Duisende spookwerkers kos Noordwes miljarde

Ten minste 36.000 spookwerknemers kos Noordwes R19 miljard aan salarisse, het die ANC in die provinsie, Woensdag gesê.

“Hierdie spookwerknemers is ongemerk en put die karige jaarlikse salarisbegroting uit,” sê die provinsiale sekretaris Dakota Legoete.

Noordwes se premier Supra Mahumapelo het die syfer van 36.000 spookwerkers by ‘n vergadering van Skoor Woensdag bekendgemaak.

Legoete sê Mahumapelo se onthullings sal Noordwes se regering miljoene rande spaar.

Die DA het met skok gereageer en was klaarblyklik nie bewus van die spookwerkers nie, alhoewel hulle daarvoor gesorg het dat konsultante nie meer aangestel word nie.

Die spookwerkers ontvang glo pensioenvoordele en mediese fondse.

Skoor verwerp Gautengse verslae oor konsultante

Senior amptenare van die Gautengse Tesourie en Departement van Finansies is deur die provinsiale Staande Komitee oor Openbare Rekeninge die trekpas gegee en aangesê om meer aanvaarbare werk in te dien, het RSG berig.

Die amptenare is in die sop omdat hulle nie behoorlike skriftelike antwoorde op die komitee se vrae verskaf het nie.

Hulle het in die Johannesburgse Wetgewer verskyn om te reageer op die Ouditeur-Generaal se vrae oor die gebruik van konsultante in verskeie provinsiale departemente.

Lede van Skoor het hulle kommer uitgespreek oor die swak standaard van die skriftelike antwoorde. Die amptenare het meer as ‘n maand gehad om die antwoorde te formuleer.

‘n Skoor-lid, Glenda Steyn sê dit was skokkend en dat sy nie oortuig is daarvan dat die handtekening van die LUR vir Finansies, Barbara Creecy op die dokumente outentiek is nie.