Sy sal nou weer rustig kan slaap…
Die SA Jagters- en wildvereniging het die tussentydse hofbevel verwelkom en gesê dit sal tydelik verhoed dat meer as 'n miljoen Suid-Afrikaanse wapeneienaars om middernag op 30 Junie tot misdadigers verklaar word.
Regter Bill Prinsloo het Vrydag 'n dringende hofbevel in die Pretorasie Hoëhof toegestaan wat die geldigheid van alle wapenlisensies onder die Wapens- en ammunisiewet van 1969 verleng, afhangend van die uitslag van 'n aansoek om dele van die nuwe Wet op vuurwapenbeheer ongrondwetlik te verklaar.
Die nuwe wet het in 2004 in werking getree, maar is kragtens skedule 1 van die wet oor 'n vyfjaarperiode ingefaseer, 'n periode wat op 30 Junie ten einde loop.
Die wet dwing gelisensieerde vuurwapeneienaars om vir hul lisensies heraansoek te doen, waaronder ook aansoeke om bevoegdheidsertifikate; indien nie, moet hulle van hul vuurwapens ontslae raak, of dit aan die staat vir vernietiging oorhandig.
Die wet kriminaliseer wapeneienaars wat nog nie vir die hernuwing van hul lisensies aansoek gedoen het nie.
Hulle loop die gevaar van kriminele vervolging en kan tot 'n jaar tronkstraf gevonnis word omdat hulle nie aansoek gedoen het nie en 'n verdere maksimum van 15 jaar vir die onwettige besit van 'n vuurwapen.
Die regsverteenwoordiger van die Jagtersvereniging, George Nell, het die uitspraak as "uistekend" beskryf.
Hy sê dit was van nasionale belang, nie net vir die Jagtersvereniging nie, maar vir alle privaatwapeneienaars.
"Ek dink die SAPD en die owerheid behoort na die uitspraak te kyk en miskien ag op die positiewe aspekte daarvan te slaan en die boodskap op 'n meer positiewe manier aan die publiek oor te dra, asook om hul eie sake in orde te kry."
Nell sê die hoofaansoek sal waarskynlik slegs oor ses of agt maande aangehoor word en sou, indien dit slaag, deur die Grondwethof bevestig moet word.
Die nasionale woordvoerder vir die polisie, Phuti Setati, het gesê die uitspraak sou nie die toepassing van die nuwe wet keer nie.
"Alles gaan voort, maar omdat daar nog 'n aansoek hangende is, bly alle lisensies wat onder die ou wet toegestaan is, geldig. Alles word nou gestaak totdat die aansoek afgehandel is," het hy gesê.
Setati meen die polisie respekteer die uitspraak en "gaan dienooreenkomstig handel".
"Ons gaan die uitspraak bestudeer en sal seker maak dat dit na binne en buite behoorlik deurgekommunikeer word.
Prinsloo het bevind dat die Jagtersvereniging 'n sterk prima facie-saak betreffende die hoofaansoek het, waarin hulle aanvoer dat die nuwe wet onregmatig die reg van gelisensieerde wapeneienaars beperk om wapens te besit en dat hulle daarom nie vervolg behoort te word vir die besit van vuurwapens wat hulle wettiglik bekom het nie.
Die vereniging voer verder aan dat die nuwe wet eienaars van vuurwapens arbitrêr van hul wapens ontneem en dat dit nie rasioneel is nie, aangesien daar geen bewys hoegenaamd bestaan dat wettige wapenbesit tot die verspreiding van onwettige wapens in Suid-Afrika bydra nie.
Prinsloo het verklaar dat die vereniging insgelyks 'n sterk saak daarvoor uitgemaak het dat die SAPD nie oor die vermoë beskik om aan die oorweldigende logistieke eise rondom die toepassing van die nuwe wet te voldoen nie.
Slegs die helfte van meer as 700 000 aansoeke om bevoegdheidsertifikate is oor die afgelope 5 jaar afgehandel en dit was 'n "voldonge feit" dat die registrateur nie oor die volgende 5 jaar die oorblywende 700 000 aansoeke sal kan afhandel nie.
Prinsloo het gesê dat die saak duidelik dringend en van nasionale belang was, aangesien die sperdatum net om die draai is.
Hy het voorts gesê dat die aansoekers oor die afgelope nege jaar konstant met die polisie in verbinding was. Sommige van hul belangrike vertoë is nie beantwoord nie en hulle het beslis nie gesloer nie.
"Die grondwetlike regte van honderde duisende wettige lisensiehouers is op die spel," het die regter gesê.
"…Die hof het die jurisdiksie om tussentydse verligting toe te staan om onreg en lyding te verhoed."
интернет магазин малышДанильченко