Brasilië se nuwe, waarnemende president, Michel Temer, wat pres. Dilma Rousseff vervang, is ‘n lakei van Amerikaanse banke sê sy kritici.
Brasiliane hoop hul regering kan die land se probleme begin oplos na maande se gekibbel om Dilma Rousseff in ‘n staat van beskuldiging te laat plaas.
Rousseff (68) is Donderdag vir 180 dae geskors deur die senaat en in ‘n staat van beskuldiging gestel. Sy het glo begrotingsaangeleenthede verswyg om tot president herkies te word.
Die ergste resessie in jare, die Zika-virusplaag en reëlings vir die Olimpiese Spele wat in Augustus begin, bly nogtans ‘n kopseer vir regeringslui, ten spyte van die stap om van haar ontslae te raak.
Brasilië is in sy tweede jaar van ‘n resessie en sal na verwagting eers teen 2018 groei toon.
Hoewel Temer (75) die steun van sakelui het, meen ontleders dat hy met ‘n bedekte coup d’etat aan bewind gekom het, sonder die steun van kiesers.
Temer is nog minder gewild in Brasilië as Rousseff. Haar gewildheid het tot onder 10% gedaal, maar Temer sal slegs 1% of 2% van die stemme in ’n presidentsverkiesing kan inpalm, is in ’n onlangse peiling bevind.
Rousseff het hom beskuldig van ‘n “staatsgreep” om van haar ontslae te raak en hy moet nou die openbare vertroue herstel in ’n politieke stelsel wat Brasiliane as korrup beskou.
Die Temer-administrasie hoop op die herstel van die sukkelende ekonomie omdat die sakewêreld hom as markvriendeliker beskou.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.