Die wet wat ook afluistering en e-posonderskepping omskryf, sal hierdie week van krag wees
Die wet sal vereis dat huidige voorafbetaalde SIM-kaarteienaars hulle besonderhede aan hulle diensverskaffers gee. Indien hulle weier sal die selnommer getermineer word.
Tlali Tlali, woordvoerder van die departement van Justisie, het gesê die departement sal more 'n mediakonferensie hou om die Wet ivm die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie en Verskaffing van Kommunikasieverwante Inligting Amendement te verduidelik.
Dit sal fokus op 'n meer uitgebreide en akkurate databasis van inligting van mense wat Suid-Afrika se telekommunikasienetwerk gebruik, het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat dit nie oor die inbreuk op privaatheid handel nie, maar om die huidige wetsinstrumente teen misdaad op te skerp.
Die nuwe wet sal selfoonoperateurs asook die internet en e-posdienste verplig om sms'se, e-posse en stemoproepe in 'n argief te bewaar sodat owerhede toegang daartoe kan hê.
Slegs 'n regter sal voortaan aan veiligheidsagentskappe toestemming kan verleen om toegang tot sulke argiewe te verkry.
