LUR gee bevel dat blou ligte aangeskakel word

mogaleHumphrey Mmemezi, destyds LUR vir plaaslike regering en behuising, het kort voor Thomas Ferreira se ongeluk beveel dat die blou ligte op sy motor aangeskakel moet word, het die Krugersdorpse landdroshof Donderdag gehoor.

Mmemezi het aanvanklik gelieg en gesê hy was nie in die voertuig toe die ongeluk gebeur het nie. Die Gautengse premier het egter later met die sak patats vorendag gekom.

Die bestuurder van die LUR se voertuig het homself ook nie aan die beseerde kind gesteur nie en net die skade aan sy voertuig bekyk, het omstanders aan die media bevestig.

Mmemezi het dié blouligbevel aan sy bestuurder, Joseph Semitjie, gegee voor hulle die LUR se huis op die dag van die ongeluk in November 2011 verlaat het.

“Ons het nie die blou ligte gebruik omdat ons wou nie. Die LUR het ons gesê om dit te doen,” het Semitjie se voormalige kollega Nomakhosi Onica Mashifane aan die hof gesê.

Semitjie staan tereg op vier aanklagte, waaronder die versuim om bystand aan beseerdes op ‘n ongelukstoneel te verleen.

Mashifane, wat ook nie haar gevorderde bestuurskursus voltooi het nie, het gesê hulle het nie stilgehou by stoptekens terwyl hulle die LUR vervoer het nie, omdat hulle haastig was.

Sy het gesê toe hulle in Paardekraal-rylaan in Krugersdorp aankom, het hulle die sirene aangeskakel om ander motoriste bewus te maak dat hulle aankom.

“Die motoriste uit verskillende rigtings het weens die sirene tot stilstand gekom en ons het gedink dit is veilig om aan te hou ry,” het Mashifane gesê.

Toe hulle aangehou ry het, het hulle ‘n geluid aan die linkerkant van die voertuig gehoor.

“Ons was reeds verby die kruising toe ons die geluid hoor en ons het toe gesien dat ons voertuig aan die linkerkant getref is,” het Mashifane gesê. – Sapa

ANC vra tugstappe teen City Power-stakers

citypowerDie ANC sê tugstappe moet teen stakende City Power-werknemers ingestel word.

Werkers staak sedert Woensdag oor n nuwe skofrooster en het meer as 10 woonbuurte vir die derde agtereenvolgende dag sonder elektrisiteit gelaat, het Eyewitness News berig.

Die kragonderbrekings het toevoer na die huis waar oudpresident Nelson Mandela aansterk ook geraak. Daar was spekulasie dat probleme met elektrisiteitsvoorsiening Mandela se herstel sal beïnvloed. Twee kragopwekkers is by die huis in Houghton opgemerk.

Jolidee Matongo, ‘n woordvoerder van die ANC, het gesê die party is teleurgesteld dat stakende werkers nie die regte kanale volg om aandag op hulle griewe te vestig nie

City Power ondersoek bewerings dat stakende werkers doelbewus sekere woonbuurte se kragtoevoer saboteer.

Die kragverskaffer het ‘n vergadering belê om die dispuut op te los, maar sê dit kan tot drie dae neem voor kragtoevoer weer na alle woonbuurte herstel is.

Matongo het gesê in die stadium is dit nie nodig vir plaaslike raadslede om in te gryp nie.

Twintig onderwysers vir bedrog gearresteer

classroomMeer as 20 swart onderwysers van Mpumalanga is Donderdag in hegtenis geneem nadat hulle glo die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) uit R7 miljoen geswendel het, het die Valke gesê.

Die onderwysers van die Ehlanzeni- en Bohlabela-distrik is by hul werkplekke in hegtenis geneem.

“Ons het 36 lasbriewe in Mpumalanga. Toe ek vanmiddag weg is, het ons reeds 22 mense in hegtenis geneem en nog mense word vasgetrek,” het kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, gesê.

“Sommige van die onderwysers was nog by die werk, terwyl ander by rondgaande onderwyskantore in hegtenis geneem is. Hulle het na bewering die SAID deur belastingopgawes geswendel en die bedrag wat betrokke is, is R7 miljoen.”

Ramaloko het gesê die onderwysers sal Vrydag in vier howe op aanklag van bedrog verskyn.

“Hulle sal in die KaBokweni-, Komatipoort-, Bushbuckridge-, en Nelspruit-landdroshof verskyn.”

Die misdade is in 2012 gepleeg.

“In die tweede vlaag van arrestasies sal ons SAID-beamptes ook aankeer,” het Ramaloko gesê. – Sapa

Kabinet maan betogers, stakers tot kalmte

goudmynDie Kabinet het ‘n beroep op betogers sowel as stakers gedoen om hulself te weerhou van geweld. Die vakbond Amcu sê dat van sy lede by Sibanye se Beatrixgoudmyn in die Vrystaat aangeval is.

Dit het vrese opnuut laat ontstaan dat die staking in die goudsektor gewelddadig kan raak. Amcu se hoofsekretaris, Jeff Mphahle sê die vyf Amcu-lede is deur lede van die NUM aangeval wat wou keer dat hulle gaan werk.

Die reg om te staak moet op ‘n nie-gewelddadige wyse geskied, het die waarnemende regeringswoordvoerder Phumla Williams aan verslaggewers in Pretoria Donderdag gesê, na aanleiding van die uitvoerende gesag se vergadering Woensdag.

“Die Kabinet beklemtoon dat so ‘n reg uitgeoefen moet word op ‘n nie-gewelddadige wyse en in volle nakoming van die wet,” het sy gesê.

“Daar is ‘n verantwoordelikheid op die vakbondleiers, werkgewers, die staat, en die veiligheidsdienste om te verseker dat die wet gehandhaaf word en dat uitdagende optrede vermy word.“

Verskillende ekonomiese sektore in Suid-Afrika, insluitend die mynbou, konstruksie, en die motorsektor, is tans besig met onderhandelinge.

Die vakbond, die NUM het die Kamer van Mynwese se hersiene salarisaanbod na sy stakende lede geneem om oorweeg te word.

Die NUM se stakingskomitee het vroeër vandag vergader om die aanbod te bespreek. Die NUM-woordvoerder, Lesiba Seshoka sê die werkers se besluit kan teen môre reeds aangekondig word.

Die goudmynwerkers staak van Dinsdag af.

Williams is ook gevra oor die toestand van die drie Suid-Afrikaanse soldate wat beseer is tydens ‘n VN-sending in die Demokratiese Republiek van die Kongo.

“Suid-Afrikaners word geroep om ondersteuning en erkenning te gee aan hierdie soldate wat instrumenteel in die verwesenliking van Suid-Afrika se verbintenis tot vrede, stabiliteit en die versterking van die demokrasie in Afrika is.“

Sy het vrae na die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag verwys.

Spertyd vir grondeise verleng

landreformDie kabinet het die spertyd vir grondeise tot 2018 verleng.

Die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte gaan binnekort by die Parlement ingedien word.

Dit stel eisers, wat te laat was vir die sperdatum in Desember 1998, in staat om hul eise opnuut in te stel.

Die adjunkkommissaris vir grondeise, Thami Mdontswa sê die wetsontwerp maak ook vals eise strafbaar en dit vereenvoudig die prosedure om regters tot die Grondeisehof aan te stel. – RSG

EFF registreer by OVK met beloftes van nasionalisering, grondroof

MalemaDie ekonomiese vryheidsvegters is geregistreer as ‘n politieke party by die Onafhanklike Verkiesingskommissie.

“Die registrasie van die EFF … is ‘n historiese oomblik en die begin van die werklike radikale, militante en beslissende politieke program wat sal lei tot ware bevryding van die mense van Suid-Afrika, Afrika en die wêreld,” het die EFF se leier Julius Malema Donderdag gesê.

Die goedkeuring beteken die party sal aan die algemene verkiesing deelneem in 2014, en wen, sê Malema .

“[Die ] EFF sal die verkiesings betwis om die regering oor te neem nie om ‘n tandelose opposisieparty in verskillende parlemente en wetgewers te wees nie.”

“Die demokratiese ruimte is nou oop vir die regte politieke en ideologiese geveg…”

OVK-woordvoerder Lydia Young het die registrasie bevestig.

“Ja, hulle het geregistreer, ” het sy in ‘n epos bevestig.

Malema het gesê Suid-Afrikaners kan nou ‘n “sug van verligting” slaak omdat sy “reuse-beweging” ‘n opsie  is. Ander politieke partye, het hy gesê, het versuim om die land te transformeer.

“Die mense van Afrika moet besef dat daar nou ‘n beweging van die mense is wat die belange van die mense van Afrika bevorder, wat ‘n aggressiewe ekonomiese dekolonisasieprogram insluit, gelei deur massiewe ontwikkeling en industrialisering en [dit] sal binnekort [die] Regering van Suid-Afrika wees.

“Die mense van die wêreld wat onderdruk en uitgebuit word kan nou uitsien na daadwerklike anti-imperialistiese optrede en politieke programme wat prakties en programmaties neo-liberalisme en globale kapitalisme sal ondermyn.“

Malema het gesê die EFF is bewus van sy verpligtinge en verantwoordelikhede en sal dit met ‘n “militêre presisie” volvoer.

“Hierdie is die verpligtinge en die verantwoordelikheid om Suid-Afrika en Afrika se rykdom aan die mense as ‘n geheel te herversprei,” het hy gesê .

“Grond sal billik verdeel word onder die mense, myne sal genasionaliseer word, en gratis gehalte-onderwys, gesondheidsorg en sanitasie sal voorsien word.”

Hy het gesê die Afrika-ekonomie sal ontwikkel word, Suid-Afrika sal geïndustrialiseer word, en korrupsie sal uitgeskakel word onder die EFF se bewind.

Malema staar self aanklagte van korrupsie in die Polokwane-landdroshof in die gesig weens beweerde korrupte aktiwiteite . Hy is uit op borgtog van R10 000.

Die voormalige ANC Jeugliga-leier het belowe om nooit die mense op die grond te versaak nie.

Die party beplan om dele van die werkersklas te organiseer in “militante, onwrikbare vakbonde en werkersbewegings”.

Die omstrede leier het ‘n beroep op “vegters” gedoen om op die voorpunt van elke protes-beweging in alle gemeenskappe , werkplekke, en instellings te wees.

“Oorwinning is seker, geen oorgawe nie! Nooit terugwaarts nie! ” het hy gesê. – Sapa

Kerry mislei Senaatskomitee oor rebelle

sirieseteregstelling
Die openingstoneel van die video

By die Senaatskomitee oor buitelandse betrekkinge waar Kerry die saak vir president Barack Obama se plan om Sirië aan te val gestel het, het Kerry beweer dat die gewapende opposisie “toenemend deur sy gematigheid en uitgebreide lidmaatskap gekenmerk word, hulle gehoorsaamheid aan demokratiese prosesse, inklusiwiteit en ‘n grondwet wat minderhede beskerm”.

“En die opposisie word sterker by die dag,” het Kerry bygevoeg.

Intelligensiebronne en kundiges oor die Siriese konflik sê dié assessering is nie korrek nie.

Hulle sê Islamitiese groepe soos die Al-Kaida se Nusra Front is beter georganiseer, gewapen en opgelei.

Kerry se opmerkings verteenwoordig ‘n verandering in gesindheid deur die Obama-administrasie, wat vir meer as twee jaar versigtig was om nie aan rebelle Amerikaanse wapens te verskaf nie.

So onlangs as die einde van Julie, op ‘n sekuriteitskonferensie in Aspen, Colorado, het die adjunk-direkteur van die Pentagon se verdedigingsintelligensie-agentskap, David Shedd gesê hy is “baie bekommerd dat die mees radikale elemente sal oorneem”.

Die Amerikaanse en geallieerde intelligensiebronne het egter gesê die soort radikale aanslae waarna Shedd verwys het, het nie verander nie.

In ‘n tweede verhoor Woensdag, is Kerry uitgedaag deur ‘n Republikeinse verteenwoordiger Michael McCaul, Texas .

“Wie is die rebelle? Wie is hulle? Ek vra dit die hele tyd in my inligtingsessies,” het McCaul gevra. “En elke keer word ek ingelig dit is net erger en erger, want die meerderheid van die rebelle – en ek sê hier meerderheid – is radikale Islamiete wat instroom van oor die hele wêreld.”

Kerry het McCaul se stelling probeer afmaak as verkeerd en gesê dat “gematigde” groepe oorneem.

Top Amerikaanse intelligensie en militêre amptenare het onlangs ook ‘n somber openbare evaluering van die relatiewe sterkte van matige en godsdienstige ekstremistiese Siriese rebelle gedoen.

As anekdotiese bewys is ‘n video op YouTube uit Sirië ‘n paar dae gelede gesmokkel deur ‘n voormalige rebel wat die rebelle se laggende bevelvoerder gedokumenteer het in afgryslike toneel.

Dit is met walging begroet en bied ‘n donker insig in hoe baie rebelle ‘n wrede en genadelose houding teenoor gevangenes openbaar.

Hierdie video, geskiet in April, sluit aan by ‘n groeiende aantal bewyse van ‘n toenemend kriminele omgewing bevolk deur bendes van plunderaars, opportuniste, ontvoerders en moordenaars.

Talewet geminag in staatsdiens

robdavies
Rob Davies, minister van handel en nywerheid

Die VF Plus het enkele weke gelede met ‘n geskrewe vraag die onderverteenwoordiging van Afrikaans in die staatsdiens belig en veral in sekere afdelings van die department van handel en nywerheid waar nie ‘n enkele Afrikaanssprekende personeellid is nie.

Die nuwe Talewet laat die gevaarligte nou rooi flikker vir die oorlewing van Afrikaans by staatsinstellings, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor kuns en kultuur.

Volgens adv. Alberts het regstellende aksie daartoe gelei dat Afrikaanssprekende personeel al hoe meer onderverteenwoordig raak in die staatsdiens. Die realiteit is dus dat daar bloot nie meer personeel beskikbaar is om Afrikaanssprekendes te help nie, ongeag die welklinkende beloftes van die ANC in dié verband.

Ingevolge die Talewet moet elke nasionale department, -openbare entiteit en -openbare onderneming ‘n taaleenheid stig en ‘n taalbeleid hê wat bepaal in watter tale diens gelewer en gekommunikeer moet word en die instellings kan besluit watter drie van die elf amptelike tale gebruik sal word.

Dr. Joyce Sukumane, direkteur van taalbeplanning en- ontwikkeling by die department van kuns en kultuur, het die week gesê daar sal nie teen een van die elf amptelike tale ‘gediskrimineer’ word nie, en Afrikaanssprekendes sal ‘steeds daarop kan aandring’ om in hul taal gehelp te word.

Volgens adv. Alberts is dié beloftes van dr. Sukumane betekenisloos en sonder enige waarborg.

“Hier word beloftes gemaak dat Afrikaans gehandhaaf sal word en dat mense daarop sal kan aandring om in Afrikaans gehelp te word.

“Die tragiese ironie is dat Afrikaans by staatsinstellings reeds ‘n worstelstryd om oorlewing voer en in sommige departemente reeds glad nie meer gebruik word nie omdat dat daar bloot geen Afrikaanssprekende personeel is nie. Die ANC se beloftes moet teen hierdie agtergrond gesien word.

“Dit is reeds algemeen bekend dat Afrikaans ‘n rare kommoditeit by alle staatsinstellings geword het.

“Ondervinding het duur lesse geleer dat dit maklik is om beloftes te maak, maar dat dit weinig indien ooit uitgevoer word. Ons sal die situasie fyn dophou en sal nooit die handdoek ingooi waar dit kom by die stryd om Afrikaans nie,” sê adv. Alberts.

Veestropers wat miljoene se beeste buit, voor

brahmaan‘n Vermeende veedief, wat klaarblyklik in drie provinsies bedrywig was, verskyn vandag in die Modimole landdroshof.

Die vee wat in Limpopo, Gauteng en Noordwes gesteel is beloop sowat R2,1 miljoen.

Volgens die polisie het ‘n boer van Beestekraal in Noordwes in Junie vanjaar beeste ter waarde van R270 000 verloor en ‘n jaar vroeër ‘n kudde ter waarde van R400 000.

Verlede maand is 51 Brahmaan-koeie ter waarde van ‘n half miljoen rand naby die Kranskoptolplaza gesteel.

In al die gevalle is dieselfde metode en dieselfde vragmotor gebruik. Die vee is na Gauteng geneem, maar dit is onduidelik of dit daar afgelaai is.

Die polisie vermoed dat ‘n sindikaat betrokke is. – RSG

Swart bestuurder wat Thomas Ferreira omry, weer voor

Thomas na die ongeluk
Thomas na die ongeluk

Die swart motorbestuurder van die Gautengse LUR vir behuising het weer verskyn in die Krugersdorpse landdroshof op aanklagte van roekelose of nalatige bestuur, en dat hy nie ‘n beseerde persoon gehelp het nie.

Die saak hou verband met ‘n ongeluk in 2011 toe Motsami Semitje in ‘n ongeluk betrokke was waarin Thomas Ferreira, wat op ‘n motorfiets was, ernstig beseer is.

‘n Neuroloog het intussen verklaar dat Ferreira nooit ten volle sal herstel van die breinskade wat hy opgedoen het nie.

Die hof het gister gehoor dat Semitje nie ‘n gevorderde bestuurskursus geslaag het nie.

Hy het na bewering deur ‘n rooi verkeerslig gejaag en in die middel van ‘n kruising teen Ferreira gebots.

Die saak is gister uitgestel sodat die verdediging nog getuies kan roep.