Leon Lemmer: Wilhelm Verwoerd III, ‘n erg verloopte Afrikaner

As ‘n mens ‘n boek lees wat jy graag wil lees en dit boonop goed geskryf is, is lees ‘n wonderlike, ontspannende, geestesverrykende ervaring. As ‘n mens ‘n boek teëkom wat jy dink jy moet lees, bv om kennis van “die ander kant van ‘n saak” te bekom, kan die leesproses in ‘n uitgerekte, onbarmhartige stryd ontaard. Wilhelm Verwoerd III (gebore in 1964) se boek het ek as sodanig ervaar: Bloedbande: ‘n donker tuiskoms (Kaapstad: Tafelberg, 2018, 304p, R290; Amazon Kindle $24,15). Met Naspers/Media24 as uitgewer en mense soos Annemarie Mischke, Tobie Wiese en Martie Retief Meiring wat die boek op die voor- en agterkant aanbeveel, kan ‘n mens weet wat om te verwag.

Die “bloedbande” in die boektitel verwys veral na die outeur se oupa, Hendrik Frensch Verwoerd (1901-1966, eerste minister 1958-1966), voortaan HF genoem. Die “tuiskoms” in die newetitel verwys na die outeur wat in 2012 na drie jaar in Engeland en twaalf jaar in Ierland en Noord-Ierland na “die nie meer so nuwe Suid-Afrika” (p 129) teruggekeer het. Oor die ANC-regering was hy toe nie meer so ongekwalifiseerd oorentoesiaties soos in 1992 toe hy “tot die geloofsoortuiging gekom” het (119) om daarby aan te sluit nie. Hy skryf oor “die intensiteit van my gevoel van politieke dakloosheid weens my vervreemding van die huidige [Zuma-]ANC” (132). Hy bly “verbind tot die visie en waardes” van mense soos Albert Luthuli en Nelson Mandela (132). Wesenlik bly hy dus ‘n “verloopte Boer” (153). Dit grens aan heiligskennis wanneer Wilhelm III die hoop uitspreek dat HF nou saam met Luthuli en Mandela in ‘n sirkel sit: “My wens is dat hulle hom [HF] ook help om sy blindheid te erken … Mag hy ook genees” (231). Die outeur veronderstel dat hierdie ANC-kamerade reg het; dus dat HF die een is wat siekte onder lede het.

Die boek is opgedra aan die outeur se familie, wat hom as “die verlore seun” (120, 301) en swartskaap beskou. Hy het gepoog om op allerhande maniere polities aansluiting by spreekwoordelik swakkere vate, soos die weduwee van sy oupa, Betsie (1901-2000), en by sy ma, Elise, te vind. Sy oupa is oorlede toe hy twee en ‘n half jaar oud was sodat hy HF se behoudende Afrikanerpolitiek nie met sy radikaal linkse identiteitsverwaterings kon konfronteer nie. Die outeur se pa, Wilhelm II, staan “rotsvas” (119) as Afrikaner en verweer hom uitmuntend teen sy Afrikaneronterende kind. Vir Wilhelm II “was die ANC steeds ‘n ‘kommunistiese terroristeorganisasie’ wie se ‘swartmagoorheersing’ op die ou end ‘noodwendig tot die Afrikaner se ondergang’ sou lei” (119). Hy hou nie van sy seun se “gebalde kameraadvuis” nie (120 – foto op p 124), maar in irrasionele ANC-geledere word hierdie aanstootlike Mandela-saluut deesdae as verenigbaarbaar met vrede en versoening beskou. Wilhelm III sien “die hartklop van pyn agter die gebalde vuiste” (236, 301). Die outeur is (tereg) bekommerd oor sy pa se “reaksie wanneer hy hierdie boek sou lees” (298). Die hoogs bejaarde Wilhelm II (gebore in 1929 – p 191) het onlangs as redakteur ‘n heruitgawe van sy boek, ter huldiging van sy pa, HF, versorg: Verwoerd: Só onthou ons hom (Pretoria: Protea Boekhuis, 2016), Wilhelm I het as stamvader van die Suid-Afrikaanse Verwoerds in 1903 uit Nederland in Kaapstad aangekom. Hy het hom van die begin af by die Afrikaners geskaar.

Wilhelm III het in 1987 met Melanie van Niekerk (gebore in 1967) getrou. In 1994 het sy ‘n ANC-parlementslid geword en daarna die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Ierland (2001-2005). Toe hierdie Verwoerd-egpaar Ierland toe gegaan het, was Wilhelm III ‘n dosent in die wysbegeerte aan die Universiteit Stellenbosch (US). Soos van die nuwe US verwag kon word, is aanvanklik onderneem om Wilhelm III se pos vir hom beskikbaar te hou. In 2005 het Melanie en Wilhelm III geskei maar albei het aanvanklik in die buiteland bly woon. Wilhelm III was ‘n “koördineerder van die Glencree Sentrum vir Versoening se Survivors and Former Combatants Programme” (29). Hierdie sentrum, sy vredesoekers, asook deelnemers aan die Beyond Dehumanisation-projek (232), bemoei hulle nie net met Ierland en Noord-Ierland nie, maar ook met Israel en die Palestyne, asook met Suid-Afrika (229). Wilhelm III swyg oor wie hierdie aksies befonds. Sedert hulle egskeiding het Melanie, soos Wilhelm III, na Suid-Afrika teruggekeer. In 2009 is Wilhelm III getroud met ‘n Australiër, Sharon, wat ‘n magistergraad in “vredestudies” voltooi het (131).

Op 1 April 2015 het die blanke Wim de Villiers diens as die US-rektor aanvaar. Hy het die bruin Russel Botman se plek ingeneem. In die nuwe Suid-Afrika word dit as ongewens geag as ‘n nie-witte in ‘n pos deur ‘n blanke opgevolg word. Polities byderwets word dit as ‘n terugwaartse stap beskou. De Villiers het dus dadelik alles in sy vermoë gedoen om te bewys dat hy meer verlig is as wat die ANC-aktivis Botman ooit was. Reeds in sy intreerede op 29 April 2015 (Praag 10.05.2015) het De Villiers gesê: “Stellenbosch is nie ‘n Afrikaanse universiteit nie” en hierdie stelling sedertdien dikwels herhaal. Spoedig is De Villiers toegelaat om van die US ‘n oorwegend Engelse universiteit te maak. Aan die begin van sy ampstermyn was dit vir De Villiers belangrik om nie net Afrikaans te diskrediteer nie, maar spesifiek ook die Afrikaner. Met die oog hierop het De Villiers reeds in sy intreerede aangekondig dat hy die HF-gedenkplaat in die voorportaal van die Rekeningkunde-gebou, wat voorheen as die HF Verwoerd-gebou bekend gestaan het, gaan verwyder. Die Nelson Mandela-aanhaling in die voorportaal van die Opvoedkunde-gebou, “Education is the most powerful weapon which you can use to change the world,” word uiteraard deur De Villiers behou en gekoester, te meer omdat dit in Engels is.

Pleks van die situasie met omsigtige sensitiwiteit te hanteer, het De Villiers besluit om ‘n openbare skouspel van die verwydering van die HF-gedenkplaat te maak (Praag 31.05.2015). Ten einde die maksimum anti-Afrikanersentiment te probeer opwek, is die spektakel op 27 Mei 2015 direk op die US-webtuiste uitgesaai (238). Vir hierdie doel het De Villiers op ‘n slinkse manier vir Wilhelm III “nader getrek” (soos in rugbygeledere gesê word). Hy het ‘n Moslem, Mohammad Karaan, wat ‘n US-dekaan was, gestuur om Wilhelm III oor te haal om aan die beoogde ontering van sy oupa deel te neem. Wilhelm III verontskuldig hom met die siening “dat dié simboliese handeling deel vorm van die universiteit se daadwerklike verbintenis tot groter inklusiwiteit” (235). Dus, deur die Afrikanernalatenskap aan die US te vernietig, word die US nie meer eksklusief (swart en Engels) nie maar glo meer inklusief vir almal. Wilhelm III hou hiervan deur te verwys na sy “groeiende verbintenis tot radikale [!], vermenslikende inklusiwiteit” (236). Hy het die verwydering van die HF-gedenkplaat in sy toespraak as ‘n “oorwinning vir transformasie” geloof (237). Sy pa, Wilhelm II, het hierna ‘n goeie hou teen sy verlore seun geplant: “Jy het weer kant gekies, wat jy nie as versoenaar in Noord-Ierland gedoen het nie. Hoekom doen jy dit hier? Jy is steeds dislojaal teenoor jou mense!” (240). Wilhelm II sit ongetwyfeld met ‘n “seun wat met die vyand heul” (242).

Die indruk wat die boek by my gewek het, is dat die outeur inligting uit die Verwoerd-binnekring (soos die gepubliseerde foto’s en Betsie Verwoerd se dagboek) en toegang tot eksklusiewe Verwoerd-gebiede (bv die HF Verwoerd-strandhuis, Blaas ‘n Bietjie, in Bettysbaai en die HF Verwoerd-gedenkhuis in Orania) misbruik om sy eie ANC-gedienstige politieke agenda te bedryf. Plek-plek was die boek so weersinwekkend dat ek “obseen” in die kantlyn geskryf het. My aanvoeling is dat “familieverraad” (die opskrif van hoofstuk 8) hier gepleeg word. Wilhelm III ontheilig dinge wat vir sy ouers, ander familielede en behoudende Afrikaners heilig is. Met die oog hierop eet hy vir soetkoek op die mites wat deur sy huidige bure, militante aktiviste, oor apartheid opgedis word. Om sy politieke doel, naamlik die ondergrawing van tradisionele Afrikanerwaardes, te bereik, maak hy van pretensieuse foefies gebruik, soos nadoodse briewe aan sy oupa (11, 171, 273), ouma (194), asook oupa en ouma (173), Kortom, daar is elemente in die boek wat geforseerd is en ‘n onegte klank het, ten spyte van die outeur se “voorneme om so oop moontlik te bly” (150). Hy beskou sy pogings as ‘n “eerlike, nederige soeke” (14).

Die doel met die boek word soos volg gemotiveer: “Ek herinner my dat ek nie besig is met ‘n politieke biografie of ‘n akademiese studie nie. Ek is op soek na tekens van oupa en ouma Verwoerd se menslikheid – ter wille van versoening met my familie, ter wille van myself as hul kleinkind” (153). Sy uitgangspunt is heel moontlik foutief. Sy oupa en ouma was mense en dus noodwendig (of per definisie) menslik. Die gesoekte onmenslike dimensie word deur ‘n grootliks skewe siening van die beweerde onmenslikheid van apartheid aangevuur. Dit is Wilhelm III se vooringenomenheid, sy vooroordeel, wat hom laat skryf oor die “onverwagte [!] diep menslike tekens” wat hy in Betsie Verwoerd se dagboek teëkom (195). Daar is ook ‘n harde waarheid spesifiek vir Wilhelm III in die volgende sin in Betsie se dagboek: “‘n Mens is so huiwerig om enigsins intieme dinge neer te skrywe, jy weet nooit hoe dit later misbruik kan word nie” (195). Ja, selfs deur ‘n kleinkind.

Bettysbaai is vernoem na ‘n werklike Betty. Wilhelm III spel hierdie pleknaam deurgaans verkeerd as Bettiesbaai. Die enigste keer wat Bettysbaai in die boek reg gespel word, is wanneer Wilhelm III die bewoording aanhaal van die gedenkplaat wat naby die HF Verwoerd-strandhuis in Bettysbaai opgerig is. Hy noem tereg dat dit “een van die min oorblywende openbare vererings van Oupa” is (274). Gelukkig het hy en/of Wim de Villiers (nog) nie hierdie Verwoerd-gedenkplaat gesaboteer en verwyder nie.

Wihelm III verwys soos volg na Bettysbaai se buurdorp: “Kleinmond se eenkant swart woonbuurt naby die munisipale vullishoop” (263). Dit impliseer gevoellose kritiek op veral die blanke inwoners; diegene wat die leeue-aandeel van die munisipale belasting en dienste betaal. Tradisioneel was Kleinmond vir blankes ‘n gesogte aftreedorp. Nadat hulle die grootste deel van hulle lewens nie leeggelê of misdade gepleeg het nie, maar gewerk en gespaar het, behoort hierdie blankes die onvervreembare reg te hê om die laaste jare van hulle lewens te geniet. Weens die instroming van swartes (bv uit die Oos-Kaap en swart Afrika) word huise vir hierdie mense teen groot koste gebou; dermate dat daar nie geld vir infrastruktuurontwikkeling is nie. Hierdie “belegging” in huise lewer nie ‘n opbrengs nie en vir dienste wat aan hierdie meesal werkloses gelewer word, word dikwels/meesal nie betaal nie.

Die gevolg is dat die belastinglas vir die tradisionele inwoners ondraaglik geword het. Die blanke pensioenarisse vind dit toenemend moeilik om te oorleef in huise wat hulle nie gratis ontvang het nie maar gekoop en self betaal het. Diegene wat huise ontvang het, is meesal geen bate vir die blanke inwoners nie. Inteendeel, misdaad het sedert 1994 eksponensieel toegeneem. Daar word van die belastingbetalers sonder meer verwag om by implikasie die bestaan van hierdie misdadigers te subsidieer. Daar is geen dankbaarheid of erkentlikheid vir wat hierdie inkommers onverdiend ontvang nie. ‘n Aantal maande gelede het onrus uitgebreek en is besighede gevandaliseer, geplunder en leeg gestroop. Die teerpad is met brandende motorbande beskadig. Klippe en rommel is in die pad gestrooi. Voertuie is met klippe bestook.

Herstelwerk is op die koste van die belastingbetalers gedoen. Sover bekend is niemand weens hierdie misdade in ‘n hof veroordeel nie. Periodiek word daar byeenkomste in die stadsaal gehou wanneer aan die belhamels en ander “benadeeldes” verslag gedoen word oor die vordering wat met hulle eise gemaak word. Is Kleinmond ‘n toonbeeld van wat Wilhelm III dikwels “heling”, “vermensliking” en – teen die einde van sy boek – “herstellende geregtigheid” (291) noem? Is hierdie onverkwiklike opset werklik sy oupa se skuld of behoort die misdadigers veel eerder swaar vir hulle onsosiale gedrag gestraf te word? Die onmenslike waarheid is dat hierdie soort vermensliking nie volhoubaar is nie.

Wilhelm III begin sy boek deur te vertel van sy besoek aan die HF Verwoerd-gedenkhuis in Orania. Hy is vergesel deur Pumla Gobodo-Madikizela, ‘n “professor in sielkunde en spesialis in historiese politieke trauma”(15), wat in 1966 ‘n juiglied oor HF se moordenaar, Demetrio Tsafendas, gesing het (293). Sy dank haar aanstelling aan die US heel moontlik in deurslaggewende mate aan die werk wat sy in die berugte Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) se Komitee vir Menseregte gedoen het. PW Botha het tereg van die Wraak- en Vergeldingskommissie gepraat. Botha wou hê dat Afrikaners ophou om verskoning te vra; dat hulle eerder hulle selfrespek moet herwin (24). Gobodo-Madikizela is die hoof van die nuwe US se eenheid vir Historiese Trauma en Transformasie (297).

Na voltooiing van hierdie boek is Wilhelm III in die Beyers Naudé Sentrum vir Openbare Teologie aan die nuwe US aangestel, veral as die koördineerder van ‘n projek oor Versoening en Verantwoordelikheid (141, 297). Met sy deelname aan die ontering van HF in 2015 het Wilhelm III aan Wim de Villiers bewys dat hy vir die nuwe US bruikbaar is en voltyds “nader getrek” moet word. Soos te wagte het hy sy doktorale proefskrif oor die WVK geskryf. “Ek sal ook as fasiliteerder betrokke kan raak by die komplekse proses van transformasie binne die Universiteit Stellenbosch … As navorser wil ek egter steeds my Verwoerdwees as vergrootglas gebruik om oor veral die sondes [! – nie die prestasies nie] van my Afrikanervaders en -moeders te besin” (298). Hy is klaarblyklik vasbeslote om in sy eensydigheid te volhard: Hy wil “as navorser en fasiliteerder spesifiek aandag gee aan die inklusiewe spiritualiteit van politieke profete en anti-apartheidsaktiviste uit Afrikanergeledere” (299).

Gedurende my hele loopbaan as akademikus het ek dit verpes as ‘n eenheid, soos die pas genoemde een, en ‘n projek, soos die pas genoemde een, wat albei eerder die politiek van die oomblik as die akademie dien, aan ‘n universiteit ingestel word. Sulke demonstrasies slurp geld op wat eerder vir onderrig en ernstige fundamentele navorsing oor standhoudende kwessies gebruik behoort te word. Sowel hierdie eenheid as hierdie projek dra onmiskenbaar die stempel van die De Villiers-US se ANC-kruipsug. In dieselfde konteks is daar ook Leslie van Rooi se eenheid vir Sosiale Impak en Transformasie. Asof dit nie oorgenoeg is nie, is daar ook ‘n “kantoor vir morele leierskap” waarin Jeanette de Klerk-Luttig artikels oor ditjies en datjies skryf, wat graag deur Media24 gepubliseer word. Aan die De Villiers-US word hope geld getap ten behoewe van demonstratiewe ANC-gedienstigheid. Sodanige befondsing geskied ten koste van gesonde akademiese aktiwiteite.

As oorverligte het Wilhelm III “in die middel 1980’s” uit die NG Kerk bedank (299) omdat hy “polities en geestelik deur die NG Kerk ontnugter is” (23). In 1991 skryf hy: “Dit is lekker om vir die eerste keer in maande weer Bybel te lees” (110). Daarna, terwyl hy vir die WVK gewerk het – as een van letterlik honderde ANC-aktiviste wat deur Desmond Tuti ten koste van die belastingbetalers “nader getrek” is – het hy tuis in die Anglikaanse St George’s-katedraal in Kaapstad gevoel, ‘n plek wat berug vir anti-apartheidsaktivisme was. Dit is hier waar “vergifnis gevra [is] vir alles wat Europa [dus blankes] aan Afrika [dus swartes] gedoen het” (23). Wat geïmpliseer word, is dat blankes eerder sleg as goed met swartes gehandel het. Deesdae vind Wilhelm III sy geestelike tuiste in charismatiese Pinksterkerke.

“Om die donker reis deur my wit Afrikanerskap, my Christen-Verwoerdwees te verstaan, is dit nodig om by daardie gebeure te begin wat vir my die waterskeiding was tussen Verwoedwees en ‘n halsstarrige ‘ontwoerding'” (31). Daar is wesenlik geen fout te vind met die voortreflike opvoeding wat Wilhelm III in sy ouerhuis en op skool ontvang het nie, al noem hy dit ‘n “eensydige Christelik-nasionale opvoeding” (93). Hy verwys na “die laer van my groepsidentiteit” (44). Ek verpes linkses se hartelose verwysings na die Voortrekkerlaers, wat ter selfbeskerming getrek is; ook “Ons móét mos ons grense teen die terroriste beskerm” (45). Waarom selfbeskerming steeds noodsaaklik is, blyk uit die chaotiese, gewelddadige samelewing waarin ons sedert 1994 probeer oorleef en waarin inheemse misdadigers fluks deur inkommers bygestaan word. Wilhelm III verwys na “die Afrikaner met sy laermentaliteit” en “sy immoraliteit mbt politiek” (61). Is die swartmag-ideologie nie ook laermentaliteit nie? Is die huidige swart oorheersing nie minstens net so immoreel soos die destydse blanke oorheersing nie?

Daar is ook nie fout met wat Wilhelm III aan die “lelieblanke Universiteit Stellenbosch” (35) as “spierwit, Christelik-nasionale, Stellenbosse Verwoerd” (36) wys geword het nie. Ek verpes die gebruik van byvoeglike naamwoorde soos “lelieblank” en “spierwit” deur Wilhelm III omdat hy nooit swartes op dieselfde bedenklike manier behandel deur bv van roet- of steenkoolswart te praat nie. Hy het dit ook teen ‘n “lelieblank ‘liewe Jesus'” (105) maar opper gee beswaar teen ‘n skildery waarin Christus as swart uitgebeeld word nie (23). Waarteen hy dit wel het, is ‘n “wit gepleisterde god” (278). Blykbaar moet die wesenskenmerke van die christelike godsdiens as swart voorgestel word voordat dit vir hom aanvaarbaar is.

Die fout/waterskeiding met Wilhelm III se opvoeding het gekom toe hy in 1986 drie maande lank in Nederland was. Pleks van aan sy magisterverhandeling te werk (67), het hy hom eerder deur drie Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners laat indoktrineer: ‘n bevrydingsteoloog, Johan; ‘n radikaal verloopte sosioloog, Amor; en ‘n skewe outjie, Rudolf. Hy noem dit sy “heropvoeding” in Nederland (81, 92), gevolg deur nog heropvoeding in Engeland (113). Hy verwys selfs daarna as sy “bekering” (95), seker omdat politiek vir hom baie swaarder as godsdiens weeg. Wat hy gedoen het, is om hom oop te stel vir “innerlike heling” (111), met as implikasie dat behoudende Afrikaners (geestelik) siek is. Soos ander linkse aktiviste loof hy “die radikalisme van die Christelike boodskap” (105), oftewel “hoe radikaal Jesus se deurleefde boodskap is” (300). Weens sy heropvoeding word Suid-Afrika en die Afrikaner se geskiedenis vir hom, soos vir ander linkse aktiviste, ‘n “hartseer geskiedenis” (94), wat glo sy “eie mense se skuld” is (104). Dit is ook ‘n “stukkende geskiedenis” (108), maar hy sê nie wie die land met bv bomme, landmyne en handgranate stukkend geskiet het nie.

Wilhelm III verlaat hom eerder op Rodney Davenport se weergawe van die geskiedenis (99, 137, 171, 302) as dié van die meer gematigde en ewewigtige Hermann Giliomee. Dit is Davenport wat geskryf het: “Ultimately it is irrelevant whether racism or apartheid sometimes produced good results. Because the tree was bad, the fruit was also bad” (Hermann Giliomee, historikus: ‘n outobiografie, Kaapstad: Tafelberg, 2016, p 217). Giliomee ontmasker Davenport as ‘n onbetroubare historikus: In sy boek, South Africa: A modern history (2000) beweer Davenport valslik dat Bantoe-onderwys uitdruklik ontwerp is om swartes vir ‘n minderwaardige plek in die samelewing voor te berei. “In die vorige uitgawe (1987) is daar geen verwysing na sulke veronderstellings of idees nie. Die 2000-uitgawe maak ‘n kniebuiging na die feit dat ‘n nuwe regering, behep met rassisme, aan bewind gekom het. Apartheid is nie meer as ‘n onreg of misleide beleid beskou nie, maar as die boosheid self” (Hermann Giliomee, Die laaste Afrikanerleiers, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 69-70). Aan die kruipsugtige Davenport het Wilhelm III sy heropvoeding in die geskiedenis toevertrou. Sy selfmisleiding is (redelik) volledig: Hy kom tot die besef “dat die toekoms nie meer in die hande van die blankes is nie, dat dit nooit [!] in hul hande was nie” (103). In werklikheid het verraad deur ‘n klein groepie Afrikaanssprekende blankes die toekoms van al die plaaslike blankes, veral die Afrikaners, opgedonder.

HF het met verwysing na swartes gesê: Daar is “geen plek vir hom in die blanke gemeenskap bo sekere vorms van arbeid nie” (Giliomee p 69). Maar linkse elemente laat opsetlik die kwalifiserende deel uit: “In sy eie gemeenskap is die deure egter vir hom oop” (69). Met die oog op die uitvoering van hierdie Bantoe-onderwysbeleid het HF, teen groot koste vir veral die blanke belastingbetalers, die getal skole vir swartes dramaties vermeerder en skoolonderrig verbeter. Voor HF se ingryping was swart onderwys grootliks in die hande van Engelse kerkgenootskappe en is min matrikulante gelewer. Bantoe-onderwys het die getal matrikulante spoedig dramaties vermeerder. Dit is aan HF te danke dat baie van die vorige en hedendaagse ANC-kamerade geletterd was of is.

Destyds het swartes in die tuislande tot op die hoogste vlakke gevorder, enersyds danksy die stroom matrikulante wat Bantoe-skoolonderwys gelewer het en andersyds danksy ‘n reeks universiteite wat spesiaal vir swartes gestig is. In 1960 is met onderrig begin aan die Universiteit van die Noorde/Turfloop (tans Limpopo) en die Universiteit van Zoeloeland terwyl die Universiteit van Fort Hare deur die regering van ‘n Skotse kerkgenootskap oorgeneem is. Hierna het die stigting van ‘n rits ander universiteite spesiaal vir swartes gevolg, insluitende ‘n mediese universiteit, Medunsa (Medical University of South Afrika), te Ga-Rankuwa, by Pretoria. Sedertdien is Medunsa se naam onherkenbaar getransformeer om die ANC se tweede president (1861-1951) te vereer: Sekako Makgotho Health Sciences University. In 1960 is ook met onderrig vir bruin studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland in Bellville en vir Indiërstudente aan die Universiteit van Durban-Westville begin.

Daar is al hoe meer swartes wat erken dat Bantoe-onderwys beter was as wat ANC-onderwys is. Die konkrete bewyse van HF se Bantoe-onderwys op tersiêre vlak, die talle indrukwekkende geboue, is steeds daar vir almal om te sien wat wil sien. As linksgesinde glo Wilhelm III eerder sy buurvrou wat van Bantoe-onderwys sê dat die studente “lyk of daar ‘n laag op hul brein geplaas is … [HF] Verwoerd se rede was ‘moenie dat hulle opgevoed word nie, want as hulle opgevoed is, sal jy hulle nie kan onderdruk nie” (159). Wilhelm III behoort van beter te weet eerder as om sulke leuens te versprei. Die waarheid is dat HF die mening gehuldig het dat dit beter is om met ontwikkelde as met onontwikkelde swartes gesprek te voer en te onderhandel, vandaar sy groot verbetering van swart onderwys.

‘n “Linkse historikus”, Baruch Hirson, het reeds in 1992 probeer om waarhede by Wilhelm III tuis te bring: “Jy [het] by een politieke laer uit- en by ‘n ander ingeloop … Die nasionalisme wat jy eens aangehang het, is nou vervang deur ‘n ander nasionalisme (gegrond op velkleur)” (127). Hirson stel ‘n nuwe “tirannie van die minderheid” in die vooruitsig: “‘n Nuwe minderheid, sonder openlike kleuronderskeid, sal Suid-Afrika regeer met al die ou ongeregtighede ongeskonde. ‘n Swart polisiemag en weermag sal net so genadeloos onderdruk soos die wit polisie en weermag” (128). Hirson noem nie dat nuwe ongeregtighede, soos korrupsie, bygevoeg sal word nie; ook nie dat die swart polisiemag en weermag hoogs ondoeltreffend sal wees nie. Met verwysing na die onbeskaafde dade wat die ANC in sy strafkampe in Angola en elders gepleeg het, dink Hinson nie “die ANC het homself gereinig van die elemente wat hierdie soort gruweldade pleeg of sal pleeg nie” (128). Dus, die ANC behou sy misdadige kamerade; koester hulle selfs.

Soos Davenport is Wilhelm III nie van kruipsug vry te pleit nie. Op 18 Maart 1990 skryf hy as “agteros-kameraad” (85) soos volg in ‘n brief aan Nelson Mandela: Hy spreek sy dankbaarheid uit teenoor Mandela “vir u hoopgewende voorbeeld as ware staatsman [en] dat ek my ondersteuning wil herhaal vir u duurgekoopte ideaal van ‘n nierassige demokrasie in één Suid-Afrika” (103). “Natuurlik kan die geskiedenis – u 27 jaar lange onregverdige [!] tronkstraf en my oupa se aandeel daarin – nie deur ‘n paar woorde verander word nie. Maar as ‘n Afrikaner [?] wat ten koste van ander Suid-Afrikaners bevoordeel is deur apartheid, as die kleinseun van die argitek van afsonderlike ontwikkeling – die man wat by uitstek verantwoordelik was vir u en soveel ander mense se lyding – wil ek tog vir u sê: ek is baie, baie jammer oor wat gebeur het … Wat ek kan doen, is om u te verseker dat ek en my vrou ons lewe daaraan wil wy om woorde van jammerte in dade om te sit” (104). Naïewer kan dit nie. Toe besluit moes word of Wilhelm III of sy vrou met ‘n ambassadeurskap vergoed moet word, het die keuse, onder meer weens die ANC se irrasionele voorkeur vir vroue, op Melanie geval.

Die nuwe insig wat Rudolf in Nederland aan Wilhelm III verskaf het, is: Dan word “dit nie meer normaal om heteroseksueel en abnormaal om homoseksueel te wees nie” (60). In sy nuwe politiek, voortvloeiend uit sy heropvoeding, word die terroriste “vryheidsvegters” genoem (66). Ons moet glo “wegbeweeg van ‘n politieke beleid (en denke) wat gebaseer is op mense se velkleur” (74, 268). Die punt is dat tydens apartheid vier rasgroepe op grond van kultuurverskille onderskei is. Linksgesindes verkies egter om nie enige onderskeid op grond van kultuur te aanvaar nie. Volgens Jonathan Jansen is die klem op kultuurverskille bloot ‘n kamoeflering van blanke rassisme. Wilhelm III het “besef dat ek my Afrikaneridentiteit nie in die eerste plek in die een of ander kombinasie van unieke eienskappe soos taal, kulturele gebruike en geskiedbeskouing moet soek nie” (114). Vir hom gaan gaan dit eerder om “identifisering met ‘the people’ en hul probleme” (114); dus ‘n eienaardige soort relasionele identiteit, wat noodwendig sy distansiëring van Afrikaners meebring.

By Wilhelm III is daar in elk geval geen preokkupasie met die blankes, insluitende Afrikaners, en hulle probleme nie. Teoreties is almal nou sy eie mense maar met swartes is Wilhelm III meer eie as met blankes en veral Afrikaners. In ‘n oomblik van helderheid wonder hy darem waarvoor die A in ANC staan (114). Soos die ANC-vlag duidelik maak (van bo na onder in prioriteitsvolgorde: swart, groen, geel), is wit afwesig. Wilhelm III se ignorering van kultuurverskille en sy redusering daarvan tot pigmentasieverskille, asook sy omarming van homoseksuele, beskou hy as “kultuurontwikkeling” (77). Pleks van die benaming Anglo-Boere-oorlog verkies hy om van die Suid-Afrikaanse Oorlog te praat (79). Dit is ‘n meer inklusiewe benaming, want nie-wittes het ook aan hierdie oorlog deelgeneem. Blykbaar maak dit nie saak aan watter kant die meeste nie-wittes hulle geskaar het nie. ‘n Bonus is dat die woord “Boere” in die oorlogsbenaming vermy word. Later skryf die outeur oor sy “geleidelike herontwerp van ‘n oorgelewerde, hoogs eksklusiewe groepsidentiteit tot ‘n meer inklusiewe begrip van Afrikanerskap” (87), wat myns insiens grootliks die vernietiging van sy Afrikanerskap en ‘n omarming van ‘n identiteitsvreemde (dus nie-Europese, nie-Westerse) afrikanisering behels.

Wilhelm III predik die “radikale gelykheid van elke mens” (280). Ter ondersteuning gebruik hy polities geykte godsdienstige vertolkings: “Ons [is] almal skepsels van dieselfde God,” asook “geskapenheid na die ‘beeld van God'” (280), asof mense sedert die Skepping nie (hoogs) verskillende kultuurverskille ontwikkel het nie. Die “ons” in die “Onse Vader” word deur hom misbruik om (alle) verskille tussen “ons” en “hulle” op te hef (281). Soos die Afrikaanse kerkgenootskappe destyds met apartheid gedoen het, baseer Wilhelm III sy politiek op die Bybel en christelike godsdiens. Die hele mensdom word beskou as ‘n enkele groot (gelukkige/ongelukkige) familie (285); die “groot menslike familie” (287). Praat die voorbeeldige ANC-kamerade dan nie graag van hulle (swart) “broers en susters” nie?

Maar hoe gemaak met die verkrampte Afrikaners se “vrees vir verswelging”(281); dus “die vrese vir getalleoorwig”? (280). Wilhelm III antwoord soos volg: “Ons groot uitdaging is om nie in die eerste plek in terme van ras te dink nie” (280). Ons moet glo eerder die dinge in ag neem wat ons as mense saambind as om “so besorg oor die verskille” te wees (280). Verkramptes word “verblind deur kleur” (280). Dít is Wilhelm III se alternatief vir die “bose stelsel” van apartheid (284). Maar selfs al word al die blankes tot Wilhelm III se utopiese politiek bekeer, is daar hierdie tweeledige werklikheid: swartmag wat suiwer ingevolge kleur en ras funksioneer en hulle steeds groter wordende getalle-oorwig van 80%+

Die nuwe swart-oorheerste Suid-Afrika sou volgens Wilhelm III se verwagting soos volg lyk: “Dat blankes in dié wegbeweegproses [van velkleur/ras] miskien [!] minder voordele en strande gaan hê. Maar ek glo dat ons terselfdertyd veel meer gaan wen: aan menseverhoudings, aan kulturele interaksie en bevrugting, aan Christelike naasteliefde (liefde, nie bloot nie haat nie), en in terme van ‘n vreedsamer, regverdiger, mensliker toekoms vir die meerderheid mense [dus nie vir almal, bv die blankes, nie] in ons geliefde land” (74). Later skryf hy: “op pad na ‘n Suid-Afrika sonder onderdrukking in die huis, in die fabrieke en die myne, in die politiek” (124).

Is die nuwe Suid-Afrika werklik vreedsaam of moet ons daagliks luister watter paaie weens oproer gesluit is, watter infrastruktuur verwoes is, hoeveel (plaas)moorde gepleeg is, ens? Is die huidige rassediskriminasie teen blankes minder immoreel as destyds teen swartes, veral in ag genome wat blanke kundigheid gedoen het en steeds kan doen? Is ‘n land waarin (feitlik) almal, dag en nag, onveilig voel mensliker as die apartheidsbedeling, dus ‘n toonbeeld van naasteliefde? Volgens Wilhelm III is die ideaal waarna voor 1994 gestreef is “‘n vrye en nierassistiese Suid-Afrika … G’n wonder swart mense het ‘n behoefte aan ‘people’s education’ nie – die reg om in hul eie skole hulle eie geskiedenis te hoor” (83). Deesdae word eie skole en eie geskiedenis egter aan Afrikaners misgun. Die waarheid is dat die “apartheidsregering” veel meer ontvanklik vir die kultuureie van die verskillende bevolkingsgroepe was as wat die ANC-regime met sy gelykmakingsbeleid en ontkenning van kultuurverskille is.

Aan Oxford University het Wilhelm III ‘n anti-apartheidseminaar bygewoon om hom in sy politieke dwaling te sterk. Met Nelson Mandela aan die voorpunt, het die ANC glo nie doelbewus die geweldsopsie gekies nie. Hulle is “deur die ‘regime’ tot geweld gedryf” (83). Tydens die afgelope onkritiese en buitensporig eensydige Mandela 100-vierings, wat landswyd met talle voortsleppende gewelddadige betogings gepaard gegaan het, het ‘n leser in reaksie aan Netwerk24 geskryf: “‘n Land wat ‘n geweldenaar tot vredesikoon verhef, bring voortgesette geweldpleging oor homself.” ‘n Polities byderwetse mikroverstand by Media24 het besluit dat daardie mening nie gepubliseer mag word nie. Mandela se voorkeur vir geweld, sy stigting van MK en die dood en verwoesting wat daaruit gespruit het, mag volgens Naspers nie met die huidige geweldskultuur verbind en wyer bekend gemaak word nie.

Dit is nie erg genoeg as die ANC se sogenaamde Menseregtekommissie aan ‘n Afrikaanse skryfster, Gretha Wiid, voorgeskryf wat sy oor homoseksualiteit mag skryf nie. Kruipsugtiges by Naspers en die ander massa-inligtingsmedia pas selfsensuur toe om die publiek te mislei of oningelig te hou terwyl terselfdertyd geen beswaar geopper word teen die toenemende inkorting van uitdrukkingsvryheid deur die verderflike ANC nie. “Is niedemokratiese metodes werklik die enigste weg na ‘n nuwe demokrasie?” (90). Volgens Mandela is die antwoord: Ja. Onverminderde voortgesette ANC-geweldpleging het die grondwetlike onderhandelinge en die 1994-verkiesing gekenmerk, al het Mandela en die ANC valslik voorgegee dat hulle hulle geweldpleging sou opskort. Die ANC het bewys dat geweldpleging lonend is. Sommige/baie ANC-volgelinge wil hulleself steeds met dieselfde misdadige handelinge bevoordeel/bemagtig.

Wilhelm III is ‘n meesterlike verteller van halwe waarhede:

[1] “In Athlone, Kaapstad, het tien polisiemanne in Oktober 1985 hulle in kratte agterop ‘n vragmotor versteek en op betogende jeugdiges geskiet, met bloedige gevolge” (123). Toe voertuie, bv paneelwaens, is dáár herhaaldelik deur jeugdige misdadigers aangeval. Dit het die polisie genoop om op hierdie innoverende manier hierdie misdade stop te sit. Wilhelm III wek die indruk dat hierdie gebeurtenis geen voorgeskiedenis het nie; dat daar sonder meer op onskuldige betogers geskiet is. Klaarblyklik skaar hy hom aan die kant van die misdadigers.

[2] “Die paswette het beheermaatreëls verstewig wat reeds in die 19de eeu ingestel is” (163). Wat Wilhelm III nie sê nie, is dat paswette, soos statutêre rassesegregasie en -diskriminasie, Britse uitvindings is. Die eerste paswet is in 1797 tydens die eerste Britse bewind aan die Kaap deur graaf Macarty uitgevaardig.

[3] Nog ‘n halwe waarheid of hele onwaarheid wat Wilhelm III oor apartheid versprei, is die leuen wat een van sy bruin buurvroue, wat “die proses uitgedaag het” (200), vertel: “Ons is nie toegelaat om by ‘n winkel, ‘n supermark soos OK Bazaars, in te gaan nie” (199). Ek het die hele apartheidsera beleef. Daar was klein winkels, veral op die platteland, wat aparte ingangsdeure vir wit en swart mense gehad het of swartes deur ‘n venster bedien het. Groot winkels, soos die OK, het nooit aparte deure gehad nie en enigeen kon ongehinderd daar ingaan en koop.

[4] “Mense wat met petrolgevulde motorbande om hul nekke lewend verbrand is” (265). Dat dit die ANC is wat hierin uitgemunt het, bly onvermeld. Onmiddellik daarna: “mense wat deur die polisie geskiet en doodgemaak is” (265). Hier word die “skuldiges” wel vermeld. Kenmerkend van die boek is dat bloedvergieting aan die blankes toegedig word (bv “die brutale wit polisie” – p 286) maar dieselfde dade aan die kant van die swartes verswyg word. Wilhelm III se reaksie is: “Ek is jammer … [oor] wat deur wit Suid-Afrikaners gedoen is” (267). Blankes, veral Afrikaners, het oorwegend en ooreenkomstig die opdrag van die apostel Paulus nooit moeg geword om goed te doen nie (2 Tessalonisense 3:13); selfs nou nog nie.

Sedert sy terugkeer na Suid-Afrika woon Wilhelm III in Lynedoch, ‘n “gemengde woonbuurt” en “ekodorpie”, 12 kilometer buite Stellenbosch (133-134). Polities linkses, soos lede van groen partye, beklemtoon bv sosiale geregtigheid, nie-gewelddadigheid/pasifisme en diversiteit. Diesulkes is ook geneig om vegetaries te wees, soos Wilhelm III ‘n tyd lank was (157). Die eersgenoemde drie kenmerke is moeilik met die ANC se swartmag-aanslag versoenbaar. Dit verduidelik dalk deels Wilhelm III se louheid teenoor die Zuma-ANC. Die Lynedoch-ekodorpie se erwe is klein en omdat (demonstratiewe) saamwoon vir die inwoners ‘n passie is, is daar “geen muur of grensdraad” tussen die Verwoerd-egpaar se huis en dié van hulle bure nie (216). ‘n Moontlike bonus is wanneer Wilhelm III die onkruid om sy huis uitroei en sy “voorheen benadeelde” buurvrou dan sê: “Dankie dat jy ons kant ook skoongemaak het” (217). Lynedoch is nie hemel op aarde vir iemand wat eens ‘n Afrikaner was nie. Wilhelm III se frustrasie slaan deur: “Sonder om moed op te gee. Soos om in Lynedoch te bly woon” (228).

Betsie Verwoerd het hoë agting vir haar man gehad. Aan iedere Verwoerd-kleinkind was haar geskrewe boodskap oor HF: “Aanskou die rots waaruit julle gekap is” – Jesaja 51:1 (27). Wilhelm III is dié versande deel van daardie rots. Hy beweer dat hy, soos Betsie, waardering het vir “ons selfstandigheid” (36), waarvan daar weens demokrasie en verswelging egter bitter min oorgebly het. Betsie het “selfrespek, respek vir jou eie mense en vir jou land” uitgestraal (37). Wilhelm III het iets geskryf waarmee ek by hoë uitsondering saamstem: “By die jong mense van vandag word juis die gebrek aan trots meer dikwels te ver gevoer. Dan kry ‘n mens so die gevoel van ruggraatloosheid, ankerloosheid, rigtingloosheid” (37). Wat hy nie noem nie, is dat dit veral ANC-propaganda, gerugsteun deur die massa-inligtingsmedia, is wat Afrikanertrots ondermyn.

Betsie Verwoerd het die amptelike opening van die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) in 1968 bygewoon en dit simbolies as “die opkoms van die Afri[kaner] beleef” (193). “Ons sien nou eers regtig hoe groot [HF] was” (194). Deesdae is die RAU die eentalig Engelse Johannesburg University, die eerste tradisioneel Afrikaanse universiteit wat toegelaat het dat hy binne enkele jare oormatig verswart en verengels het. Wilhelm III se ma het in hierdie konteks ‘n groot waarheid by haar seun probeer tuisbring: “Wilhelm, daar was nie ‘n tussenopsie nie, want die oomblik as jy begin met vermenging sou die swart getalle oorgeneem het” (227).

Hendrik Verwoerd het so pragtig aan Afrikaners gesê: “Ons veg vir die lewe van ‘n volk” (16). Wat sou hy vandag gesê het as hy die leërskare verloopte Afrikaners kon waarneem? Sy oproep was “Skep u toekoms self” (26); iets wat moontlik is mits Afrikaners hulle selfbeskikking herwin. Tydens HF se begrafnis is daar hierdie oproep gedoen: “Laat ons sterk wees vir ons volk” (185). Is dit nog so? Douglas Fuchs het ná HF se dood gesê: “Iets onseglik moois het verbygegaan, SA sal vir my nooit weer dieselfde wees nie” (192). Daar is baie van HF en sy beleid wat ons nie aan die vergetelheid durf toevertrou nie. Vir Wilhelm III bly HF egter ‘n simbool van “verwonding” (231, 236).

Volgens eie erkenning is Wilhelm III hardkoppig (41, 277) en was hy ‘n “sensitiewe kind” (276). Sy ouma Betsie het in 1967 (toe hy 3 jaar oud was) geskryf: “Wilhelmpie koppig en onaangenaam … W haal ook al meer streke uit, botte weiering om te gehoorsaam, parmantig” (277). Volgens sy ma het Wilhelm III hierdie “beneuktheid” van die Verwoerd-kant van sy familie gekry (277). “Of ek nou daarvan hou of nie. Hierdie diepgewortelde aspekte van my kleinkindskap is onlosmaaklik deel van my huidige poging om my met my Verwoerd-wees te versoen” (277). Wilhelm III vra homself af: “Hoe eerlik is jy in jou poging om veral oupa Hendrik regtig grondig te verstaan?” (150). Nadat ek hierdie boek gelees het, bevraagteken ek die volgende stelling van Wilhelm III: “‘n Deel van versoening is vir my om ook te help om die demonisering van énige iemand, insluitende Oupa, te omvorm” (239). Gelukkig kwel sy gewete hom: “Waarom voel ek asof ek verraad pleeg as ek aanvaar dat daar bloed aan [HF] Verwoerd se hande is?” (244). “Ek sukkel om oupa Hendrik se reguit blik openhartig te ontmoet” (148).

Desperaat voel ‘n mens lus om te sê: Vergewe die naïewe Wilhelm III want hy weet nie wat hy doen nie. Hy ly dermate aan geïndoktrineerde en selfverwerfde skuldgevoelens dat hy seker nooit die (politieke) lig sal aanskou nie: “Selfs al aanvaar ek te veel verantwoordelikheid, sal dit steeds nie genoeg wees nie. Niks wat ek kan doen is voldoende verantwoording vir my aandeel aan ‘n sonde teen die mensdom [!] nie. ‘n Stuk van my gedeelde verantwoordelikheid is om met hierdie bodemloosheid te leer saamleef” (270). Daarna probeer hy om hom van sodanige lot te verlos: “Ek wil nie toelaat dat oupa Hendrik se sondes uit die verlede my kreatiewe bydrae in die hede versmoor nie. Hy moet self sy verantwoordelikheid dra. Ek wil nie van hom ‘n sondebok maak nie, maar ek kan ook nie die pyn vir sy dade dra nie” (270). Dit lyk asof Wilhelm III onbepaald op sy ingeslane weg sal voortgaan. Selfs die ANC is vir hom opnuut aanvaarbaar. Die aanstelling van Cyril Ramaphosa as ANC-president het glo ‘n “lang verwagte politieke lente” ingelui (297).

Kortom, die outeur van hierdie boek is ‘n seloot. Seloot: “oordrewe yweraar (en vervolger van andersdenkendes)” (HAT). In hierdie geval is dit Afrikaners wat vervolg of ontluister word. Hy sien sy rol as dié van ‘n “steekvlieg” (117) en myns insiens ook as ‘n gatvlieg, ‘n geroepe laspos, wat Afrikaners betref.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.