Liggaam van vermiste hengelaar gevind

Polisieduikers het vanoggend die liggaam van Louis Jacobus Lotter uit die Vaaldam gehaal, nadat hy Sondag daar vermis geraak het.

Volgens Gautengse polisiewoordvoerder, Shado Mashobane, het die 43-jarige Lotter, van Meyerton, glo oor die kant van sy kano geval terwyl hy besig was om te hengel.

Lotter se familie het gesien hoe hy van sy kano afval en nie weer na die oppervlak kom nie. Die polisie se Soek en Redding- en Watervleuel het dadelik hul soektog na Lotter begin.

Sy liggaam is vanoggend om 08:30 gevind.

Bloemfontein-verkragter vasgetrek

Die polisie in Bloemfontein het mense bedank vir hul behulpsaamheid en die verskaffing van inligting wat daartoe gelei het dat ‘n gesoekte vermeende verkragter en rower aangekeer is.

Die 32-jarige verdagte is Woensdagmiddag by Bochabela in die stad by ‘n vriend se huis deur lede van die Parkweg-polisiekantoor in hegtenis geneem.

Polisiewoordvoerder, Chaka Marope, sê ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming is onlangs uitgereik. Inligting wat deur mense verskaf is het ‘n groot bydrae gelewer tot die polisie se sukses.

Volgens Marope is die verdagte die afgelope vier maande vir verskeie misdrywe in Bloemfontein gesoek. Hy was vermoedelik betrokke by ‘n voorval waarin ‘n bejaarde vrou in Februarie in die Uitsig-woonbuurt in haar huis aangeval, verkrag en van verskeie waardevolle items beroof is.

Marope sê hy word ook met ander voorvalle van verkragting verlede jaar verbind. Die man verskyn binnekort in die plaaslike landdroshof.

Uitspraak oor appèl teen Walus-vrylating Donderdag verwag

Die uitspraak in die Minister van Justisie se aansoek om appél teen parool vir Janusz Walus sal waarskynlik Donderdag in die Pretoriase Hooggeregshof gelewer word.

Walus dien lewenslange tronkstraf uit vir die moord op die voormalige SAKP-leier, Chris Hani, terwyl voormalige ANC-terroriste amnestie gekry het.

Die minister, Michael Masutha het aangevoer dat die skeiding van magte geskend is toe parool aan Walus toegestaan is.

Masutha het vroeër ‘n besluit van die mediese paroolraad ter syde gestel vir die vrylating van Walus.

Masutha hou vol dat daar verdere beraadslaging met die SAKP en die Hani-familie moet wees.

Regter Nicolene Janse Van Nieuwenhuizen het Dinsdag nadat sy die argumente aangehoor het, gesê sy het tot Donderdag nodig om haar uitspraak voor te berei.

Springbokke kry bruin afrigter

Die bruin afrigter van die Stormers en die Westelike Provinsie, is aangewys as die Springbokke se nuwe baas.

Allister Coetzee is in Randburg as die nasionale rugbyspan se breier aangewys, het Netwerk24 berig.

Coetzee was die hulpafrigter onder die omstrede Jake White.

Hy sal glo Suid-Afrikaanse rugby se versnelling van transformasie behartig.

‘n Bestuurspan met ondervinding sal die nuwe Springbokafrigter bystaan in die voorbereiding van die span oor die volgende vier jaar.

Polisie glo betrokke by Bothaville-plaasaanval

Vrystaat Landbou (VL) het hom sterk uitgespreek oor die beweerde betrokkenheid van polisiebeamptes by ‘n aanval op drie vroue en twee jong kinders op ‘n plaas by Bothaville.

Voorsitter van dié organisasie se komitee vir wet en orde, Tommie Esterhuyse, sê dit is onmoontlik vir boere om hulself te beskerm teen aanvalle van dié aard.

Dit kom nadat vier mans, wat hulself voorgedoen het as polisiebeamptes, verlede Vrydag kort na 19:00 op die plaas, Oorwin, aangekom het. Hulle het glo aan die plaaseienaar,‘n ouerige vrou, en haar familielede, gesê hulle wil die huis vir dwelms deursoek.

Volgens die polisie se Stephen Thakeng het die plaaseienaar haar honde elders gaan toemaak sodat die mans toegang tot die huis kon verkry. Daarna het die aanvallers aangedring op geld en die vroue met ‘n vuurwapen gedreig. Hulle het ook gedreig om een van die jong kinders op ‘n warm stoofplaat te brand as daar nie aan hul eise voldoen word nie. Esterhuyse sê die voorval is ‘n groot bron van kommer.

Die feit dat drie weerlose vroue en kinders onder valse voorwendsels met onaanvaarbare driegemente aangehou is, laat opnuut die vraag ontstaan, hoe weerlose gemeenskappe hulself kan beskerm.

Een van die vier rowers is dieselfde aand by Orkney, ná plaaslike boere onraad vermoed het, deur die polisie in hegtenis geneem. Thakeng het bevestig dat ‘n vyfde man sedert gister vir ondervraging aangehou word. Volgens VL is dié man glo werksaam op die plaas. Thakeng sê die polisieondersoek is in ‘n sensitiewe stadium. Hy wou nie bevestig of polisiebeamptes betrokke was by die rooftog nie.

‘n Vuurwapen, ‘n onbekende bedrag geld en drie selfone is in die rooftog gebuit. Die 26-jarige Paballo Molaudi van Klerksdorp het gister in die plaaslike landdroshof op ‘n aanklag van gewapende roof en dat hy hom as ‘n polisiebeampte voorgedoen het, verskyn. ‘n Polisie-glimbaadjie, R2 800 en twee selfone, wat vermoedelik gesteel is, is in Molaudi se besit gevind. Hy sal na verwagting eerskomende Maandag aansoek om borgtog doen.

OFM-nuus verkies om weens veiligheidsredes nie die slagoffers se name bekend te maak nie. Die slagoffers het nie ernstige beserings opgedoen nie, maar is steeds erg getraumatiseerd.

Twee red tiener van swart aanvallers

Twee jong Moot-mans het Maandagoggend op hulle voete gedink toe hulle ‘n tiener in Booysens te hulp gesnel ná ‘n noodoproep.

Jaco Green (20) het Maandagoggend by sy vriend Emile Rheeder (20) in Villieria gekuier to Green ‘n oproep van sy 14-jarige broer ontvang het.

“My boetie het my gebel en gesê dat daar swart aanvallers in die huis is,” vertel Green.

Die twee vriende het dadelik in die motor gespring en na Green se huis in Booysens gery.

Rheeder, ‘n lid van van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê alles het teen hul getel.

“My GPF radio se battery was pap, Jaco se lugtyd was op en ons kon nie deurkom na die polisie toe ons 10111 skakel nie,” sê Rheeder.

Die twee het so vining as moontlik gery om by die huis uit te kom nadat hulle ‘n tweede noodoproep van die jonger broer ontvang het.

“Hy het weer gebel en gesê dat hy in ‘n kas geklim het om weg te kruip. Die swart aanvallers was toe al amper in dieselfde kamer waarin hy weggekruip het,” vertel Rheeder.

Op pad na die huis het Rheeder en Green die Wonderboompoort-polisie in Flowersstraat, Capital Park gewaar.

“Die polisie was besig met ‘n arrestasie in Flowersstraat. Ons het net vir hulle geskree Jaco se broer kruip in ‘n kas weg en die aanvallers trek al in die kamer waar hy is,” sê Rheeder.

Die polisie het die twee jong mans na die huis gevolg en intussen ander polisielede in kennis gestel van die inbraak.

“Toe ons daar kom was daar klaar ander polisie op die toneel en selfs ‘n polisie helikopter in die lug. Die swart verdagtes het ongelukkig met ‘n split-sekonde ontsnap,” vertel Rheeder.

Green sê die inbrekers het met ‘n plasma-televisie en ‘n paar stukke juwele weggekom.

“Die inbrekers het van ons ander elektroniese ware reeds by die muur uitgeprop, ek dink hulle was van plan om dit ook te steel.”

Hy sê sy broer is hospitaal toe geneem vir traumaberading.

“My broer is beter, maar is steeds skrikkerig om alleen by die huis te wees. Hy praat nou gelukkig oor wat gebeur het, so dit lyk of dit beter met hom gaan.”

Rheeder sê hulle is dankbaar vir die polisie se hulp.

“As ons nie Sersant Laas en die Wonderboompoort-polisie langs die pad gekry het nie sou dit dalk ‘n ander storie gewees het.”

Die Hercules-polisieskantoor het bevestig dat ‘n saak van huisbraak geopen is.

“Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie,” sê hy.

Bron: Moot Rekord

Boer oorleef skoot

‘n Boer van Biesiesvlei in Noordwes wat deur ‘n swart aanvaller geskiet is, het sy bakkie afgeskryf maar die skoot oorleef.

Frans van der Linden (45) het so baie bloed verloor dat hy flou geword het en deur ‘n muur gery het nadat hy geskiet is.

Hy is intussen in die Mahikeng-hospitaal opgeneem en geopereer.

Die aanvaller, ‘n voormalige werker, was saam met Van der Linden in die bakkie. Hy het ‘n paar jaar gelede as tydelike werker op die plaas gehelp.

Hy het die boer na die mielielande gelok met ‘n WhatsApp-boodskap en toe geld geëis. Toe Van der Linden weier, het die swarte hom in die elmboog en been geskiet.

Die aanvaller het toe in die mielieland verdwyn.

Die swarte het daarna nog ‘n WhatsApp-boodskap gestuur waarin hy gedreig het om Van der Linden dood te maak as hy hom nie R100 000 gee nie.

Van der Linden het na die Biesiesvlei-polisiekantoor gejaag, maar op pad flou geword en in ‘n muur vasgejaag.

Boere van die omgewing het die aanvaller enkele ure ná die skietery vasgetrek.

Walus wil aansoek doen om tydelike parool

Volgend Janusz Walus se regsverteenwoordiger gaan die politieke gevangene ‘n versoek rig dat hy tydelik op parool vrygelaat word nadat die staat aangedui het dat hulle appèl sal aanteken teen sy vrylating.

Die hof het op 10 Maart die minister van Korrektiewe Dienste se besluit om nie parool aan Walus toe te staan nie, tersyde gestel.

Julian Knight, Walus se prokureur, het gesê dat hy ‘n aansoek by die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria sal indien as Michael Masutha, die minister, se aansoek om verlof tot appèl aangehoor is.

Jacob Mamabolo, SAKP-sekretaris in Gauteng, het intussen ‘n memorandum aan die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, oorhandig.

Die SAKP eis ‘n dringende wysiging van paroolwette sodat die families van slagoffers kan bepaal dat parool geweier word.

NG Kerk stel poligamie in, ná versoek van gay-lidmate

‘n Studiekommissie van die NG Kerk onder voorsitterskap van dr. André Bartlett het aanbeveel dat poligamie deur die Kerk aanvaar word. “Ons verwag dat poligame huweliksmaats vanaf vandag net soos tradisionele sisgenderpare voor die kansel die huweliksformulier in ons kerk sal kan opsê,” sê Bartlett. “Ek het self reeds ‘n eggemeenskap van drie mense in die kerk getrou.”

Nadat die algemene sinode van die NG Kerk verlede jaar met 102 stemme teen 88 gay huwelike aanvaar het, het vele ampsdraers gevoel dat die kerk nog nie ver genoeg gegaan het in sy “verwerping van heteronormatiwiteit en bevestiging van geslagtelike diversiteit nie”. Die studiekommissie het ook by Islam gaan kers opsteek wat poligamie betref.

“Ons aanvaar almal nou dat daar net een Opperwese is wat ons op verskillende maniere aanbid,” het dr. Bartlett gister in sy huis in Parkview, Johannesburg, aan ‘n uitgesoekte groepie joernaliste gesê. “Sommige van ons behoort aan een van die susterskerke, ander is weer Moslems of Jode of Hindoes. Dit maak geen verskil nie. Daarom het ons gevoel ons moet ook die Koran oor die kwessie van poligamie raadpleeg om tot groter helderheid te kom.”

‘n Probleem het onlangs by die gemeente Aasvoëlkop ontstaan toe ‘n gay paar, wat egter in die landdroshof getroud is, by die kerk aangeklop het om met ‘n derde persoon te trou. Die derde persoon was van die transgeslag.

“Man, dit was nou vir jou ‘n kopkrapper,” sug Bartlett. “Van die begin af het ons gevoel ons kan nie die drie mense wegwys nie, maar vir ons was dit ‘n probleem dat die aanvanklike gay paar nie in die kerk getroud is nie. Hulle het egter ingestem dat indien ons bereid is om die derde persoon ook met die aanvanklike twee te laat trou, sal hulle al drie aan die huwelikseremonie in die kerk deelneem. Daarmee is ‘n groot struikelblok uit die weg geruim. Dit was so ‘n magic moment toe ons mekaar op daardie punt verstaan.”

Die sinodale studiekommissie het gister ‘n verslag voorgelê waarin aanbeveel word dat die NG Kerk sonder meer poligamie, van sowel sisgendermense as gays aanvaar. Die verslag en sy aanbevelings is eenparig aanvaar. “Die sinode hoef nie weer te stem nie,” sê Bartlett. “Ons het mos klaar gestem. Van die oomblik dat jy die beginsel van gay huwelike aanvaar, bevind jy jou in die volle heerlikheid van Christus se liefde en is alle huweliksvorme wat in die skepping bestaan, aanvaarbaar. Ons dink baie sisgender- of heteroseksuele huweliksmaats gaan ook hierby baat vind.”

“Sisgender” is ‘n term wat deur geslagsaktiviste gebruik word om heteroseksuele mense mee te benoem wat nie meer die norm is nie. “Die NG Kerk aanvaar ook nie meer sisgender as norm nie,” bevestig dr. André Bartlett. “Die tyd van normatiwiteit is verby. Jy weet die aarde is rond, maar as jy in die Karoo staan en jy sien hoe plat die Karoo is, dan kan jy maklik dink die aarde ís miskien plat. Vandat ek die Koran gelees het, weet ek die aarde is waaragtig rond.”

Bartlett meen dat elke NG-lidmaat vertroud behoort te wees met hoofstuk 4:3 van die Koran waarin staan:

“En as u vrees dat u nie regskape sal wees in u behandeling van wesens nie, trou dan vroue wat u behaag, twee of drie, of vier, as u vrees dat u nie regverdig gaan handel nie, dan één of wat u regterhand besit. Dit is vir u die beste weg, om onregverdigheid te voorkom.”

Die NG Kerk se standpunt stem grotendeels met dié van Islam ooreen, naamlik dat poligamie nie verplig is nie, maar ‘n keuse is wat uitgeoefen word. “‘n Mens kies hoeveel huweliksmaats jy wil hê,” sê dr. André Bartlett. “Nes jy jou geslag kies. Al is jy ‘n man gebore, kan jy steeds as vrou bestaan, vroueklere dra en ‘n vrou of man as huweliksmaat hê. Vir die Here is alles cool.”

Die feit dat president Jacob Zuma ook oor meer as een vrou beskik, maak dit vir die NG Kerk makliker om poligamie te aanvaar. Immers staan daar in Romeine 13:

“Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en dié wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en dié wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.”

Dr. Bartlett het self onlangs die eerste poligame huwelikseremonie in die NG Kerk waargeneem, geklee in dr. Beyers Naudé se ou toga wat hy as geskenk ontvang het. Hy kry trane in sy oë as hy aan “Oom Bey”, dominee en stryder teen apartheid, dink en sê:

“Die feit dat ek (as gay-aktivis) vasgebyt het, het baie met sy voorbeeld te doen. As dit gaan oor geregtigheid, is dit ononderhandelbaar, dan vat jy die punch. Dít het ek by hom geleer.

“Ek het hom so 14, 15 jaar terug gevra wat hý dink oor die gay kwessie. Toe sê hy hy moet eerlik wees, hy verstaan dit nie, maar wat hy wel verstaan, is dat daar onreg teen mense gepleeg word. En waar daar onreg gepleeg word, moet dit reggestel word.”

‘Monogamie is rassisties’

Die kerk sal ook onreg pleeg as hy nie sy poligame lidmate ter wille is nie. “Boonop is monogamie rassisties, veral op ons kontinent,” sê dr. Bartlett. “Dis hoofsaaklik blankes wat hulle by monogamie hou terwyl Afrikane meesal poligamie beoefen. Dis die blanke wat sy vooroordele koloniaal op swart mense afgeforseer het. Ek voel ons kan baie by die tradisionale kulture leer. Dis tyd om ‘n mens oop te stel vir dié dinge, net soos die Kerk haar vir gay-wees oopgestel het.”

Toe dr. Bartlett die twee gay mans en ‘n transgeslagpersoon in die huwelik bevestig het, het hy skielik na die transgeslagpersoon se geboortedatum gekyk: 1 April 1994. “Toe begin ek sommer huil,” beken hy. “Hier is iemand wat in Aprilmaand, Vryheidsmaand, gebore is en vandag trou ek hom (of haar, want sy het ‘n trourok gedra) met twee ander mans. Watter wonderlike voorreg. Dit was amazing!”

Die NG Kerk se gewysigde huweliksformulier, waarin die woorde “man en vrou” deurgaans geskrap is, sal van vandag af landwyd in alle gemeentes ontplooi word. “Ons sal seker al weer hate mail van die ou verkramptes kry, maar ek delete dit net,” sê Bartlett.

Die eerste twee paragrawe van die NG Kerk se nuwe gay- en poligaamvriendelike huweliksformulier lui soos volg:

Die huwelik is deur God ingestel toe Hy aan die begin gesê het: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie; Ek sal vir hom persone maak wat hom kan help, sy gelykes.” So het Hy hulle as mense geskep om mekaar as huweliksmaats aan te vul en by te staan. Om so deur die Here verenig te wees is ‘n voorreg, ‘n vreugde en ‘n verantwoordelikheid.

Die huwelik is ‘n hegte eenheid waarin daar ‘n plek vir ‘n derde, ‘n vierde of meerdere persone is. Hierdie eenheid is die diep geheim van ‘n gelukkige lewe, die grondslag van ‘n gesonde gesinslewe en die hoeksteen vir ‘n stabiele samelewing. Eggemeenskappe wat in God hul eenheid, geluk en toekoms vind, en wat hul lewe inrig onder heerskappy van sy Woord en Gees, is vir mekaar, vir hul familie, die kerk en die samelewing ‘n vreugde, krag en inspirasie. Dit gee aan ‘n eggemeenskap die vrymoedigheid om vir sy leiding op hulle huwelik te bid.

“Ons het gevorder van die ‘egpaar’ na die ‘eggemeenskap’,” meen dr. André Bartlett. “Ons het hard gewerk oor die jare. Dit maak my sommer baie emo as ek dit sê.”

Akademie vereer twee vir Bybelvertaling

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gaan twee professors van onderskeidelik die Noordwes-Universiteit en die Universiteit van die Vrystaat bekroon vir hulle bydrae tot Christelike teologie en Bybevertaling.

Die Dominee Pieter van Drimmelen-medalje en Die Totiusprys vir Teologie en die Studie van die Bybel, sal aan Hermie van Zyl van Bloemfontein en Koos Vorster van Potchestroom toegeken word.

Intussen sê Van Zyl, wat veral erkenning vir sy bydrae ten opsigte van die Afrikaanse Bybelvertaling kry, hy is stomgeslaan.