Wit Namibiër eerste om van terreur aangekla te word

Johannes (Johan) Martinus Mostert van die plaas Swartmodder in die Otjiwarongo-distrik is die eerste mens in die geskiedenis van Namibië wat ingevolge die Wet op die Voorkoming­ en Bestryding van Terroriste- en Proliferasie-aktiwiteite (Wet No.4 van 2014) aangekla is.

Mostert het Donderdag in die landdroshof op Otjiwarongo verskyn en is ingevolge artikel 17 (1a en 1b) van dié wet aangekla.

“Hy is die eerste mense ooit in die geskiedenis wat op dié klag teregstaan,” het staatsaanklaer, Lewis Chigunwe gesê.

Artikel 17 verwys na ’n oortreding wat verband hou met wapens en ’n oortreder wat hieraan skuldig bevind word, kan lewenslange gevangenisstraf in die oë staar.

Kortom verwys artikel 17 (1) na enige persoon, in of buite Namibië, met die bedoeling om enige omgewingskade, ekonomiese of sosiale terreur teweeg te bring, of enige regering, liggaam of instelling te intimideer of te dwing om politieke, godsdienstige of ideo­logiese standpunte te aanvaar of te verwerp deur ’n wapen te gebruik, of dreig om te gebruik, met die opset om mense dood te maak, te beseer of te infekteer, insluitende ’n stelsel wat ontwerp, aangepas of van voorneme is om so ’n wapen te lewer.

Dit is teen die wet om so ’n wapen teen ’n Namibiese burger of ’n reg­matige inwoner van Namibië te gebruik, ongeag of die persoon in of buite Namibië bly.

Mostert verskyn op hierdie klag asook vyf ander: Die besit van ammunisie sonder ’n permit, die besit van vuurwapens sonder ’n permit, die besit van handgranate sonder ’n permit, die oortreding van die Wet op Plofstof en die besit van plofstof vir private gebruik sonder ’n permit.

Volgens die polisie het Mostert semi-­outomatiese aanvalsgewere, jaggewere, hand­granate en sowat 10 000 patrone in sy besit gehad asook verskeie uniforms van PLAN, Unita, die MPLA, Koevoet, SWATF, die Namibiese polisie en weermag.

Die beskuldigde bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op 29 Maart.

Bron: Republikein

Vyf verdagtes met onwettige vuurwapen vasgetrek

Die Vrystaatse polisie het vyf verdagtes tussen Kroonstad en Welkom met ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem.

Die vuurwapen is opgespoor nadat die polisie ‘n voertuig voorgekeer en deursoek het, het RSG berig.

Hulle het ‘n vuurwapen, ‘n magasyn en ses rondtes ammunisie gevind.

Die polisie het ook op ses selfone beslag gelê. Die verdagtes sal binnekort op Welkom in die hof verskyn.

Vier met wapens, handgranate vas

Vier mense is in hegtenis geneem nadat vuurwapens by hulle op ʼn kleinhoewe in Bronkhorstspruit, oos van Pretoria gekry is.

Johannes Jafta, woordvoerder van die polisie, het aan die SABC gesê die polisie het op ‘n wenk gereageer toe bure in die nag geweerskote gehoor het.

Die polisie het onder meer op nege jaggewere, twee handwapens en meer as 4000 patrone gekry. Hulle het ook op handgranate en dagga beslag gelê.

Jafta het gesê die oorsprong van die vuurwapens en ammunisie word ondersoek.

André Visagie skuldig aan onwettige besit van wapens

André Visagie
André Visagie

Die konserrwatiewe leier André Visagie is skuldig bevind aan die onwettige besit van wapens en ammunisie, het Beeld Saterdag berig.

Sy seun, Jan, 18, wat sy mede-aangeklaagde was, is in die Kimberleyse landdroshof vrygespreek.

Landdros Vernon Smith het gesê Visagie, leier van die Geloftevolk-Republikeine, het “geen vertroue” in die polisie nie en is ook bekommerd oor plaasaanvalle wat hom laat glo dat mense in staat moet wees om hulself te beskerm.

Visagie het vroeër aan die hof gesê dat ‘n trommel wapens wat in sy seun se kamer ontdek iss, daar geplant is.

Smith het Visagie skuldig bevind maar gesê dat daar geen getuienis is dat sy seun van die wapens in die instapkas in sy kamer bewus was nie.

‘n Vonnisdatum moet nog bepaal word. – Sapa

Oud-lid gevang met blouligte, polisie-uniforms, ammunisie

saps5ʼn Voormalige polisieman is Sondag by sy huis in Ga-Rankuwa, noord van Pretoria, in hegtenis geneem nadat daar oa polisie-uniforms en ammunisie in sy besit gevind is.

Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, sê die 47-jarige oud-polisieman se arrestasie kom na ʼn operasie wat gesamentlik deur die Valke en die nasionale intervensie-eenheid onderneem is.
Phiyega sê die polisie het die oud-lid se huis deursoek en op ammunisie, ʼn groot bedrag kontant waaronder Amerikaanse dollars, ʼn bloulig en polisie-uniforms beslag gelê.
Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, sê die man was vroeër ʼn sersant by die Klipgat-polisiestasie en is 2010 uit die polisie geskors nadat hy van huisroof aangekla is.
“Die man is glo ‘n lid van ʼn bende wat hul as polisiebeamptes voordoen en niksvermoedende mense in Pretoria en omliggende gebiede teiken.”
Ramaloko sê hul verwag om nog mense in hegtenis te neem.
Die oud-polisieman sal Maandag in die Ga-Rankuwa-landdroshof verskyn. – Sapa

Wapenopslagplek in Johannesburg gevind

Die polisie in Gauteng het 'n wenk ontvang wat Dinsdag gelei het tot die ontdekking van 'n wapenopslagplek in 'n huis in die voorstad Westdene, Johannesburg.

'n Vonds van 1 800 rondtes ammunisie, ses magasyne vir 'n R1-geweer, 100 R5-aanvalsgeweerrondtes, twee rookgranate en 'n fakkelgranaat is gevind nadat die polisie vloerplanke in die huis in Seymorestraat opgelig het, het 'n woordvoerder van die polisie senior superintendent Noxolo Kweza gesê.

Die eienaar van die huis woon nie in die provinsie nie. Hy het die huis aan vyf mense verhuur wat reeds 'n maand gelede hulle intrek geneem het.

Kwesa sê die vyf mans is ondervra, maar hulle het gesê hulle was nie bewus van die ammunisie nie.

Die polisie het tans geen verdagtes nie.

машинкатопкарго отзыв