Bejaarde boer en vrou op Bothaville aangeval

‘n Bejaarde boer, sy vrou en ‘n ander vrou uit Bothaville in die Vrystaat is aangeval in hul huis op hul plaas vroeg vanoggend.

Bothaville Landbou-organisasie se veiligheidskoördineerder, Johan du Plessis, sê ses swart aanvallers het toegang verkry tot die plaashuis net ná 02:00 vanoggend.

Hulle het die egpaar en die vrou met kleefnabd vasgebind en daarop aangedring dat die boer die sleutels van sy kluis oorhandig.

Du Plessis sê ‘n vuurwapen en geld is gesteel. Twee van die verdagtes was gewapen. Hulle het gevlug in ‘n silwer Volkswagen.

Du Plessis sê hulle het in die rigting van Orkney gevlug. Die getraumatiseerde slagoffers het beserings opgedoen.

Die polisie het nog nie bevestig dat die aanval plaasgevind het nie.

Was dit SAPD wat Bothaville-plaasaanval geloods het?

‘n Tweede verdagte, wat deel was van ‘n groep van vier swartes wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het tydens ‘n gewapende roof op ‘n plaas by Bothaville in die Vrystaat meer as ‘n week gelede, is Maandag in Klerksdorp in Noordwes in hegtenis geneem.

‘n Polisiewoordvoerder, Stephen Thakeng het nog nie bevestig of polisiebeamptes by die aanval op die drie vroue en twee kinders op die Bothaville-plaas betrokke was nie. Hy sê die ondersoek is steeds té sensitief.

Thakeng sê die 36-jarige man was in besit van ‘n wit Nissan-bakkie wat gebruik is toe vier mans met polisiepette en -hemde toegang tot ‘n plaashuis verkry het.

Hulle het aan die plaaseienaar gesê hulle wil haar huis vir dwelms deursoek. ‘n Verdagte, Paballo Molaudi, is kort ná dié voorval by Orkney in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting Donderdag aansoek om borgtog doen.

Thakeng sê die verdagte wat Maandag aangekeer is, sal môre in die hof verskyn. ‘n Vyfde verdagte, vermoedelik ‘n plaaswerker op dié plaas, is intussen vrygelaat nadat hy deur die polisie vir ondervraging aangehou is.

Intussen doen die polisie ‘n beroep op gemeenskappe om inligting te verskaf oor ‘n afsonderlike voorval in Maart in Welkom waarin twee mans, wat hulle ook as polisiebeamptes voorgedoen het, twee mynwerkers van R9000 beroof het. Thakeng sê die mynwerkers was onderweg na hul werk, toe ‘n wit Polo hul motor agtervolg het.

Die booswigte het tot langs die werkers se motor gery en aangedui dat hulle van die pad moet aftrek. Die mans het polisiewapens getoon.

Hulle het aan die werkers gesê die “polisie” het inligting ontvang dat dié twee betrokke was by ‘n diefstalvoorval by ‘n myn. Hulle het die slagoffers se motor deursoek en R9000 in die mans se besit gevind.

Thakeng sê die sogenaamde polisiebeamptes het die mynwerkers beveel om hulle te volg na die naaste polisiekantoor, waarna die booswigte weggejaag het. Die werkers het toe besef hulle is beroof.

Thakeng vra enigiemand met inligting in verband met albei voorvalle om hul naaste polisiekantoor te bel.

Intussen is die twee mans wat gesoek word in verband met die Welkom-rooftog se identiteitsprofiele bekend gestel. Een van die verdagtes is bykans 1,8 meter lank en is vermoedelik tussen die ouderdom van 35 en 40.

Hy was in die besit van ‘n swart handgeweer. Die tweede verdagte is ook bykans 1,8 meter lank, hy het ‘n donker velkleur en is tussen die ouderdom van 40 en 45.

Albei mans het Sesotho gepraat.

Polisie glo betrokke by Bothaville-plaasaanval

Vrystaat Landbou (VL) het hom sterk uitgespreek oor die beweerde betrokkenheid van polisiebeamptes by ‘n aanval op drie vroue en twee jong kinders op ‘n plaas by Bothaville.

Voorsitter van dié organisasie se komitee vir wet en orde, Tommie Esterhuyse, sê dit is onmoontlik vir boere om hulself te beskerm teen aanvalle van dié aard.

Dit kom nadat vier mans, wat hulself voorgedoen het as polisiebeamptes, verlede Vrydag kort na 19:00 op die plaas, Oorwin, aangekom het. Hulle het glo aan die plaaseienaar,‘n ouerige vrou, en haar familielede, gesê hulle wil die huis vir dwelms deursoek.

Volgens die polisie se Stephen Thakeng het die plaaseienaar haar honde elders gaan toemaak sodat die mans toegang tot die huis kon verkry. Daarna het die aanvallers aangedring op geld en die vroue met ‘n vuurwapen gedreig. Hulle het ook gedreig om een van die jong kinders op ‘n warm stoofplaat te brand as daar nie aan hul eise voldoen word nie. Esterhuyse sê die voorval is ‘n groot bron van kommer.

Die feit dat drie weerlose vroue en kinders onder valse voorwendsels met onaanvaarbare driegemente aangehou is, laat opnuut die vraag ontstaan, hoe weerlose gemeenskappe hulself kan beskerm.

Een van die vier rowers is dieselfde aand by Orkney, ná plaaslike boere onraad vermoed het, deur die polisie in hegtenis geneem. Thakeng het bevestig dat ‘n vyfde man sedert gister vir ondervraging aangehou word. Volgens VL is dié man glo werksaam op die plaas. Thakeng sê die polisieondersoek is in ‘n sensitiewe stadium. Hy wou nie bevestig of polisiebeamptes betrokke was by die rooftog nie.

‘n Vuurwapen, ‘n onbekende bedrag geld en drie selfone is in die rooftog gebuit. Die 26-jarige Paballo Molaudi van Klerksdorp het gister in die plaaslike landdroshof op ‘n aanklag van gewapende roof en dat hy hom as ‘n polisiebeampte voorgedoen het, verskyn. ‘n Polisie-glimbaadjie, R2 800 en twee selfone, wat vermoedelik gesteel is, is in Molaudi se besit gevind. Hy sal na verwagting eerskomende Maandag aansoek om borgtog doen.

OFM-nuus verkies om weens veiligheidsredes nie die slagoffers se name bekend te maak nie. Die slagoffers het nie ernstige beserings opgedoen nie, maar is steeds erg getraumatiseerd.

Landbouminister sê wit boere wil graag transformeer

Die minister van Landbou Senzeni Zokwana sê hy is baie tevrede met die houding van wit boere jeens rassetransformasie.

Dit kom na sy toespraak en deelname aan ‘n paneelbespreking by die jaarlikse Graan SA Kongres wat tans in Bothaville in die Vrystaat gehou word.
 
Hy sê die boodskap wat hy kry is dat boere nie teen rassetransformasie gekant is nie.

Oor die kwessie van die droogte, het Zokwana gesê dringende aandag sal gegee word aan wat hy “die mielieramp” noem.

Presiese tydsraamwerke kon nog nie gegee word nie, maar beide die minister en Graan SA se bestuur het media gerusgestel dat die hele proses beheer sal word deur wetgewing in terme van die Wet op Rampbestuur.

Die droogte kan meebring dat die mielieoes die kleinste die afgelope agt jaar gaan wees en beteken dat Suid-Afrika mielies sal moet invoer.
 
Zokwana het weer sy verbintenis herhaal om te verseker dat boere in ‘n posisie is om die volgende seisoen se oes in die grond te kry.

Zokwana, het gesê hy is besorg oor plaasmoorde, maar dat pro-aktiewe optrede nodig is om dit bestry en ‘n beroep op boere gedoen om as mentors op te tree en opkomende boere op te lei.

Hy sê boerdery is nie net ‘n sake-onderneming nie, maar voorsien voedselveiligheid vir die land.

Vroeër is bekend gemaak dat Suid-Afrika se mielieboere miljoen rande kan verloor nadat ‘n ooreenkoms om mielies na China uit te voer, deur die mat geval het.

Zokwana het vroeër gesê die regering se voorgestelde beperking van twaalf-duisend hektaar as maksimum grootte grond wat boere mag besit, is nog nie gefinaliseer nie.

Hy sê hy sal met die minister van grondhervorming samesprekings voer oor voorstelle wat boere gemaak het. Na gesprekke met boere, voel Zokwana dat daar nog nie genoeg duidelikheid oor die kwessie is nie.

Ses dood na bier, kos vergiftig is

kook‘n Swart man is dood en vyf ander is in ‘n kritieke toestand op Ngwavuma in die noorde van KwaZulu-Natal nadat hulle na bewering tuisgemaakte bier gedrink het.

‘n Polisiewoordvoerder, Thulani Zwane sê ses mense is na die Mosvold-hospitaal gehaas nadat hulle siek geword het.

Die man is dood kort na sy aankoms by die hospitaal.

Die polisie ondersoek ‘n ander voorval na die dood van vyf swart familielede wat na op ‘n plaas naby Bothaville in die Vrystaat.

Die vermoede bestaan dat hulle vergiftig is. Twee kinders is in die hospitaal opgeneem.

Die polisie het op die liggame van ‘n man en vrou, twee kinders en die vrou se suster afgekom, nadat die bure hulle in kennis gestel het.

‘n Woordvoerder, Stephen Thakeng sê hulle het gif in die kospotte gevind.

Thakeng sê die man en vrou het na bewering rusie gemaak oor ‘n verhouding met sy vrou se 16-jarige suster.

Die polisie ondersoek ‘n saak van moord.