AP-joernalis sterf in Gasa na ontploffing

Simone Camilli, ’n Italiaanse videojoernalis van Associated Press, is Woensdag saam met drie Palestynse van ‘n plofstofspan en nog twee mense in Beit Lahija in die Gasa-strook dood toe ’n Israelse granaat ontplof het, het mediese beamptes en die polisie gesê.

Die ontploffing het plaasgevind terwyl Gasa se polisie probeer het om ‘n toestel in Beit Lahiya onskadelik te stel, het AP berig.

Ali Shehda Abu Afash, wat by AP as vertaler gewerk het, is een van die slagoffers saam met die drie polisiemanne.

Vier ander mense is ernstig beseer in die voorval, insluitende AP-fotograaf Hatem Moussa.

Premier Benjamin Netanyahu het vroeër gesê joernaliste doen nie verslag oor die “intmidasie” van Hamas nie.

Van die 710 buitelandse joernaliste wat tydens Operasie Protective Edge in Gasa verslag doen, het egter byna geen intimidasie ondervind nie, het Haaretz berig.

Hulle beskik ook nie oor materiaal van Hamas wat vuurpyle gevuur het vanuit burgerlike areas nie. Joernaliste sê hulle kan nie voorbeelde kry van Hamas wat hulle sensor of aan bande lê in Gasa nie.

Volgens berigte het Israel en Palestynse faksies ooreengekom om die skietstaking in Gasa vir ‘n verder 72 uur te verleng.

‘n Bron na aan die onderhandelings het in Kairo aan die nuusagentskap Reuters gesê die ooreenkoms is bereik enkele minute voor die verstryking van die skietstaking wat Maandag begin het.

Vroeër is berig dat waarskuwingsirenes oor inkomende vuurpyle in die suide van Israel gehoor is sowat twee ure voor die verstryking van die skietstaking.

Die Israelse weermag en die polisie het ondersoek ingestel en gevind dat ‘n vuurpyl wel in die gebied geland het, maar dat geen ongevalle of skade voorgekom het nie.

Hamas het ontken dat hy vuurpyle afgevuur het.

Afrikaanse kinders vaar beter in Wiskunde

Prof. Elizabeth Henning van die Sentrum vir Onderwyspraktyk aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) het Woensdag op die Suid-Afrikaanse Onderwysnavorsingsvereniging (Saera) se konferensie in Durban gesê Afrikaanse kinders vaar beter in Wiskunde.

Sy het gepraat oor ’n navorsingstudie oor wiskunde wat die afgelope vier jaar deur die UJ onder gr. 1- tot gr. 3-leerlinge in Gauteng gedoen is, het Beeld berig.

Wiskunde word dalk beter in Afrikaans begryp as in Engels wys die jongste navorsing onder sowat 3 000 kinders in Gauteng.

‘n Toets wat in Duitsland ontwerp is, is vir die navorsing gebruik. Die toets is van Duits na Afrikaans, Engels, Zoeloe en Sotho vertaal.

Die navorsingspan het ook bevind dat die Afrikaanse kinders in sekere vrae deurgaans beter vaar as die kinders wat in ander tale getoets is. Die voorlopige gevolgtrekking is dat die Afrikaanse taalstruktuur moontlik in sekere probleemformulerings beter vaar, het sy gesê.

Pallo Jordan maak plek vir volgende soustreinryer

Pallo Jordan se gebrek aan ‘n kwalifikasie het dalk “uitgelek” tot voordeel van Nick Koornhof, voormalige Cope-LP, wat nou kan terugkeer parlement toe as ANC-lid in Pallo Jordan se plek.

Jordan het Maandag as ANC-LP bedank en aangebied om sy pos in die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) te verlaat en as ANC-lid te bedank.

Dit volg ná berigte in die Sunday Times dat sy kwalifikasies vervals is.

Koornhof is volgende op die ANC se lys. Hy was ook voorheen ’n NP-LP en later lid van die DP. Koornhof wag nou vir dat Jordan amptelik bedank voor hy op die soustrein klim.

As ANC-LP “hoop hy om by die parlementêre portefeuljekomitees oor onderskeidelik finansies en omgewingsake in te skakel en die nasionale ontwikkelingsplan en versoening te bevorder”.

Intussen is bevestig dat Jordan 30 jaar gelede sy doktorsgraad van die tydskrif Africa Confidential “verwerf” het.

Africa Confidential is ’n Britse publikasie wat sedert 1960 met Afrika-politiek gemoeid is. Die tydskrif het Jordan glo verkeerdelik as ‘n doktor beskryf.

Luidens sy amptelike CV wat op die regering se kommunikasie-en-inligtingsdiens (GCIS) se webwerf verskyn, het Jordan aan die Universiteit van Wisconsin in Madison in die VSA gestudeer en later ’n nagraadse kwalifikasie aan die London School of Economics ontvang.

Jordan het sedert hy in 1990 na Suid-Afrika teruggekeer het die titel “doktor” gebruik.

Prof. Stephen Ellis, wat van 1986 tot 1991 redakteur van Africa Confidential was, het aan Beeld gesê hy was bewus van Jordan se leuens.

“My vermoede is dat Africa Confidential in ’n stadium (waarskynlik in die tyd voor my redakteurskap) ’n artikel ingehad het wat verkeerdelik ’n doktorsgraad aan Jordan toegedig het.

“Jordan het van die idee gehou en nie net nagelaat om mense reg te help wat na hom as doktor verwys het nie, maar die titel in die openbaar begin gebruik,” het Ellis gesê.

Brasilië se presidentskandidaat verongeluk

Die presidentsverkiesing in Brasilië is deur die dood van een van die kandidate in die wiele gery.

Een van die land se topdrie mededingers om die hoogste pos is Woensdag dood in ʼn vliegtuigongeluk, het AP berig.

Hy was op ʼn klein vliegtuig saam met sy assistente toe die vliegtuig in ʼn woonbuurt geval het.

Die tragiese ongeluk het gebeur slegs twee maande voor die land se presidentsverkiesing op 4 Oktober.

Pres. Dilma Rousseff, wat volgens meningspeilings voor is in die verkiesingsresies, het drie dae van rou verklaar.

Sy en die ander kandidaat, Aecio Neves, het ook aangekondig dat hulle hul veldtogte vir eers gaan staak.

Wiehan Botes se swart moordenaar nog steeds soek

Twee jaar het reeds verloop sedert die opspraakwekkende rassistiese moord op die baba Wiehan Botes en sy dagmoeder Margrietha de Goede, 66, maar hul moordenaar is nog nie vasgetrek nie. ‘n Identikit van die verdagte is vrygestel en lede van die publiek word gevra om privaatspeurder Mike Bolhuis behulpsaam te wees om hom op te spoor.

Klein Wiehan Botes en De Goede is op ‘n Sondag twee jaar gelede in Geldenhuysstraat, Delmas, vermoor. Hy was die seuntjie van Wiets, 33, en Rita Botes, 32.

wiehahn_moordenaar
Identikit van Themba Ephraim Mahlangu

Volgens Bolhuis “was dié dubbele moord was so grusaam dat dit die hele ondersoek- en forensiese span ontstel het. Ons het die verdagte, ene Themba Ephraim Mahlangu, nog nie opgespoor nie en vra enigiemand met enige inligting om ons te kontak.”

Mahlangu is 29 jaar oud en is die laaste keer in Delmas gewaar. Mense met inligting kan Bolhuis skakel by 082 447 6116 of die polisie by 012 808 1414.

Met die vorige verskyning van twee verdagtes wat met gesteelde goedere uit die huis betrap is, maar nie met die moorde verbind kon word nie, het die DA simpatie met die moordenaar betoon deur hom uit te spreek teen “rassistiese betogings” by die hof in Delmas. Die DA in Mpumalanga het selfs klagtes aanhangig gemaak by die Menseregtekommissie teen sewe “verregse groepe” en het die betoging bestempel as ʼn “rassehaatprotesaksie”.

Die DA se leier in Mpumalanga, Anthony Benadie, het gesê die groepe is: Die Boere-Afrikaner Volksraad, Volksraad Verkiesings Kommissie (VVK), Die Verkenners, Republikeinse Vrouebeweging, Kommandokorps, Herstigte Nasionale Party (HNP) en die AWB.

Van die plakkate wat glo tydens die protesaksie vertoon is sluit in: “Swart lafaards – los ons vroue en kinders uit”, “Diefstal, verkragting, moord: Ons is klaar met swart Suid-Afrika” en “Barbare los ons kinders uit.” Benadie het gesê die “opruiende slagspreuke” is teen die beginsel van “geen persoon mag onbillik teen ʼn ander persoon diskrimineer op grond van ras nie”. Hy gesê tragiese voorvalle soos die moord op Botes en sy dagmoeder mag nie deur “roekelose verregse groepe” as ʼn instrument gebruik word om hul “haatdraende en diskriminerende ideologieë” te bevorder nie.

Franse dorpie heet ‘Dood met alle Jode’

‘n Joodse groep het sy skok en woede uitgespreek na die ontdekking dat ‘n klein Franse dorpie nog steeds ‘n Middeleeuse naam La Mort aux Juifs of “Dood met alle Jode” dra.

Die Simon Wiesenthal-sentrum dring by die Franse minister van binnelandse sake aan om dit te verander.

Die Simon Wiesenthal-sentrum se direkteur van internasionale sake, Shimon Samuels, het aan die Franse minister belas daarmee, Bernard Cazeneuve, gesê hy is “geskok oor die bestaan ​​van ‘n dorpie in Frankryk wat amptelik genoem word ‘Dood met alle Jode’. Dit is uiters skokkend dat hierdie naam onder die radar gebly het in die 70 jaar sedert Frankryk bevry is van Nazisme en die [pro-Nazi] Vichy-regime.”

Maar die adjunk-burgemeester van die dorp van Courtemaux, wat jurisdiksie het oor die dorpie La Mort aux Juifs, 100 kilometer suid van Parys, is nie oortuig nie.

“Dit is belaglik. Hierdie naam het nog altyd bestaan​​. Niemand het iets teen die Jode nie, natuurlik nie. Dit verbaas my nie dat dit weer opduik nie,” het Marie-Elizabeth Secretand gesê, aan AFP.

“Hoekom ‘n naam wat teruggaan na die Middeleeue of selfs verder verander? Ons moet hierdie ou name respekteer. In ‘n vorige munisipale raadsbesluit, ten minste 20 jaar gelede, is reeds geweier om die naam van hierdie dorpie, wat bestaan ​​uit ‘n plaas en twee huise te verander,” het sy bygevoeg.

In 1992, het ‘n anti-rassisme organisasie by die Minister van Binnelandse Sake en die owerhede gepleit om die naam verander te kry, maar tevergeefs, het AFP berig.

Dit is nie die eerste keer dat die naam van ‘n Europese dorp ‘n herrie veroorsaak nie: In Mei het die inwoners van ‘n Spaanse dorpie vernoem Castrillo Matajudios [waar ‘Matar Judios’ beteken ‘vermoor Jode’] gestem om dit te verander. Die naam is nou Castrillo Judios, Koppie van die Jode – die ouer naam van die dorp.

Senegal sal ‘valse’ inligting oor Ebola straf

Die Departement van Justisie in Senegal het aangekondig dat hulle “valse inligting versprei deur [die koerant] La Tribune” sal straf nadat berig is dat vyf gevalle van Ebola in Senegal aangemeld is.

Die privaatmediagroep D-Media het berig dat “vyf gevalle van Ebola in Senegal” voorgekom het in sy uitgawe van Maandag.

In ‘n verklaring sê die Departement van Justisie die “valse inligting versprei deur La Tribune” in artikel wat gepubliseer is deur die koerant oor Ebola, kan baie “baie ernstige implikasies hê” vir die land.

Hierdie inligting “kan ons land sit in kwaratyn plaas […] vir die internasionale gemeenskap en rig enorme skade aan die Senegalese mense wat [internasionaal] wil reis,” sê die Departement van Justisie.

Die Departement sê die koerant moet besef “die publikasie van vals inligting is strafbaar deur die wet”.

“Daarom het die aanklaer besluit om die hof te nader oor die saak,” het hy aangekondig, sonder om verdere besonderhede van die aksie wat geneem sal word te gee.

Die Minister van Gesondheid en Maatskaplike Aksie, Awa Marie Coll Seck, het Maandagoggend gesê geen bevestigde gevalle van Ebola is in Senegal aangeteken nie.

Die resultate van monsters van twee pasiënte met simptome van die siekte is negatief, het sy tydens ‘n ministeriële vergadering gesê.

Soldaat in plaasaanval gevang

‘n Soldaat van 5SAI is in hegtenis geneem nadat hy positief verbind is met ‘n plaasaanval wat baie onlangs net buite Ladysmith in Natal plaasgevind het, het die Vryburger berig.

‘n Bejaarde dame is tydens die voorval deur twee gewapende mans op haar plaas langs die N11 net buite Ladysmith verras. Hulle het kontant en ‘n windbuks, wat hulle as ‘n swaarder wapen aangesien het, geroof. Die dame is nie in die aanval beseer nie.

Die twee stuks was deel van ‘n bende van nagenoeg vier tot vyf terroriste. Boere op naburige plase het vinnig gemobiliseer en die terroriste begin soek. Een van hulle is in die omliggende bosse gekry en aangekeer. Kort daarna is die soldaat in die Acaciavale-gebied in hegtenis geneem.

‘n Gelisensieerde 9mm vuurwapen is in die besit van een van die verdagtes gekry.

Die twee verdagtes het in die Ladysmith-landdroshof op aanklagte van gewapende roof verskyn. Die ander terroriste is nog op vrye voet.

Waarnemers het hulle kommer uitgespreek dat sulke voorvalle daarop dui dat soldate en polisiebeamptes dikwels deel uitmaak van die terroriste wat ingestel is op die volksmoord.

ʼn Woordvoerder van Projek 2010 is van mening dat daar verbintenisse is met terroristegroepe soos Al-Kaïda en andere.

‘Hitler het nie genoeg uitgemoor nie’

​’n Franse parlementslid is Dinsdag swaar beboet nadat hy glo gesê het Adolf Hitler, Nazi-leier, het “dalk nie genoeg sigeuners uitgemoor nie”.

Hy het voorheen appèl aangeteken teen die vonnis, maar het Dinsdag sy saak verloor.

Gilles Bourdouleix (54), burgemeester van Cholet, het in Julie 2013 ‘n oop stuk grond besoek wat onwettig deur ‘n nomadiese sigeuner-groep beset is, en toe die gewraakte woorde aan ‘n joernalis gefluister.

‘n Plaaslike koerant het die volgende dag daaroor berig en groot opslae gemaak. Die woedende burgemeester het die joernalis daarna vir ‘n “petit merde” uitgekryt, en is daarvoor ook aangekla.

Intussen het die burgemeester se vrou doodsdreigemente ontvang, Sy regsverteenwoordiger sê sy woorde was binne ‘n uiters vyandige konteks geuiter toe hy tydens sy besoek openlik deur die onwettige besetters gedreig is.

Hoewel hy in Januarie 2014 skuldig bevind is aan die goedpraat van ‘n misdaad teen die mensdom is sy boete eers opgeskort. Die staat het geappelleer en ‘n appèlhof het besluit hy moet wel met die boete gestraf word.

Bourdouleix hou vol hy is onskuldig en dat sy woorde in konteks nie as kwaadwillig beskou kan word nie. Die sigeuners skep ‘n yslike misdaadkopseer waar hulle teenwoordig is, sê inwoners wat hom ondersteun.

Bourdouleix het ‘n geskiedenis van konflik met die sigeuners. In 2006 het hy met ‘n petisie aan 36.500 burgemeesters in Frankryk oorreed dat plaaslike owerhede spesiale magte gegee word om onwettigge besetters van grond te verwyder.

In November 2012 het hy gedreig om te bedank, na ‘n “nuwe inval” van sowat 20 karavane in sy gebied. Die reisigers het die volgende dag die pad gevat.

Egpaar in Pretoria-Tuine vermoor

​Die seun van ‘n bejaarde egpaar van Pretoria-Tuine het Dinsdag op die lyke van sy vermoorde ouers afgekom.

Hul seun Deon het op sy ouers afgekom waar hulle op die slaapkamervloer in bloedplasse gelê het.

Dolf en Pop de Lange is in hul huis in ‘n sekuriteitskompleks vermoor. Hulle was glo onlangs slagoffers van ‘n roof voor die kompleks.

Pop se haarkapper en hul seun het albei onraad vermoed toe hulle nie die egpaar per selfoon kon bereik nie.

Volgens kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder sê daar was tekens dat die twee hulself teëgesit het, maar dis nog nie seker hoe hulle dood is nie.