DA-leier beboet oor versuim om borgskappe te verklaar

Mmusi Maimane, DA-leier, is skuldig bevind omdat hy versuim het om sy borgskappe te verklaar, het ‘n parlementêre subkomitee oor etiek en ledebelange bevind. Hulle het aanbeveel dat Maimane beboet word.

Maimane is saam met nog ‘n DA-LP, Makashule Gana, skuldig bevind. Hulle is glo per brief ingelig dat hulle teen die straf kan appelleer.

Parlementslede moet elke jaar hul belange verklaar.

Nie Maimane of ander lede van die party wou nie kommentaar lewer op die skuldigbevinding nie.

Die ANC het in November die klagte teen Maimane en ander DA-lede ingedien nadat hulle glo nie al hul finansiële belange verklaar het nie.

Die lede het borgskappe ontvang in aanloop tot die DA-leierstryd in 2015.

Maimane, wat verklaar het hy het “niks om weg te steek nie”, moes later erken dat dit ’n “ernstige oorsig” was.

Sport se alkoholverslawing binnekort gedokter

biersabSuid-Afrikaanse sport gaan broodnodige borgskappe verloor te danke aan die regering se beplande verbod op alkoholadvertensies.

Die direkteur-generaal (DG ) van sport en ontspanning Alec Moemi het die Parlement se portefeuljekomitee oor sport ingelig oor die gevolge van die voorgestelde wet wat binnekort in die Staatskoerant verskyn vir openbare kommentaar.

“Dit sal ‘n jammer dag vir ons in sport wees as dit gebeur, en as ons so beduidende borgskappe verloor, want eerlik … wat die Tesourie aan ons sal gee, sal heeltemal te min wees om sport mee te dryf,” het Moemi gesê.

Die DG het verwys na die verbod op advertensies wat hy gesê het die departement van sport heelhartig ondersteun.

Maar hulle glo dat die geld wat ingesamel word met die toename in sondebelasting sal na die departement vloei.

Moemi gesê hy sal nie by die debat oor die vraag betrokke raak of daar ‘n direkte verband tussen alkoholadvertensies en alkoholmisbruik is nie.

Hierdie debat moet oorgelaat word aan die departemente van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling.

BMI Sports Info, SA Breweries en Brandhouse projekteer dat die ekonomie sowat R7.4 miljard sal verloor as die verbod geld.

Daarbenewens sal duisende werkgeleenthede verlore gaan .

Die wetsontwerp word gedryf deur die Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi wat sê dit kos die regering dubbel die bedrag weens die gevolge van alkoholmisbruik as wat die bedryf tot die ekonomie bydra.

Motsoaledi het gesê dit kos die regering R40 miljard per jaar aan die impak van alkohol op die samelewing. – Sapa