Rasstellende aksie moet weg!

danr2deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Ek is nie seker wie eerste van “rasstellende aksie” begin praat het nie. Dis egter een van daardie vindingryke Afrikaanse terme of woordspelinge wat die onreg van huidige regeringsbeleid baie goed uitdruk.

Rasse word getel en rasse word in ‘n rangorde gestel. Swart is bo en blank is onder, amper soos die Bybelvers wat sê:

Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste. (Markus 10: 31)

Soos ek ook verlede jaar opgemerk het:

Uiteindelik kom alle vorme van regstellende aksie neer op anti-blanke beleid, met die uitsondering van Maleisië waar dit teen Chinese gerig is. In verskillende lande word dit verskillend gerasionaliseer.

Hier by ons moet RA ‘n meerderheid teen mededinging vanaf die (blanke) minderheid beskerm. In die VSA weer moet die (swart) minderheid teen die voorlopig blanke meerderheid bevoordeel word. Ons weet egter dat die VSA-bevolking kantel en dat daar nou meer nie-blanke as blanke geboortes is, dus sal die argument daar ook mettertyd verander, nl. dat die meerderheid teen die minderheid beskerm moet word.

Onderliggend aan rasstellende aksie is insgelyks ‘n stuk liberale rassisme, want blykbaar is swartes vanweë een of ander aangebore gebrek nie in staat om met blankes in die ekonomie mee te ding nie! Daarom moet hulle, hetsy as minderheid, hetsy as meerderheid, altyd teen blankes bevoordeel word.

Dit geld veral die toelatingsvereistes op universiteit waar rasstellende aksie byna oral toegepas word sodat blanke studente van bepaalde studierigtings (veral die sogenaamde gesondheidswetenskappe) uitgesluit word ten gunste van swartes met veel mindere prestasie. Dus, sowel ekonomies as akademies is daar blykbaar ‘n implisiete erkenning dat swartes oor minder vermoëns as blankes beskik

Voorstanders van rasstellende aksie verwys egter nooit na vermoëns of talent nie, aangesien hulle voorhou dat alle mense met dieselfde vermoëns of talente gebore word. Dis net omstandighede wat veroorsaak dat almal nie op gelyke vlak presteer nie, of dit nou daaroor gaan om ‘n onderskeiding vir wiskunde in matriek te behaal of ‘n Springbokrugbyspeler te word.

Alle gebrek aan prestasie onder SA swartes word vaagweg aan “apartheid”, “die geskiedenis” of “vorige benadeling” toegeskryf sonder dat daar ooit na spesifieke voorbeelde van sodanige benadeling verwys word.

Trouens, hierdie “kumulatiewe benadeling vanuit die verlede” is oorgeneem vanuit die marxistiese diskoers oor “kapitaalvorming” wat op grond van meerwaarde of die uitbuiting van arbeid plaasvind. Die swartman in Suid-Afrika beskik oor ‘n opgehoopte “benadelingskrediet” wat tans deur middel van rasstellende aksie “uitgekeer” word. Die kollektiewe blankedom is sy “debiteur” wat die volgende aan hom verskuldig is:

  • geld
  • grond
  • bevordering
  • posisies in die staatsdiens
  • aandele in openbare maatskappye
  • aandele in private maatskappye
  • ‘n buitensporige rol in die land se geskrewe geskiedenis
  • ‘n buitensporige rol in die letterkunde, musiek en kultuur van die land

Waarskynlik is ek die enigste persoon wat telkens op die rol van die universiteite hamer as dit kom by die vestiging van ‘n marxistiese wêreldbeskouing in ons land kom. Wits en Kaapstad was op die voorpunt van die institusionalisering van marxistiese denke in die sestiger- en sewentigerjare, waarna dit na die res van die universiteite uitgebrei is. Die Afrikaanse universiteite is natuurlik eers onlangs tot die marxisme bekeer, maar getrou aan die aard van sommige Afrikaners hang hulle vandag kommunisme veel meer fanaties aan as wat hulle in die verlede die NP-beleid verdedig het.

Jaarliks word ‘n aansienlike gedeelte van die land se hulpbronne en die opvoedingstelsel gebruik om die begrip van swart benadeling aan die publiek tuis te bring, met die geesteswetenskappe wat byna uitsluitlik aan dié doel gewy word.

Suid-Afrika beskik tans oor baie min oorspronklike denke oor die geskiedenis, die ekonomie en etnisiteit, anders as in die verlede. Die Britse marxisme het in die SA universiteite sy grootste afsetgebied in die Engelssprekende wêreld gevind. Arthur Keppel-Jones, oor wie Leon Lemmer verlede week geskryf het, het reeds in die dertigerjare die Universiteit van Kaapstad as ‘n Britse instelling ervaar:

Yes, my experience at the University of Cape Town first exposed me to liberal values and led me to question the fundamental values of the society in which I had grown up. I later learned that many of my friends who did not have a university education remained racists, while those who did like me became liberal. At UCT, I was taught by professors and lecturers most of whom had a British background. From my schooldays the British influence was a liberating one. Most of my lecturers were not tainted by South African racial prejudice.

Teen die sestigerjare het die marxisme egter die Britse universiteite oorgeneem en moes sogenaamde “liberalisme” wyk voor sosialisme en kommunisme. Een van die sentrale argumente van die Britse marxisme, wat natuurlik klakkeloos deur ons koloniale kommuniste hier te lande oorgeneem is, is dat “ras” en “klas” in Suid-Afrika min of meer ooreenstem. Selfs waar blankes, veral Afrikaners, in myne of fabrieke gewerk het, is hulle nie deur die Britse marxiste as “ware werkers” beskou nie. Die ware werker of suiwer lid van die proletariaat was die swartman. Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty het ook die gedagte van ‘n etniese federasie soortgelyk aan die Russiese stelsel wat in die laat vyftigerjare deur die Sowjet-akademie vir wetenskappe vir Suid-Afrika voorgestel is, verwerp. Die eenheidstaat met ‘n Britse kultuur en met Engels as enigste amptelike taal was al waarin Joe Slovo, Ruth First, Rusty Bernstein en ander geharde SA kommuniste belanggestel het.

Die “nuwe Suid-Afrikaanse geskiedenis” van die afgelope dekade of twee is feitlik geheel en al deur kommuniste geskryf, of is op die marxistiese geskiedskrywing met sy hoofsetel in Londen, gegrond. Daardie geskiedenis beklemtoon die skade wat die swartman weens “apartheid en kapitalisme” gely het. Die feit dat die meeste winste in Londen opgehoop het, aangesien Britse beleggers nog altyd die room van ons myne en nywerheidsmaatskappye besit het, word gerieflikheidshalwe verswyg. Soos wat Stalin tegelyk kommunis én Russiese nasionalis was, is die meeste Britse marxiste sowel links as Brits nasionalisties of imperialisties gesind.

Ons sien dus dat rasstellende aksie soos ons dit deesdae in Suid-Afrika teëkom, sy wortels in die Britse marxisme het. Daarom verteenwoordig RA ‘n variasie op die tema van die “diktatuur van die proletariaat”. Omdat die swartman na die mening van SA/Britse marxiste die enigste egte proletariër is, moet sy oorheersing op alle gebiede ter wille van die “totale transformasie van die maatskappy” gevestig word. Die uitsluiting van die blanke middelklas uit die ekonomie, tersiêre opvoeding en van landbougrond geskied soortgelyk aan die vervolging van die sogenaamde “koelakke” in die vroeë Sowjetunie. Oor die koelakke het Lenin gesê:

Hulle is bloedsuiers, vampiere, plunderaars van die volk en uitbuiters wat hongersnood misbruik.

Toe Stalin aan bewind kom, het hy besluit om ‘n “klasseoorlog” teen die koelakke te verklaar en het hom in 1930 só oor hulle uitgelaat:

Ten einde die ‘koelakke’ as ‘n klas uit te knikker, moet die weerstand van dié klas in ‘n openlike geveg vernietig word en moet dit van die produktiewe bronne van sy bestaan en ontwikkeling ontneem word… Dit verteenwoordig ‘n wending na ‘n beleid van die eliminering van die koelakke as ‘n klas.

Binne die Britse marxisme en sy siening oor Suid-Afrika – wat die heersiende siening in sowel ons universiteite as ons media geword het – is ras en klas uitwisselbaar. Rasstellende aksie is daarom, ewe seer as Stalin se beleid om “die koelakke te elimineer”, daarop gemik om die blanke middelkas te “elimineer”.

Net soos wat kommunisme in die voormalige Sowjetunie ‘n misdaad teen die mensdom was, is rasstellende aksie in Suid-Afrika besig om in ‘n misdaad teen die mensdom te ontaard. Dis nodig dat ons dit oor en oor begin sê.

Elke aspek van die propaganda oor rasstellende aksie, maar veral begrippe soos “witskuld”, “historiese skuld”, “vorige benadeling” en so meer, moet meedoënloos aan kritiek onderwerp word. “Transformasie” as sodanig, asook enige gewaande behoefte daaraan, moet in sy geheel verwerp word.

Vandat Marx en Lenin in 1948 hul Kommunistiese Manifes gepubliseer het, en waarin hulle van die “spook van kommunisme oor Europa” praat, het kommuniste en marxiste nog altyd histeries oor verskille in rykdom, prestasie en geskiedkundige onreg tekere gegaan. In ons land is dit nie anders gesteld nie. Inteendeel, enige bevraagtekening van die “kumulatiewe witskuld” word luidkeels met krete van “rassisme” en “fascisme” begroet.

Die meeste politieke partye soos die ANC, DA, Cope en ander ondersteun rasstellende aksie. Dis nodig dat rasstellende aksie finaal aan die kaak gestel word vir die stuk marxistiese drogredenasie wat dit is, ook tydens debatte in die huidige verkiesing. Voorstanders daarvan behoort ook die eerlikheid te hê om die klassieke kommunistiese terme soos “diktatuur van die proletariaat” te gebruik as hulle hul argumente in die openbaar stel, pleks van mooiklinkende Amerikaanse eufemismes soos “affirmative action” wat eintlik sinneloos is.

Om die rasse te tel (kwotas) of bokant mekaar te stel, mag nie langer geduld word nie.

Ondersteun hierdie blad deur by praag aan te sluit.

Vryheidsfront Plus hou nie van Steve Hofmeyr

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Die Vryheidsfront Plus sorg nie eintlik vir vuurwerke by die stembus nie, want tydens die afgelope munisipale verkiesing het die party se steun van 0,83% tot 0,5% gedaal. Die getal stemme wat die party op hom kon verenig het insgelyks van 146 796 tot 66 588 gedaal, ‘n afname van bykans 55%.

Vir ‘n party wat kennelik in een of ander doodspiraal verkeer, bespeur ‘n mens ‘n verbysterende vermetelheid by die Vryheidsfront Plus wat ná bykans 20 jaar van mislukkings glo dat hy alle wysheid in pag het. Net gister het die Gautengse leier van die party, mnr. Jaco Mulder, smalend na Steve Hofmeyr verwys en gemeen dat Steve maar ‘n politieke groentjie is wat by hom kan kom leer.

As sanger steek Steve sy nek baie ver uit vir die Afrikanersaak en moet hy aanvalle van Naspers en dreigemente van boikotte trotseer, iets wat hom finansieel kan knou. Hoe vergelyk dit met die “veilige politiek” van die Vryheidsfront wat wegkruip telkens as daar ‘n omstrede kwessie in die openbaar gedebatteer word?

Ten minste lees Steve Hofmeyr boeke en skryf ook gereeld een, iets waarvan min mense in die Vryheidsfront Plus ooit verdink kan word. Die versameling beroepspolitici wat tans in die party saamgetrek is, kan ewe min as denkers of visioenêre leiers beskryf word. Maar hoe gewild is Jaco Mulder vergeleke met Steve Hofmeyr? As ‘n mens hul aantal volgelinge op Twitter as maatstaf neem, lyk die prentjie só:

Jaco Mulder: 165 volgelinge

Steve Hofmeyr: 84 639 volgelinge

Met ander woorde, Steve Hofmeyr beskik oor 512 keer die aantal volgelinge van Jaco Mulder! Trouens, Steve het meer volgelinge op Twitter as die 66 588 stemme wat die VF Plus in die 2011- munisipale verkiesing behaal het.

Wie se invloed op die landspolitiek is die grootste? Onlangs het me. Joan Fubbs van die ANC vir Steve in die parlement daarvan beskuldig dat hy “verdeeldheid” in die land saai, waarmee sy waarskynlik bedoel dat hy die dogmas van die regerende party bedreig. Jaco Mulder, is ek bevrees, hou geen bedreiging vir die ANC of sy dogmas in nie.

Logies behoort elke Afrikaner die Vryheidsfront Plus te ondersteun, synde die laaste oorblywende party wat nog aan verkiesings deelneem en wat so min of meer die Afrikanerbelang verteenwoordig. Of altans, dít het ek my die afgelope drie of vier jaar probeer wysmaak terwyl ek as Vryheidsfrontlid gepoog het om die party tot ‘n meer waagmoedige en verbeeldingryke benadering te oorreed.

Net gister het ek weereens in ‘n kort toespraak by die VF Plus se Gauteng-kongres probeer argumenteer dat patriotiese Afrikaners ‘n veel meer aanvallende benadering tot die politiek behoort te volg as tans. Onder andere het ek na die welslae van twee Europese regse partye verwys: die Partij voor de Vrijheid in Nederrland, asook die Front National in Frankryk. Veral die Front National het binne enkele jare van 2% steun onder die leierskap van mnr. Jean-Marie Le Pen tot 25% onder sy dogter, mev. Marine Le Pen, se leiding gevorder. Vandag hou die FN hoop vir die hele Westerse wêreld in, want hulle verwerp die gedagte van witskuld en dat inheemse Europeërs al groter getalle gekleurde immigrante uit Afrika en die Midde-Ooste in hul lande moet aanvaar. Net soos wat die Franse Sosialistiese Party en ander linkse parrtye in Europa, tesame met die voormalige Oos-Duitsland en Sowjetunie, gehelp het om die ANC-SAKP in Suid-Afrika aan bewind te bring, kan die nuwe patriotiese bewegings dalk help om die huidige politieke skaakmat in ons land te beëindig.

Die Vryheidsfront Plus en sy leierskap is veels te defensief in sy uitsprake en tans verkies die party ook om sy Afrikanerwortels minder te beklemtoon deur hom as ‘n “party vir alle minderhede” aan te bied. Daar vind samesprekings met “Khoisan-groepe” plaas. Die party is bang om as ‘n “wit party” of as “rassisties” geëtiketteer te word. Trouens, die einste Jaco Mulder het my op ‘n keer so byna-byna op die lug oor RSG gerepudieer nadat Piet Croucamp of een van sy geesgenote weer die R-woord in my rigting geslinger het, die enigste “argument” wat daar nog in die verslete linkse arsenaal oorbly. Ook glo die VF Plus dat die gemiddelde kieser meer in “kwessiepolitiek” soos die Gautengse tolstelsel of die Transnet-pensioene belangstel as in groter ideologiese stryde soos selfbeskikking en Afrikanerregte. In die wandelgange word die party reeds as ‘n “meer Christelike DA” beskryf.

By ‘n ander VF-vergadering het ek die lof van die Rooi Oktober-versetsbeweging met sy geslaagde betogings op 10 Oktober besing. Waarop een van die amspdraers uit die Vrystaat so ewe laat val het: “Ons is die Vryheidsfront. Ons glo nie in sulke goed nie.” Al is dit as ‘n grap bedoel, weerspieël dit die soort knusse, risikovrye benadering van die beroepspolitikus wat van een vergadering na ‘n ander strompel en niks meer regkry as om die huidige onregverdige stelsel te legitimeer nie.

Daarmee gooi die Vryheidsfront Plus ook koue water op die gedagte dat daar ‘n breë Afrikanerbeweging mag ontstaan wat uit verenigings, buiteparlementêre groepe, aktiviste, skrywers en kunstenaars sou bestaan en wat uiteindelik tesame met ‘n politieke groepering vryheid vir die Afrikaner mag verwerf.

My toesprakie oor ‘n meer aanvallende en intellektuele styl van politiek, ‘n bietjie soos praag bedryf, is insgelyks deur die Gauntengse provinsiale kongres verwerp. Ek moet sê, my moed sak in my skoene dat ‘n mens ooit die Vryheidsfront tot ‘n “kultuurverandering” sou kon inspireer. Waarskynlik bestaan daar diep groepsielkundige redes vir dié soort geslotenheid en geloof dat ‘n stereotipe burokratiese benadering tot politiek soos dit in die dae van die Nasionale Party bedryf is, ons uit die huidige moeras gaan help.

Dit begin al hoe meer vir my lyk asof daar geen politieke party meer is wat bereid is om Afrikanerregte en -belange openlik in die openbaar te verdedig nie. Steve doen dit doen, praag doen dit, asook Rooi Oktober. Maar nie die Vryheidsfront Plus nie. Hy is besig om Khoisan-regte te ontdek. En tolhekpolitiek. Nie dat ek gekant is teen die beweging teen tolhekke in Gauteng nie, maar te midde van die felle stryd wat ons elke dag teen die ANC en DA se multikulturele dogma, asook regstellende aksie en SEB, voer, kan sulke “klein politiek” mos nooit ‘n mens se groter vryheidstrewe en ideale vervang nie? Om nie van plaasmoorde en ander vorme van sadistiese geweld te vergeet nie. Dis tyd om teen die tirannie van die meerderheid, asook die argaïese linkse mites in Suid-Afrika, te groepeer. Ek twyfel egter sterk of die Vryheidsfront gaan opdaag. Die party het ‘n broertjie dood aan die neem van risiko’s en enige stryd of geveg – al word dit bloot, soos tans, in die media gevoer – is nie sonder risiko nie.

Dit bring my by waarskynlik die grootste enkele kwaal van Afrikaner-beroepspolitici soos hulle tydens die laaste stuiptrekkinge van die Nasionale Party – en in die Vryheidsfront Plus? – bestaan het: hul gebrek aan intellektuele diepte. Die De Klerk-geslag het uiteindelik misluk, nie vanweë ‘n gebrek aan middele nie, maar vanweë ‘n gebrek aan denke. Hulle was eenvoudig nie opgewasse teen Joe Slovo en Ronnie Kasrils, asook die horde linkse ideoloë, joernaliste en akademici nie.

Die krag van die patriotiese Europese partye soos die Nederlandse PVV en die Franse FN is dat hulle oor tien of twintig jaar ‘n formidabele stel argumente téén hul linkse opponente ontwikkel en geboekstaaf het. Naas sulke partye, bestaan daar dinkskrums, webwerwe, verenigings en versetsgroepe wat oor ‘n brreë front met die vyand slaags raak.

Dis ‘n ope vraag of dit nog enige sin het om aan amptelike partypolitiek in Suid-Afrika deel te neem. Ek is geneig om te dink dat alternatiewe groepe soos die VVK, HNP en ander wat hul doelbewus van die hoofstroompolitiek afwend, op die duur vir ons meer kan beteken as om verder aan ‘n politieke stelsel deel te neem wat al hoe minder legitiem lyk, juis vanweë korrupsie, opportunisme en beroepspolitici wat om elke hoek en draai die stelsel tot hul eie voordeel “benut”.

Vir my was dit ‘n week van lang vergaderings en groot teleurstellings, want die Strategiese Komitee van Afrikaanse organisasies is ná bykans twee jaar van gereelde vergaderings ook besig om voor allerlei keuses te weifel en vas te steek.

Die kern van Afrikanerverset in die vorm van Steve Hofmeyr, praag en Rooi Oktober is omtrent al wat my inspireer. Dalk moet ons van die res vergeet en bloot aanhou om daardie kern te versterk. Ons het reeds alles wat ons nodig het: steun, idees en ‘n duidelike einddoel wat Afrikanervryheid in ‘n konfederale bestel gaan wees. Lees gerus ook my vorige toekomsvisie oor hoe dit sou kon realiseer.

Enige politieke beweging staan of val by die gehalte van die denke wat dit voortdryf.

Dit geld nie net vir politieke partye in die teenswoordige Wes-Europa nie, maar ook vir die vroeë Nasionale Party, Broederbond en verwante bewegings wat tydens die 1930s en 1940s merkwaardig gegroei het om in 1948 die verkiesing te wen.

Ons geslag wat bevoorreg was om in patriotiese Afrikaanse skole te kon grootword en die republiek van 1961 in al sy glorie te ervaar, is dit aan ons kinders en kleinkinders verskuldig om daardie selfde helder denke terug te vind wat eie aan wenners is.

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Rapport beskuldig my van ‘heul met neo-Nazi’s’

In ons land is die “apartheidtyd” sedert 1994 deur die “volksmoordtyd” opgevolg. Iewers vorentoe gaan historici moet kyk na die rol van die Suid-Afrikaanse gedrukte media wat die huidige moorde, verkragtings en diskriminasie teen minderheidsgroepe verwyg het terwille van allerlei propagandaveldtogte om hierdie bankrot stelsel in stand te hou. In vandag se Rapport word my uitgebreide besoek aan Europa waartydens ek met ‘n verskeidenheid partye, staatsamptenare en individue gesels het afgemaak as Roodt soek in Europa steun van neo-Nazi’s.

Juis nie. Die Sweedse groep Svenska motståndsrörelsen oftewel Sweedse weerstandsbeweging het reeds deur hul betoging voor die Suid-Afrikaanse ambassade in Stockholm ná die moord op Eugene Terre’Blanche getoon dat hulle Afrikaners steun, dus was dit beswaarlik nodig om hul steun “te werf”. Enersyds was ek nuuskierig om te sien hoe lyk neo-Nazi’s in ‘n tradisioneel linkse land soos Swede wat reeds jare lank ‘n sosialistiese stelsel in stand hou en andersyds wou ek ter plaatse kennis opdoen om te sien hoe die protes in Swede tot ‘n meer doeltreffende beweging uitgebou kan word.

Ons het met heelwat ander groepe in Stockholm ook vergader, onder andere die Joodse of half-Joodse redakteur van die Sweedse Demokratiese party se koerant, Tommy Hansson, ‘n feit wat beswaarlik in ons guns getel het wat die Sweedse weerstandsbeweging betref. My houding is egter een van: ons wil nie inmeng in die binnelandse politiek van Swede of enige ander land nie, maar verwelkom steun vir die Afrikanersaak, van watter oord ook al, hetsy links, hetsy regs.

Terloops, die Broederbond-beheerde Rapport het geen beswaar gehad dat ek met ‘n voormalige gevangene op Robbeneiland, beskuldigde in ‘n verkragtingsaak en lid van ‘n terreurbeweging, Jacob Zuma, braaivleis gehou of by Libertas gaan eet het nie. Nóg Nelson Mandela, nóg enige ander ANC-leier – of selfs Rapport – het al ooit die menseregtevergrype van die internasionale kommunisme veroordeel. Honderd miljoen mense het regstreeks as gevolg van kommunisme gesterf, veel meer as wat ooit deur Nazi’s of ander nasionalistiese groepe gedood is. Toe die vakbond Solidariteit ‘n paar jaar gelede met Cosatu en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty vergader het, is dit allerweë as ‘n positiewe stap in Rapport, Beeld en ander Nasperskoerante aangebied.

Soos in die Sowjetunie of Oos-Duitsland van weleer, beskou Rapport heel moontlik enigiemand wat nie ‘n kommunis of sosialis is nie, as ‘n “fascis”. Daardie simbool van linkse totalitarisme, die Berlynse muur, wat ‘n hele bevolking in hul eie land gevange gehou het, het mos hoeka bekendgestaan as die “anti-fascistiese skandmuur” wat bedoel was om die arme Oos-Duitsers teen “kapitalisme en regses” te beskerm, Stasi (hul berugte geheime polisie) en al…

Ek het nie eens geweet Klas Lund, die leier van die Sweedse weerstandsbeweging, was in die tronk omdat hy ‘n polisiestasie aangeval het nie en het dit eers op pad lughawe toe verneem waar ons die vliegtuig Brussel toe sou haal. Ons het nooit vir Lund te siene gekry nie aangesien hy in die noorde van die land woon en nie naby Stockholm nie. Die lede van die beweging wat ons in die hoofstad gesien het, het egter onomwonde aan ons verklaar dat hulle ‘n nie-gewapende stryd voer, met die klem op betogings, bewusmaking, die uitdeel van pamflette op straat en dergelike demokratiese aksies.

Enigiemand wat soos die Sweedse weerstandsbeweging die NSA-onderbroekvlag in die openbaar verbrand en agterna die reste daarvan in die posbus van die Suid-Afrikaanse ambassade in Stockholm indruk, kan nie heeltemal sleg wees nie. Die feit dat hulle hul koppe kaal skeer en hoofsaaklik swart klere dra, doen beswaarlik afbreuk aan so ‘n skitterende heldedaad.

Kader Asmal, wat in die openbaar sy steun vir die Kerkstraatbom uitgespreek het en die Afrikaanse universiteite met ander saamgesmelt het om hulle te verengels, is al in ‘n Rapport-rubriek voorgehou as ‘n held en “‘n Afrikaanse taalstryder”. Ek is bevrees Rapport se bewondering vir die voorstanders van terreur of die voormalige terroriste van die ANC wat tans ‘n volksmoord teen ons pleeg, het die koerant se oordeel dermate aangetas dat hy nie meer behoorlik tussen reg en verkeerd, of normale politieke/intellektuele gesprek en onderduimse geweldspraatjies kan onderskei nie.

As Nelson Mandela my more vir ‘n Sweedse ontbyt nooi, moet ek nee sê omdat hy in Oktober 1962 met wapens en plofstof besig was om terreurdade teen Suid-Afrikaanse burgerlikes te beplan? Heel waarskynlik sál ek ‘n ontmoeting met die skrywer van How to be a good communist van die hand wys! Die punt is egter dat linkse of kommunistiese ekstremiste vir Rapport heel aanvaarbaar is, maar diegene aan die teenoorgestelde kant van die spektrum wat nie naastenby so radikaal of gewelddadig is nie word as uit die bose beskou. Rapport is lankal sy morele en politieke kompas kwyt; vandaar dus die soort propagandaberig wat my in die opskrif aan Europese neo-Nazi’s wil verbind.

Om Jared Taylor van American Renaissance, een van die beskaafdste – en in ‘n sekere sin, “liberaalste” in die sin van verdraagsaamste – mense wat ek ken, as “verregs” te beskryf, verteenwoordig insgelyks die soort blindelingse etikettering wat ongelukkig ‘n kenmerk van Naspersjoernalistiek geword het.

Feit is egter dat Europa vinnig besig is om te verander en dat ‘n swaai na regs oral voelbaar is. Net soos die ANC, SAKP en ander malletjies as’t ware deur die linkse golf in die Weste ná die revolusionêre 1960s aan bewind gedruk is, kan die Afrikaner net baat by die huidige, meer nasionalistiese klimaat in Europa.

Ons Afrikaners het reeds baie vriende in Europa, van verregs tot sentrumregs of selfs liberaal. Dis nog net die sosialiste en kommuniste wat ons as ‘n verguisbare en vernietigbare volk van wit rassiste sien. Ook die problematiek van kultuurkonflik met Moslems en swartes wat die sentrale tema van die Europese politiek geword het, het vir die eerste keer sedert die vroeë 1900s die Afrikaner se probleem met verafrikanisering internasionaal verstaanbaar gemaak. In die VSA is ras en kultuur insgelyks nie ver onder die oppervlak nie. In dié trant het ‘n bekende rubriekskrywer onlangs in die New York Times die uitgebreide Tea Party-beweging in die VSA as rassisties afgemaak en hom in die demografiese afgang van blanke kiesers in Amerika verlekker. Oral in die Westerse wêreld is linkses besig om – as deel van hul politieke en verkiesingstrategie – anti-blank, anti-Westers en pro-Moslem, pro-swart en pro-immigrasie te raak.

Binnekort veg ons Afrikaners ons oorlewingstryd saam met ‘n miljard ander blankes in Europa en Noord-Amerika, soos wat Huntington se kultuurstryd of “clash of civilizations” die vernaamste politieke kwessie van die een-en-twintigste eeu word. Indien net een Europese staat ons aktief sou begin steun, sou die ANC se oorheersing oor Afrikaners nie ses maande hou nie. Dus, soos die Poolse uitgeweke skrywer, Jerzy Kosinski, in die vroeë sestigerjare uitgeroep het: “Die toekoms is ons s’n, kameraad!” Amusant vir my was ook hoe sowel die Sweedse regses as die politici van die Vlaams Belang die woord “kameraad” vrylik gebruik het om hul medestryders te beskryf. Miskien raak dit tyd dat ons dié woord in Afrikaans insgelyks rehabiliteer en van sy linkse konnotasie ontneem.

ресивер купитьДанильченко Юрий прокурор