Ma van drie op plaas doodgesteek

‘n Vrou en moeder van drie jong dogters is Woensdagmiddag op ‘n plaas naby Hartbeespoort in Noordwes vermoor.

Sy is vermoedelik oorval kort voordat sy haar kinders by die skool sou gaan haal het.

Verskeie steekwonde is aan haar lyk opgemerk waar sy buite die huis gevind is.

Die polisie het glo die toneel vir leidrade gefynkam tot in die vroeë-oggendure, het Netwerk24 berig.

Die vrou was ‘n weduwee. Haar naam is nog nie bekend gemaak nie. Sy het na die afsterwe van haar man twee jaar gelede, alleen met haar dogters in hul huurhuis op die plaas in die Rietfontein-omgewing gewoon.

Hul huis was afgeleë, weg van ander wonings op die plaas.

Die drie kinders is glo tans in veilige sorg van vriende.

SA kry aanstons nuwe nommerplate

Suid-Afrika sal nuwe nommerplate in 2017 kry, sê die departement van vervoer.

Nuus van die nuwe nommerplate het eers aan die lig gekom in 2015 toe die departement van vervoer ‘n kennisgewing uitgestuur het om Suid-Afrikaners van die beoogde plan van aksie in te lig.

Die nuwe borde, sê die departement, sal elke vyf jaar hernu moet word.

Onder die nuwe wet, moet die nuwe nommerplate die volgende bevat:

  • SABS-sertifisering onder die lisensie van die provinsie.
  • Vier dimensionele strepieskode met QR-kode.
  • Die verkorte naam van die vervaardiger van die nommerplaat.
  • Die unieke nie-oordraagbare stempel van die blanko nommerplaat.

Die letters en syfers sal vertoon in die volgende kleure:

  • Swart – openbare vervoer voertuie.
  • Blou – algemene voertuie en persoonlike nommerplate.
  • Rooi – staatsvoertuie.
  • Groen – diplomatieke voertuie.

Nuwe nommerplate moet die volgende vertoon:

  • SA-vlag op die boonste linkerhoek.
  • lisensie en lisensiemerk van die provinsie.
  • Die naam van die provinsie onder die SA-vlag en gesentreer bo-aan die nommerplaat.

EFF se eis dat OB-onderhoude gestaak word verwerp

Die EFF eis dat die onderhoude vir die pos van Openbare Beskermer gestaak word en dat die proses om kandidate op die kortlys te plaas weer moet begin.

Die hoofsweep van die EFF, Floyd Shivambu, sê daar moet onderhoude met meer mense gedoen word. Hy het ook gevra dat die besluit om op een dag onderhoude met al die kandidate te doen hersien word.

Die EFF dreig met regstappe.

Die Parlement se adhoc-komitee sal vandag onderhoude voer met al 14 kandidate op die kortlys.

Shivambu sê die pos van Openbare Beskermer is te belangrik om oorhaastig keuses te maak.

Die komitee se voorsitter, Makhosi Khoza, het egter die EFF se versoek van die hand gewys en gesê die party se eie optrede het daartoe gelei dat hulle nie vroeër aan vergaderings deelgeneem het waar daar oor die program besluit is nie.

Khoza het bygevoeg dat die doel daarvan is om regverdig teenoor alle kandidate te wees maar indien die onderhoude oor twee dae gehou moes word, sou daar ‘n onregverdige voordeel vir sekere kandidate wees.

Kandidate met wie onderhoude vandag gevoer gaan word het voor agtuur vanoggend by die Parlement begin opdaag. Al veertien die kandidate sal deur die dag voor die komitee verskyn.

Kandidate sal in ‘n afgeslote area wag waar hulle nie sal kan sien hoe die ander kandidate se onderhoude verloop nie.

Die onderhoude sal regstreeks op die parlementêre televisiekanaal en op YouTube gevolg kan word.

Die kandidate sluit onder andere in die adjunk nasionale direkteur van openbare vervolging, Willie Hofmeyr, die voormalige adjunk openbare beskermer, advokaat Mamiki Goodman, en die huidige adjunk openbare beskermer, Kevin Malunga.

Verskeie groepe het vroeër kommer uitgespreek omdat net een dag vir al die onderhoude opsygesit is.

Hulle meen onderhoudvoerders kan moeg word en nie so lank aaneen sal kan konsentreer nie.

China suur oor ontplooiing na Spratly-eilande

Viëtnam het verskeie van sy eilande gefortifiseer in die Suid-China See wat die bron van ernstige dispute tussen China en die VSA is.

Nuwe mobiele vuurpyllanseerders is glo na die eilande ontplooi, maar Viëtnam se minister van buitelandse sake sê die inligting is “foutief”.

Amerikaanse militêre personeel sê van die toerusting is na vyf basisse van die Spratly-eilande ontplooi.

Hierdie lanseerders is in staat om China se aanloopbane en militêre installasies oorkant die noodsaaklike handelsroete te bereik, het Westerse veiligheidsbronne gesê.

‘n Internasionale arbitrasie-paneel se bevinding verlede maand dat China se ekspansionistiese maritieme aansprake in die Suid-China See onwettig is, het vroeër woedende reaksie in Beijing ontlok.

China het Woensdag in ‘n verklaring gesê hulle het steeds volle soewereiniteit oor die gebied en is gekant teen “onwettige uitbreiding”.

Rousseff in staat van beskuldiging gestel met Rio Spele in volle swang

Met die oë van die wêreld op die Olim­piese Spele in Rio de Janeiro, het senatore in die Brasiliaanse hoofstad Brasilia, dié week met 59 stemme teen 21 teen die geskorste leier, Dilma Rousseff (foto bo) gestem, in ’n 20-uur lange sessie waarvan hoofregter Ricardo Lewandowski die voorsitter was.

’n Skuldigbevinding sal beslis daartoe lei dat Rousseff van haar pos onthef word en ’n einde aan die 13-jaar lange bewind van haar regerende Werkersparty maak. Dit sal meebring dat die tussentydse president, Michel Temer, die res van haar termyn tot 2018 sal volstaan.

Rousseff se teenstanders het net ’n eenvoudige meerderheid in die 81-setel senaat nodig gehad om haar te laat verhoor vir manipulering van regeringsrekeninge en besteding sonder goedkeuring van die kongres, wat hulle aanvoer haar gehelp het om in 2014 herkies te word.

’n Uitspraak word teen die einde van die maand verwag en sal ’n tweederdemeerderheid in die senaat verg om Rousseff skuldig te bevind. Dit is vyf stemme minder as wat haar opponente kon bemeester.

Woensdag se stemmery toon egter dat die beweging om van Rousseff ontslae te raak, steun in die senaat gewen het, wat in Mei met 55 stemme teen 22 gestem het om met beskuldigingsprosedures te begin, wat in Desember 2015 in die laerhuis geïnisieer is.

Dit sal Temer se hand versterk terwyl hy streef om sy eie legitimiteit te vestig en Brasilië se ontevrede onderklas te bestuur. Ten minste die helfte van die land is fel gekant teen die Spele.

Die heersende onsekerheid het sy pogings in die wiele gery om die fiskale krisis, wat hy van Rousseff geërf het, aan bande te lê. Waarnemers waarsku dat die ekonomie oënskynlik op pad is na die ergste resessie sedert die 1930’s.

Temer, Rousseff se konserwatiewe voormalige visepresident, wat die mag in Mei oorgeneem het, het senatore aangemoedig om die verhoor so vinnig moontlik af te handel sodat hy planne in werking kan stel om openbare besteding aan bande te lê, ’n oortoegeeflike pensioenskema kan hervorm en vertroue in die regering se finansies kan herstel.

Beleggers verwag dat indien Rousseff met die meer sakevriendelike Temer vervang word, dit Brasilië se wisselkoers sal verstewig en aandelepryse op die Sao Paulo-aandelebeurs sal opjaag.

Rousseff het ontken dat sy enige iets verkeerd gedoen het en skryf haar beskuldiging toe aan pro-Amerikaanse sameswering wat ’n tegniese boekhouding-slenter gebruik het om haar onwettig uit die kussings te lig.

Etniese geweld teister Ethiopië

Oproer in Ethiopië het in November 2015 in die Oromia-streek begin wat die hoofstad omring. Planne van die regering om die grense van Addis Abeba, die setel van die Afrika-Unie uit te brei, het aanleiding tot die openbare uitbarstings gegee.

Oor die naweek het owerhede ten minste 100 mense gedood en ‘n algehele verbod op alle internetgebruik geld.

Die streek se Oromo-bevolking vrees dat hul plaasgrond onteien sal word. Ondanks die feit dat die regering hierdie planne laat vaar het en die betogings met geweld onderdruk het, het hulle die woede onderskat wat dit uitgelok het.

Onluste het sedertdien na ander dele van Oromia versprei, en meer onlangs ook na die noordelike Amhara-streek uitgebrei, het AFP berig.

Dit het tot onmin gelei in regeringsgeledere van dié sleutel Amerikaanse bondgenoot en belangrike vennoot in Oos-Afrika se stryd teen terrorisme.

“Sedert hulle aan bewind gekom het, het die regime nog nooit so ’n slegte belewenis gehad nie. Ethiopië lyk soos ’n vliegtuig wat ’n sone van uiterste turbulensie beleef,” het ’n onafhanklike navorser, Rene Lafort, gesê.

Ondanks wat hy as ’n “staat van beleg” op die Oromia-streek beskryf, het die opstand in onlangse weke geen teken van afname getoon nie en betogers daag toenemend openlik die regering uit.

Een vergadering is selfs Saterdag in Addis Abeba gehou, ’n rare gebeurtenis in die magsetel van die land. Die Ethiopiese regering word onder die mees onderdrukkende in Afrika geag.

Meer as 140 mense is dood toe veiligheidsmagte die aanvanklike Oromia-grondbetogings onderdruk het. Menseregtegroepe het berig van mense wat voor die voet doodgeskiet is en ander wat gemartel is.

In die jongste optrede die naweek is, volgens Amnestie Internasionaal, meer as 100 mense dood. Die veiligheidsmagte het volgens berigte met lewendige ammunisie op die skare gevuur.

“Die krisis is sistemies, omdat dit die fondamente van ’n regeringsmodel skud wat 25 jaar gelede in werking gestel is en wat outoritêr en gesentraliseer is,” het Lafort verduidelik.

Die betogers het verskillende griewe, maar is verenig in hul ontevredenheid met die land se leiers, wat meestal uit die noordelike Tigray-streek kom en minder as tien persent van die bevolking verteenwoordig.

Die eerste minister, Hailemariam Desalegn, staan aan die hoof van die Ethio­pian People’s Revolutionary Democratic Front (EPRDF), wat in die verkiesings verlede jaar al die setels in die parlement gewen het.

Al kom hy van die Wolayta-minderheidsgroep, is hy in die regering omring deur Tigriërs wat ook die veiligheidsmagte en posisies van ekonomiese mag domineer.

Prof. Getachew Metaferia, ’n hoogleraar in politieke wetenskap aan die Morgan State University in Amerika, beskryf die toedrag van sake as ’n staat wat deur ’n etniese minderheid beheer word en hul wil op die meerderheid afdwing.

Volgens hom is dit ’n noodsaaklike faktor om begrip vir die onluste te kry.

Meer as 60 persent van die land se nagenoeg 100 miljoen mense is óf Amhara óf Oromo.

“Daar is geen fundamentele bespreking met die mense nie, geen dialoog nie en die vlakke van frustrasie is aan die oplaai. Ek dink nie dinge sal na normaal terugkeer nie,” het die professor gesê.

Die land se leiers het daarin geslaag om verbysterende ekonomiese groei en ’n vinnig verbeterde gesondheidsbedeling te vestig, wat die beeld van die land aansienlik van die hongersnoodgeteisterde land van die 1980’s verander het.

Maar dit het ten koste van sekere regte gekom. Ethiopië is nommer 142 uit 180 lande in vanjaar se Verslaggewers Sonder Grense se persvryheid-indeks.

Ná die omverwerping van die diktator, Mengistu Haile Mariam in 1991, het Meles Zenawi met ’n ystervuis tot sy dood in 2012 geregeer waarna Hailemariam die leisels oorgeneem het.

Egipte muilband polisie

Egipte se parlement het Dinsdag beperkings op die polisie goedgekeur wat hulle onder meer verhinder om inligting aan die media te verskaf.

Kritici sien dit as ‘n poging om menseregteskendinge en korrupsie toe te smeer.

Kragtens wysigings aan die polisiewet moet polisiebeamptes voortaan geskrewe toestemming van die ministerie van binnelandse sake hê, alvorens hulle inligting mag verskaf of enige dokumente, verslae of foto’s mag publiseer wat met hul werk verband hou.

Die straf vir oortreders is ongespesifiseerde gevangenisstraf en boetes tot so hoog soos 20 000 Egiptiese pond.

In Februarie, het die Egiptiese president Abdel Fattah el-Sisi gelas dat voorstelle aan die parlement voorgelê word nadat ‘n junior polisiebeampte ‘n taxibestuurder oor ‘n nietige tariefargument doogeskiet het en inwoners woedend gereageer het.

Maar dié maatreëls kom vermoedelik nadat daar botsende verklarings uitgereik is oor die lugramp op 19 Mei deser, toe EgyptAir vlug MS804, vanaf Parys na Kaïro, in die Middellandse See neergestort het en 66 passasiers dood is.

Die Franse minister van buitelandse sake Jean-Marc Ayrault het Egipte se minister van buitelandse sake Sameh Shoukry verlede week geskakel en gevra om aandag te skenk aan die stygende kommer van die families van die slagoffers van die ramp.

Hy het gesê dat die families van die slagoffers nog steeds wag vir die terugkeer van menslike oorskot en persoonlike besittings, en hulle het steeds nog geen duidelike uiteensetting van die redes wat gelei het tot die ongeluk ontvang nie.

Intussen is die oorskot van die Egipties-Amerikaanse Nobelpryswenner vir chemie, Ahmed Zewail, deur Kaïro se strate gelei.

Zewail het ’n begrafnis met volle militêre eer gekry wat deur Egipte se president en topregeringsleiers bygewoon is.

Zewail, wat pres. Barack Obama se raadgewer oor wetenskap en tegnologie was, het verlede Dinsdag in Amerika gesterf. Hy was 70 jaar oud

NYT loods histeriese aanval teen Trump

Vyftig sogenaamde Republikeinse veiligheidskenners, insluitende ‘n voormalige direkteur van die Amerikaanse intelligensiediens (CIA), het Maandag die party se presidentskandidaat, Donald Trump, uitgekryt as ongekwalifiseerd om die land te lei en gesê hy sal die “mees roekelose president in Amerika se geskiedenis” wees.

Die verklaring is die jongste verwerping van Trump se kandidatuur deur veteraan Republikeinse veiligheidspesialiste en word deur die felheid van die taalgebruik gekenmerk.

“Mnr. Trump skiet te kort aan karakter, waardes en ondervinding om president te wees. Hy verswak Amerika se morele gesag om die leier van die vrye wêreld te wees. Hy beskik nie oor basiese kennis en geloof in die Amerikaanse grondwet, Amerikaanse wetgewing en Amerikaanse instansies, insluitende geloofsvryheid, mediavryheid en ’n onafhanklike regbank nie,” lui die verklaring.

Volgens die verklaring sal nie een van die vyftig ondertekenaars vir Trump stem nie.

“Uit ’n buitelandse beleidperspektief, is Donald Trump nie bevoeg om president of opperbevelvoerder te wees nie.

Ons is inderdaad daarvan oortuig dat hy ’n gevaarlike president sal wees wat die land se nasionale veiligheid en welstand in gevaar sal stel,” lui die verklaring wat eerste in die New York Times gepubliseer is.

Trump het die koerant voorheen daarvan beskuldig dat hulle partydig is en nie belangstel daar in om objektief te wees nie. Hy het ook gesê hy vrees dat die verkiesing in November ‘n gekonkel gaan wees.

Intussen het Julian Assange op die Nederlandse televisieprogram Nieuwsuur gesuggereer dat Seth Rich (foto bo), ‘n Demokratiese medewerker die bron vir die Wikileaks-eposkraak was en nie die Russe nie.

Die Clinton-veldtogvoerders het Rusland die skuld gegee vir die vrystelling van gekraakte eposse wat aantoon hoe Clinton die Demokratiese verteenwoordigers manipuleer.

Rich is vermoor.

Zambiërs nie entoesiasties oor demokrasie nie

Zambië sal Donderdag stem in ‘n algemene verkiesing. Inwoners sal ook hulle stemme uitbring vir die volgende president van die land.

Maar daar is byna geen entoesiasme vir die demokratiese proses nie. Regoor Zambië is besonder lae stempersentasies in die 2014 verkiesing opgemerk. Net 32,36% van geregistreerde kiesers het deelgeneem.

Ontleders verwag dieselfde lustelose vertoning van kiesers by die stembusse waar min toustanery voorheen opgemerk is (foto bo).

Die koperryke land is die afgelope tyd swaar deur laer globale kommoditeitspryse getref, het AFP berig.

Die skerp afname in die prys van koper en swakker uitvoere na China, ’n belangrike handelsvennoot, tesame met ’n ommekeer in regeringsbeleid, het internasionale beleggersvertroue in die land ondermyn.

Die belangrikste kandidate vir die presidentskap is die tussentydse president, Edgar Lungu van die Patriotic Front (PF), wat in Januarie 2015 ’n naelskraapse verkiesingsvoorwinning behaal het, en Hakainde Hichilema van die United Party for National Development (UPND).

Die Zambiese kwacha was die swakste geldeenheid in die wêreld in 2015 wat met 42% teenoor die dollar gedaal het, iets wat Lungu dalk die verkiesing kan kos.

Die laaste verkiesing is gehou ná die onverwagte dood van pres. Michael Sata.

Partye het tot 20 Augustus om koalisies te vorm

Politieke partye het tot volgende Saterdag, 20 Augustus tyd om koalisies te vorm om munisipaliteite en metrogebiede te bestuur waar geen party ‘n volstrekte meerderheid stemme gekry het nie.

Die SABC berig samesprekings tussen die ANC en die EFF sal na verwagting vandag voortgaan.

Die ANC se leierskap het volgens berigte in die geheim met die EFF begin vergader in ‘n poging om ‘n koalisie-ooreenkoms te bereik.

Die ANC kon nie ‘n meerderheid stemme in die Nelson Mandela-baai en Tshwane Metro’s behaal nie, en ook nie ‘n volstrekte meerderheid in die Johannesburg en Ekurhuleni Metro’s nie.

Die EFF het genoeg steun om te kan bepaal watter party aan bewind kom in van die metro’s, maar gaan na verwagting eis dat President Jacob Zuma bedank as ‘n voorwaarde vir ‘n koalisie-ooreenkoms.

Die ANC het intussen die gewelddadige betogings by Qunu in die Oos-Kaap veroordeel.

Die oud-terroris Nelson Mandela is in Qunu begrawe.

Sy kleinseun, Mandla Mandela het vroeër sy skok uitgespreek oor berigte dat minstens drie lede van sy familie by die onluste betrokke was. Hy het ‘n beroep om kalmte gedoen.

Inwoners van Qunu het Dinsdag betoog oor die aanstelling van ‘n munisipale raadslid, en het die N2 vir ‘n aantal ure versper.

Die ANC-voorsitter in die OR Tambo-streek, Xolile Nkompela sê ANC-lede kan nie die party met geweld dwing om ‘n raadslid te verwyder nie, en die regte kanale moet gevolg word om griewe te hanteer.

Volgens Nkompela sal hy vandag met tradisionele leiers in die wyk vergader oor die kwessie.