Plaasaanvallers in polisie-uniforms kom weg

Sewe swartes word deur die polisie in Wolseley gesoek nadat hulle hulself as polisiebeamptes voorgedoen het om ‘n plaas aan te val.

Die swartes het polisie-uniforms gedra toe hulle Woensdagaand teen 18:00 die plaas Avontuur aangeval het.

“Een van die mans het hom as ’n speurder voorgedoen,” het konst. Noloyiso Rwexana, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, by navraag gesê.

Die gewapende aanvallers het die plaas­eienaar genader en terwyl hulle gesels het, het een ‘n vuurwapen uitgepluk en ‘n skoot afgevuur.

Hulle het die kluissleutels geëis en die plaaseienaar, sy vrou en ’n werknemer vasgebind, het Rwexana gesê.

Die aanvallers het met ’n onbekende bedrag geld en vuurwapens in ’n VW Polo van die plaas gevlug.

Niemand is nog in verband met die rooftog in hegtenis geneem nie.

‘Soos ‘n hond doodgeskiet’

’n Bekende inwoner van Grootfontein, mnr. Peter (Piet) Jakob (52), is Dinsdagaand op sy ma se kleinhoewe buite die dorp doodgeskiet.

“Hy is soos ’n hond doodgeskiet,” het ’n bekende sakeman van dié Noordedorp, mnr. Seeff Oosthuizen, gesê. Hy was een van die eerste mense op die toneel.

“Ek het omstreeks 17:24 ’n oproep van Brian Scott van Bank Windhoek oor die voorval gekry en ons het altwee na die plot gejaag en gelyktydig daar aangekom. Daar het ’n bloedkol by die hek in die veiligheidsheining gelê, so dit lyk of Piet daar geskiet is,” het Oosthuizen gister aan Republikein vertel.

“Die hek was oop en ons het ingestap en vir Piet op die grasperk voor die huis, sowat 15 treë van die heining, gekry. Hy het op sy maag gelê. Daar was ’n skietwond in sy agterkop en een aan sy regterblad.”

Oosthuizen sê Jakob se polsslag was toe al reeds baie swak en hy het vir Scott gevra om by hom te bly.

“Ek het in die huis ingegaan na Piet se ma toe. Sy het gesê Piet was met die werkers in dorp toe en toe sy bakkie buite stop, het sy skote gehoor en die honde hoor tjank,” vertel Oosthuizen.

“Sy het tydens die skietery die huis gesluit en met haar sekuriteitsflits wat ’n alarm het, groot lawaai gemaak. Sy het gesê sy het vier jong, onbekende mans by die hek sien uithardloop.”

Oosthuizen het met die swaargewonde Jakob hospitaal toe gejaag, maar hy was met sy aankoms dood verklaar.

Volgens Oosthuizen was daar goeie samewerking van die buurtwag en boere en selfs spoorsnyers is ingespan.

“Jaco van Dyk se helikopter is laat kom, maar dit was te laat, want die donker het ons gevang,” het Oosthuizen gesê.

Hy sê teen gister was een van die swart verdagtes by die weermagkamp vasgetrek.

Die woordvoerder van die polisie van die Otjozondjupastreek, adj.off. Maureen Mbeha, het gister die voorval bevestig en gesê dat die polisieondersoek steeds voortduur.

“Ek kan bevestig dat een van die verdagtes ondervra word en die polisie werk baie hard om die ander verdagtes aan te keer,” het Mbeha gister aan Republikein gesê.

“Een van die groot honde is doodgeskiet. Dit is ook nog nie vasgestel of enigiets gesteel is nie,” het sy gesê.

Die Jakobse het voorheen Bäckerei Jakob op Grootfontein besit waarvan Peter se pa, mnr. Fritz Jakob, die eienaar was. Sy pa het verlede jaar gesterf. Peter het by sy bejaarde ma, me. Gisela Jakob, op die plot naby die koeldrankfabriek op die pad na Rundu gebly.

Jakob was ’n verkoopsverteenwoordiger, maar volgens Oosthuizen wou hy in Februarie volgende jaar bedank om voltyds by sy ma op die plot te gaan bly om na haar om te sien.

Volgens sy niggie, me. Hildegard Brenner, het sy die skoknuus Dinsdag omstreeks 19:00 gekry. Sy het weer gesê twee van die groot honde is ook saam met Jakob doodgeskiet. Een van Jakob se broers, mnr. Günther Jakob, ook ’n bakker, is van Duitsland op pad.

Jakob was ongetroud en het geen kinders gehad nie. Hy word deur sy ma, drie broers en ’n suster oorleef.

Hy word deur Grootfonteiners as baie sagmoedig en vriendelik beskryf. “Hy was iemand wat niemand leed sou aandoen nie.”

Verdagtes verskyn volgende week ivm Vrede-plaasaanval

Twee swart verdagtes wat in hegtenis is vir die plaasaanval op ‘n bejaarde egpaar op hul plaas naby Vrede verlede naweek sal volgende Maandag weer in die plaaslike periodieke hof verskyn.

Volgens Vrystaatse polisiewoordvoerder, Peter Kareli sal Paul Mei Zulu (39) en Thabho Shadrac Motloung (31) dan formeel om borgtog aansoek doen.

Beide staar aanklagte van poging tot moord, huisbraak en gewapende roof in die gesig.

Intussen het familiewoordvoerder Ruan Combrink aan OFM-nuus gesê dat Johannes Kritzinger en sy vrou Rita se toestand steeds ernstig is.

Moordenaars van bejaarde boer op vrye voet

Niemand is al in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n bejaarde boer van Lindley in die Oos-Vrystaat nie.

Polisiewoordvoerder, Annelie Wrensch, sê die 77-jarige dr. Hein Smith van die plaas Rondekom is nie ver van sy plaashuis gevind nie.

Volgens haar is hy vermoedelik Saterdagaand met sy terugkeer na die plaas aangeval. Hy het by vriende gaan kuier en die booswigte moes hom ingewag het. Smith is Sondag omstreeks 10:00 sowat 800m van sy plaashuis gevind.

“Hulle het hom erg aangerand en sy hande agter sy rug vasgebind,” het sy gesê.
 
Die volgende dag, het Smith se buurman gebel soos hulle gewoonlik doen, maar hy het nie geantwoord nie.
 
“Hulle het gaan ondersoek instel en hulle het hom daar gevind omstreeks 10:00. Hy is daarna na die hospitaal geneem in Bethlehem en hy is in die hospitaal oorlede.”
 
Smith het ernstige wonde aan sy gesig en arms gehad, en hy het die nag in die veld deurgebring, waar hy waarskynlik agv blootstelling verder verswak het.

Wrench sê dit is moontlik dat drie mense betrokke was by die aanval. ‘n Pistool word uit die huis vermis. Smith se bakkie is naby die huis gevind.

Die polisie ondersoek sake van moord en gewapende roof.

Polisie bevestig jongste plaasaanval by Coligny

Polisie in Noordwes het bevestig dat ‘n plaasaanval Woensdag plaasgevind het by Coligny.

Polisiewoordvoerder, Paul Ramaloko, sê meer besonderhede sal volg.
 
OFM News het inligting ontvang dat die verdagtes in hegtenis geneem is tussen Klerksdorp en Potchefstroom.

Ramaloko kon egter nie bevestig dat die arrestasie plaasgevind het nie.

Tweede verdagte van Vrede-plaasaanval vas

‘n Tweede verdagte sal binnekort in die hof verskyn nadat hy gister in hegtenis geneem is in verband met die aanval op ‘n bejaarde egpaar op hul plaas by Vrede, Sondag.

Vrystaatse polisiewoordvoerder, Sam Makhele, sê ‘n 30-jarige man het homself gister op Vrede oorgegee nadat die polisie warm op sy spoor was. Die polisie het ook op ‘n vuurwapen beslag gelê.

Johannes en Rita Kritzinger het Sondag van die kerk op die dorp teruggekeer toe hulle deur twee gewapende mans ingewag is. Hulle het verskeie skietwonde opgedoen.

Intussen het die 39-jarige Paul May Zulu, wat kort na die voorval in hegtenis geneem is, gister in die plaaslike hof op aanklagte van poging tot moord, huisbraak en gewapende roof verskyn.

Die saak is uitgestel tot Maandag wanneer hy na verwagting om regshulp aansoek sal doen. Hy is ‘n oudwerknemer van die Kritzingers.

Boere trek vermeende plaasaanvaller by Vrede vas

Die inhegtenisneming van ‘n 38-jarige swart verdagte in verband met die aanval op ‘n bejaarde egpaar op hul plaas by Vrede, kom na flinke optrede van die gemeenskap.

Die polisie het hulp van boere ontvang wat gelei het tot die inhegtenisneming Sondagaand op Vrede etlike ure nadat Johannes Kritzinger en sy vrou Rita vroeër die middag in hul huis op die plaas Brakdam deur twee mans oorval en geskiet is.

Plaaslike boere was vinnig op die toneel.

Die egpaar kon nog nie verklarings aflê nie.

Die twee swart aanvallers het omstreeks eenuur gistermiddag op die plaas aangekom. Volgens die polisie se voorlopige ondersoek het een van die aanvallers vroeër op die plaas gewerk.

Terwyl plaasmoorde en-aanvalle toeneem, weier die polisie om dié geweld teen blankes as priotriteitsmisdaad te verklaar.

Die egpaar word in die Netcare-Unie-hospitaal in Alberton vir skietwonde in die maag behandel. Johannes verkeer in ‘n kritieke toestand en sy vrou se toestand is ernstig.

Die verdagte sal na verwagting binnekort in die plaaslike landdroshof op ‘n aanklag van poging tot moord verskyn.

Die ander verdagte is nog op vrye voet.

Moordenaar tweede keer gevonnis

Die Zimbabwiër wat dié week deur regter Lettie Molopa lewenslank tronk toe gestuur is vir die moord op die 66-jarige boer Mauritz Oberholzer, is ook die moordenaar van die boksheld, Corrie Sanders.

Samuel Mabena en twee ander Zimbabwiërs is vroeër vanjaar tot 30 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Sanders.

Die swart moordenaars het ook by Oberholzer se plaashuis ingebreek en hom en sy vrou in September 2012 van ‘n geweerkluis, ‘n vuurwapen en juweliersware beroof en die boer in koele bloede doogeskiet.

Mabena en Bismack Dick, wat die voormalige swaargewig-bokskampioen, Corrie Sanders, vermoor het, is in die hooggeregshof in Pretoria tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op die boer van Brits in Noordwes twee weke vroeër.

Bejaarde in oog en rug gesteek tydens plaasaanval

‘n Bejaarde man is Sondagoggend met ‘n skêr in sy oog en rug gesteek toe hy en sy vrou deur twee swart verdagtes op hul plaas in Noordwes aangeval is.

Johannes Haasbroek (73) en sy vrou het albei in hul plaashuis op die plaas Friedslard in Ganyesa geslaap toe die aanval gebeur het.

Noordwes polisiewoordvoerder, Kealeboga Molale, het gesê twee swart verdagtes het deur toegang tot die huis deur ‘n venster verkry. Die verdagtes het ‘n pistool en twee selfone gesteel voordat hulle op die vlug geslaan het.

Volgens Molale het die polisie die verdagtes se spoor gevolg tot by ‘n veepos in Cassel, waar hulle die mans, onderskeidelik 27 en 28 jaar oud, aangekeer het.

Die verdagtes sal na verwagting vandag in die Ganyesa-landdroshof verskyn.

Boer oorleef wrede plaasaanval

‘n Boer van die Paarl het ‘n wrede plaasaanval oorleef. Hy is aangeval toe hy op die erf ondersoek ingestel het.

Isak Kleinhans (49) het tydens ‘n inbraak Dinsdagaand ernstige beserings opgedoen nadat gewapende swartes ingebreek het op die plaas wat hy huur.

Sy verloofde en hyself is op die bed vasgebind en die aanvallers het hom met ’n metaalpyp geslaan. Hulle was met ’n panga en koevoet gewapen.

Die aanvallers het hulself uit die voete gemaak met gesteelde items waaronder ook Kleinhans se bankkaart en PIN-nommer.

Kleinhans is Woensdagaand uit die hospitaal ontslaan. Hy het beserings aan sy kop, rug en arms opgedoen.

Die polisie het bevestig ’n saak van huisbraak word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Vermoorde boer se familie bly oor skuldigbevinding

Die familie van die boer van Noordwes wat deur twee Zimbabwiërs vermoor is, is tevrede dat die beskuldigdes deur die Hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind is, het RSG berig.

Bismack Dik en Samuel Mabena het die 65-jarige Mauritz Oberholzer in September 2012 op sy plaas buite Brits aangerand en doodgeskiet.

Hulle sal in aanhouding bly tot en met hulle vonnisoplegging op die 24 ste van die maand.

Mabena dien reeds ‘n 43-jaar vonnis uit weens sy rol in die moord op die voormalige bokskampioen, Corrie Sanders.

Vyf gewapende plaasaanvallers breek veiligheidshekke oop

Twee mans is beseer in ‘n plaasaanval by Rustenburg nadat vyf swartes toegang verkry het tot die woning deur ‘n veiligheidshek.

Die gewapende aanvallers het veiligheidsdeure oopgebreek, het ‘n polisiewoordvoerder gesê.

Een van die huurders is in die bobeen geskiet en die eienaar is ook beseer.

Volgens berigte moes hy ‘n swaard sluk, maar die polisie kon nie bevestig of dit wel gebeur het nie.

Die eienaar se bakkie is steeds soek. Die aanvallers het met gesteelde items in die bakkie gevlug.

Geen van die vermeende aanvallers is nog in hegtenis geneem nie.

Plaasaanvallers van Kuruman nog op vrye voet

Die polisie in die Noord-Kaap het nog niemand in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n 64-jarige boer van Kuruman nie.

OFM-nuus het verlede week berig dat Christo Kruger Donderdag omstreeks 20:00 deur ‘n gesluite traliehek van ‘n buitedeur in sy plaashuis in die bors geskiet is.

Volgens polisiewoordvoerder Sergio Kock was Kruger en sy 55-jarige vrou, Vera, alleen tuis. Sy is fisies ongedeerd.

Kock sê dit is nog onbekend hoeveel aanvallers betrokke was by die aanval.

Kock kon nie bevestig of die aanvallers iets op die plaas gesteel het nie.

Boer en vrou met graaf geslaan in plaasaanval

‘n Bekende boer van Nelspruit (Mbombela), mnr. Gerhard Kunneke, word in die intensiewe sorgeenheid van Mediclinic Nelspruit behandel nadat hy gisteraand oorval is op sy plaas in die Kingstonvale-omgewing op die pad na KaNyamazane.

Daar was beurtkrag in die area en die krag het net weer aangekom toe hy na buite is om die kragopwekker af te skakel. Dit was net na 20:00. Hy is toe van agter met ‘n graaf oor die kop geslaan. Volgens mnr. Nico Grobler, operasionele bestuurder van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, het hy hom teëgesit en is erg aangerand.

Sy vrou, Lynette, was in die huis, maar kon hoor daar was ‘n geskarrel buite. Sy het ondersoek ingestel en het gesien haar man word aangeval. Sy het die deure gesluit en Hi-Tech ontbied. Een van die aanvallers het die badkamervenster gebreek en só toegang tot die huis verkry.

Lynette is ook oorval en buite na haar man geneem waar sy met draad vasgebind is. “Sy is met die graaf deur die gesig geslaan en gedwing om die kluis se sleutels aan hulle (die swart verdagtes) te oorhandig,” het Grobler vertel.

Die swartes het drie vuurwapens uit die kluis gehaal en te voet gevlug met dit, asook twee televisies, ‘n skootrekenaar en die egpaar se selfone. Hi-Tech se beamptes het op die toneel aangekom en gesien die egpaar is erg beseer. Hi-Tech se ambulans is gevolglik ontbied en die Kunneke’s is na die hospitaal geneem.

Lynette is reeds vanoggend ontslaan. “Mnr. Kunneke is by sy positiewe, maar het bloeding op die brein. Hy en sy vrou het gesê dat daar drie verdagtes was wat almal balaklavas gedra het,” het Grobler bygevoeg.

Bossie’s Community Justice en die polisie was ook op die toneel. Mnr. Jacques Meiring, operasionele bestuurder van Bossie’s, het gesê dat hulle ‘n beloning van R50 000 aanbied vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisname en suksesvolle vervolging van die verdagtes.

Bron: Die Laevelder