Insek bedreig vrugtebedryf

'n Insekplaag wat die vrugtebedryf in Kalifornië twee dekades gelede feitlik lamgelê het, het kop uitgesteek in die Wes-Kaap, het 'n entomoloog van die Universiteit van Stellenbosch Dinsdag aangekondig.

Die 'Granaatwitvlieg'of 'Ash whitefly' kan tuinstruike, appel-, peer-, olyf-, sitrus- en granaatbome erg beskadig volgens die verklaring wat professor Jan Giliomee uitgereik het.

Giliomee het die insek onlangs vir die eerste keer raakgesien op 'n wilde olyfboom langs die Overbergse kus en dit is daarna formeel geïdentifiseer deur 'n taksonoom van die Nasionale Insekversameling in Pretoria.

Die witvlieg kom oorspronklik uit Mediterreense lande soos Spanje, Italië, Israel en Egipte, en het sedertdien na Indië, Iran, Nieu-Seeland en Australië versprei.

Volgens Giliomee is 'n aantal granaatsteggies oor die afgelope paar jaar vanuit Israel en Indië na Suid-Afrika ingevoer. Hy meen die pes is ingebring met behulp van plantmateriaal wat nie gekwarantyn is soos die wet vereis nie.

Toe die witvliegpes in 1988 in Kalifornië aangeland het, het dit soveel skade aan struike en bome veroorsaak wat al hulle blare verloor het, dat die vrugte-oes dramaties afgeneem het.

"Jong peerbome het gevrek as 'n gevolg van herhaaldelike ontblaring," het hy gesê.

"In stede en dorpe, het die taai sap wat afgeskei word met die aanvanklike stadia van indringing, op mense en motors beland en is in huise ingedra deur die wind wat matte en meubels taai gelaat het."

"Dit was ondraaglik en die pes is eers onder beheer gebring nadat parasiete in Kalifornië ingevoer is," het hy gesê.

"Daar sal nou gekyk moet word of wespes wat op die pes teer hier teenwoordig is, en indien nie, sal hulle dringend ingevoer moet word."

In teenstelling met die naam 'witvlieg' lyk die insekte nie soos vlieë nie maar eerder soos dopgogga's of plantluise.

Die volwasse insek lyk soos 'n klein motjie wat vinnig rondfladder, terwyl die jong insekte onder die blare skuiling soek.

для пусколобановский обыск