Die “wonderbaarlike” styging in die matriekslaagsyfer oor die afgelope paar jaar was slegs moontlik omdat meer as die helfte van leerlinge in sommige provinsies nooit eksamen gaan skryf nie. Skole weet dat hulle gaan druip en oorreed hulle daarom om nie eens eksamen te gaan skryf nie. Na bewering “verdwyn honderdduisende leerlinge binne twee jaar uit die nasionale onderwysstelsel” tussen graad 10 en graad 12. Syfers daaromtrent het oor die afgelope paar dae in die Wes-Kaap op die lappe gekom.
In 2012 was daar byvoorbeeld nog meer as een miljoen leerlinge in graad 10. Dog in 2014 het net 524 495 leerlinge vir die matriekeksamen in openbare skole ingeskryf, wat minder as die helfte van die 1 065 329 leerlinge verteenwoordig wat twee jaar gelede nog in graad 10 op die skoolbanke was.
Die Wes-Kaapse provinsie spog daarmee dat hy blykbaar die hoogste persentasie graadtienleerlinge het wat wel agterna matriek gaan skryf het (63,8%). Gauteng, waar ook heelwat voormalige model-C-skole met blanke onderwysers en leerlinge te vinde is, is nie op die lys van provinsies waar baie min graadtienleerlinge ooit matriek aflê nie. Statistiek oor Noordwes, Limpopo, die Noord-Kaap en die Vrystaat toon egter dat meer as 50% van leerlinge tussen graad 10 en matriek uitval.
- Noordwes: 61,5% van die 67 409 leerders het uitgeval;
- Limpopo: 59,3% van die 172 398 leerders het uitgeval;
- Noord-Kaap: 56,5% van die 21 379 leerders het uitgeval;
- Vrystaat: 55,5% van die 58 599 leerders het uitgeval.
Dit is bekend dat skole dit moeilik vind om leerlinge te druip aangesien provinsiale onderwysdepartemente nie daarvan hou nie. Dit behels ook baie burokratiese rompslomp om ‘n leerling te druip. Daarom word leerlinge wat na regte behoort te druip, jaar na jaar “deurgesit” totdat die oomblik van waarheid kort voor matriek aanbreek.
Ironies genoeg is die Vrystaat, ‘n provinsie waar 55,5% van graadtienleerlinge nooit die matriekeksamen aflê nie, in 2013 aangewys as die provinsie met die hoogste slaagsyfer!
Die hele land sit nou in afwagting op die bekendmaking van vanjaar se slaagsyfers teen môre deur die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga. Na verwagting gaan die algehele matriekslaagsyfer met 5% daal as gevolg van wiskunde, wetenskap en selfs die maklike “wiskundige geletterdheid” wat verder gesak het. Neem ‘n mens egter die hoë uitvalsyfer tussen graad 10 en matriek in ag, slaag ver minder as die helfte van alle hoërskoolleerlinge ooit matriek.