Leon Lemmer: ‘Die eggenotes agter Afrikaner politieke leiers’

Terwyl ‘n uitvoerende staatshoof in sy amp is, ontvang hy heelwat publisiteit en word hy ‘n bekende persoon. Sy eggenote weerkaats in ‘n mate hierdie bekendheid omdat sy bv soms saam met hom afgeneem word of hier en daar ‘n toespraak lewer. Wanneer ‘n staatshoof of oudstaatshoof sterf, ontvang die gebeure gewoonlik heelwat publisiteit. In opvallende mate geld dit nie sy eggenote nie. Ten spyte van haar (eertydse) bekendheid, ontlok haar oorlye, dikwels lank na dié van haar man, min indien enige publisiteit. Maar daar was tog ‘n tyd toe sy direk of indirek (groot) invloed op haar eggenoot as staatshoof en dus die land uitgeoefen het.

Die eerste paragraaf wek die indruk dat die staatshoof ‘n man en sy eggenote ‘n vrou is. Deesdae is dit nie noodwendig meer die geval nie. ‘n Vrou kan ‘n staatshoof wees. ‘n Staatshoof en sy/haar lewensmaat kan selfs van dieselfde geslag wees. Van ons word verwag om dit as normaal te beskou. Daar word geredeneer: Solank hulle mekaar liefhet en ondersteun, is alles in orde. Maar so ‘n egpaar kan nie eie kinders hê nie. Daarteen word opgewerp: Daar is egpare bestaande uit twee verskillende geslagte wat ook nie eie kinders het nie. Die uitsondering is blykbaar net so geldig soos die reël, ens.

Ockert Geyser se boek, Die eggenotes agter die Afrikaner politieke leiers: Ongeskrewe hoofstuk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis (Naledi, 2019, 301p, R275), weerspieël die tradisionele toedrag van sake: ‘n man as staatshoof en ‘n vrou as sy eggenote. ‘n Verdere knieknik vir die tradisionele opset is dat al hierdie egpare blank is. Blankheid in daardie hoë geledere is iets wat sedert die 1994-transformasie plaaslik onbekend geword het en weens die nuwe “nie-rassige” benadering vorentoe seker onbekend sal bly. Die outeur was ‘n geskiedenisdosent en direkteur van die Instituut vir Eietydse Geskiedenis (INEG) aan die Universiteit Vrystaat. Sy jongste boek is eerder ‘n populêre as ‘n akademiese werk.

Die hele tydperk vanaf Uniewording in 1910 (Louis Botha se vrou) tot by die politieke afgrond van 1994 (FW de Klerk se eerste vrou) word gedek. Die outeur handhaaf ‘n goeie balans tussen wat hy oor die vroue (sy eintlike onderwerp) en hulle mans (die staatshoofde) skryf. Ek skryf oor hierdie vroue in dieselfde volgorde as in die boek. Die lewensloop van 13 vroue word in kort hoofstukke belig, gevolglik verskaf ek normaalweg net by aanhalings bladsyverwysings. Soos in die boek skryf ek in meer besonderhede oor die ouer garde omdat inligting oor hulle moontlik minder bekend is as oor die vroue wat later op die voorgrond getree het.

Annie Botha

Louis Botha (1862-1919, eerste minister 1910-1919) se vrou, Annie (1864-1937), die oudste kind van ‘n boer van Swellendam, was van Ierse afkoms en Engelssprekend. Hulle is in 1886 getroud. Annie het “volkome Boere-gesind geword … Na alle waarskynlikheid het sy vir Louis Engels geleer sover hy dié taal magtig was. Aangesien hy selde Engels gepraat het, het hy en Annie tuis in Afrikaans gekommunikeer” (p 24). Tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO, 1899-1902) het sy ‘n lidmaat van die NG Kerk geword. In 1904 was sy die mede-stigter van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie, wat hulpdienste aan Afrikaners gelewer het. Ná haar man se dood het sy geskryf: “I shall never get accustomed to his absence” (47).

Isie Smuts

Jan Smuts (1870-1950, eerste minister 1919-1924 en 1939-1948) se vrou, Isie (1870-1954), was ‘n kind van die Kriges van Dorpstraat in Stellenbosch, wat daarvoor bekend was dat hulle “geen liefde vir die Engelse gehad het nie. Isie het vir jare lank, selfs lank ná die Anglo-Boereoorlog, hierdie antagonisme teenoor die Engelse gekoester” (51-52). Isie, afgelei van Sybella en Engels uitgespreek (dus nie Issie nie), was soos Jan ‘n student aan die Victoria College, die voorloper van die Universiteit Stellenbosch. “Albei was ietwat terugetrokke en skalks gereserveerd; albei was bo en behalwe hul belangstelling in die plantkunde en filosofie ook intens geïnteresseerd in die letterkunde – Smuts in die Engelse en Isie in die Duitse letterkunde” (53). Isie kon klavier speel en mooi sing. Hulle “korrespondensie [het] by voorkeur eers in Engels geskied, daarna in Hollands en later in Afrikaans” (54). Hulle is in 1897 getroud.

“Isie se voortgesette antagonisme …. teenoor die Engelse was in die Smuts-gesin ‘n onverkwiklike situasie … Louis Botha het later vertel dat toe hy ná die Anglo-Boereoorlog op ‘n keer met Isie gepraat het, hy ontdek het hoedat haar voortgesette voorkeur en entoesiasme vir ‘n republikeinse staatsvorm en haar renons vir [in] die Engelse toe selfs nog meer intens was as ooit tevore. Haar weersin in die Engelse was van só ‘n aard dat haar ses kinders [behalwe drie babas wat nie hulle 2de jaar oorleef het nie] met uitsondering van die laaste … gebore is in Isie se bed waarop ‘n landsvlag van die ZAR [Zuid-Afrikaansche Republiek] gedrapeer was” (64). Van 1903 tot 1912 wou sy letterlik nie onder die Britse vlag geboorte skenk nie. Die Smuts-egpaar het ook ‘n aangenome dogter gehad.

Isie is beskryf as Jan se “delightful eccentric wife” (28). Annie Botha het Isie “a dear, sweet, understanding friend” genoem (46). Soos Annie het Isie ‘n prominente rol in die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie gespeel. Sedert 1909 het Jan en Isie in Doornkloof in Irene, by Pretoria, gewoon. Isie het selde in Pretoria en Kaapstad in die premierswoning gebly. Sy word intelligent genoem maar “sy het niks van seremonie en status gehou nie” (72). Die Britte wou haar met die die titel CBE (Commander of the British Empire) vereer, maar sy het dit van die hand gewys.

“Ofskoon sommige Isie as ietwat eksentriek ervaar het as gevolg van haar eiesoortige gebruike en gewoontes, was dit altyd haar ongekunstelde en ongedwonge lewenslustige lewenswyse wat mense bygebly het” (78). Sy word ‘n “uitmuntende gasvrou” genoem (78), maar iemand wat die opset in die Doornkloof-huis geken het, het aan my vertel dat selfs wanneer belangrike gaste opgedaag het, Isie bv ‘n blikkie vis vir aandete sou oopmaak. As daar kritiek op haar was, het haar man gesê: “Los vir Isie.” In 1942 het sy ‘n ligte hartaanval gehad en veral sedert 1944 het haar gesondheid agteruit gegaan. Sy het nie haar man se begrafnis bygewoon nie maar na die radio-uitsending van die diens geluister.

Mynie Hertzog

Barry Hertzog (1866-1942, eerste minister 1924-1939) en sy vrou, Mynie (1864-1942), het, soos die Smuts-egpaar, mekaar as studente aan die Victoria College ontmoet. Mynie was ouer as Barry maar hy is sowat sewe maande ná haar oorlede. Mynie en Isie het hulle vriendskap, wat uit hulle jeug in Stellenbosch dateer, lewenslank voortgesit, ten spyte van die latere politieke verskille by hulle mans. Mynie is later beskryf as “daardie sagte, moederlike mev Hertzog” (96). Soos Isie was Mynie “stil, gereserveerd en beskeie van geaardheid” (85).”Net soos Isie Smuts het ook Mynie nie die kollig, wat haar man se posisie later in die samelewing gebied het, uitgebuit nie” (86). Isie word “klein van postuur” genoem (51), maar uit ‘n foto (95) kan afgelei word dat Mynie selfs kleiner as Isie was.

Isie was minder godsdienstig as haar man. In teenstelling daarmee was Mynie uiters godsdienstig. “Alhoewel Hertzog en Mynie eintlik nie goeie kerkmense was nie, kan daar uit hul algemene optrede en lewensfilosofie afgelei word dat hulle albei toegewyde Christene was” (98). Hulle het aan verskillende kerkgenootskappe behoort. “Hy was lid van die NG Kerk en sy het aan die Apostoliese Kerk behoort” (98). “Die NG Kerk [was] vir haar ‘te doods en te oninspirerend'” (99). Die Hertzog-egpaar is in 1894 getroud. Die dood aan verstikking van hulle eersteling, ‘n dogterjie, het meegebring “dat Mynie haarself aan sosiale verpligtinge onttrek het” (88). Van 1899 tot 1905 is hulle drie seuns gebore.

Tydens die ABO is Mynie in Port Elizabeth in ‘n konsentrasiekamp aangehou en daarna in die Meerbank-kamp by Durban. “Hier in Meerbank het Mynie se gesondheid met verloop van tyd ‘n ernstige knou gekry, wat tot gevolg gehad het dat sy feitlik vir die res van haar lewe ‘n semi-invalide was” (89-90). Anders as Isie was Mynie “nooit bitter teenoor die Engelse nie” (90). “Mynie het glad nie geglo in die voorgeskrewe medisyne wat deur geneeshere voorgeskryf is nie. Sy het hoofsaaklik aan homeopatiese middels geglo … Sy het veral geglo aan natuurlike middels en onder meer aan nat lappe en veral kasterolie” (99). Toe dit in 1924 lyk asof Barry die eerste minister sou word, het Mynie gesê: “Ek wil regtig tog nie die eerste minister se vrou wees nie” (94). Mynie het toe aan haar seuns gesê “dat sy elke aand bid dat die Here haar liewer moet wegneem” (94).

“Mynie is baie selde in die openbaar aan die sy van die Generaal [Hertzog] gesien” (94). Isie het altyd verkies om liewer so onsigbaar moontlik in die agtergrond te bly; as’t ware soos die pous se vrou. Maar dit geld in selfs groter mate vir Mynie. “Mynie het Hertzog nooit op enige buitelandse besoek vergesel nie” (95). Sy was geen goeie gasvrou vir die staatsman Hertzog nie, al word sy beskryf as “‘n kok sonder weerga” (92). “Dit was nie soseer omdat sy onwillig was nie, maar dit was nie in haar aard om sosiale kontak te maak en in die openbaar op te tree nie” (87). Aan huis in Bloemfontein was die Hertzog-egpaar egter bekend vir hulle gasvryheid. “Toe daar aan die begin van die dertigerjare tekens van toenadering tussen die twee politieke strydrosse, Hertzog en Smuts, was, het dit sonder twyfel vir Mynie veel vreugde besorg” (95).

Die grofste fout in die boek is dat hoofstuk 3 met “Albert Hertzog” begin (83) en die leser dalk eers later agterkom dat James Barry Munnik Hertzog bedoel word (85). Albert (1899-1982) was die Hertzogs se oudste seun en ‘n NP-minister (1954-1968). In 1969 het hy van die NP weggebreek en is die Herstigte Nasionale Party onder sy leiding gevorm. Hy was vanweë sy verkramptheid bekend. Wat minder bekend is, is dat sy eerste vrou, Katie Whitely, Engelssprekend was.

Maria Malan

DF Malan (1874-1959, eerste minister 1948-1954) se tweede vrou, Maria (1905-1973) was die NP-organiseerder vir Calvinia, met Malan as die Volksraadslid (1918-1938). “Dit is nogal ironies dat doktor Malan aanvanklik by herhaling aan Maria Louw voorgestel moes word voordat hy haar onthou het” (102). Dit herinner aan ‘n NP-politikus wat ‘n lang pad per motor saam met Malan gereis en deurlopend gesprek met hom gevoer het; hy in ‘n agterste en Malan in die voorste passasiersitplek. Toe hulle uiteindelik arriveer by die byeenkoms, maak die politikus vir Malan die motordeur oop, met Malan wat verbaas was om hom daar aan te tref. Malan was bekend vir sy “skugterheid en teruggetrokkenheid” (105). In 1937 toe hy met Maria getrou het, was Malan “‘n man van drie-en-sestig en sy ‘n vrou van twee-en-dertig” (106).

Malan se weduwee-stiefma, Esther, was sedert 1908 sy huishoudster. In 1926 het hy op 52-jarige ouderdom met Mattie, wat 23 jaar jonger as hy was, getrou. In 1927 is sy seun Danie en in 1929 is Hannes gebore. In 1930 het Mattie gesterf. Daarna was Esther se suster, Nettie Fourie, sewe jaar lank Malan se huishoudster. Sy het ‘n uitstekende verhouding met die twee seuns gehad. Sy was moontlik op Malan verlief en het dalk gedink dat sy die tweede mevrou Malan sou word. Die kernprobleem met Maria was dat sy bykans ‘n oujongnooi en baie jonger as Malan was en sy die stiefmoeder van Malan se twee seuns geword het. ‘n Potensiële voordeel van sy tweede huwelik was dat sowel Malan as Maria baie in die politiek belanggestel het, ‘n “besondere saambindingsfaktor [wat] bykans” heeltemal “in sy eerste huwelik afwesig was” (105).

Maria het geleer om motor te bestuur omdat Malan so ‘n swak bestuurder was. Sy sig was swak. “Daarby was hy so ingedagte dat hy nie daartoe in staat was om sy aandag by die pad te bepaal nie. Selfs in die huis het hy nie altyd geweet wat om hom aangaan nie” (110). Hulle huis in Seepunt is vergroot sodat Nettie na die nuwe kamer verskuif kon word. Dit het nie die probleme opgelos nie. “Dit het spoedig duidelik geword dat Maria en Nettie net nie in een huis sou kon saamleef nie” (110). Die twee seuns was aan Nettie geheg en wou Maria nie aanvaar nie. By die meeste lede van Malan se familie was daar “nie ‘n gevoel van spontane hartlikheid teenoor Maria nie” (111). Nettie is spoedig na ‘n woonstel in die nabyheid van die Malan-woning verskuif. In 1942 het die Malans na Môrewag, ‘n woning in Stellenbosch, verhuis. Nettie is in 1943 oorlede. Ná miskrame het die Malans in 1948 ‘n Duitse weeskind, Marietjie (gebore in 1944), aangeneem.

Maria het gemeen dat Nettie die seuns “heeltemal te veel toegelaat” het (112); “dat gebalanseerde opvoeding sterker dissipline vereis” (113). Sy wou “haar gesag as [stief]moeder behoorlik … laat geld … Hulle mag nie meer strokiesprente gelees het nie aangesien Maria gemeen het dat dit hul aanleer van Engels sou ondermyn. Verder is hul besoeke aan die bioskoop drasties ingekort. Somtyds was sy amper raadop met Hannes se humeur en woedebuie en Danie se tafelmaniere wat veel te wense oorgelaat het. Om hierdie probleme aan te spreek, besluit Maria toe om ‘n puntetoekenning in te stel vir die beoordeling van swak maniere deur die week” (113), waarvoor ‘n prys of straf uitgedeel is. Malan “het hom onvoorwaardelik vereenselwig met sy vrou se besluite en optredes” (114).

“Oor die algemeen was Maria Malan nie ‘n maklike mens nie … In die omgang, buite en binne die party, was sy nie gewild nie … sy [het] op baie se tone getrap … sy [was Malan se] klankbord en selfaangestelde nie-amptelike raadgewer. Sy was vas van plan om haar binne die party as invloedryk en onvervangbaar, veral vir Doktor, te vestig” (114). NP-politici, soos FC Erasmus en PW Botha, later albei ministers, het “met die hulp van Maria periodiek sekere sake onder doktor Malan se aandag [ge]bring” (114). “Dit was veral tydens doktor Malan se ampstermyn [as eerste minister] dat mevrou Malan se inmenging agter die skerms in besluitneming steeds groeiende kommer tot gevolg gehad het” (119). In 1954 het Maria hartprobleme ondervind en het Malan besluit om uit die politiek te tree. “Hy was in alle opsigte volkome afhanklik van haar bystand en ondersteuning” (122). PW Botha het Malan as sy mentor beskou, maar Maria het hom ná Malan se dood “totaal geïgnoreer en uitgeskuif” (125).

Ek het die Malan-egpaar in 1948 gesien toe hulle ná die verkiesing per trein van Kaapstad na Pretoria gereis het. Die trein het op al die groterige stasies gestop sodat Malan vir die kiesers kon bedank vir die vertroue wat hulle in die Nasionale Party gestel het.

Mabel Jansen

EG Jansen (1881-1959, goewerneur-generaal 1951-1959) het in 1912 met Mabel (1889-1979) getrou. Jansen was ‘n volgeling van Barry Hertzog terwyl Mabel vir DF Malan gesteun en deurgaans koersvas die belange van die Nasionale Party bevorder het. Toe Jan Smuts met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog hom by Brittanje geskaar het, het Jansen besluit om hom by Malan te skaar. Mabel was ‘n merkwaardige vrou met ‘n sterk persoonlikheid wat met doelgerigte vasberadenheid die Afrikanersaak op talle terreine, veral van kulturele aard, bevorder het, soos ‘n mens van ‘n Pellisier (haar nooiensvan) kan verwag. Sy het baie daarvan gehou om die eggenote van die goewerneur-generaal te wees.

‘n Dienspligtige wat wag by die Jansens se ampswoning in Kaapstad gestaan het, het vertel dat hulle geen probleem met Jansen gehad het nie maar doodbang vir Mabel was. “In haar persoonlike hoedanigheid was Mabel Jansen nie geliefd nie” (142). Daar is aan my vertel dat toe Mabel na haar man se dood uit Kaapstad op die spoorwegstasie by haar huis in Irene aangekom het, daar niemand was om haar te ontmoet nie. Sy het iemand oorreed en gehuur om haar bagasie met ‘n kruiwa tot by haar huis te stoot. Sy het sekerlik beter as dit verdien.

Susan Strijdom

JG (Hans) Strijdom (1893-1958, eerste minister 1954-1958) se tweede vrou was Susan (1910-1999), met wie hy in 1931 getrou het. Sy is beskryf as ‘n “aanvallige, verfynde vrou” (143) wat nederig en pretensieloos en glad nie polities ingestel was nie. Dit is in skrille teenstelling met Maria Malan. DF Malan wou Strijdom nie as sy opvolger gehad het nie, ten minste deels omdat Maria nie van Strijdom gehou het nie.

Susan was die suster van Jan de Klerk, die pa van Willem/Wimpie en FW. Strijdom het Jan as ‘n minister in sy kabinet aangestel, al was Jan nie ‘n politikus nie. Hierdie aanstelling is destyds as nepotisme wyd veroordeel, maar dit het aan die De Klerks ‘n voet in die politieke deur laat kry, met mettertyd katastrofiese gevolge. FW de Klerk het mandaadloos aan swart mag oorgegee en daarmee die Afrikanervolk ondergeploeg; iets wat heeltemal teen die grein van Strijdom sou ingaan. Met die Anglo-Boereoorlog kon selfs die Britte nie die voortbestaan van die Afrikaners in dieselfde mate as De Klerk ondermyn nie.

Die outeur noem dat die aktrise, Margaretha van Hulsteyn (1896-1970), Strijdom se eerste vrou was. Hy verwys egter glad nie na David Bloomberg se interessante boek oor haar nie (Praag 24.12.2017), terwyl hy wel kennis geneem het van Martie Retief-Meiring se boek (2008) oor FW de Klerk se tweede vrou, Elita.

Betsie Verwoerd

Hendrik Verwoerd (1901-1966, eerste minister 1958-1966) en Betsie (1901-2000) het in 1927 getrou. Sy word ‘n “minsame maar sprankelende mensie” genoem (167). “Betsie Verwoerd was klein en tenger van bou, selfs ietwat broos van voorkoms, waar dr Verwoerd self ‘n kolos van ‘n man van oor die ses voet was” (162-163). Albei was intellektueel hoogs begaafd. Sy het onselfsugtig vir hom gelewe en bv bykomende leeswerk namens hom gedoen wanneer hy te besig was. By die Verwoerds het werk voorkeur geniet, gevolglik het hulle nie dikwels onthale aangebied nie. Daar word genoem dat Betsie in toeristeklas na Europa gevlieg het. Vergelyk dit met die talle politici en hulle aanhangsels van veel mindere gehalte wat deesdae dikwels op staatskoste oorvloediglik in die mees luukse klas vlieg.

Betsie het myns insiens gefouteer deur in 1995 saam met Nelson Mandela in haar huis in Orania tee te drink. Dit was immers deel van Mandela se Afrikaner-paaiery. Daar word verwys na die dagboek wat Betsie bygehou het. Hoewel sy uiters omsigtig te werk gegaan het om moontlike latere misbruik van die inhoud te voorkom, is dit presies waaraan haar een kleinseun, Wilhelm, hom skuldig gemaak het (Praag 28.07.2018). Ek het Betsie as weduwee ‘n enkele keer gesien toe sy saam met haar skoonseun, Carel Boshoff, en ander familielede die botaniese tuin in Bettysbaai besoek het.

Nellie Swart

CR Swart (1894-1982, goewerneur-generaal 1959-1961, staatspresident 1961-1967) se vrou, Nellie (1903-1986), word onthou vir haar sjarme, grasie en minsaamheid. Sy was ‘n uitmuntende kok. Hulle het in 1924 getrou. Sy het geen belangstelling in die aktiewe politiek gehad nie.

Lettie Fouché

Jim Fouché (1898-1980, staatspresident 1968-1975) het in 1920 met Lettie (1900-1993) getrou. Jim het gesê dat Lettie “grootliks die kweekbodem help vorm [het] waaruit ek in die openbare lewe ontplooi het” (192). Ná sy aftrede het hulle hulle in hulle huis in die Strand gevestig. Ná Jim se dood is sy in die Altena-ouetehuis in die Strand versorg. Terwyl Jim die staatspresident was, het my ouers op ‘n bank op ‘n stasieperron gesit toe ‘n trein met Jim daarin stadig deur die stasie beweeg het. Jim het my ouers vriendelik gegroet. My ouers was hoogs beïndruk met Jim se nederige meelewendheid.

Margo Diederichs

Nico Diederichs (1903-1978, staatspresident 1975-1978) het in 1932 met Margo (1907-1998) in die huwelik getree. Sy het ‘n hooghartige indruk gewek en was nie so geliefd soos haar voorgangers, Nellie Swart en Lettie Fouché, nie. In Julie 1995 het Nelson Mandela 19 dames, “die weduwees en eggenotes van voormalige vryheidsvegters, eerste ministers en presidente/staatspresidente van Suid-Afrika” in die presidensiële ampswoning in Pretoria onthaal (14). Dit is die soort veelrassige byeenkoms wat in Mandela se kraal gepas het. Betsie Verwoerd, Tini Vorster en Elize Botha het die onthaal bygewoon en ook Margo. Die idee vir die byeenkoms het van Margo gekom. “Volgens die president [Mandela] was mevrou Diederichs ook die eerste vrou wat hom met sy inhuldiging as president gelukgewens het” (15). Dit lyk asof Margo deeglik getransformeer het, veral as in ag geneem word dat haar man as ‘n Nazi-gesinde beskou is.

Tini Vorster

John Vorster (1915-1983, eerste minister 1966-1978, staatspresident 1978-1979) se vrou, Tini (1917-2000) was die dogter van PA Malan, ‘n prokureur van Worcester wat besonder invloedryk in Afrikanerledere was, bv in die direksie van Nasionale Pers en Sanlam. “Tini Malan was skrander, skerp, prakties, positief en sterk polities georiënteer” (215), maar sy het nie in John se politieke bedrywighede ingemeng nie. As student het sy die lesings in maatskaplike werk aan die Universiteit Stellenbosch bygewoon wat deur Hendrik Verwoerd uit die vuis, dus sonder notas, aangebied is. John en Tini het in 1941 getrou. Kort daarna is John vanweë sy Ossewa Brandwag-aktiwiteite in Koffiefontein geïnterneer (1942-1944). Die Vorster-egpaar was tot die ontbinding in 1951 lede van die Afrikanerparty. Sy het as huisvrou en met kos uitgemunt. “Ek sien om na hom [John] en sy klere” (233). Van John het Tini gesê: “Hy is die maklikste mens om mee saam te leef, want hy sleep jou nooit in by iets waarby jy nie ingesleep wil wees nie” (234). Ná John se dood het sy in die Serenitas-aftree-oord in die Strand gewoon.

Elize Botha

PW Botha (1916-2006, eerste minister 1978-1984, staatspresident 1984-1989) se eerste eggenote was Elize (1922-1997). Hulle het in 1943 getrou, Die enigste keer wat ek PW eerstehands gesien en gehoor het, was toe hy ‘n NP-organiseerder was, dus voordat hy ‘n parlementslid geword het. Hy het hom by DF Malan geskaar en teen Hans Strijdom. Elize is beskryf as “a gracious and homely person” (257). “PW en Elize het mekaar ongelooflik goed aangevul. Hy, ietwat voortvarend, aggressief van geaardheid, by tye uiters moeilik en Elize weer op haar beurt rustig, vriendelik en uitsonderlik diplomaties” (249). Sy was versot op haar eie verjaardag. Dit het PW laat sê: “Jou verjaardag is soos ‘n Swazi-begrafnis: dit hou ‘n week aan” (250). Elize was “daarop ingestel om nooit misbruik te maak van haar voorregte as eggenote van mnr Botha as minister en later as premier en staatspresident nie. Sy het haar man nooit op amptelike buitelandse besoeke vergesel as sy nie normaalweg ampshalwe op uitnodiging by só ‘n besoek ingesluit is nie” (255).

Marike de Klerk

FW de Klerk (gebore in 1936, staatspresident 1989-1994) se eerste vrou was Marike (1937-2001). Hulle het in 1959 getrou. Hulle het drie aangenome kinders gehad. Marike is as konserwatief beskou, met Tini Vorster en Eleanor Roosevelt as haar rolmodelle. Eleanor het te make gehad met Franklin Roosevelt se buite-egtelike verhouding met Lucy Mercer, soortgelyk aan FW se buite-egtelike verhouding met Elita Georgiadis. Marike het “met verloop van tyd die prooi van bykans vernietigende spanning geword” (280). “Vir Elita het Marike geen goeie woord gehad nie” (285) en “Elita was by tye erg verbitterd teenoor Marike” (286).

Marike “did not hesitate to criticise FW in public” (272). “Hoe dieper FW in die kalklig in beweeg [het] hoe eensamer [het] Marike” geword (276-277). By haar was daar ‘n gevoel van persoonlike onsekerheid. “In haar rol as die eggenoot van die staatshoof het Marike aanvanklik vreemd, onseker en selfs onwaardig gevoel. Gedurig het daar by haar die vraag ontstaan of sy waardig genoeg is om so ‘n posisie te beklee en of sy werklik enigsins bevoeg is en selfs of sy bekwaam genoeg is daarvoor” (278). FW word beskryf as “the relaxed smoker” (272). FW en Marike het in 1998 geskei. FW en Elita het in 1999 getrou. In 2001 is Marike deur ‘n sekuriteitswag vermoor.

Sydney Gregan: Dr Verwoerd en die reg op selfbeskikking

Geen politikus uit die vergange blanke Suid-Afrika bly so aktueel soos dr HF Verwoerd nie, want byna daagliks word sy naam steeds in die media genoem. Steeds word hy óf verguis óf bewonder. By geleentheid van die vyftigjarige herdenking van sy sluipmoord op 6 September 1966, het dr SH Gregan van Nylstroom die volgende rubriek waarin sy denke oor selfbeskikking beoordeel word, geskryf.

Sydney Gregan
Sydney Gregan

Vyftig jaar ná die dood van dr HF Verwoerd het die stof oor die beleid van apartheid steeds nie gaan lê nie. Daarom is dit dalk gepas om sy vertolking van hierdie beleid in oënskou te neem wat deur die vyande van die Afrikanervolk as ‘n vergryp teen ander volke gesien word. Die vraag is naamlik of dit nie te rym is met die reg op selfbeskikking van volkere wat vandag allerweë as ‘n internasionaal-erkende reg beskou word nie.

Apartheid is deurgaans skerp veroordeel as sou dit ‘n miskenning wees van die reg op selfbeskikking. Dit is gedoen ten spyte van uitsprake van vroeëre regerings van Suid-Afrika dat apartheid juis uitdrukking gee aan die reg op selfbeskikking van volkere. In 1976 nog het die Minister van Buitelandse Sake, Hilgard Muller, soos volg verklaar:
Our objective is self-determination for all the peoples in Southern Africa. The majority of every nation or population group should be enabled to elect their own Government….

Verenigde Nasies

Dr HF Verwoerd terwyl hy redakteur van 'Die Transvaler' was
Dr HF Verwoerd terwyl hy redakteur van ‘Die Transvaler’ was

Die tuislande (“Bantustans” – soos internasionaal neerhalend daarna verwys is) wat kragtens wetgewing onafhanklik geword het, is deur vroeëre Suid-Afrikaanse regerings beskou as die verwesenliking van die inwoners (volke) van daardie tuislande se reg op selfbeskikking. Die Verenigde Nasies het egter state aangemoedig om nie die sogenaamde TBVC-state te erken nie, ‘n stap wat buitengewoon was. Die Algemene Vergadering en die Veiligheidsraad het trouens van die standpunt uitgegaan dat die Suid-Afrikaanse regering die reg op selfbeskikking skend deur die beleid van apartheid en is verskeie resolusies in hierdie verband aangeneem. Daar is geargumenteer dat die daarstelling van hierdie “Bantustans”, soos dit genoem is, die beleid van apartheid sou voortsit.

Suid-Afrika is deur die Verenigde Nasies beskryf as sou dit van “colonial nature” wees en :

… alone and unique in basing its state upon a policy of dispossession and the perpetuation of alien and colonial type domination.

Die groot probleem wat die internasionale gemeenskap met die toepassing van die beleid van apartheid gehad het, is dat daar vir die mense (volkere) besluit is wáár hulle hul reg op selfbeskikking moes uitoefen en dat die inwoners nie self daaroor besluit het nie. Die Suid-Afrikaanse regerings onder die Nasionale Party-bewind het Suid-Afrika gepartisioneer deur onafhanklikheid aan die swart volkere te gee (in gebiede wat tradisioneel en histories deur hierdie volkere bewoon is), waarna die restant dan as Blank Suid-Afrika bekend sou staan. Alles het daarop gedui dat ook aan die Indiërs en Kleurlinge soortgelyke onafhanklikheid gegee sou word.

Die Verenigde Nasies se standpunt was dat selfbeskikking deur die geheel van die bevolking van Suid-Afrika uitgeoefen moes word in ‘n ongefragmenteerde (onverdeelde) Suid-Afrika soos dit bestaan het vóór 1976. Die Verenigde Nasies het sover gegaan om die regering wat Suid-Afrika regeer het vóór 1994 as onwettig te beskou en dat dit kwansuis geen reg gehad het om die mense van Suid-Afrika te verteenwoordig nie. Nie alleen is die stryd van die sogenaamde bevrydingsbewegings as geregverdig beskou nie, maar ook die gewapende (terroriste-) stryd teen die apartheidsregering is as geregverdig geag. Laasgemelde regverdiging het klaarblyklik daarin bestaan dat die inwoners van Suid-Afrika deur dwang onderdruk is wat ‘n onwettige handeling daargestel het en dat die teenstaan daarvan selfverdediging was wat geregverdig was (“may fight to defend and attain its right to self-determination”). So is geweld teen Suid-Afrika (juridies) gewettig.

Twee regsbeginsels wat in die geval van die onafhanklike swart state ter sprake was, is:

  • die selfbeskikkingsreg van mense, en
  • dat bestaande nasionale entiteite nie verdeel mag word nie.

Laasgenoemde is dan ook die vernaamste argument wat die Verenigde Nasies as skild vir sy standpunt téén die TBVC-state gebruik het. Met die Deklarasie oor die Verlening van Onafhanklikheid aan Koloniale Gebiede en Mense is Afrikastate teen afskeidingsbewegings beskerm. In die geval van die TBVC-state word dit egter teen ‘n moederstaat en ‘n afstigtingstaat gebruik waar beide vrywillig besluit het om twee state uit een te skep. Wat uit die oog verloor is, is dat daar in die geskiedenis van die internasionale reg baie state ontstaan het wat uit ‘n vorige eenheidstaat ontstaan het soos bv die Federale Republiek van Duitsland en die Duitse Demokratiese Republiek. So het Sirië van die Verenigde Arabiese Republiek en Pakistan van Indië afgestig en Ruanda en Burundi het ook uit ‘n voormalige eenheidsgebied ontstaan.

Die tweede beginsel wat by die onafhanklikheid van die TBVC-state ter sprake was, is dié van selfbeskikking van mense. Indien selfbeskikking ‘n reg is wat verskillende groepe met eiesoortige karaktereienskappe toekom, is daar geen rede waarom die onafhanklikheid van hierdie state (tuislande) nie gesien kan word as die vervulling van hierdie gebiede se mense se reg op selfbeskikking nie.

Daar kan gevolglik met reg geargumenteer word dat die onafhanklikheid van die TBVC-state juridies in ooreenstemming was met die wese van selfbeskikking van mense (volkere).

Om die reg van selfbeskikking in die Suid-Afrikaanse verband in perspektief te plaas, moet die vraag gevra word wie op hierdie reg aanspraak kan maak. Die reg behoort aan ‘n volk wat weens sy eiesoortige karaktereienskappe hom as ‘n eenheid identifiseer en weens sy begeerte om sy besondere eienskappe te behou, sy reg uitoefen om oor sy eie lotgevalle te beskik.

Wegbeweeg van apartheid

Sedert die bewindsaanvaarding van John Vorster in 1966 is daar ‘n tweeslagtige beleid gevolg ten aansien van die beleid van apartheid deurdat die beleid nie gepaardgegaan het met volkome skeidingsmaatreëls nie. Daar is enersyds steeds voortgegaan met die beleid om onafhanklikheid vir tuislande daar te stel vir die swart volkere, maar andersyds is integrasie op verskeie vlakke van die samelewing goedgekeur en inderdaad deur die regering aangemoedig, ten spyte van die Vorster-, Botha- en De Klerk-regerings se ontkennings. Daarbenewens is ‘n beleid van integrasie gevolg ten opsigte van die Kleurlinge en Indiërs deurdat volledige skeiding nie meer as antwoord gesien is wat betref hierdie twee bevolkingsgroepe nie. Daar is gevolglik stelselmatig afstand gedoen van die beleid van apartheid soos dr Verwoerd dit gesien en geïmplementeer het. Dit het daartoe bygedra dat die res van die wêreld die daarstel van tuislande vir sommige volkere as ‘n “onteiening” van die reg van die meerderheid gesien het.

Om die vraag te beantwoord of die beleid van apartheid selfbeskikking daarstel, alternatiewelik ‘n ontkenning is van die reg tot selfbeskikking, moet die begrip apartheid gemeet word aan die definisie van die begrip selfbeskikking. Waar selfbeskikking kortweg omskryf kan word as die reg van ‘n groep of volk (of die inwoners van ‘n grondgebied) om self oor hulle toekoms te besluit en die uitgangspunt is dat ‘n volk of die inwoners van ‘n grondgebied vryelik moet kan besluit oor hulle politieke toekoms en die regering wat oor hulle regeer, kan geargumenteer word dat apartheid (afsonderlike ontwikkeling) juis hierdie doelstellings wou verwesenlik. Dit is daarom nodig dat gekyk moet word na wat die bedoeling met die beleid was.

Dr Verwoerd se beleid

Suid-Afrika het veral sedert die bewindsaanvaarding van dr HF Verwoerd in 1958 besluit om ‘n beleid te volg wat nie bloot gerig was op blote skeiding (segregasie) nie, maar op skeiding tesame met selfregering vir die verskillende bevolkingsgroepe van Suid-Afrika. Die aanvoorwerk daarvoor is reeds deur Verwoerd se voorgangers gelê.

Ook die Tomlinsonkommissie het in geen onduidelike taal gestel dat daar gestreef moes word:
na die bestaan van afsonderlike gemeenskappe in hul afsonderlike gebiede waar elkeen die volle geleentheid tot eie uitlewing en ontwikkeling sal hê.

Dr Verwoerd word allerweë as die “groot apostel” van apartheid beskou en daarom moet gekyk word na wat hy tydens sy ampstermyne as Minister van Naturellesake en Eerste Minister oor die beleid en die doel daarvan gesê het. In 1956 het hy tydens ‘n debat in die Parlement gestel dat:
Suid-Afrika hom met alle krag moet inspan om die skeiding tussen blank en nie-blank tot die hoogste mate teweeg te bring.

Op 12 November 1958 het Dr Verwoerd hierdie beleid soos volg geformuleer:

‘n Mens kan jou nie ‘n toekoms vir Suid-Afrika voorstel wat nie in een van die twee rigtings ontwikkel nie: Óf die Bantoe sal sy regte moet hê in sy eie gebiede en die blanke volk regeer in sy gebied, òf daar sal ‘n deurmekaar Suid-Afrika moet wees met die heerskappy in die hande van die meerderheid, naamlik die Bantoe.

Op 27 Januarie 1959 gaan hy verder deur die beleid soos volg te verduidelik:

Ek sorg ook dat ek ‘n pad kies waarin die blanke aan die een kant in sy gebied die volle bestuursreg alleen behou, maar waarin ek aan die Bantoe, onder my sorg as voog, die volle geleentheid gee om in hulle gebiede hul voet te sit op ‘n pad van ontwikkeling waarop hulle kan vorder ooreenkomstig die vermoë wat hulle het.

In dieselfde toespraak stel hy dat daar gesorg moet word dat die buitewêreld besef en dat die Bantoe besef, dat ‘n nuwe tydperk ontstaan,
’n tydperk waarin die blanke wegbeweeg van diskriminasie teenoor die Bantoe wat sy eie gebiede betref; dat hy hom plaas op die eerste stap van ten volle ontwikkeling.

Hy het hierdie toespraak afgesluit met die woorde:

Ons wil opbou ‘n Suid-Afrika waarin Bantoe en blanke as goeie bure langs mekaar kan woon en nie as mense wat in gedurige twis om heerskappy verkeer nie.

Daar is dan ook onmiddellik voortgegaan om wetgewing te implementeer ten einde hieraan uitdrukking te gee. Op 20 Mei 1959 het dr Verwoerd verklaar dat daar geen perke rus op die strewe van die Bantoe om hul gebiede tot onafhanklike state te ontwikkel nie. Hy verklaar dat hy:

… liewer op die ou end sit met ‘n kleiner staat in Suid-Afrika wat blank is … as met ‘n groter staat wat al klaar weggegee is aan Bantoe-oorheersing.

Op 24 Mei 1959 in ‘n openbare toespraak te Vrede in die Oranje Vrystaat stel dr Verwoerd die beleid soos volg:

Die wêreld moet oortuig word dat die blankes in Suid-Afrika ook ‘n reg het. Die blanke gaan as blanke sy gebied regeer, maar hy gaan aan die Bantoe sy gebiede gee waarin hy self kan regeer.

Sy opmerking op 5 September 1959, toe hy gereageer het op die Verenigde Party wat beweer het dat die Nasionale Party met sy beleid die land wil verdeel, is waarskynlik aanduidend van sy siening van die historiese verloop van sake in Suid-Afrika. Hy het verklaar:

Ons wil nie die land verdeel nie; die geskiedenis het hom verdeel.

Dit is natuurlik so dat die blankes in Suid-Afrika met die Afrikaner aan die voorpunt ‘n bepaalde siening oor die skeiding wat daar tussen blank en nie-blank moes plaasvind, gehad het en dat dit deurgaans in wetgewing neerslag gevind het. Dit was die uitgangspunt sedert die tyd van die Voortrekkers. Die siening was naamlik dat daar ‘n gebied bekend as “Blank” Suid-Afrika ontstaan het wat deur middel van besetting, onderhandeling en ruiltransaksies op ‘n wettige wyse bekom is. Hierdie siening is bestaanbaar met die beginsels oor die verkryging van grond in die internasionale reg.

Hendrick+VerwoerdVerwoerd se beleid het daarop neergekom dat blote skeiding onvoldoende was in die lig van die aanspraak van volkere op volledige selfbeskikking, asook die aandrang op stemreg en veral om op die hoogste vlak van ‘n land se regering verteenwoordig te word.

Verwoerd het van die standpunt uitgegaan dat die blanke homself slegs sou kon handhaaf in die toekoms indien die beleid van skeiding die ewigdurende beleid van Suid-Afrika bly. Hy het dit nie beskou as dat die waardigheid van mense aangetas word nie, want soos hy gestel het:

…you accept differences between people. We do not want to discriminate in the ultimate end, we want to differentiate.

Ook ten opsigte van die Kleurlinge en Indiërs was dr Verwoerd dieselfde mening toegedaan, naamlik dat skeiding die aangewese weg was en dat die selfbeskikking van hierdie groepe langs die weg van volkome skeiding en deur middel van selfbestuur in eie gebiede moes geskied.

Daar is gevolglik deurgaans van die standpunt uitgegaan dat die blankes ‘n “historiese reg” op “Blanke grond” het, maar tegelykertyd is die reg op selfbeskikking van die ander volkere nie ontken nie.

Dr Verwoerd wou die beleid tot sy volle konsekwensies wou deurvoer, naamlik dat volledige skeiding moes plaasvind met volwaardige selfregering. Hierdie uitgangspunt het ‘n totale verdeling van die land tussen ‘n Blanke staat en swart state voorsien.

Begronding van partisie

Die vraag op welke grondslag die argumente ten gunste van partisie berus, is onder meer:

  1. Wie was eerste waar? Die oorspronklike bewoners (besetters) sou dan op daardie grond wat hulle beset het, geregtig wees.
  2. Daar bestaan ‘n groot identiteitskloof tussen die verskillende volkere in Suid-Afrika en is hierdie kenmerke betreklik onveranderlik. Partisie is dus gegrond op identiteitsbeskerming.
  3. Die blankes en die Afrikaners was ‘n steeds kleiner wordende getalleminderheid en sou in ‘n eenheidstaat verswelg sal word. Daarom was die afgrensing van ‘n eie, eksklusief blanke en Afrikaner-volksbodem ‘n voorvereiste vir die moontlikheid tot sinvolle, konstruktiewe en positiewe gesprekvoering en samewerking met die ander volkere van Suid-Afrika.
  4. Afrikaners as ‘n volk, was soos die ander volkere, ook op selfbeskikking geregtig. In die geval van die Afrikaner in Suid-Afrika kon die behoefte aan selfbeskikking slegs deur partisie en selfregering vervul word.

Argumente teen partisie

Verskeie argumente is voorgehou waarom partisie nie kon slaag nie. Een was dat die reg op partisie en sesessie nooit gepositiveer is in die sin dat dit as afdwingbare reg erken is nie. Daarbenewens is daar groot meningsverskille oor die woord “peoples” in internasionale konvensies. Daar word dan ook aangesluit by die meerderheidstandpunt in die Internasionale Reg wat betref die feit dat die staat in sy geheel op selfbeskikking geregtig is en nie die onderskeie komponente binne ‘n staat nie, asook oor die afweeg van die territoriale integriteit van die staat teenoor die regte van minderhede.

Tog bestaan verskeie voorbeelde wêreldwyd waar partisie en sesessie toegepas is. Ná 1994 kom Eritrea en Suid-Soedan tot stand — voorbeelde wat as niks anders nie as sesessie (afskeiding) beskou kan word.

Weliswaar het die Suid-Afrikaanse situasie talle ander probleme wat in die pad van partisie en sesessie staan. Die volksgroepe woon hoe later, hoe meer, verspreid en deurmekaar wat groot bevolkingsverskuiwings sou impliseer. Daar is ook onduidelikheid oor wie (watter volkere) op partisie aandring en hoe groot die meerderheid(stem) moet wees wat daarop aandring binne ‘n volk.

Internasionale reaksie op apartheid

Die apartheidsbeleid van die Suid-Afrikaanse regering en waarvan dr Verwoerd seker die vernaamste vertolker was, is hewig gekritiseer. Wat egter nie aldag besef word nie, is dat hierdie beleid ook vanuit die buiteland aangeprys is. So het lord Fraser in die Britse Hoërhuis hom soos volg oor die beleid van skeiding uitgelaat:

This is not the best way of life. Indeed, no attitude of men towards each other which involves class distinction or racial discrimination is the best way of life. But mankind has lived with it for a very long time, and we have had to resort to it from time to time. We could not solve the Irish problem without partition; we could not solve the Indian problem without partition, and the same thing applied in Palestine where there was partition … Why is this? It is because certain persons of different races . . . dislike each other so much, or have such different ways of life, or are at such different stages of development, that they cannot or do not live comfortably together. It is better then . . . to separate them than to continue with the difficulties which arise and which sometimes become intolerable….I refer . . . to the Transkei. The Government which has been set up in the Transkei is almost an exact replica of the Government which we have had in Basutoland for the last five years…. I am bound to say that I think both of them are a good idea, and I can see no logical reason why we British should praise what we have done in Basutoland and criticise the South Africans for what they have done in the Transkei, because the two things are identical.”

Apartheid en Uti Possidetis

Die beleid van apartheid is deur internasionale regslui beskou as ‘n skending van die beginsel van uti possidetis. Laasgemelde beteken dat die koloniale grense van state (al is dit hoe arbitrêr getrek deur die imperiale magte), nie gewysig kon word nie. Die internasionale gemeenskap het geargumenteer dat Suid-Afrika die land wil opkerf en die swartes hulle regte só wou ontneem. Dr Verwoerd se antwoord daarop was dat die geskiedenis self hierdie grense getrek het en dat hierdie gebiede in elk geval deur hierdie mense bewoon is. So het hy op 11 September 1962 gestel dat die regering nie Transkei of Zoeloeland geskep het nie, net so min as wat Engeland Basotoeland (Lesotho) en Swaziland geskep het. Dit was volgens hom ‘n (natuurlike) verdeling wat deur die geskiedenis gebring is en dat, soos in Europa, Suid-Afrika probeer om met grenslyne orde te skep en daardeur die blanke se erfreg te verseker.

Dit is interessant om daarop te let dat die wêreldgemeenskap sterk te velde trek ten gunste van die beginsel van uti possidetis in sekere gevalle, soos Suid-Afrika, maar waar daar ‘n afskeidingsbeweging is wat uiteindelik hulle onafhanklikheid verklaar, soos in die geval van Eritrea (wat suksesvol afgeskei het van Ethiopië, en erken is), die beginsel van uti possidetis blykbaar nie meer aanwending vind nie. Wat inderdaad gebeur is dat die internasionale gemeenskap somtyds geen ander keuse het as om kennis te neem van ‘n nuwe feitelike situasie nie; en dit selfs aanmoedig, soos ook in die geval van Suid-Soedan…

Die ander argument wat teen die beleid van dr Verwoerd gehou word, is die feit dat die meerderheid van die bevolking van die RSA nie die “selfbeskikking” soos hy dit gesien het, wou hê nie. Die vraag wat hier gevra moet word, is: Watter meerderheid? Indien die bevolking van ‘n land in sy geheel gesien word, sal klein volkere nooit ‘n aanspraak kan hê op volledige selfbeskikking nie en word die historiese aansprake van volkere op grondgebiede eenvoudig van die tafel gevee. So ‘n standpunt neem as vertrekpunt bloot die de facto situasie in ‘n land sonder om die demografie en historiese verloop van so ‘n land en dié se inwoners in aanmerking te neem.

Daar kan met reg geargumenteer word dat dr Verwoerd die ontwikkeling van selfbeskikking eintlik vooruitgeloop het met die stappe wat hy in Suid-Afrika wou implementeer. Dit is wel so dat daar vandag gesê kan word dat die meerderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking die weg van “selfbeskikking van die geheel” (wat niks anders is as blote meerderheidsregering nie) gekies het, maar is dit ook ‘n feit dat die keuse van selfbeskikking in ‘n eie grondgebied nooit aan die verskillende volksgroepe by wyse van ‘n referendum of volkstelling gestel is nie. Die skep van bepaalde persepsies (en aanblaas van ‘n negatiewe stemming) oor die aangeleentheid het dit eintlik onmoontlik gemaak om die saak objektief te beredeneer.

Die bewoording van die huidige Grondwet bevestig die eensydige aanname wat hierbo gemaak is dat daar van die standpunt uitgegaan word dat daar op die reg op selfbeskikking voldoen is toe elke inwoner van hierdie land wat stemgeregtig is, in 1994 (en dus ook daarna) die geleentheid gekry het om te stem. Artikel 235 maak wel voorsiening daarvoor dat die reg van enige gemeenskap wat ‘n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, se reg op selfbeskikking erken word “binne ‘n territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal”. Op die oog af lyk dit asof daar inderdaad voorsiening gemaak word vir die reg op selfbeskikking van ‘n groep deur die huidige Grondwet. By nadere ontleding wil dit egter voorkom of dit geregverdig is om te argumenteer dat die bewoording so beperkend is dat die “reg” wat geskep is eintlik niksseggend is. Nasionale wetgewing, dus die wil van die meerderheid, sal bepaal of die minderheid (groep wat op die reg aanspraak maak) wel sodanige reg sal hê en op welke territoriale entiteit in die Republiek sodanige aanspraak gevestig kan word.

Volkstellings

Die internasionale wêreld is baie gesteld daarop dat waar selfbeskikking ter sprake is, die mening van die mense by wyse van ‘n volkstelling of referendum verkry moet word. So het die Krim dan ook deur middel van ‘n referendum aangedui dat hulle hulle by Rusland wou skaar — tot ergernis van die VSA! Wat in Suid-Afrika gebeur het, is dat die bevolking bloot as ‘n geheel beskou is en dat die uitslag van die 1994-verkiesing gesien is as ‘n duidelike standpuntinname vir selfbeskikking van die bevolking van Suid-Afrika as ‘n geheel.

Laasgenoemde is niks anders nie as ‘n ontkenning van die reg op selfbeskikking soos dit deur dekades heen ontwikkel het, synde die reg duidelik bedoel is om aan volkere (groepe) toe te kom en nie bloot aan die totale inwoners van ‘n land nie. In hierdie verband dui die toenemende ontevredenheid van talle volkere na die 1994-verkiesing op die feit dat nie aan hulle strewe na selfbeskikking voldoen is nie. Toe die verskillende volkere in die ou USSR en Joego-Slawië enigsins in die geleentheid gestel is om hulle voornemens oor hulle afsonderlikheid uit te spreek, het hulle ondubbelsinnig verklaar dat hulle die reg op selfbeskikking binne eie staatsverband wil uitoefen.

Daar kan trouens aangevoer word dat nie een volk in Suid-Afrika tans die reg op selfbeskikking het nie maar dat daar bloot meerderheidsregering is ten aansien van die geheel van die bevolking van Suid-Afrika.

As ‘n volkstelling dan die laaste vereiste is waaraan voldoen moes word, sou dit in elke geval deur die onderskeie swart volkere in hulle eie gebiede gedoen kon gewees het. Maar eers was dit nodig om die nodige skeiding daar te stel en ook die blanke se voortbestaan te verseker deur hom nie uit te lewer aan die wil van ‘n swart meerderheid nie.

Opsommend

Daar is vandag (steeds) twee hoofdenkstrome binne Afrikanergeledere. Die een groep, wat as liberaaldenkend beskou kan word, sien die Afrikaner se toekoms binne ‘n verenigde Suid-Afrika. Daarmee saam word begrippe soos “geen diskriminasie”, die “reënboognasie”, eenvormigheid, nuwe “saambindende nasionale simbole” ensovoorts, gepropageer.

Teenoor hierdie groep staan diegene wat hul op die Afrikaans-nasionale basis stel en van die standpunt uitgaan dat die Afrikaner ‘n reg op selfbeskikking binne ‘n eie gebied moet hê om sy selfbehoud en sefverwesenliking te verseker. Diegene wat hulle op die nasionalistiese basis stel, beskou die strewe na volwaardige selfbeskikking en selfbetuiging as die enigste waarborg vir uiteindelike selfbehoud en selfverwesenliking binne ras- en volksverband. Hulle staan in skrille kontras en in direkte stryd met diegene wat Suid-Afrika as multi-etniese eenheidstaat sien en hulle daarvoor beywer.

Hierdie stryd in Afrikanergeledere duur voort te midde van die feit dat die Afrikaner se posisie in vele opsigte verswak het sedert 1994. Daarbenewens moet daardie Afrikaners wat hulle beywer vir die behoud van Afrikaans, volkseie skole, volkseie instellings en Afrikanerselfbehoud op elke terrein van die samelewing, toesien hoe daar enersyds uit eie geledere weerstand daarteen gebied word, en andersyds deur die regering van die dag toenemend stappe geneem word om die uitlewing van hierdie waardes onmoontlik te maak. Alles wat eie aan die Afrikaner is, waaronder sy taal, sy godsdiens, sy feesdae, sy kultuurgoed, en sy instellings word geminag en gekortwiek.

Die toekoms

Die aanspraak op selfbeskikking en nasionalisme oorvleuel in talle opsigte. In Suid-Afrika het die oplewing van nasionalisme altyd gepaardgegaan met die stryd en strewe van die Afrikaner om ‘n eie staat, dit wil sê volledige eksterne selfbeskikking.

Om die grootste vorm van selfbeskikking te beleef, beteken dat ‘n volk soewereine onafhanklikheid binne ‘n eie staat (en dus geografiese gebied) moet hê. Die Afrikaner is geen uitsondering nie. Die opheldering en in sommige gevalle selfs aktiewe voortstuwing van die tradisioneel identifiseerbare kenmerke van Afrikaner-nasionalisme, is ‘n werklikheid wat op feitlik elke lewensterrein waargeneem kan word. Die beskerming van menseregte het nie die Afrikaner se aansprake op selfbeskikking ondervang nie. Inteendeel, dit poog om dit uit te wis. Die verwesenliking van individuele regte is die verwesenliking van enkelinge se aspirasies en dikwels ten koste van groepe se aspirasies.

Die menseregte-leerstuk verteenwoordig ‘n humanisties-gefundeerde individualisme, en staan in teenstelling met nasionalisme omdat nasionalisme vanuit die groep (volk of nasie) spruit, dit ‘n kollektiewe gedragspatroon vereis, en die individu sy begeertes en ideale binne die groter groepsverband soek.

Die beskerming van taal-, kultuur-, en godsdienstige regte binne ‘n grondwetlik verskanste handves van menseregte is beperkend met betrekking tot die Afrikaner se strewe na selfbetuiging. Dit is onmoontlik om aan meer as een groep binne dieselfde gebied selfbeskikking te gee.

Die Afrikaner se strewe na ‘n reg op selfbeskikking sal slegs in ‘n afsonderlike konsititusioneel-staatkundige bestel (en gevolglik in ‘n eie grondgebied) ten volle verwesenlik kan word. Die kanse dat dit deur vreedsame partisie kon gebeur, het in 1966 gesneuwel. Nou bly moontlik net (eensydige) sesessie oor.

Dr Verwoerd het verder vooruitgesien as wat meeste besef. Partisie soos wat deur Verwoerd beoog is, kon aan elke volk op vreedsame wyse selfbeskikking verseker. Sesessie, alhoewel ‘n drastiese stap, kan moontlik ‘n tussentydse oplossing wees in die lig van die toenemende volksmoord op die blankes. Daarmee word bedoel dat ‘n “veilige hawe” moontlik as vertrekpunt beskou kan word op weg na die herstel van die blankes se historiese erfenis.

‘n Onbereikbare ideaal? Was dit dan nie dr Verwoerd se uitgangspunt dat die ideaal sterker is as die werklikheid is nie!

Universiteit Stellenbosch haal Verwoerdplaat af as deel van suiweringsveldtog

Na aanleiding van die gedoente rondom die Rhodesstandbeeld by die Universiteit van Kaapstad, het die Universiteit van Stellenbosch besluit om die kampus van veral Afrikanersimbole te suiwer. ‘n Gedenkplaat vir dr. H.F. Verwoerd gaan verwyder word en in die universiteitsmuseum geplaas word waar dit “behoorlik gekontekstualiseer sal word”, vermoedelik op ‘n baie negatiewe wyse.

Dr. en mev. Verwoerd, afgeneem voor die Sosiale Wetenskappegebou toe dit in 1963 na hom vernoem is
Dr. en mev. Verwoerd, afgeneem voor die Sosiale Wetenskappegebou toe dit in 1963 na hom vernoem is

‘n Woordvoerder vir die universiteit, Martin Viljoen, het gister verklaar:

“Dit is iets wat al tien jaar gelede gedoen moes gewees het toe die [Rekeningkunde- en Statistiek-] gebou se naam verander is.”

Die Rekeningkunde- en Statistiek-gebou het tot tien jaar gelede as die H.F. Verwoerd-gebou bekendgestaan.

Die linksliberale dagblad in die Wes-Kaap, Die Burger, het voorheen in sy blaaie ‘n veldtog teen die gedenkplaat gevoer ten einde die US te dwing om dit te verwyder.

Daarom het die universiteitsbestuur amptelik besluit om dit af te haal, het Viljoen gesê.

Die universiteitsbestuur sal verder met linkse en marxistiese groepe op die kampus vergader om die revolusionêre transformasie van alle “visuele en simboliese elemente” op die kampus te bespreek. Daar word verstaan dat alle Afrikanerfigure uit die geskiedenis dit sal ontgeld.

Volgens inligting wat aanlyn beskikbaar is, moes die HF Verwoerdgebou eers die departement Sosiale Wetenskappe gehuisves het, want dit is in 1963 na die voormalige eerste minister vernoem. By die benoemingsgeleentheid het 250 studente in kleurbaadjies van die Dagbreekkoshuis, waarin Hendrik Verwoerd as student tuisgegaan het, vir hom ‘n erewag gevorm.

Danksy Die Burger is die oud-Matie, HF Verwoerd, egter vandag persona non grata op Stellenbosch.

Theuns Eloff hoof van Verwoerd se trust met R2 miljard

Dr. Theuns Eloff, wat onlangs die tuig as rektor van die Noordwes-universiteit neergelê het, is tot voorsitter van Dagbreektrust verkies. Dit blyk uit onlangse berigte in die media. Daar word konserwatief geskat dat die Trust oor R2 miljard se likiede fondse in die vorm van kontant en aandele beskik.

Die kanse dat dié fondse egter in die belang van die Afrikaner aangewend sal word, is skraal. Oor die afgelope jare het Dagbreek konsekwent die Nasionale Party se beleid van versoening met die ANC, asook die “versmelting” van Afrikaners met kleurlinge om “Afrikaanses” te word, nagejaag.

Die aanwysing van Eloff versterk die beheer wat Potchefstroom, of dan trustees wat bande met die Potchefstroomkampus het, oor Dagbreektrust uitoefen. Mnr. Flip Buys van Solidariteit, ‘n ander trustee van Dagbreek, het insgelyks aan die Potchefstroomse Universiteit gestudeer en dien ook op die raad daarvan (tans NWU).

Die vorige voorsitter van Dagbreek, mnr. Danie Cronjé, was eers voorsitter van ABSA-bank. Maar ook hy was op ‘n stadium lektor in Monetêre en bankwese aan die Potchefstroomse Universiteit. Nog ‘n vorige trustee was prof. Carools Reinecke, wat ook op sy dag rektor van die PUK was. Dis onbekend of Reinecke steeds op die Trust dien.

Die oorsprong van Dagbreektrust word tans nie aan die groot klok gehang nie, maar die trust is waarskynlik dieselfde vereniging as dié wat dr. HF Verwoerd in die dertigerjare gestig het om die Johannesburgse dagblad, Die Transvaler, mee te begin. Ná verskeie samesmeltings, het Perskor tot stand gekom, met Dagbreektrust as Perskor se vernaamste aandeelhouer.

Uiteindelik is Perskor deur mnr. Terry Moolman van die Caxton-drukkery oorgeneem en tot vandag toe behoort sekere Perskor-titels soos The Citizen, Rooi Rose en ander aan Caxton.

Die bates waaroor Dagbreek tans beskik, is hoofsaaklik aandele in Naspers wat voortspruit uit ‘n ontbondelingstransaksie toe M-Net, waarin Perskor ‘n mede-aandeel gehad het, se aandele in Naspersaandele omskep is.

Toe Naspers se aandele minder as R500 werd was, het Dagbreek se aandeelhouding in Naspers reeds tot een miljard rand gestyg. Tans verhandel Naspers teen R1290 per aandeel, dus kan mens met redelike sekerheid sê dat Dagbreek se bates tot oor die twee miljard rand gestyg het.

Volgens Bloomberg is die dividendopbrengs op Naspersaandele tans 0,33% per jaar. Dit beteken dat Dagbreek se inkomste net uit dividende jaarliks R6,6 miljoen beloop, ongeag ander beleggings of deposito’s.

Die tolkprogram aan die Universiteit van Potchefstroom wat dit vir swart studente moontlik maak om ingenieurswese in Engels te studeer, is deur Dagbreektrust gefinansier. Dit mag strydig met die trustakte wees, aangesien die trust veronderstel is om Afrikaans te bevorder. Die trust argumenteer egter dat Engelse tolkwerk “help om die universiteit op die duur Afrikaans te hou”. Ná Adriaan Basson van Beeld se veldtog teen die Noordwes-universiteit en die aandag wat dit van die kommunistiese minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, ontvang het, is dit egter te betwyfel of die universiteit veel langer Afrikaans as voertaal sal kan behou.

Dagbreektrust ondersteun onder andere ook die webblad LitNet, wat deur prof. Etienne van Heerden van die Universiteit van Kaapstad, bedryf word. Die blad is bekend vir sy dikwels linkse en marxistiese standpunte. Verskeie aansoeke deur PRAAG vir projekte om Afrikaans te bevorder, is reeds deur Dagbreek afgekeur, onder meer omdat daar nie ‘n regstellende-aksie-komponent by sulke projekte betrokke was nie en dit daarom as “eksklusief” en nie “inklusief” nie geag is.

Ironies genoeg word die fonds wat dr. Verwoerd in die 1930s opgerig het, dus vandag gebruik om marxistiese denke in Suid-Afrika te bevorder.

Nuwe boek oor DF Malan belig eietydse Afrikanerprobleme

deur Christo Landman

Lindie Koorts het pas ‘n indrukwekkende boek van 492 bladsye oor die lewe en denke van dr. D F Malan, in lewe eerste minister van die Unie van SA van 1948 tot 1953, geskryf. Daar is gebruik gemaak van 2127 verwysings uit 117 boekbronne, 24 tydskrifartikels en 12 proefskrifte.

Dr Christo Landman
Dr Christo Landman

Dr. Malan was ‘n boorling van Riebeeck-Wes op die plaas Allesverloren! Hy was ‘n buurseun van Jan Smuts wat 4 jaar ouer as Malan was. Hy slaag sy teologiese admissie-eksamen in 1896 en verwerf daarna sy meestersgraad in die Filosofie (p. 28). Hy het oor die filosofie/denke van Immanuel Kant geskrywe (p. 30). Hy doen sy doktorsgraad onder Hugo Visscher (p. 63). Eers was hy predikant van die NGK in Heidelberg en later (1906) Montagu (p. 70). In 1915 het hy redakteur van Die Burger geword (p. 134). Hy gebruik dan ook Die Burger om vir die volk te preek (p.164). Malan was die minister van binnelandse sake in die Hertzogregering (p.222) en na 1948 eerste minister van die Unie.

Titel: DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme
Skrywer: Lindie Koorts
Kategorie: Biografie: Histories, polities en militêr
ISBN: 9780624055853
Datum Vrygestel: 27 Februarie 2014
Prys (insl. BTW): R 350.00
Formaat: Sagteband, 496pp

Ideologies was Malan Calvinisties en Gereformeerd, alhoewel hy nie sin in die Neo-Calvinisme van Abraham Kuyper gehad het nie. Lg. het die Bybel as die absolute Woord van God gesien, terwyl Malan geglo het dat God allegorieë, legendes en mites gebruik om sy boodskap aan die mens oorgedra te kry. Hy het in die rigting van die Duitse Idealisme oorgeleun (p. 30). Hy onderskryf die denke van Johann Gottlieb Fichte wat taal as die uiting van ‘n sielshoedanigheid tipeer (p. 61). Hy was ook ‘n student van Georg Berkeley (Ierse Biskop) se Idealisme (p. 63). Die taalaktivisme van Gustav Preller het hom beïndruk (p. 68). Hy beskou godsdiens en politiek as teenstrydig (p. 52). Die stryd in SA is een van (p. 68):

  • Afrikanernasionalisme teen;
  • Britse imperialisme en teen;
  • Swart barbarisme.

Wat treffend van die lewe en geskiedenis van Malan is, is dat, alhoewel elke tydsgewrig uniek en eiesoortig verloop, elke eerste minister van SA sedert 1910 enorme probleme op sy sopbord gehad het. Malan se fokus was grootliks op die Afrikaner gerig en wat dit betref het die Afrikaner sedert die volksplanting ‘n lewe van stryd en oorlewing gevoer.

Disse op die Malan-spyskaart was, onder meer:

  • Die oorlewing van die Afrikaner en die opkoms van Afrikaner nasionalisme;
  • die Republikeinse ideaal;
  • die armblanke-vraagstuk;
  • onderlinge verdeeldheid en wantroue in Afrikanergeledere;
  • die verhouding Afrikaner-Engelssprekendes en Britse imperialisme;
  • opkoms van die Bolsjewisme.

koorts_df_malanDie oorlewing van die Afrikaner en die opkoms van Afrikaner nasionalisme

Die vereniging van Afrikaners was die hoofdoelwit van Malan. Die volkskerk speel ‘n belangrike rol in die skep van nasionalisme (p. 59). Hy het geglo dat die kerk ‘n bindende faktor moes wees om van die Afrikaners ‘n hegte eenheid te maak (p. 127). Daarom was hy ‘n voorstander van aparte eredienste (1857) vir wit en bruin (p. 59). Die mens het ‘n roeping om die Here binne eie kulturele ruimtes te dien (p. 59).

Malan het geglo dat nasionalisme onkeerbaar was … ja, so onkeerbaar as om die water van die Zambezi met ‘n hand te keer, òf om die vloed van die oseaan met ‘n besem terug te vee, òf om die oostewind met ‘n sif te tem.

Die mislukking van die Afrikanereenheidskomitee (p. 378) was vir Malan ‘n onaangename gebeurtenis. Hierdie liggaam sou raadgewend wees, aksies koördineer, onenigheid besweer en samewerking bevorder. Persone wat hierdie aksie laat misluk het, was, onder meer drs. Piet Meyer en Nic Diederichs (p. 378). Volgens Malan is die pad van SA bestrooi met versoeningspogings (p. 381).

Die Republikeinse ideaal

Onder Malan het die (Herenigde) Nasionale Party ‘n onderskeid gemaak tussen (p.173):

  • onafhanklikheid as beginsel en
  • republikanisme as regeringsvorm

Malan wou die grootste afstand moontlik tussen die Afrikaners en die Britse kroon bewerkstellig (p. 177). Hierdie afstand het behels dat die Afrikaner sy eie regeringsvorm moes kon kies (p. 178).

Armblanke vraagstuk

In die politiek van Malan moes die verstedelikte armblankes na die platteland teruggaan en grond gegee word (p. 166). Dit moes geskied deur middel van staatsgrond, maar ook onteiening.

Malan steun op die Carnegieverslag insake blanke Afrikanerarmoede en bevorder die ideaal van geskeie woonbuurtes (p. 327).

Onderlinge verdeeldheid en wantroue in Afrikanergeledere

Malan het dikwels gekla oor die gebrek aan dissipline in Afrikanergeledere (p. 171).

In Utrecht waar hy studeer het, het hy met president Paul Kruger kennis gemaak (p. 50). Ander besoekers na Nederland was: generaals Louis Botha, Koos de la Rey en Christiaan de Wet. President Steyn wat ook Nederland besoek het, het ‘n groot indruk op hom gemaak (p. 62).

Malan se verhouding met JBM Hertzog was gespanne. Hertzog het bv. Afrikanerskap en Suid-Afrikanerskap as wisselterme gebruik (p. 104). Hertzog was so diplomaties soos ‘n weermagtenk en taktvol soos ‘n kanon (p. 105). Hertzog het tevergeefs probeer om Malan by die Smeltersinisiatief tussen die Nattes en Sappe te betrek. Malan verset hom ook teen Louis Botha se konsiliasiepolitiek (p. 121).

Oor Jan Smuts het Malan geen goeie woord nie. Toe Malan en andere ‘n petisie insake die begenadiging van die doodsvonnis vir Jopie Fourie aan Smuts wou oorhandig, het Smuts in sy huis weggekruip (p. 125).

Ironies genoeg het Malan ‘n nouer samewerking en vertroue ervaar met minister Klasie Havenga (leier van die meer gematigde Afrikanerparty) as met die politieke heethoofde van Transvaal (J G Strydom en andere).
In Malan se betrokkenheid by die politiek van verdeeldheid in verskillende instellinge, is gepoog om aansluitende samewerking te bewerkstellig tussen (p 369):

  • Nasionale Party
  • Reddingsdaadfonds
  • Handhawersbond
  • Die Ossewabrandwag (leier: JFJ van Rensburg)
  • Die FAK

Volgens Malan was verraad om elke hoek en draai te vind (p. 372). Disinformasie was aan die orde. Die Malaniete is dikwels voorgestel as Malanazi’s. Malan wat nooit pro-Hitler was nie het by geleentheid verklaar dat sommige Afrikaners so pro-Hitler geraak het, dat geoordeel is dat Hitler ‘n pro-Afrikaner-simpatiseerder was (p. 374).

Die verhouding Afrikaner-Engelssprekendes en Britse imperialisme

Die Jamesoninval van 1895 in Transvaal het Malan met weersin vervul (p. 31). Hy beskou Engelstalige Suid-Afrikaners as pragmatiste sonder funderende beginsels (p. 55). Malan het gemengde huwelike tussen Afrikaners en Engelstaliges teengestaan (p. 94). Malan het aan ‘n twee-spoorbeleid van Afrikaners en Engelssprekendes geglo (p. 105).

Opkoms van die Bolsjewisme

Malan word geskets as iemand wat beide anti-kapitalisties en anti-sosialisties was (p. 27). Die kommunisme is daarop gerig om die christelike beskawing te verwoes (p. 384).

Apartheid en die Bruinmense asook die Swartes

Swart politiek was vóór 1948 klaarblyklik nie ‘n hoofitem op die politieke agenda van Malan nie. Die Burgerkoerant het die begrip die eerste keer in 1943 gebruik (p. 385). Dit sou die Engelse idee van segregasie vervang. Apartheid lê ten grondslag van die NGK se Sendingsbeleid en waarborg lewensruimtes vir alle kultuurgemeenskappe. In 1947 het die NGK ‘n pleidooi vir ‘n omvattende rassebeleid teen verbastering gelewer (p. 394).

Sy standpunt was dat kleur op andersoortigheid dui en nie op meerderwaardigheid nie (p. 390): dit is ‘n God-gewilde orde. Selfbehoud van die groep is die eerste wet van die natuur (p. 393).

Sy houding jeens die bruinmense was paternalisties (p. 93). Hy het die voogdyskapsbeginsel as rigsnoer geneem (p. 93). Die kleurlinge was nie deel van die Afrikanerdom nie, maar dan tog deel van die Westerse beskawing (p. 216).

Dit is in die regeertyd van Malan wat die beleid van industriële segregasie aanvaar is (p. 211). Die behoeftes van swart “onbeskaafdes” en van half-beskaafdes is anders gesien as dié van die witmense (p. 211).

Malan bied apartheid aan as sinvolle alternatief vir die Britse segregasie-idee. Komponente van apartheid sluit in (p. 329):

  • Territoriale grense
  • Politieke afsonderlikheid
  • Industriële geskeidenheid

Ander sake

Ander sake waarmee Malan moes worstel, het ingesluit:

  • Die Mynwerkerstaking 1922 (p. 205)
  • Die Wetsontwerp op Vroueregte 1923 (p.202)
  • Die verkiesingsooreenkoms met die sosialistiese Arbeiders (1924) (p. 222)
  • Die vlagkwessie sonder die Engelse Union Jack waarteen die Engelse in verset gekom het (p. 223)
  • Die Wetsontwerp op Emigrasie van Indiërs terug na Indië (p. 247)
  • Opponering van die sosiaal-sosialistiese Gryshemde (1933).
  • Simboliese Ossewatrek (1938) (p. 246).
  • Inwyding van die Voortrekkermonument (1939) (p. 247)
  • Die Tweede Wêreldoorlog (p. 348).
  • Skeuring van die NP na samesmelting (p. 362)
  • Die Tweede Ekonomiese Volkskongres (1939) en stigting van die Reddingsdaadfonds (1940) (p. 368)

Malan se hoogtepunt was toe hy die Nasionale Party in 1948, met die hulp van Klasie Havenga, na oorwinning gelei het. In daardie verkiesing het die HNP van Malan en Havenga tesame 79 setels en die Verenigde Party van Smuts en die Arbeiders 71 setels verwerf (p. 397). In die 1953-verkiesing het Malan 30 setels meer as die Verenigde Party gekry (p. 417).

Malan het op 74 jaar eerste minister geword (p. 400). In sy regeertyd is die volgende apartheidswette op die wetboek geplaas (p. 401):

  • Verbod op Gemengde Huwelike (1949)
  • Ontugwet (1950) wat seksuele verbintenisse oor die kleurgrens ‘n misdaad gemaak het
  • Die Groepsgebiedewet
  • Die Bevolkingsregistrasiewet (1950)
  • Die Wet op die Onderdrukking van die Kommunisme (1950)
  • Die Wet op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers (1951)

Dr. Daniel Francois Malan bedank na veertig jaar in die politiek. Sy grootste ondersteuningsbasis was in die Kaap, waar leiers soos dr. Eben Dönges, Paul Sauer en Eric Louw sy hande gesterk het. Sauer wou hy eers minister maak nadat hy behoorlik gekatkiseer en voorgestel is.

‘n Laagtepunt in die politieke lewe van DF Malan was dat sy keuse van Klasie Havenga as sy opvolger deur die Transvalers (Strijdom en Verwoerd, onder meer) afgewys is en dat JG Strijdom as eerste minister verkies is.

DF Malan sterf op 7 Februarie 1959.

Afrikaners behoef ’n politieke ommekeer

In voorafgaande artikels in die Geskiedenisafdeling van dié webwerf is gepoog om kortliks (ja, baie kortliks!) en oorsigtelik na politieke tendense te kyk binne vier periodes:

Die indruk kan nie ontsnap word nie dat, met hier en daar ‘n suiwer uitsondering (dr. D.F. Malan en dr. H.F. Verwoerd), daar deurlopend gebrekkige leierskap voorgekom het. Generaal Louis Botha, generaal Jan Smuts en F.W. de Klerk val in die kategorie van meelopers met die Afrikaner se tradisionele vyande.

Die konflik tussen Afrikaner en Engelsman is in die demokratiese politiek sedert 1948 binne die konteks van Afrikanerregerings versus die Engelse opposisiepartye en pro-Britse pers volgehou.

Die Engelse anneksasie van Natal en die Kaap asook die twee Vryheidsoorloë is ‘n tragedie wat moeilik uitgewis kan word.

Tewens, die Engelse politiek, meer as enige iets anders, het die stryd teen sg. “apartheid” geïnternasionaliseer. Dit is die Engelse sakesektor wat die oorsaak is dat die Verwoerdiaanse ekonomiese beleid van grensnywerheidsontwikkeling en op die agentskapsbasis in die tradisionele swart tuislande misluk het. Ook die onbeheersde instroming van swartes na die vier provinsies, in die soeke na werk, is die resultaat van ‘n Engelse ekonomiese beleid. Insgelyks was die verabsolutering van die Engelse Westminsterstelsel die groot dryfveer agter die revolusionêre politiek van die swart bevrydingsorganisasies. Daar kan vandag gekonstateer word dat die ANC die Engelse koloniale politiek van die groot imperialiste – Cecil John Rhodes en andere – waarmaak. Vandaar die beroepsdiskriminasie teen Afrikaners, die onsimpatieke verandering in die name van historiese dorpe, geboue en straatname, asook die verengelsing van die onderwys.

By terugskoue moes die Suid-Afrikaanse politiek totaal anders ontplooi het. Die tendens van groter afstand tussen SA (die Afrikaner) en die Britse Gemenebes (die Engelse politiek) moes regdeur gehandhaaf gebly het. Groter kontak moes bewerkstellig met Nederland en Duitsland gewees het. Vandag in die jaar 2010 het die Britse invloed in die internasionale politiek dermate getaan dat SA se betrokkenheid by die Britse Gemenebes ‘n holle gebaar is. Tans is Duitsland een van die sterkste lande van die Europese Unie.

Die Rhodesiese Engelse het tot ‘n groot mate hulle gat gegrawe. Jan Smuts het gedurende sy regeringstyd gepoog om Suid-Rhodesië by SA te laat aansluit. ‘n Referendum is gehou, maar die kortsigtige Engelse het oorwegend gestem om nie deel van SA te word nie. Hulle redes was grootliks die teenwoordigheid van Afrikaners in die Republiek!

Die daadwerklike optrede van Ian Smith om met Brittanje te breek en UDI (Unilateral Declaration of Independence) uit te roep, was egter ‘n heldedaad. Die feit dat SA vir Ian Smith in die steek gelaat het, was ‘n daad van verraad. ‘n Alliansie tussen SA en Rhodesië, met al die opofferinge wat dit sou vra, sou die regionale geskiedenis anders geskryf het as wat tans die geval is. By terugskoue het Robert Mugabe die ontwikkeling van Zimbabwe dermate geknak dat dit dekades sal neem om te herstel – indien ooit!

Die fout met die hantering van Rhodesië (onder Vorster en Pik Botha) is in die hantering van SWA (onder P.W. Botha en Pik Botha) herhaal. Namibië is in die hande van SWAPO se Nujoma oorgegee.

‘n Alliansie tussen SA, Rhodesië en Suidwes-Afrika kon die Suider-Afrikaanse politiek op ‘n totaal nuwe model en rigting laat ontplooi het.

Die feit dat die onafhanklikheid van die TBVC-state deur F.W. de Klerk (weer met die steun van Pik Botha) opgehef is, was die grootste daad van lafhartigheid denkbaar.

‘n Alliansie tussen Verwoerd se SA, Ian Smith se Rhodesië, dr. Savimbi se Angola, Lukas Mangope se Bophuthatswana en ander goedgesinde swart leiers in die TBVC-state kon ‘n Suider-Afrikaanse konfederale regstaat tot stand gebring het, wat tot seën vir Afrika en vir die Europese gemeenskap sou gewees het.

Wanneer ons fokus op die politieke geskiedenis van SA moet ons ruiterlik erken dat ons “leiers” ons in die afgrond in bestuur het. Daar was en is nog steeds ‘n kortsigtige politiek onder ons waarneembaar. Wat in die omstandighede nodig is, is om ‘n nuwe kader leiers behoorlik op te lei. Dit is dus nog nie te laat om ‘n ander koers in te slaan nie. Maar, dan sal die rigting duidelik uitgespel moet word en ‘n strategie uitgewerk moet word om dit waar te maak. Dit is nooit te laat om ‘n politieke ommekeer te maak nie.

воздухаданильченко юрій броніславович