Michel Temer, Brasilië se nuwe, waarnemende president, is self ‘n ongewilde leier en gaan met baie van dieselfde probleme te make hê as wat pres. Dilma Rousseff moes trotseer, het AFP berig.
Brasiliane hoop hul regering kan ná ’n maande lange stryd oor die geskorste Rousseff se staat van beskuldiging aanbeweeg.
Dit het die aandag afgelei van die land se ander probleme, waaronder die ergste resessie in jare en die reëlings vir die Olimpiese Spele wat in Augustus begin.
Hoewel Temer (75) die steun van sakelui het, meen politieke ontleders hy sal dieselfde struikelblokke as Rousseff teëkom.
Rousseff (68) is deur die senaat vir tot 180 dae geskors nadat sy in ’n staat van beskuldiging gestel is en sy verhoor moet word. Sy het glo begrotingsprobleme verswyg om tot president herkies te word. Temer, ’n regse veteraan, is ook nie gewild in Brasilië nie.
Hoewel Rousseff se goedkeuringsyfer onder 10% geval het, sal Temer maar 1% of 2% van die stemme in ’n presidentsverkiesing kan lok, is in ’n onlangse peiling bevind.
Rousseff het hom uitgekryt vir die leier van ’n “staatsgreep” om van haar ontslae te raak en hy moet nou die openbare vertroue herstel in ’n politieke stelsel wat Brasiliane as korrup beskou.
“Hy sal baie van die Brasiliane se ontevredenheid erf weens die soort tradisionele politiek wat hy verteenwoordig.
“Dit sal vir hom moeilik wees om hom as ’n nuwe mens sonder enige verbintenis met die vorige leierskorps te herskep,” sê Thiago Bottino, ’n ontleder aan die Getulio Vargas-stigting.
Lincoln Secco, ’n historikus aan die Universiteit van São Paulo, sê Temer kan later ’n ander probleem hê: Rousseff.
“Vir vyf of ses maande (terwyl die verhoor aan die gang is) het ons ’n nie-uitvoerende president.
“Haar skadu sal oor Temer hang en druk sal op sy regering geplaas word om gou resultate te lewer.”
Die Temer-administrasie se hoop is op die herstel van die sukkelende ekonomie gevestig.
Die sakewêreld sien reeds uit daarna om ’n regering te hê wat markvriendeliker is ná jare van linkse beleid en groeiende tekorte. Brasilië is in sy tweede jaar van ’n resessie en sal na verwagting eers teen 2018 groei toon.
Om die ekonomie aan die gang te kry, het Temer ’n “brug na die toekoms” voorgestel waaronder besnoeiing van staatsuitgawes en handelshervormings tel.
Onder Rousseff en haar voorganger Luiz Inácio Lula da Silva, het die land se maatskaplike programme miljoene mense uit armoede gelig. Vir talle Brasiliane is Temer ’n tree terug.
“Ek dink burgerlike bewegings sal die strate invaar. Hulle gaan die lewe vir Temer nie maklik maak nie,” sê Debora Messenberg van die Universiteit van Brasilië.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.