Vrystaatse renosters deur hommeltuie beskerm

Terwyl plaasmoorde en -aanvalle voortwoed, kan renosters darem voortaan rustig slaap.

Die department van omgewingsake en natuurbewaring in die Vrystaat gaan die stryd teen renosterstropery met meer gevorderde tegnologie aanpak nadat ‘n toenemende getal renosters die afgelope maande aansienlik in die provinsie gestroop is.

Die departement se Coenie Erasmus, wat in beheer is van die Groenskerpioene wat voorvalle van wilddiefstal, insluitend renosterstropery, ondersoek, sê weens ‘n tekort aan mannekrag en duur gevorderde toerusting, is altesaam ses renosters die afgelope maand op private grond en in reservate in die provinsie doodgeskiet.

Hy sê die department gaan voortaan hommeltuie gebruik met ‘n nagsigfunksie om renosterstropery te bekamp. Hy sê natuurbewaarders het nie die vermoë en die nodige toerusting om die stryd teen slinkse tropers te wen nie, terwyl ‘n hommeltuig eerder as die duursame gebruik van helikopters, hul taak kan vergemaklik.

‘n Hommeltuig is stiller en minder sigbaar as ‘n helikopter. Erasmus sê dit beskik oor goeie kameraresolusies wat die patrolering van heinings oor ‘n 5km afstand moontlik maak met minder mannekrag. Die tuig kan ook hoog en laer vlieg en goeie beeldmateriaal verskaf. Dit feit dat dit tot 400m hoog kan vlieg vergemaklik ook die tel van wild.

Die departement se eerste hommeltuig is op die Vereniging vir Staatsamptenare in die Vrystaat aan die department op ‘n oorhandig. Bestuurder van die VSA, Gerhard Koorts, sê geld is op ‘n gholfdag ten bate van die bekamping van renosterstropery gebruik om die hommeltuig aan te koop.

Die vakbond het besluit die skunking te maak omdat dit belangrik is om nie slegs na lede se belange om te sien nie, maar ook ‘n bydrae te maak tot natuurbewaring.

Erasmus sê die hommeltuig sal in die Willem Pretorius-reservaat, waar vier renosters die afgelope maand doodgeskiet is, gebruik word.

Dorp al 9 dae sonder water

Kestell is al nege dae sonder water.

Gedurende die eerste ses dae was inwoners van die Oos-Vrystaatse dorp heeltemal sonder water.

Volgens ‘n inwoner, Brian Wiltshire, het hulle die afgelope twee dae slegs in die aande water gehad. Wiltshire sê die probleem bestaan al die afgelope nege jaar. Hy sê daar was bewerings dat waterpype lek en dat damme leeg is.

Volgens Wiltshire het dienslewering deur die Maluti a Phofung munisipaliteit tot niet gegaan.

Wiltshire sê hulle het ‘n jaar laas vullisverwyderingsdienste gehad.

Boshof-plaasaanval: Verdagtes op vrye voet

Nog niemand is in hegtenis geneem in verband met ‘n skietvoorval gister waarin ‘n bejaarde boer op sy plaas by Boshof in die Vrystaat gewond is nie.

Die 69-jarige Douglas Pope is gister van agter in die regtersy gewond toe hy by sy plaas se hek by ‘n grondpad vanuit ‘n bewegende motor geskiet is.

Die polisie en plaaslike boere het kort ná die aanval die gebied gefynkam op soek na ‘n wit Toyota Corolla waaruit skote op Pope afgevuur is.

Pope se seun, Douglas, sê sy pa was op pad na ‘n vergadering op Boshof toe hy geskiet is. Sy gewonde pa het ná die skietery teruggejaag na die plaashuis om hulp te kry. Die polisie en boere was vinnig om omliggende paaie af te sper en ‘n soektog is begin.

Douglas sê die motief vir die voorval is onbekend.

Pope is in ‘n bestendige toestand in die Mediclinic Gariep in Kimberley. Die polisie het vroeër aan OFM-nuus gesê daar was vermoedelik drie mans in die motor. Skote is vanuit die motor se agterste sitplek gevuur.

Onwettige immigrante stroom oor Lesotho-grens

Die departement van binnelandse sake in die Vrystaat sê sowat 2,5 miljoen mense het die afgelope vier maande die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho oorgesteek.

Dit is volgens ‘n voorlegging deur die provinsiale bestuurder van die departement, Bonakele Mayekiso, aan die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake.

Hy sê die meeste reisigers en pendelaars – meer as een miljoen – is by die Maserubrug-grenspos aangeteken.

Mayekiso sê die grootste gedeelte van mense wat by grensposte aangedoen het sedert die begin van die nuwe finansiële jaar, is buitelanders.

Hy sê die departement het sowat 2 800 onwettige buitelanders opgespoor en meer as 1 800 is gedeporteer.

Komiteelede het aangedui dat die koste van die deportasie van Lesotho-burgers bereken behoort te word.

Suid-Afrika het intussen ontken dat hy gevra is om van die migrante wat Europoa binnestroom, ook te huisves.

‘n Woordvoerder van die Departement van Binnelandse Sake, Mayihlome Tshwete, sê Suid-Afrika verleen bystand met bydraes aan die VN-agentskappe.

Daar nog geen versoeke van die Europese lande nie, sê Tshwete. THy het bygevoeg dat enige versoeke aan die asiel-wetgewing moet voldoen.

Hy sê Suid-Afrika het reeds die meeste asielsoekers ter wêreld.

Vroeër het Nieu-Seeland aangekondig dat hy 150 vlugtelinge sal aanvaar. Duitsland en Frankryk het gesê hulle sal 55.000 vlugtelinge huisves.

Koperdief doodgeskok

Die polisie in die Vrystaat ondersoek ‘n voorval waarin ‘n vermeende koperkabeldief die week by ‘n munisipale substasie by Hennenman vermoedelik doodgeskok is.

Polisiewoordvoerder, Mamello Mokhuoane, sê ‘n senior munisipale elektrisiën het Woensdagaand net voor 21:00 op ‘n onbekende man se lyk met ernstige brandwonde afgekom. Volgens haar is sy hande verkool, wat die polisie se taak om hom te identifiseer bemoeilik.

Sy sê die elektrisiën is na die kragstasie omdat daar ‘n probleem met kragtoevoer was.

Mokhuoane vra enigiemand met inligting om hul naaste polisiekantoor te bel.

Jong vrou oorleef plaasaanval

Landelike veiligheidstrukture wat in plek is het heel waarskynlik vroeg vanoggend bygedra dat ‘n jong vrou op haar plaas by Ficksburg fisiek ongedeerd van ‘n plaasaanval afgekom het.

Hoof van die plaaslike veiligheidsreaksiegroep, Jordaan Marais, sê die jong vrou bly alleen op die plaas en het omstreeks 01:00 gehoor hoe haar huis se agterdeur oopgebreek word.

Hy sê sy het haar in die hoofslaapkamer toegesluit en oor ‘n tweerigtingradio hulp ontbied. Die swart aanvallers het haar slaapkamerdeur oopgebreek, haar gegryp, na buite gedwing en beveel om haar bakkie aan te skakel.

Volgens hom het hulle haar net daar gelos en is met die voertuig weg.

Hy vermoed die gesprekke op die tweerigtingradio het die swart aanvallers die hasepad laat kies.

Marais sê lede van die reaksiegroep was vinnig op die toneel, terwyl ander na die gesteelde bakkie gesoek het.

Intussen sê Vrystaatse polisiewoordvoerder Phumelelo Dhlamini ‘n klag van “huisroof” word ondersoek.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die bakkie is ook nie teruggevind nie. Dhlamini vra enigiemand met inligting om hul naaste polisiekantoor of die Crime Stop-nommer te bel.

Die vrou se naam is nie bekend nie vir haar eie toekomstige veiligheid.

Polisiekantoor wat plaasaanvalle moet keer onbeman

Die waarnemende polisiekommissaris vir Noordwes, Jacob Tsumane het vandag die situasie by die Assen-polisiekantoor in die verre oostelike deel van die provinsie, sterk veroordeel.

Dit volg nadat die kantoor Dinsdagmiddag glo onbeman aangetref is. Die stasie bedien hoofsaaklik landbougemeenskappe.

Tsumane het vanoggend in ‘n verklaring gesê die stand van sake is onaanvaarbaar. Hy het opdrag gegee dat die groepsbevelvoerder ‘n formele ondersoek begin.

Afsonderlike voorvalle in Coligny en Vrede hierdie afgelope maand het intussen weer die kollig op plaasaanvalle geplaas.

Agri-Noordwes se Boeta du Toit sê met dit in gedagte, moet daar streng opgetree word teen skuldige partye.

LUR dagvaar koerant vir naamskending

Die voormalige Vrystaatse LUR van Sport, Kuns en Kultuur, Dan Kgothule, dagvaar die Vrystaatse koerant, The Weekly, vir R250 000 vir naamskending.

Dit nadat dié weeklikse koerant tydens Kgothule se termyn, in ‘n artikel in Augustus 2010, berig het dat sy senior personeel oor sy gedrag kla; ook dat Macufe onder sy leierskap geen wins toon nie en dat Pacofs in chaos gedompel is.

Premier Ace Magashule het Kgothule verlede jaar die trekpas gegee.

Sy regsverteenwoordiger, Hennie Stander, sê Kgothule wil met die hofsaak sy eer en waardigheid herwin.

Die saak dien voor regter Albert Kruger in die hooggeregshof in Bloemfontein en is vir drie dae op die rol geplaas.

Kgothule het vanoggend aan die hof gesê dat hy tans werkloos is terwyl hy sy studies voortsit by Kovsies en die SUT.

Verdagtes in Vrede-plaasaanval voor

Twee verdagtes wat in hegtenis is vir die aanval op ‘n bejaarde egpaar op hul plaas naby Vrede verskyn na verwagting vandag weer in die plaaslike periodieke hof.

Paul May Zulu (39) en Thabho Shadrac Motloung (31) sal formeel om borgtog aansoek doen. Beide staar aanklagte van poging tot moord, huisbraak en gewapende roof in die gesig.

Johannes Kritzinger en sy vrou Rita is op 12 Julie ernstig beseer toe hulle op hul plaas Brakdam aangeval is. Beide het skietwonde opgedoen.

Bloemfontein se straatname dalk verander

Bloemfonteiners se belastinggeld gaan moontlik binnekort ook vermors word op naamsveranderinge.

In Pretoria is reeds bevind dat straatname ongrondwetlik verander.

Voorstelle van straatname wat verander gaan word is voorlopig deur die stadsraad van die Vrystaat se hoofstad aanvaar.

Van die strate wat dalk nuwe name gaan kry is Elizabeth- en Kerkstraat, wat onderskeidelik Miriam Makeba- en Oliver Tambostraat herdoop sal word.

Ander naamsveranderinge sluit in die Seisa Ramabodu-stadion wat eersdaags as die Ntate Petrus Molemela-stadion bekend sal staan en die Stadskouburg wat binnekort na Sebabatso Seatile vernoem sal word.

Molemela was die stigter van die sokkerklub, Celtics.

Volgens Volksblad kon die kommunikasiebestuurder van Bloemfontein, Qondile Khedama, nie sê wie Seatile is nie. Seatile kon ook nie op ’n Goo­gle-soektog gevind word nie.

Die DA parlementslid Werner Horn, sê hulle is tot dusver tevrede met die afloop van die openbare deelnameproses, asook die voorstelle.

Die publiek het tot 9 Januarie om beswaar oor die moontlike naamsveranderinge te maak.

Ruiters spring weg vir moordende tog

Meer as 220 ruiters op hul perde het vanoggend weggespring vir die laaste dag van die moordende 42ste Fauresmith-perde-uithourit.

Koördineerder Charmaine Nickisson sê met gunstige weerstoestande was deelnemers vroegoggend slaggereed om hul staal te wys. Volgens haar het ruiters en hul perde wat die vinnigste tyd gelewer het tot dusver reeds vanaf 07:00 weggespring.

Die voorloper in die junior-afdeling is Nico-Meyer Le Roux. Volgens Nickisson sal die eerste deelnemers na verwagting teen 10:00 die rit voltooi.

Die Fauresmith-uithourit word deur baie beskou as een van die mees-uitmergelende ritte ter wêreld weens die moeilike roete, koue weerstoestande en die lang afstand oor drie dae. Sowat 350 deelnemers het op die eerste dag weggespring.

Die rit dien as die Uithouritvereniging van Suid-Afrika (Urvsa), se nasionale uithourit-kampioenskap.

Skade na onrus op Tweespruit bekyk

Die onrus op Tweespruit in die Vrystaat is eers Sondag onder beheer gebring nadat oproerige inwoners sedert Donderdag chaos veroorsaak het.

Volgens die burgermeester van Mantsopa, Dennis Ntsepi, is die polisie in beheer van die situasie.

Hy sê die munisipaliteit sal nou begin om die skade aan eiendom te bepaal.

Drie mense is reeds in hegtenis geneem vir brandstigting en skade aan eiendom.

Provinsie gryp in nadat Eskom krag afsny

Die Vrystaatse provinsiale regering moes noodgedwonge ingryp by die Mafube munisipaliteit – wat ondermeer Frankfort, Villiers en Cornelia insluit – nadat dié munisipaliteit se finansiële probleme amper daartoe gelei het dat Eskom sy kragtoevoer afsny.

Olly Mlamleli, die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, sê haar departement en die provinsiale tesourie het die munisipaliteit gehelp om by die nasionale taakspan, wat saamgestel is om munisipaliteite by te staan, hulp te kry.

Mafube is een van 13 munisipalteite in die Vrystaat wat se staatstoelae deur nasionale tesourie weerhou is. Die munisipaliteit skuld Eskom ongeveer R40 miljoen en kon vir die afgelope drie maande nie sy amptenare betyds betaal nie.

Kovsie-taalbeleid draai in wetgewer

Die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat het Woensdag vir die tweede keer ‘n draai in die Vrystaatse provinsiale wetgewer gemaak.

Dit volg nadat ANC hoofsweep Neels van Rooyen die UV tydens ‘n vorige sitting geloof het vir sy strewe na transformasie en verwys het na die instansie se taalbeleid.

Tydens vandag se sitting het die Vryheidsfront Plus se Wouter Wessels gesê transformasie behels nie die uitsluiting van Afrikaans as ‘n onderrig-medium nie.

Vrystaatse Onderwys LUR Tate Makgoe het egter terruggekap en gesê Wouter moet nie die publiek mislei nie. Hy sê die UV was oorspronklik ‘n enkelmedium-skool en dit het later verander as gevolg van sy studenteprofiel, maar die jongste aanduidings is dat dié profiel weer verander het, met 75% van studente wat swart en Engelssprekend is.

Die DA het in hul afwesigheid geskitter.

Makgoe, ook ‘n lid van die universiteitsraad, sê die universiteit gaan in elk geval ‘n proses volg – wat ‘n jaar gaan neem – waartydens verskeie rolspelers geraadpleeg gaan word voordat die taalbeleid van die UV verander kan word.