ʼn Voormalige polisieman is Sondag by sy huis in Ga-Rankuwa, noord van Pretoria, in hegtenis geneem nadat daar oa polisie-uniforms en ammunisie in sy besit gevind is.
Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, sê die 47-jarige oud-polisieman se arrestasie kom na ʼn operasie wat gesamentlik deur die Valke en die nasionale intervensie-eenheid onderneem is.
Phiyega sê die polisie het die oud-lid se huis deursoek en op ammunisie, ʼn groot bedrag kontant waaronder Amerikaanse dollars, ʼn bloulig en polisie-uniforms beslag gelê.
Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, sê die man was vroeër ʼn sersant by die Klipgat-polisiestasie en is 2010 uit die polisie geskors nadat hy van huisroof aangekla is.
“Die man is glo ‘n lid van ʼn bende wat hul as polisiebeamptes voordoen en niksvermoedende mense in Pretoria en omliggende gebiede teiken.”
Ramaloko sê hul verwag om nog mense in hegtenis te neem.
Die oud-polisieman sal Maandag in die Ga-Rankuwa-landdroshof verskyn. – Sapa
