Twee passasierstreine het in die suide van Duitsland gebots en volgens die polisie is ten minste vier mense in die botsing dood en sowat 100 beseer.
“Die huidige dodetal is vier dood, 15 baie ernstig en 40 ernstig beseer, terwyl’n totaal van 100 passasiers beseer is,” het die polisiewoordvoerder mnr Martin Winkler in die dorp Rosenheim aan AFP gesê.
Die spoorwegmaatskappy vir die streek, Meridian, het in ’n verklaring gesê “’n tragiese ongeluk het Dinsdagoggend skuins ná sewe-uur op die enkelspoor-roete plaasgevind”.
Die oorsaak van die ongeluk naby Bad Aibling, sowat 60 km suidoos van München is nog nie duidelik nie, maar die polisie het verklaar dat hulle dit nie as ‘n terreuraanslag oorweeg nie.
Die streek se polisiemag in Bo-Beiere het getwiet dat honderde noodlenigingswerkers op die toneel in die landelike gebied ontplooi is.
Die treinroete asook twee plaaslike paaie was vir verkeer gesluit.
’n Woordvoerder van die federale polisie, mnr. Stefan Brandl, sê die strook spoorlyn waar die twee treine gebots het, is vasgevang tussen die Mangfallrivier aan die een kant en’n woud aan die ander kant wat die reddingsoperasie erg bemoeilik.
Brandl het gewaarsku dat dié getal sterftes en beseerdes kan styg.
“Die huidige getal sterftes en beseerdes is net ’n waarneming, dit kan en gaan steeds verander.”
Op ’n vraag wat die oorsaak van die botsing was, het Brandl beklemtoon personeel is steeds “midde die reddingsoperasie” en dit te vroeg is om die oorsaak te bepaal.
Intussen het die operateur van die twee treine wat gebots het, Bayerische Oberlandbahn, op sy webtuiste gesê die treine van die sogenaamde Meridian-roete is albei gedeeltelik ontspoor en inmekaar vasgedruk.
Beide die treine se operateur en die federale polisie in Bavaria het noodnommers vir familie en vriende van die passasiers geopen.
Volgens die polisie is die ongeluk die grootste wat in jare in dié streek voorgekom het.
