Probleme wag vir Brasilië

Michel Temer, Brasilië se nuwe, waarnemende president, is self ‘n ongewilde leier en gaan met baie van dieselfde probleme te make hê as wat pres. Dilma Rousseff moes trotseer, het AFP berig.

Brasiliane hoop hul regering kan ná ’n maande lange stryd oor die geskorste Rousseff se staat van beskuldiging aanbeweeg.

Dit het die aandag afgelei van die land se ander probleme, waaronder die ergste resessie in jare en die reël­ings vir die Olimpiese Spele wat in Augustus begin.

Hoewel Temer (75) die steun van sakelui het, meen politieke ontleders hy sal dieselfde struikelblokke as Rousseff teëkom.

Rousseff (68) is deur die senaat vir tot 180 dae geskors nadat sy in ’n staat van beskuldiging gestel is en sy verhoor moet word. Sy het glo begrotingsprobleme verswyg om tot president herkies te word. Temer, ’n regse veteraan, is ook nie gewild in Brasilië­ nie.

Hoewel Rousseff se goedkeuringsyfer onder 10% geval het, sal Temer maar 1% of 2% van die stemme in ’n presidentsverkiesing kan lok, is in ’n onlangse peiling bevind.

Rousseff het hom uitgekryt vir die leier van ’n “staatsgreep” om van haar ontslae te raak en hy moet nou die openbare vertroue herstel in ’n politieke stelsel wat Brasiliane as korrup beskou.

“Hy sal baie van die Brasiliane se ontevredenheid erf weens die soort tradisionele politiek wat hy verteenwoordig.

“Dit sal vir hom moeilik wees om hom as ’n nuwe mens sonder enige verbintenis met die vorige leierskorps te herskep,” sê ­Thiago Bottino, ’n ontleder aan die Getulio Vargas-stigting.

Lincoln Secco, ’n historikus aan die Universiteit van São Paulo, sê Temer kan later ’n ander probleem hê: Rousseff.
“Vir vyf of ses maande (terwyl die verhoor aan die gang is) het ons ’n nie-uitvoerende president.

“Haar skadu sal oor Temer hang en druk sal op sy regering geplaas word om gou resultate te lewer.”

Die Temer-administrasie se hoop is op die herstel van die sukkelende ekonomie gevestig.

Die sakewêreld sien reeds uit daarna om ’n regering te hê wat markvriendeliker is ná jare van linkse beleid en groeiende tekorte. Brasilië is in sy tweede jaar van ’n resessie en sal na verwagting eers teen 2018 groei toon.

Om die ekonomie aan die gang te kry, het Temer ’n “brug na die toekoms” voorgestel waaronder besnoeiing van staatsuitgawes en handelshervormings tel.

Onder Rousseff en haar voorganger Luiz Inácio Lula da Silva, het die land se maatskaplike programme miljoene mense uit armoede gelig. Vir talle Brasiliane is Temer ’n tree terug.

“Ek dink burgerlike bewegings sal die strate invaar. Hulle gaan die lewe vir Temer nie maklik maak nie,” sê Debora Messenberg van die Universiteit­ van Brasilië.

Brasilië se nuwe president is nog ongewilder as Rousseff

Brasilië se nuwe, waarnemende president, Michel Temer, wat pres. Dilma Rousseff vervang, is ‘n lakei van Amerikaanse banke sê sy kritici.

Brasiliane hoop hul regering kan die land se probleme begin oplos na maande se gekibbel om Dilma Rousseff­ in ‘n staat van be­skuldiging te laat plaas.

Rousseff (68) is Donderdag vir 180 dae geskors deur die senaat en in ‘n staat van beskuldiging gestel. Sy het glo begrotings­aangeleenthede verswyg om tot president herkies te word.

Die ergste resessie in jare, die Zika-virusplaag en reëlings vir die Olimpiese Spele wat in Augustus begin, bly nogtans ‘n kopseer vir regeringslui, ten spyte van die stap om van haar ontslae te raak.

Brasilië is in sy tweede jaar van ‘n resessie en sal na verwagting eers teen 2018 groei toon.

Hoewel Temer (75) die steun van sakelui het, meen ontleders dat hy met ‘n bedekte coup d’etat aan bewind gekom het, sonder die steun van kiesers.

Temer is nog minder gewild in Brasilië as Rousseff. Haar gewildheid het tot onder 10% gedaal, maar Temer sal slegs 1% of 2% van die stemme in ’n presidentsverkiesing kan inpalm, is in ’n onlangse peiling bevind.

Rousseff het hom beskuldig van ‘n “staatsgreep” om van haar ontslae te raak en hy moet nou die open­bare vertroue herstel in ’n politieke stelsel wat Brasiliane as korrup beskou.

Die Temer-administrasie­ hoop op die herstel van die sukkelende ekonomie omdat die sakewêreld hom as markvriendeliker beskou.

Laerhuis stem teen Rousseff

Brasilië se laerhuis het Sondag ‘n tweederdemeerderheid behaal wat beteken dat pres. Dilma Rousseff in ‘n staat van beskuldiging gestel kan word.

Indien die land se senaat nou ook ten gunste van dié stap teen Rousseff stem, sal sy uit haar pos geskors word terwyl die senaat oor haar lot besin.

Bewerings is ondersoek dat Rousseff wetgewing oor begrotings in 2014 oortree het om haar herverkiesing te verseker. Volgens die president word die bewerings aangedik om haar te dwing om te bedank.

Terwyl Rousseff om politieke oorlewing veg, sukkel haar regering te midde van ‘n resessie en die land se grootste korrupsieskandaal nog.

Rousseff beweer adjunkpresident Michel Temer lei ‘n sameswering om haar uit die kussings te lig.

“Hulle werk nou openlik saam om ‘n president wat wettig verkies is, te destabiliseer,” het Rousseff vroeër gesê.

Haar opmerking kom na ‘n stemposboodskap waarin Temer aan ondersteuners vra dat hulle regering van nasionale eenheid eis om Brasilië se politieke krisis op te los.

Hy het die stemposboodskap klaarblyklik opsetlik laat uitlek waarin hy sy aanvaardingtoespraak “as hy binnekort oorneem by Rousseff”, oefen.

Temer sal waarneem as Rousseff uit die kussings gelig word. Hy het ontken dat hy teen Rousseff saamspan.