Benin se president lê die tuig neer

Kiesers in Benin het dié naweek gaan stem in ’n verkiesing om pres. Thomas Boni Yayi te vervang, wat na sy tweede ampstermyn die tuig neerlê.

Altesaam 33 kandidate ding mee om die mag in die klein Wes-Afrikaland.

Benin is ’n kantoenproduserende land, maar die ekonomie sukkel, deels vanweë die val in die olieprys, wat die land se reusebuurstaat, Nigerië, knou.

Die sleutelvraag vir kiesers is wie van die kandidate die bevoegdste is om werkgeleenthede te skep en die onderwysstelsel te verbeter.

Deur sy posisie prys te gee soos die wet vereis, het Boni Yayi soos sy mede-leiers in Burundi, Rwanda en die Kongo gewys dat hulle nie termynperke sal omseil om langer aan die mag te bly nie.

Die land hou sedert 1991 verkiesings nadat die diktatorskap oorgeskakel het na ‘n sogenaamde veelparty-demokrasie.

Brittanje gooi geld na chaos in Calais

Brittanje sal ongeveer 20 miljoen euro’s bydra om sekuriteit by die Franse hawestad, Calais, te versterk, waar duisende migrante kamp in die hoop om die Engelse kanaal oor te steek en ‘n heenkome in Brittanje te vind.

Die Franse minister belas met Europese aangeleenthede, Harlem Desir, het die aankondiging gemaak.

Brittanje het reeds 60 miljoen euro’s daarvoor bewillig. Die geld sal gebruik word om die sekuriteit te verbeter van die toegangsone na die tonnel wat Europa met Brittanje verbind, asook om mensehandelnetwerke te bekamp.

Die aankondiging kom ure voor ‘n spitsberaad tussen die Franse president, Francois Hollande, en die Britse eerste minister, David Cameron, in die noordelike stad, Amiens, waar die Calais-krisis boaan die agenda sal wees.

Maandag het chaos uitgebreek in die kamp toe stootskrapers tente en skuilings platgestoot het.

Ontleders meen die Franse het tot die stap oorgegaan omdat die huidige Brexit-klimaat dit toelaat.

Die Franse owerhede het besluit om ‘n deel van die kamp skoon te maak omdat die inwoners van Calais in opstand is oor die misdaad en die wetteloosheid wat daar heers, en oorgespoel het na die stad.

Die polisie het stootskrapers gebruik om immigrante uit tente en tydelike skuilings te verwilder in die gebied wat sowat 6000 vlugtelinge huisves.

Kampinwoners het teruggeveg, begin vure stig en die polisie met klippe aangeval. Die situasie was Woensdag kalmer, maar nie minder gespanne nie.

Verwarring, onsekerheid en kommer heers in die kamp met die onwettige immigrante wat op hul “regte” aanspraak maak.

Die Franse regering het aanvanklik sy plan aangekondig om die suidelike deel van die kamp af te breek – nader aan die snelweg – vroeg in Februarie.

Die fortuinsoekers spring op vragmotors wat deur die Kanaaltonnel reis, in weerwil van doringdraadversperrings wat opgerig om die pad te beskerm.

Ses aangehou na vergeldingsaanvalle op saluut

Ses mense is die week in Lyon, Frankryk in hegtenis geneem na twee strafekspedisies teen mense wat hulle beskuldig van die “quenelles” op die Internet, het ‘n geregtelike bron gesê.

Twee mense is reeds aangekla het die Lyon-dagblad, Le Progrès, berig.

Die “quenelle” is ‘n oneerbiedige saluut wat deur die Franse skrywer Alain Soral en die komediant Dieudonné gewild gemaak is en in Duitsland strafbaar is.

Die vigilantes, glo van die Joodse gemeenskap, het die twee strafekspedisies verlede naweek in Lyon en Villeurbanne, gelei.

Die “quenelle” word as ‘n anti-Semitiese gebaar beskou deur anti-rassisme verenigings en het gewild geraak nadat dit verskyn het op veldtogplakkate vir Dieudonné wat in 2009 aan die Europese verkiesings deelgeneem het.

Die eerste sogenaamde strafekspedisie het Saterdagaand plaasgevind rondom 23 uur, toe ‘n groep ‘n werknemer van die gewilde Mama Shelter restaurant aangeval het in die sewende arrondissement van Lyon.

Veertig mense, volgens Le Progrès, het deelgeneem aan die aanval, waarna skermutselinge uitgebreek het en traangas gegooi is. Hulle is deur sekuriteitsagente teruggedryf en die werknemer is nie beseer nie.

Die tweede aanval het Sondagaand plaasgevind in Villeurbanne. Hierdie keer het ‘n groep van ses mense ‘n man aangerand en daarna toegesluit in die kattebak van ‘n motor.

Hulle het die “oortreder” glo aanlyn opgespoor. Ses mense word daarvan verdink dat hulle deelgeneem het aan beide aanvalle.

Die aanklaer het ‘n kriminele ondersoek gelas vir “misbruik en skending van die wetgewing op wapens,” “aanhitsing tot ‘n gewapende byeenkoms” en “ernstige vrywillige geweld”, wat strafbare oortredings onder Franse wetgewing is.

Die ses persone het geen kriminele rekord nie.

Dié jongste voorval in die Lyon-area, kom nadat vier kelners wat by ‘n byderwetse kroeg werk, afgedank is omdat hulle die “quenelle” op hul perseel getoon het.

Dit het iets van ‘n nasionale sport in Frankryk geword om Sosialistiese politici in die openbaar vir ‘n fotosessie te benader en die quenelle-saluut te gee.

Gaboen se oliedinastie klou vir ‘n vale

Pres. Ali Bongo Ondimba van Gaboen het aangekondig dat hy vir ‘n tweede termyn verkiesbaar is.

Verkiesings vind later vanjaar plaas en Ondimba het beloof om “ongeregverdigde bevoordeeldes” in die klein Afrikaland te aan te vat.

Indien hy verkies word, sal hy hom glo beywer vir ‘n beter lewe vir Gaboen se 1,6 miljoen mense, van wie die meeste, ondanks die land se olie-rykdom, in armoede leef.

Hy het onderneem om die ekonomie te diversifiseer, met olie wat vir 60 persent van die staatsinkomste verantwoordelik is, het AFP berig.

Bongo het vir die eerste keer in 2009 aan bewind gekom ná die dood van sy pa, Omar Bongo Ondimba. Dié was sedert 1967 aan die stuur van sake in die land en was deur kritici as ‘n “korrupte despoot” beskryf.

Sy pa het die olieryke Gaboen vir 41 jaar geregeer.

Ondertussen het ‘n hof in die westelike Franse stad, Nantes, Maandag ‘n saak deur sy halfsuster, een van 54 erfgename van sy pa se fortuin, van die hand gewys waarin sy beweer hy het sy geboortesertifikaat vervals.

Met die presidentsverkiesings wat nader kom, broei omstredenheid oor Ali Bongo se geboorteplek. Kritici sê hy het sy geboortesertifikaat vervals om die feit weg te steek dat hy in die buiteland aangeneem is.

Die Gaboense grondwet bepaal dat staatshoofde in Gaboen gebore moet wees. ‘n Franse ondersoekende joernalis, Pierre Pean, beweer in ‘n boek die president is inderdaad ‘n gebore Nigeriër wat gedurende die Biafra-oorlog in die laat 1960’s aangeneem is.

Bongo sê hy is in 1959 in Brazzaville, die voormalige hoofstad van Frans Ekwatoriaal-Afrika, gebore.

Die Nantes burgerlike registrasiesentrum is verantwoordelik vir al die geboortesertifikate van mense wat tot 1960 in die Franse Ekwatoriaal-Afrika gebore is.

Dié land het in 1960 onafhanklik geword en het verdeel om Gaboen, Tsjad en die Sentraal-Afrikaanse Republiek te vorm.

Turke wil Wes-Afrika teen ‘terreur’ help

Turkye se president, Recep Tayyip Erdogan, het die week ‘n militêre erewag saam met Ivoorkus se pres. Alassane Ouattara by die presidentspaleis in Abidjan geïnspekteer.

Erdogan het Sondag met ‘n weeklange besoek aan Wes-Afrika begin.

Hy het ook Ghana, Nigerië en Guinee besoek.

Die diplomatieke reis is daarop gemik om “strategiese vennootskappe” tussen Turkye en lede van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikastate (Ecowas) te versterk.

Erdogan se reis kom kort na sy besoek aan Israel. Volgens ‘n ontleder in Al-Monitor besoek die Turkse president lande waar Iran te veel invloed het en waar Israel nie meer welkom is nie, op laasgenoemde se aandrang.

Turkye is in ‘n netelige posisie nadat Rusland in Februarie onthul het dat Erdogan steun aan die internasionale terroristebeweging ISIS verskaf in Sirië.

Erdogan het in Ghana gesê sy land sal Afrika bystaan “teen terreur” en ‘n oproer gedoen dat Afrika teen die “elite” in die Veiligheidsraad opstaan en meer verteenwordiging eis.

Moskou vrees terreuraanval na makabere kop-episode

Gjultsjhekhra Bobokulowa, ’n kinderoppasser wat verdink word van moord op die kind in haar sorg, het in ‘n hof in Moskou, Rusland verskyn.

Russiese polisie het die vrou in ’n hijab, wat die onthoofde kop van ’n kind Maandag buite ’n metro-stasie in Moskou rondgeswaai het, grond toe gedwing en haar van moord aangekla.

Die voorval het vrese vir ’n Islamitiese terroriste-aanval in Rusland verhoog.

Die makabere episode is op kamera vasgevang deur verbygangers, en toon beeldmateriaal van die moslemvrou in ‘n swart sluier wat ronddwaal in die straat met die afgekapte kop ‘n kleuter wat sy hoog in die lug hou.

“Ek is ‘n terroris, ek wil jou dood hê,” skree sy in ‘n swaar aksent. Die vermoorde meisie was 3 of 4 jaar oud, het hulle gesê. Sy het glo gesê Allah het haar aangesê om dit te doen.

Nuusagentskappe het ‘n polisie-bron aangehaal wat gesê het die 38-jarige vrou was glo onder die invloed van een of ander middel, maar dit kon nie bevestig word nie.

Immigrasie-owerhede het aan die media gesê die vrou is ‘n onwettige immigrant uit die voormalige Sowjet-republiek van Oesbekistan.

Voortgesette moslemgeweld het in Februarie die lewens van minstens 670 mense in Irak geëis van wie tweederdes burgerlikes was, het die Verenigde Nasies intussen bekend gemaak.

’n Verdere 1 290 mense is gewond van wie 1 050 burgerlikes was. In Januarie is minstens 849 mense en 1 450 gewond.

In Februarie het die veiligheidstoestand in die land aansienlik verswak met twee massiewe bomaanvalle binne enkele dae deur die Islamitiese Staat (ISIS) groep onderskeidelik op die dorp, Muqdadiyah en in Bagdad waarin minstens 110 mense dood is.

Alhoewel Irakse troepe sedert verlede jaar sleuteloorwinnings teen ISIS behaal het, het die lank verwagte veldtog om Mosul te herower, die belangrikste stad wat die militante beheer, nog nie begin nie.

Super Trump Dinsdag

Die grootste dag van die voorverkiesingsveldtog, Super-Dinsdag, is wanneer die meeste Amerikaanse kiesers stem om hul partykandidaat aan te wys. Republikeine kon die helfte van hul afgevaardigdes kies, en Demokrate ‘n derde.

Donald J. Trump se wenveldtog het sy gewildheid oor ‘n breë spektrum beklemtoon.

Trump en Hillary Clinton het as die onderskeie voorlopers in hul partye se presidentsbenoemings uitgestaan.

Trump het tot dusver in sewe deelstate gewen in die Republikeine se benoemingstryd in vergelyking met die twee wat sy naaste teenstaander, Ted Cruz, ingepalm het.

Cruz het tydens ‘n toespraak ‘n beroep op die ander kandidaat, Marco Rubio, gedoen om aan die wedloop te onttrek en by hom aan te sluit om Trump te verslaan. Ted Cruz is van die Republikeine.

Hillary Clinton is in die Demokrate se voorverkiesings ook die duidelike voorloper en het reeds in sewe deelstate gewen.

Die miljardêr-sakeman het ondermeer Alabama, Georgia, Massachusetts en Tennessee, asook Arkansas, Vermont en Virginia ingepalm en daardeur gewys dat hy plaaslike en ideologiese verskille in die Republikeinse Party te bowe gekom het.

Die teorieë oor hoe om Trump te keer, hoop intussen op.

Sy teenstanders hoop op ‘n ineenstorting van sy ondersteuningsbasis deur na hulle as “wit gemors” te verwys of ‘n konsolidasie van anti-Trumpkiesers agter net een kandidaat.

Hierdie twee dinge wil klaarblyklik nie gebeur nie. En as dit nie binne die volgende twee weke gebeur nie, is Trump op koers om die Republikeinse benoemingstryd te wen.

Trump, Hillary voorlopers vir Super Dinsdag

Vandag is die groot dag in die VSA se benoemingstryd, ook bekend as “Super Dinsdag”.

Dit is grootste enkele stemmery in die voorverkiesings en is ‘n maak-of-breek dag vir albeie partye se kandidate wat na die presidentskap mik.

Amerikaners sal tegelyk in twaalf state na die stembus gaan om hul stemme uit te bring.

Met die fenomenale opgang wat die Republikein Donald Trump gemaak het, het sy teenstanders in albei partye die grofgeskut uitgehaal om Trump se kanse te probeer bederf en hom met die KKK probeer swartsmeer.

Die aanspraakmaker op die Republikeinse benoeming is deur swart betogers by sy saamtrek getart as ‘n wit suprematis wat weier om David Duke, voorheen van die KKK, wat aan hom sy steun toegesê het, te veroordeel.

Die verkiesingsaamtrek vir Trump in die Amerikaanse staat, Virginië is herhaaldelik deur swart oproeriges ontwrig.

Die betogers is van die swart bewustheidsbeweging, Black Lives Matter wat soos in Suid-Afrika kampusse beset teen “witheid”.

Trump en Hillary Clinton is die onderskeie voorlopers in die Republikeinse en Demokratiese voorverkiesings en beide maak op die kiesers staat om hul voorspronge te konsolideer.

Regering dank duisende spookwerkers af

Die Nigeriese ministerie van finansies het aangekondig dat hulle miljoene gespaar het deur van meer as 20 000 “spookwerkers” op die staat se betaalstaat ontslae te raak.

Diegene wie se name van die betaalstaat verwyder is, is net ’n “persentasie” van “denkbeeldige personeel” wat maandelikse salarisse ontvang het.

Dit beklemtoon voorts die groot­skaalse ­korrupsie in Afrika se grootste ­ekonomie, het AFP berig.

“Die salarisrekening vir Februarie 2016 is met 2,293 miljard naira ($11.53 miljoen) verminder,” het ’n raadgewer van die ministerie van finansies, Festus Akanbi, in ’n verklaring gesê.

Akanbi sê die strenger betaalstaat-­regulering sal Nigerië se begroting die nodige inspuiting gee.

Weens die skerp daling in globale oliepryse huiwer die Nigeriese ekonomie op die rand van ‘n ineenstorting.

Die Nigeriese president, Moehammadu Boehari, het in Desember ’n rekordbegroting aangekondig en belowe om ekonomiese groei te stimuleer en infrastruktuurprojekte van stapel te stuur.

Oscars: Rasvenyn, godsdiensagendas, geslagloosheid

In ‘n seremonie wat meer na ‘n rasse-integrasiepreek deur Chris Rock, seremoniemeester, geklink het as ‘n glinsteraand, het die Katolieke Kerk verbasend ook kwaai deurgeloop.

Vanjaar se toekennings is eers oorskadu deur klagtes dat daar nie swart akteurs in die toekennings is nie. Die groot Moslembedreiging was ook nêrens te vinde nie ten spyte van sulke waarskuwings deur die Pentagon self.

Kennelik is die Oscars baie meer as net vermaak; dit was dié naweek weer pure politiekery, lukraak agendas en denkprulle waarvan die rakleeftyd al verstryk het.

Spotlight ‘n drama oor die Rooms-Katolieke toesmeerdery van seksuele misbruik deur priesters, het met die louere by die 88ste Academy Awards Sondag weggestap.

Dit het The Revenant uitgestof wat wyd beskou is as die gunsteling, maar het nogtans ‘n beste akteur-prys aan Leonardo DiCaprio, en sy eerste Oscar, besorg. DiCaprio is ses keer vir Oscars benoem voordat hy nou sy eerste toekening gewen het.

DiCaprio het op sy beurt ‘n prekie afgesteek oor klimaatsverandering nadat die oorlewingsrolprent nie die eerste prys by die Oscar-toekenningsaand in Los Angeles kon losslaan nie.

Hy het sy toekenning opgedra aan inheemse gemeenskappe wêreldwyd, soos die Amerikaanse Indiane wat in The Revenant uitgebeeld word.

Dit het ook ‘n beste regisseur-toekenning vir Alejandro G. Iñárritu beteken. Hy is vir die tweede jaar in ‘n ry as beste regisseur bekroon.

Die produsent van Spotlight het gesê hy hoop die oorwinning sal “al die pad na die Vatikaan weerklink”.

Alicia Vikander is aangewys as die beste ondersteunende aktrise in die rolprent The Danish Girl. Die 27-jarige Sweedse aktrise het die beeldjie gekry vir haar rol as die vrou van die “trans-gender” kunstenaar.

‘n Hongaarse rolprent wat by die Auschwitz-konsentrasiekamp afspeel, die soveelste een, Son of Saul, is as die beste rolprent in ‘n buitelandse taal aangewys.

Die rolprent Amy, oor die sangeres en harde dwelmgebruiker Amy Winehouse, het die toekenning vir beste dokumentêre rolprent ontvang.

Die avontuurkomedie InsideOut is aangewys as die beste animasierolprent.

Brie Larson is aangewys as beste aktrise vir haar rol in Room.

Rock het al die stekelrige vrae oor ras in Hollywood met venynige humor beantwoord. Feitlik sy hele monoloog het gehandel oor die onderwerp van “diversiteit”, ‘n kodewoord vir swart.

Hy het onder meer ‘n huldeblyk vir swart mense wat “geskiet is deur die polisie op pad na die flieks” gelewer.

Hy het die twee wit aktrises verwelkom as “Emily Blunt en iemand nog witter, Charlize Theron”. Hulle het die aand se eerste toekenning aangebied vir die beste oorspronklike draaiboek.

Theron het juis haar witheid probeer afskud deur twee swart kinders aan te neem.