TUT-kampus sluit weens voortslepende oproer

Studente van die Tshwane Universiteit van Tegnologie se Soshanguve-kampus moet vandag uit die koshuise weens voortgesette onrus en oproer.

Dit volg nadat die universiteitsbestuur aangekondig het dat die kampus buite Pretoria tot 5 April sal sluit.

Hulle het tot vanmiddag twee-uur tyd om hul koshuise te verlaat.

`n Woordvoerder van die universiteit, Willa de Ruyter, sê die besluit is geneem weens die voortgesette geweld, intimidasie en aanvalle op die Soshanguve-kampus.

De Ruyter sê die studente is gevra om teen twee-uur uit die koshuise te wees.

Sy sê die universiteit sal nie die studente fisies uitgooi nie, maar dit is nie duidelik hoe hulle gedwing sal word om te gaan nie.

Die visepresident van die TUT se studenteraad, Sthembiso Shandu het intussen ‘n beroep op studente gedoen om nie hulle koshuise te verlaat nie.

Intussen sal ‘n spesiale debat vandag in die Nasionale Vergadering oor rassisme gehou word.

Rassistiese aanmerkings op sosiale media en rasse-spanning by universiteite sal bespreek word. Die parlementêre debat sal fokus op sporadiese rassevoorvalle by verskeie universiteite.

Dit volg nadat President Jacob Zuma in sy staatsrede gesê het mense in die land moet saamwerk om rassisme uit te roei.

Die ANC, DA en EFF beskuldig mekaar aanhoudend oor en weer van rassisme wat gelei het tot die oordrewe kollig op die verskynsel.

Zuma het ook aangekondig dat vanjaar se Menseregtedag op 21 Maart opgedra sal word aan die stryd teen rassisme.

In nog ‘n verwikkeling wat volg op studentegeweld het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het die VN se menseregtekomitee versoek om menseregteskendings in Suid-Afrika te ondersoek.

Hulle sê hulle is bekommerd oor die gebruik van geweld téén oproeriges.

Die MRK sê `n verslag wat die regering aan die VN verskaf het, is onvoldoende en verouderd.

Die kommissie beveel aan dat die VN-komitee die regering vra vir nuwe inligting oor stappe wat gedoen word om die kwessies in die verslag aan te spreek.

Speaker wat oor sy vrou ry se moordverhoor uitgestel

Die moordverhoor van die bruin speaker van die Kara Hais-munisipaliteit in Upington, Thomas Basson, is tot Vrydag uitgestel.

Basson het na bewering met sy voertuig oor sy vrou gery.

Hy is aanvanklik in hegtenis geneem op `n aanklag van strafbare manslag, maar die aanklag is nou na moord verander.

Basson het tydens sy inhegtenisneming verlede jaar beweer dat hy per ongeluk sy vrou vir ‘n hond aangesien het.

Basson is toe van strafbare manslag aangekla, het ‘n polisiewoordvoerder, lt Olebogeng Tawana gesê.

‘n Lykskouing wat uitgevoer is op sy vrou, het egter aangetoon dat sy na bewering verwurg is nog voordat die motor oor haar gery het.

Daarna is die aanklag verander na moord in plaas van strafbare manslag.

Basson is ook aangekla van dwarsboming van die gereg omdat hy na bewering gepeuter het met die misdaadtoneel.

DA-leier beboet oor versuim om borgskappe te verklaar

Mmusi Maimane, DA-leier, is skuldig bevind omdat hy versuim het om sy borgskappe te verklaar, het ‘n parlementêre subkomitee oor etiek en ledebelange bevind. Hulle het aanbeveel dat Maimane beboet word.

Maimane is saam met nog ‘n DA-LP, Makashule Gana, skuldig bevind. Hulle is glo per brief ingelig dat hulle teen die straf kan appelleer.

Parlementslede moet elke jaar hul belange verklaar.

Nie Maimane of ander lede van die party wou nie kommentaar lewer op die skuldigbevinding nie.

Die ANC het in November die klagte teen Maimane en ander DA-lede ingedien nadat hulle glo nie al hul finansiële belange verklaar het nie.

Die lede het borgskappe ontvang in aanloop tot die DA-leierstryd in 2015.

Maimane, wat verklaar het hy het “niks om weg te steek nie”, moes later erken dat dit ’n “ernstige oorsig” was.

Noord-Korea se bedrywighede in Namibië raak SAOG

Veiligheidsraad-resolusies is deur Namibië verbreek deur toe te laat dat Noord-Korea “wapenfabrieke of ander militêre geriewe” oprig.

Dit is strydig met die kernsperverdrag wat die land as VN-lid onderteken het en raak die hele SAOG-streek.

Die Noord-Koreaanse staatsmaat­skappy Mansudae Overseas Projects Group of Companies (MOP) het glo bande met Korea Mining Development Trade Corporation (KOMID) waarteen daar internasionale VN-sanksies van krag is.

‘n Ondersoekverslag is op 25 Februarie deur ‘n taakspan wat Noord-Korea se kernwapenprogram monitor, aan die Veiligheidsraad van die VN voorgelê.

Volgens die taakspan-aanbaveling “is Mansudae Overseas Projects verbind aan KOMID, Noord-Korea se primêre wapenhandelaar en hoofuitvoerder van goedere en toerusting wat verband hou met ballistiese missiele en konvensionele wapens”.

Luidens die verslag beweer die “Namibiese owerhede dat hulle nie bewus is van die bande tussen die twee entiteite nie”, maar voeg by dat Noord-Koreaanse arbeiders “so onlangs as Augustus 2015 ­konstruksiebedrywighede by ’n ander militêre basis in Suiderhof onderneem het”.

Namibië het nog nie op die aanklag gereageer nie. Die Republikein het die bewerings ondersoek.

Die reusegebou wat tans neffens die weermagbasis in dié Windhoekse woonbuurt gebou word, is volgens inligting die nuwe hoofkwartier van die Namibiese weermag.
Satellietbeelde van die militêre basisse by Luiperdsvallei en Oamites suid van Windhoek wat so onlangs as vroeg verlede maand deur Google Earth opgelaai is, wys reuse-aanlegte waarvan die bouwerk volgens inligting deur Noord-Korea gedoen is.
Republikein se ondersoekspan het in antwoord op ’n vraag oor dié aanlegte, die volgende antwoord van ’n ingeligte bron ontvang: “Die een f­asilitieit is ’n ammunisieopslagplek met ’n reeks van aanwendings – vanaf pistole (handwapens), tot gewere, artillerie, vliegtuie en ander wapentuig. Die ander fasiliteit is ‘buite perke’. Daar is glo ’n wyer SADOG-konteks.”

Mugabe konfiskeer diamantmyne

President Robert Mugabe van Zimbabwe het bekendgemaak dat sy regering van nou af in besit van alle diamante in die land sal wees, het RSG berig.

Dit volg ‘n week nadat die land se ministerie van mynwese opdrag aan mynmaatskappye gegee het om hul bedrywighede te staak en die Marangevelde te verlaat.

Mugabe voer aan dat die mynmaatskappye die land van sy welvaart beroof het. Volgens Mugabe is diamante ter waarde van meer as 15 miljard dollar in die oorstelike myngebied gesteel.

Die Zimbabwiese president het tydens ‘n twee-uurlange onderhoud op staatstelevisie dit duidelik gestel dat die staat nou alle diamante in die land besit.

Verskeie buitelandse mynmaatskappy het reeds met regsoptrede teen die Zimbabwiese regering in die verband begin.

Zimbabwe is die agtste grootse diamantprodusent in die wêreld.

Oproeriges by UV verval in onsamehangende diskoers

Lede van die Universiteit van Kaapstad se #RhodesMustFall-beweging het hul steun vir aktiviste aan die Universiteit van die Vrystaat uitgespreek.

Twee UK-studente was teenwoordig by die byeenkoms oor rassisme by die UV se Equitassaal.

Mohamed Abdullah het gesê die doelwitte van #UnsilenceUFS, hoop om die vermeende institusionele rassisme te veg by die universiteit.

Die nuwe beweging beplan protes op ‘n paar plekke op die Bloemfontein-kampus vandag.

Ondersteuners sal swart dra en hulle mond met kleefband bedek, tydens ‘n besoek aan onder meer Shimlapark en Huis Abram Fischer.

Abdullah sê hulle sal poog om die UV se kultuur en instellings te “dekoloniseer”, omdat die gedagte gewild is by swart studente regoor die land.

Hy glo hierdie kwessies moet by alle Afrika-universiteite aangespreek word.

Abdullah kon egter nie ‘n helder uiteensetting van dekolonisering gee nie, en het in sy onsamehangende gebrabbel daaroor China se grootste taal met “Westerse sukses” gelykgestel.

“Wat is die sosiale dinamika? As ons kyk na die geskiedenis. Watter geskiedenis word aangebied? Tale, hoekom is dit dat ons hoërskole fokus op Mandaryns in teenstelling met die werklike Afrika-tale? ‘n Gedekoloniseerde kurrikulum gaan daaroor om Afrika se gedagtes saam te vat, ‘n belegging in ons eie kennisproduksie, in plaas van om te weerspieël wat suksesvol in die Weste is.”

Die Vrystaatse universiteit het intussen ‘n beroep op studente gedoen om enige vorm van intimidasie en teistering by owerhede aan te meld.

Dit volg nadat studente hulle kommer oor die teenwoordigheid van ‘n privaat veiligheidsmaatskappy op die Bloemfontein-kampus uitgespreek het.

Die vise-rektor vir eksterne sake, Choice Makhetha sê maatskappy is ingebring om beheer te hê oor voorvalle op die kampus.

Hulle beweer dat veiligheidspersoneel hulle intimideer en teister, maar volgens ooggetuies word hulle verhoed om verdere geweld te pleeg.

Die rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat, Jonathan Jansen het ook ‘n beroep op die regering gedoen om die finansieringsmodel vir hoëronderwysinstellings te verander.

Jansen het nuwe fondsinsamelingsinisiatief vir arm studente in Kaapstad geloods.

Die departement van Hoër Onderwys sê intussen die aandrang deur studente dat sommige visekanseliers van universiteite afgedank moet word, sal nie slaag nie.

Die adjunkminister, Mduduzi Manana sê die minister het nie die bevoegdheid om ‘n visekanselier af te dank nie, aangesien die visekanselier of rektor regstreeks aanspreeklik is teenoor die universiteitsraad.

Manana het gereageer op oproepe deur betogende studente dat die rektor van die universiteit van die Vrystaat, Jonathan Jansen afgedank word.

‘n Skoot klap, bloed spat op kampus in Windhoek

‘n Skietery op ‘n kampus in Windhoek het omstanders laat spaander.

Die skoot wat die week op die kampus van die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (NUST) geklap het, was egter glo net speel-speel.

Studente het vroeër by die instelling se hekke saamgedrom en personeel uitgesluit in Januarie omdat hulle eis dat univeristeitsfooie verlaag moet word.

Die Namibiese instellings van hoër onderwys staar tans bankrotskap in die gesig.

‘n Speelgoed­pistool van plastiek se “skoot” is nagemaak deur ‘n ballon wat gebars is, die “slagoffer” se bloed het gespat in die kammaskietery voor die biblioteek.

Omstanders het laat spaander om aan die koeëls te ontkom. Op sosiale media is wyd gegis oor wat agter die koeël gesit het, maar NUST se dramaklub sê die kampus is hulle verhoog.

Selfs paramedici wat die gewonde te hulp moes snel, was deel van die dramageselskap se plan.

“Die toneelstuk het ook gewys hoe doeltreffend en betroubaar die sekuriteitspersoneel is.”

Op NUST se Facebook-blad word paramedici-studente en die universiteit se drama­klub vir die skiettoneel bedank.

Tuinroetestrande onder skuimkombers

Ruwe seetoestande en sterk winde in die diepsee het groot hoeveelhede skuim na die kus aangedryf, het die George Herald berig.

Sedert die naweek was die meeste Tuinroete-strande onder ‘n skuimkombers bedek wat heerlike speelplek vir die kinders gebied het.

Hooggety was ook besonder hoog en het die meeste sandstrande onder water en skuim bedek.

Op Tergniet kon die muur van die getypoel nie tydens hoogwater gesien word nie en het branders tot teen die duin gespoel.

Skuim was ook by Glentana te sien en die hoogwater het in Brakkloof ingespoel.

Heroldsbaai se getypoel was ook met ‘n skuimkombers gedek, maar teen Dinsdag het baie van die skuim reeds verdwyn.

Geen skade is as gevolg van die springgety aangerig nie.

Openbare geweld in Johannesburg, Polokwane

Minstens 38 oproeriges is in hegtenis geneem weens openbare geweld by die George Goch- en Denver-hostelle, suid van Johannesburg.

Die hostelbewoners het nabygeleë paaie en hoofroetes versper en twee voertuie aan die brand gesteek.

Die hostelbewoners is ontevrede oor die herafbakeningsproses wat beteken dat die hostelle in Wyk 65 van die IVP val, asook in Wyk 118 van die DA.

Ander kwessies is onvoldoende sanitasie en behuising. Die polisie het bevestig dat die gewelddadige protesoptrede onder beheer gebring is.

Intussen het oproeriges van die Ga-Rena nedersetting in Polokwane in Limpopo strate met vullis versper.

Inwoners is ontevrede omdat hulle rommel nie verwyder word nie. Die polisie sê verkeersligte is ook beskadig.

Die polisie is ontplooi om die situasie te monitor.

Verlede week is die burgemeester van Nylstroom (Modimolle) in Limpopo se huis is in die vroeë oggendure aangeval.

Ligte is beskadig en elektriese kabels is afgesny by Elizabeth Lekalakala se huis. Sy en haar gesin is ongedeerd.

Die polisiewoordvoerder, Ronel Otto sê die voorval word ondersoek.

Inwoners van die gebied betoog al etlike dae oor die gebrek aan water. Die pad na Phamageng moes gesluit word nadat betogers die pad met brandende bande en takke versper het.

Betogers het ook probeer om weer die R101 na Naboomspruit te versper, maar die polisie het die versperrings verwyder.

Veertien mense is reeds weens openbare geweld in hegtenis geneem.

Opposisie se verkiesingsfoefies lei tot niks

Die mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma wat deur Mmusi Maimane, DA-leier, ingedien is, het min kans op sukses gehad.

Die ANC in die Nasionale Vergadering het Dinsdag bankvas agter hul leier gestaan, al was hy nie teenwoordig nie.

Die mosie is met 225 teen 99 stemme verwerp, met 22 parlementslede wat buite stemming gebly het.

Dit is die tweede keer dat die DA dié verkiesingsfoefie uithaal. ‘n Jaar gelede het Maimane ’n soortgelyke mosie van wantroue teen Zuma ingedien.

Die mosie is toe met 221 stemme teen 113 verwerp nadat die EFF saam met die DA gestem het.

Die EFF het nie die mosie gesteun nie. Hulle wag glo vir die Grondwethofuitspraak oor Nkandla, ‘n saak wat die EFF teen Zuma aanhangig gemaak het.

Zuma se senioradvokaat het intussen gesê die Demokratiese Alliansie se poging om die besluit ongedaan te maak sodat hy vervolg kan word op aanklagte van korrupsie,”gaan nêrens heen nie, en is doodgebore en desperaat”.

Kemp J. Kemp het aangevoer dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) se weergawe van hoe die voormalige waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), Mokotedi Mpshe, by sy besluit in 2009 uitgekom het was nie irrasioneel nie en is nog nooit verkeerd bewys deur die DA nie.

Hy het gesê die DA het dit aanvanklik as ‘n administratiewe uitdaging gesien, maar die party het besef hul argument is fundamenteel gebrekkig en is nou besig om ‘n laaste desperate posisie dat die besluit was “irrasioneel” was.

Die DA het reeds R10 miljoen aan regskoste aan die saak bestee.

Die DA se hersieningsaansoek word vandag in die Pretoriase Hooggeregshof afgesluit met betoë deur die DA.