‘n Waterkanon is glo ingespan teen stakende mynwerkers by Anglo American Platinum (Amplats) se Khuseleka-myn in Rustenburg.
Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het Vrydag gesê die werkers was saamgetrek op die mynperseel.
‘n Koördineerder van Amcu het gesê die situasie is “buite beheer en gespanne” nadat veiligheidspersoneel van die myn sonder enige waarskuwing die werkers met ‘n waterkanon bespuit het.
Hy het gesê die werkers het eers begin klipgooi nadat die waterkanon ingespan is.
Hy het gesê die myn moes Amcu eers in kennis gestel het voor hulle waterkanonne gebruik.
Amcu het Donderdag by Amplats, Impala Platinum en Lonmin begin staak.
Twee ANC-dokters gaan by die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGSA) weens onetiese gedrag aangekla word weens hul berokkenheid by terreur teen burgerlikes.
Klagtes is teen lt.genl. Veejay Ramlakan, voormalige geneesheer-generaal, en dr. Sibongiseni Dhlomo, KwaZulu-Natalse LUR vir gesondheid, ingedien, het Beeld berig.
Alhoewel die twee in 2001 amnestie by die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) gekry vir bomme wat hulle in 1985 in opdrag van Umkhonto weSizwe (MK) geplant het, was hulle destyds in 1985 praktiserende dokters.
Hulle is steeds op die RGSA se rol as mediese dokters geregistreer.
Dr Wouter Basson se straf sal eersdaags bekend word, nadat hy vroeër deur die RGSA aan onetiese gedrag skuldig bevind is.
Ramlakan was ten nouste betrokke by terreur tydens MK se Operasie Butterfly. Hy was ook Nelson Mandela se geneesheer.
Operasie Butterfly het die ANC se gewapende politieke terreurveldtog teen onskuldige burgerlikes gemik deur supermarkte, poskantore en winkelsentrums met bomme te teiken.
Hulle het die bomme glo in opdrag van hul bevelvoerders geplant.
Basson het as hoof van die chemiese en biologiese oorlogvoeringprogram eweneens die opdragte van sy bevelvoerders uitgevoer.
Die WVK het die twee MK-lede se optrede as geregverdig verklaar. “Hulle het dalk roekeloos opgetree en ontploffings veroorsaak waarin mense dood of beseer is.
“Dit is een van die tragedies van ’n vryheidstryd dat daar altyd ongevalle sal wees,” lui die verslag.
Hieruit is dit steeds nie duidelik hoe die Boeremag se optrede nie die WVK se goedkeuring wegdra nie
Die uitvoerende hoof van die RGSA het bevestig dat die klagte teen die twee MK-operateurs ontvang is.
Honderd-drie-en-tagtig politieke partye het tot dusver by die Onafhanklike Verkiesingskommissie geregistreer met die oog op die komende algemene verkiesing.
Die OVK sê 133 van die partye sal aan die verkiesing deelneem. Die Wes-Kaap het met 25 die meeste partye, terwyl 7 partye uit Gauteng afkomstig is.
Verskeie nuwe politieke partye het die afgelope jaar na vore getree, waaronder die Ekonomiese Vryheidsvegters en Agang.
Die hoofverkiesingsbeampte van die OVK, Mosotho Moepya sê die registrasieproses duur voort.
President Jacob Zuma het nog nie die verkiesingsdatum afgekondig nie. – RSG
Die DA het ‘n geleentheid vir stemwerwing raakgesien in South Deep in Roodepoort aan die Wes-Rand nadat een persoon Donderdag doodgeskiet tydens ‘n oproer oor uitsettings.
Die oproerige is na bewering deur die polisie in die bors geskiet nadat inwoners geprotesteer het oor uitsettingsbevele deur Dino Properties wat hul teen die einde van die maand uit hul huise sal dwing.
Tshepo Babuseng is na bewering in die bors geskiet toe hy en ‘n groep oproermakers op ‘n wetstoepassingsbeampte afgestorm het. Hy is dood verklaar met sy aankoms by die hospitaal.
Verlede week het vier mense het gesterf in botsings met die polisie op Brits in Noordwes.
Die inwoners sê hulle het nie ‘n heenkome as hulle teen Vrydag 31 Januarie hul woonplekke moet ontruim nie. Hulle het die strate ingevaar en begin klippe gooi na verbygaande motoriste nadat uitsettingsbevele op hulle beteken is.
Na gister se noodlottige botsing met wetstoepassing, het die ontevrede gemeenskap onder aanmoediging van die DA gesê verteenwoordigers van die regering verwaarloos hulle.
Die wyksraadslid is glo afwesig en daar is kragvoorsieningsprobleme. Dit was nie voorheen geopper nie. Die DA het die dood van die oproermaker en klagtes aangegryp en sal ‘n hofinterdik aanvra om die uitsetting te keer.
Dié party probeer stemme werf deur die gemeenskap se griewe te oorbeklemtoon en hulle tot onverantwoordelike gedrag aan te spoor by monde van die premierskandidaat in Gauteng, Musi Maimane.
Maimane sê hy het die gebied op versoek van van die gemeenskap besoek.
Die Verenigde State, die Verenigde Nasies en die Veiligheidsraadregering het die ooreenkoms tussen partye in die konflik in Suid-Soedan verwelkom.
Die regering van Suid-Soedan en die rebelle het ‘n skietstakingsooreenkoms onderteken.
Dié stap volg na vyf weke se gevegte wat die land nader aan ‘n burgeroorlog gebring het.
Die gevegte tussen soldate lojaal aan president Salva Kirr en diegene wat die afgedankte visepresident, Riek Machar steun, het in Desember uitgebreek.
Nagenoeg 10.000 mense is dood tydens die vyandelikhede en meer as ‘n halfmiljoen mense is ontheem.
Die ooreenkoms wat in die Ethiopiese hoofstad Addis Abeba onderteken is, sal na verwagting binne 24 uur in werking tree.
Suid-Soedan se president Salva Kiir het die VN-vredesending daarvan beskuldig dat hulle soos ‘n “parallelle regering” in sy land optree.
Sy kommentaar kom nadat sy regering die VN beskuldig het dat hulle aan gewapende rebelle in hul kampe skuiling bied.
Meer as 70.000 burgerlikes het in die VN se basisse regoor Suid-Soedan skuiling gesoek nadat gevegte uitgebreek het verlede maand.
Wrywing met die VN het gevolg na ‘n poging Sondag deur die minister van inligting om toegang te verkry tot die VN-basis in Bor, waar hulle glo gewapende rebelle skuil.
In ‘n verklaring, die VN se hoof Ban Ki-moon, het gesê hy is “bekommerd” en “ontsteld” deur die dreigemente teen personeel van die VN-sending in Suid-Soedan (Unmiss).
Kiir het smalend gesê die VN “moet nog net die hoof van Unmiss as ‘n mede-president van die Republiek van Suid-Soedan aanwys”.
“As dit die posisie van Ban Ki-moon is, moet hy dit duidelik maak dat hy wil hê die VN moet Suid-Soedan oorneem.”
Die ooreenkoms, onderteken onder die vaandel van die Oos-Afrika-blok IGAD in Addis Abeba, word beskou nietemin as ‘n eerste stap in die rigting van vredesgesprekke tussen die Soedanese regering en die rebelle.
Die VSA het vir die Suid-Soedan se leiers gevra om vinnig te werk in die rigting van ‘n inklusiewe politieke dialoog, terwyl die Veiligheidsraad die skietstilstand as ‘n eerste stap verwelkom het.
Haasliefhebbers het hulself na Twitter gewend in ‘n poging om die oryctolagus cuniculus in die oor van die standbeeld van Nelson Mandela by die Uniegebou te red.
Sommige bronne beweer die haas is eerder ‘n pedetes capensis, of lepus saxatilis en ander sê weer dis die lepus californicus.
Maar ‘n vlakhaas of kolhaas is nie van brons nie en volgens ingeligte bronne bestaan die paashaas nie.
Dit is ironies dat Suid-Afrikaners enersyds spook om op Robbeneiland die getalle van ons ingevoerde konyne te verminder en terwyl een van ons eie konynsoorte, die oewerkonyn, stadig maar seker van die aangesig van die aarde verdwyn.
Die standbeeld pryk aan die voorkant van die Uniegebou in Pretoria en is op Geloftedag, 16 Desember verlede jaar onthul.
Die soort konyn wat hom op ons ghwano-eilande en ook op Robbeneiland aan ons kus tuis gemaak het, is geen Afrika-boorling nie, maar van oorsee ingevoer en word as een van die wêreld se ergste indringerspesies beskou.
Op Robbeneiland het die Europese konyn naamlik so geil aangeteel dat drastiese stappe nodig geword het om die plaag te bestry. Die aankondiging dat sowat tienduisend van die konyne van kant gemaak sou moes word, is nie goed ontvang deur diereliefhebbers nie. Maar wat, word gevra, is die alternatief?
Robbeneiland, ’n Wêrelderfenisgebied, ervaar ’n geweldige ekologiese krisis. Diere soos springbokke en bontebokke vrek by die hope omdat daar te min groenigheid oor is om te vreet.
Die konyne is al eeue op die eiland: die eerstes is soheentoe gebring enkele jare nadat Jan van Riebeeck in 1652 aan die Kaap geland het, hoofsaaklik sodat die ou pioniers hul vleis kon eet. Die konyne het aangeteel, maar katte wat ook na die eiland gebring is, het hul getalle in toom gehou.
Die katte het op hul beurt egter boonop kwaai onder die seevoëls gemaai. Eindelik word toe besluit om die katte van kant te maak… iets wat op sy beurt die konyne die vrye teuels gegee het om te vermenigvuldig.
En as al die konyne uiteindelik dood is—só waarsku ’n kenner—kan die groter beskikbaarheid van voedsel dalk weer tot ’n ontploffing in die eiland se rotbevolking lei.
Waar eindig so ’n onheilige kettingreaksie? Dit kan ’n mens wel vra.
Maar só kan een ding tot die ander lei waar die mens in die gang van die natuur inmeng.
Diegene wat ten gunste van die beeldhouers se verborge handtekening is, hoop twiets gaan die haas red.
Die klein hasie wat kunstenaars Andre Prinsloo en Ruhan Janse van Vuuren by die 9m bronsoorgeblaasde Mandela-figuur gevoeg het, se lewe is weliswaar in gevaar.
Die departement van kuns en kultuur se woordvoerder Mogomotsi Mogodiri sê die haas moet weg. Dit sal egter ‘n skending van die integriteit van die kunswerk beteken.
Die departement het net bewus van die bestaan van die haas geraak na ‘n medianavraag en het daarna die maatskappy wat die twee beeldhouers opdrag gegee het, gekontak om te kla.
Koketso Growth, ‘n kulturele erfenis en toerisme liggaam is in Mei 2013 deur die departement aangestel om die skepping en installasie van die standbeeld te onderneem. Alhoewel daar beweer word dat dit weer ‘n nuwe geldstelery was, word daar ook gesê dat ‘n standbeeld onontbeerlik was vir die mediasirkus met Mandela se begrafnis.
Dali Tambo is onthuts deur die ontdekking van die haas. Tambo, die seun van wyle Oliver Tambo, is heel toevallig, verbasend genoeg, die HUB van die maatskappy en beskryf die handtekening as ‘n “sinnelose lawwigheid”.
Die vraag bly steeds hoekom die kunstenaars in die eerste plek verbied is om hul handtekening op die beeld te plaas.
Bronne sê dat die ANC wou nie Afrikaanse name op die beeld hê nie. Die beeldhouers wou dalk self nie hul name toevoeg nie.
“Die maatskappy het gesê die beeldhouers het om verskoning gevra aan die Minister, die departement en die familie. Ons het dit op rekord.”
Inwoners van Bekkersdal glo grond wat die goudmyn-maatskappy Rand Uranium behoort, kan “wettig” beset word.
Onbeboude grond in Bekkersdal aan die Wes-Rand is gesteel deur blankes, sê die Groter Westonaria se Concerned Residents’ Association.
“Ons vra nie om verskoning vir die grondbesetting nie. Ons glo dit behoort aan ons [swartes]. Dit is gesteel deur die blankes,” het ‘n woordvoerder Mbulelo Koyana gesê.
Hy het gesê dat die regering versuim het om die inwoners te voorsien van huise.
“Toe mense in 1994 gestem het, het hulle nooit geweet dat hulle magteloos sou wees as hulle aan bewind kom nie,” het Koyana gesê.
Nog ‘n gemeenskapsleier het Woensdag gesê: “Die gemeenskap glo die grond behoort regmatig aan hulle. Hulle sê [die besetting] is nie onwettig nie,” het Thabang Wesi aan Sapa gesê.
Die Citizen berig dat meer as ’n duisend inwoners Dinsdag met grawe en pikke opgedaag het om huise te begin bou.
Die proses om die grond “wettig” oor te neem en uit te deel, is ‘n “administratiewe detail”, het Wesi gesê.
Die Citizen het vroeër berig die Westonaria- plaaslike munisipaliteit en Rand Uranium ‘n aansoek om ’n hofinterdik ingedien het teen die onwettige besetting.
Die saak sal Maandag in die Johannesburgse hooggeregshof aangehoor word.
Die munisipaliteit voer aan dat hulle nie die finansiële las kan dra van dienste waarvoor nie beplan of begroot is nie.
Die munisipaliteit sê ook die gebied is vir landbou-doeleindes geskik, aangesien dit geologies onstabiel is en sinkgate daar voorkom.
Veiligheid by die land se grootste platinummyne in Rustenburg is opgeskerp nadat sowat 70.000 Amcu-lede vanoggend met ‘n onbepaalde staking begin het.
Veiligheidsbeamptes bewaak tans die ingange van die mynskagte.
Duisende werkers sal na verwagting later vanoggend by die Wonderkopstadion stroom waar die president van Amcu, Joseph Mathunjwa die stakers sal toespreek.
Produksie het gisteraand laat tot stilstand gekom.
Werkers het die skagte van die drie groot platinummyne Woensdagaand verlaat en nie vir die vieruurskof opgedaag nie.
Amcu-lede by goudmyne staak nie saam nie, nadat die Arbeidshof Woensdag uitspraak oor die staking voorbehou het.
Cosatu sowel as Fedusa en NACTU het ‘n NEDLAC-konferensie in Pretoria bygewoon om ‘n gesamentlike strategie te formuleer wat vyandigheide tussen vakbonde kan oplos.
Die president van Cosatu, Sduma Dlamini, sê vakbonde moet byeenkom en hulle verskille bylê.
Hy het ‘n beroep op Amcu gedoen om die konferensie by te woon om te fokus op werklike probleme.
Betogers het paaie in Roodepoort in Gauteng met klippe en brandende voorwerpe versper en verkeer tussen Randfontein en Krugersdorp word negatief geraak.
Motoriste wat die pad tussen Randfontein en Krugersdorp gebruik, is aangeraai om alternatiewe roetes te oorweeg weens oproer in die gebied.
Voorvalle waar betogers verbygaande motors met klippe bestook het, is aangemeld, volgens Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie.
Die Johannesburgse Metroplisie het motoriste aangeraai om alternatiewe roetes via Albertina Sisulu-, Impala- en Ontdekkersweg te gebruik.
Volgens berigte is die oproermakers by die saamvloei van Main Reef-, Randfontein-, Miles Stoker- en Cemeteryweg saamgetrek.
Minnaar sê die oproerigheid het net ná 05:00 begin en polisiebeamptes is op die toneel.
In Alexandra, Johannesburg, betoog inwoners teen uitsetting.
Llt.kol Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, sê plakkers wat ‘n pakhuis beset het kennisgewing ontvang dat hulle uitgesit gaan word.
Hulle het glo vroeg vanoggend motorbande aan die brand gesteek naby ‘n kliniek in Wynbergweg. Die SAPD monitor die situasie.