerk” is nodig voordat die regering sy beleid oor immigrante uit Zimbabwe sal aankondig.

Die permitte wat uitgereik word kragtens die spesiale bedeling sal verval, en die departement se syfers dui daarop dat byna 250.000 mense permitte onder die Zimbabwe Document Project ontvang het.

In Maart het die minister van binnelandse sake Naledi Pandor gesê permithouers sal weer aansoek moet doen vir hul permitte in hul land van herkoms .

Donderdag het Gigaba gesê die omstrede nuwe visumregulasies vir besoekers aan Suid -Afrika is ten volle grondwetlik.

Global Migration SA het gesê die wysigings is ongrondwetlik en kan lei tot litigasie teen die regering. Die maatskappy hanteer aansoeke vir die VSA en Brittanje.

“Hierdie nuwe regulasies kan litigasie met betrekking tot voor die hand liggend weglatings en grondwetlike kwessies veroorsaak,” het die besturende direkteur Leon Isaacson gesê in ‘n verklaring.