Regering dank duisende spookwerkers af

Die Nigeriese ministerie van finansies het aangekondig dat hulle miljoene gespaar het deur van meer as 20 000 “spookwerkers” op die staat se betaalstaat ontslae te raak.

Diegene wie se name van die betaalstaat verwyder is, is net ’n “persentasie” van “denkbeeldige personeel” wat maandelikse salarisse ontvang het.

Dit beklemtoon voorts die groot­skaalse ­korrupsie in Afrika se grootste ­ekonomie, het AFP berig.

“Die salarisrekening vir Februarie 2016 is met 2,293 miljard naira ($11.53 miljoen) verminder,” het ’n raadgewer van die ministerie van finansies, Festus Akanbi, in ’n verklaring gesê.

Akanbi sê die strenger betaalstaat-­regulering sal Nigerië se begroting die nodige inspuiting gee.

Weens die skerp daling in globale oliepryse huiwer die Nigeriese ekonomie op die rand van ‘n ineenstorting.

Die Nigeriese president, Moehammadu Boehari, het in Desember ’n rekordbegroting aangekondig en belowe om ekonomiese groei te stimuleer en infrastruktuurprojekte van stapel te stuur.

Duisende spookwerkers kos Noordwes miljarde

Ten minste 36.000 spookwerknemers kos Noordwes R19 miljard aan salarisse, het die ANC in die provinsie, Woensdag gesê.

“Hierdie spookwerknemers is ongemerk en put die karige jaarlikse salarisbegroting uit,” sê die provinsiale sekretaris Dakota Legoete.

Noordwes se premier Supra Mahumapelo het die syfer van 36.000 spookwerkers by ‘n vergadering van Skoor Woensdag bekendgemaak.

Legoete sê Mahumapelo se onthullings sal Noordwes se regering miljoene rande spaar.

Die DA het met skok gereageer en was klaarblyklik nie bewus van die spookwerkers nie, alhoewel hulle daarvoor gesorg het dat konsultante nie meer aangestel word nie.

Die spookwerkers ontvang glo pensioenvoordele en mediese fondse.

Meer spookwerkers as amptenare in NW

Meer as die helfte van die sowat 59 000 regeringsamptenare van die Noordwes Provinsiale Regering is spookwerkers.

Premier Supra Mahumapelo het vroeër vandeesweek bekend gemaak dat 36 000 amptenare spookwerkers is.

Die waarnemende woordvoerder van die provinsiale regering, Brian Setswambung, sê hulle bestee elke jaar R19 miljard aan salarisse en gaan nou ondersoek instel na hoeveel die spookwerkers die regering kos.

Hy sê dié werkers is uitgevang nadat die betaalstelsel van die regering intern ondersoek is. Setswambung sê dit blyk of die spookwerkers as kontrakwerkers op ‘n vreemde salarisskaal geregistreer is.

Die koste van die 36 000 spookwerkers se salarisse is in een maand sowat 3,5 keer meer as wat president Jacob Zuma se Nkandla-woning tot dusver gekos het.