Oproer breek op verskeie plekke uit

Inwoners van Thandukukhanya in Piet Retief het amok gemaak en bande aan die brand gesteek nadat 'n berig oor gerugte van finansiële wanbestuur in die munisipaliteit Maandag deur die SAUK uitgesaai is.

Hulle het ook gedreig om die dorp in Mpumalanga onregeerbaar te maak, het die uitsaaier gesê.

Dit het gevolg op 'n ontmoeting tussen inwoners, die provinsiale LUR vir gemeenskap en tradisionele sake, Norman Mokoena, en die burgemeester van die Gert Sibande Distriksmunisipaliteit, Andries Gumede.

Inwoners het gesê hulle sal net met die provinsie se premier, David Mabuza, praat.

 
Mpumalanga is die afgelope tyd deur gewelddadige oproer oor dienslewering geteister, veral die dorpe Mashishing, voorheen Lydenburg, en Volksrust, waar inwoners korrupte amptenare  verantwoordelik hou.
 
In Lehurutshe naby Zeerust is ses mense gearresteer vir openbare geweld nadat hulle aan oproer deelgeneem het oor beweerde swak dienslewering, het Noordwes polisie insgelyks Maandag bekend gemaak.

Kaptein Adele Myburgh het gesê Lehurutshe-inwoners het verlede week die hele week lank klippe na vebygaande motoriste op die N4 gegooi.

"Drie mense is Dinsdag in hegtenis geneem en nog drie is Vrydagoggend gearresteer. Hulle sal almal van openbare geweld aangekla word en dié wat Vrydag gearresteer is sal ook van diefstal aangekla word," het Myburgh gesê.

"Hulle het motors tot stilstand gedwing en die motoriste beroof." Sy sê die polisie het op een stadium rubberkoeëls na die skare gevuur om hulle uitmekaar te dwing.

Die gebied is sedert Saterdag stiller en 'n sterk polisieteenwoordigheid in Lehurutshe word steeds gehandhaaf.

Die aangehoudenes sal na verwagting Maandag of Dinsdag in die Landdroshof op Zeerust verskyn.

 
Alhoewel die Instituut vir Demokrasie in Suid-Afrika, IDASA, verlede jaar gewaarsku het dat die aanloop tot die verkiesing in April gewelddadige betogings oor dienslewering sou vererger, omdat die verskille tussen Mbeki en Zuma se ondersteuenrs veroorsaak dat dienste lamgelê word, toon die onrus geen teken van afname sedert die verkiesing nie.

Onrus oor swak dienslewering is sedert 2004 aan die orde van die dag.
 

дитячі іграшки інтернет-магазинФильчаков прокурор харькова