Na aanleiding van die gedoente rondom die Rhodesstandbeeld by die Universiteit van Kaapstad, het die Universiteit van Stellenbosch besluit om die kampus van veral Afrikanersimbole te suiwer. ‘n Gedenkplaat vir dr. H.F. Verwoerd gaan verwyder word en in die universiteitsmuseum geplaas word waar dit “behoorlik gekontekstualiseer sal word”, vermoedelik op ‘n baie negatiewe wyse.

‘n Woordvoerder vir die universiteit, Martin Viljoen, het gister verklaar:
“Dit is iets wat al tien jaar gelede gedoen moes gewees het toe die [Rekeningkunde- en Statistiek-] gebou se naam verander is.”
Die Rekeningkunde- en Statistiek-gebou het tot tien jaar gelede as die H.F. Verwoerd-gebou bekendgestaan.
Die linksliberale dagblad in die Wes-Kaap, Die Burger, het voorheen in sy blaaie ‘n veldtog teen die gedenkplaat gevoer ten einde die US te dwing om dit te verwyder.
Daarom het die universiteitsbestuur amptelik besluit om dit af te haal, het Viljoen gesê.
Die universiteitsbestuur sal verder met linkse en marxistiese groepe op die kampus vergader om die revolusionêre transformasie van alle “visuele en simboliese elemente” op die kampus te bespreek. Daar word verstaan dat alle Afrikanerfigure uit die geskiedenis dit sal ontgeld.
Volgens inligting wat aanlyn beskikbaar is, moes die HF Verwoerdgebou eers die departement Sosiale Wetenskappe gehuisves het, want dit is in 1963 na die voormalige eerste minister vernoem. By die benoemingsgeleentheid het 250 studente in kleurbaadjies van die Dagbreekkoshuis, waarin Hendrik Verwoerd as student tuisgegaan het, vir hom ‘n erewag gevorm.
Danksy Die Burger is die oud-Matie, HF Verwoerd, egter vandag persona non grata op Stellenbosch.
