Terreuraanval in Antwerpen afgeweer

Die polisie in Antwerpen in België het ‘n Moslem in hegtenis geneem wat probeer het om met sy voertuig in inkopiegangers in te jaag, minder as 24 uur ná die aanval in Londen.

Mense kon gelukkig betyds uit die straat padgee om nie doodgery te word nie. Dit is nog onduidelik of daar enige beserings was. Die man is vermoedelik van ‘n Afrika-land afkomstig.

Die polisie het beslag gelê op onder andere messe en ‘n vuurwapen in sy motor. Die aanval volg ‘n dag ná ‘n soorgelyke aanval in Londen waartydens drie mense dood en 40 beseer is.

Die voertuig van die Antwerpse aanvaller was na bewering vol vloeibare gas, messe en gewere.

Vreesbevange voetgangers moes uit die pad spring toe die motor in die De Meir winkelstraat in Antwerpen teen ‘n hoë spoed Donderdagoggend op hulle afgepeil gekom het.

Die vermeende bestuurder, wat was geklee in kamoefleerdrag, en is later in hegtenis geneem deur die polisie, het plaaslike media berig.

Die voorval word ondersoek as ‘n moontlike terroriste-aanval. ‘n Federale aanklaer het gesê die verdagte is ‘n Franse burger wat in Frankryk woon.

Plaaslike media het gesê hy is ‘n 39-jarige Moslem by name Mohamed R.

Die polisie in die Belgiese hawestad het gesê die voertuig wat in Frankryk geregistreer is, is opgemerk toe dit die besige Schelde-rivier genader het.

Ooggetuies het gesê hulle moes koes toe bestuurder die snelheid van die motor verhoog het.

Verlede Januarie het die land se grootste polisiemag in Antwerpen begin met ‘n loodsprogram om Moslembeamptes plaaslik te werf, veral met immigrasie-agtergronde.

Die moeilike federale toelatingseksamen is egter die probleem dat die aansoekers van kleur nie toegelaat word nie.

Byna die helfte van Antwerpen se inwoners het ‘n immigrante agtergrond, maar net 7 persent van die 2600-sterk polisie is nie wit nie.

Indien die loodsprogram suksesvol is, het owerhede gesê hulle gaan die program landwyd implementeer om die polisiemag te verswart omdat hulle hoop om so terreur die hoof te kan bied.

Die Britse polisie het intussen meer inligting bekend gemaak oor die drie slagoffers van die Londense terreuraanval. Hulle sê die polisieman wat doodgesteek is, was die 48-jarige Keith Palmer, wat ‘n lid was van die Parlement se beskermingsdiens.

Hy was ongewapen en is aangeval by die Parlement se ingangshekke. Hy was 15 jaar in die polisie. Die tweede slagoffer was ‘n 43-jarige vrou. Sy was ‘n Britse burger, van Spaanse afkoms, en het in Londen klas in Spaans gegee.

Die derde slagoffer was ‘n man in sy middel-vyftigerjare, vermoedelik ‘n Amerikaner.

Die aanvaller is deur die polisie doodgeskiet. Hy was blykbaar ook onder ander name bekend.

Die polisie het Donderdagaand die aanvaller se identiteit bekendgemaak as Khalid Masood, maar dit het aan die lig gekom dat hy in 1964 as Adrian Elms in Kent gebore is.

Agt mense is steeds in aanhouding in verband met die aanval. Drie burgerlikes en ‘n polisielid is dood, en die aanvaller is deur die polisie doodgeskiet.

Londense terreuraanval lyk na rasaanval

‘n Ondersoek is in Londen aan die gang nadat vier mense, asook ‘n polisiebeampte, Keith Palmer, in ‘n terreuraanval voor die Britse parlementsgebou dood is.

Na die aanval, het ISIS-simpatiseerders die terroris geloof en gesê dit was ‘n “geseënde” gebeurtenis omdat “bloed vir bloed” gegee is na die VK se deelname aan die Amerikaanse koalisie-aanvalle in die Midde-Ooste.

Die aanvaller was nie wit nie en vermoedelik van Asiese afkoms.

Die polisie het die aanvaller, wat ‘n polisiebeampte met ‘n mes gesteek het, doodgeskiet. Vyf mense, insluitend ‘n polisielid en die aanvaller, is dood en minstens 40 is gewond toe die terroris met ‘n voertuig in voetgangers op die Westminster-brug ingeploeg het teen 70km/h.

Drie Franse leerlinge wat op ‘n skooluitstappie was, is ook onder die beseerdes. Mense het van die brug in die rivier gespring om te ontkom aan die dood. Twaalf beseerdes verkeer steeds in ‘n ernstige toestand.

Westminster was ure lank afgesper. ‘n Ooggetuie in die parlementsgebou sê hy het gesien hoe ‘n donkergrys viertrekvoertuig doelbewus in twee mense op die brug vasry. Die Britse primier, Theresa May, het die aanval buite die parlementsgebou in Londen ten sterkste veroordeel.

Haar kantoor sê sy het haar meegevoel uitgespreek met die familie van die mense wat tydens die voorval dood en beseer is.

Sover bekend is daar nie Suid-Afrikaners dood of gewond in die aanval in Londen nie.

Die aanvaller het na sy doodstog teen die heining van die parlementsgebou gebots, uit die motor gespring en ‘n polisielid met ‘n mes gesteek voor hy doodgeskiet is.

Die polisie stel ondersoek in of die aanvaller ondersteuning gehad het en hanteer die aanval as ‘n terreurdaad.

Volgens ooggetuies, het Britse gewapende magte ‘n huis in Hagley Road, in die stad Birmingham net voor middernag bestorm, Woensdag.

‘n BBC Newsnight verslag beweer daar is ‘n bewys dat die Hyundai-voertuig gebruik in die aanval, gehuur was van Enterprise in die Midlands op 16 Maart.

Volgens ‘n ooggetuie wat in die omgewing werk, was die aanvaller aan hulle bekend: “Die man van Londen het hier gewoon. Hulle het binnegegaan en drie mans in hegtenis geneem.” Die mans is nie wit nie en vermoedelik van Pakistan.

In Pakistan het woede geheers omdat ‘n krieketspeler, Mohammed Amir, by die lughawe ondervra is toe hy Woensdag die land wou binnekom. Sy ondersteuners meen dat dit geen sin maak dat hy ‘n verdagte kan wees omdat die terroris vermoedelik ook van Pakistan afkomstig was nie.

Intussen het die regerings van Frankryk, Suid-Korea, Portugal en Roemenië bekendgemaak dat van hulle burgers in die voorval beseer is.

Volgens regeringsbronne sal daar geen onderbreking van parlementêre bedrywighede wees nie, maar gerugte doen die rondte dat werksaamhede opgeskort is. Die Britse Laerhuis se werksaamhede is vir vyf ure gestaak toe lede in die gebou toegesluit is vir hul eie veiligheid.

Leiers van lande wat deur onlangse terreuraanvalle geraak is het intussen solidariteit met Brittanje uitgespreek na gister se aanval naby die Parlement in Londen. Die Franse president, Francois Hollande sê terreur raak almal en dat Frankryk verstaan waardeur die mense van Brittanje gaan.

Die Duitse kansellier, Angela Merkel sê Duitsland staan by Brittanje in die stryd teen terreur. Die aanval in Londen volg presies ‘n jaar na ‘n aanval in Brussel in België waarin 32 mense dood is.

In New York in Amerika is veiligheidsmaatreëls intussen verskerp by all Britse konsulate en ander Britse diplomatieke sendings. Die Withuis het ook sy volle steun aan die Britse regering gebied.

Die Withuis se woordvoerder, Sean Spicer het die aanval veroordeel en die Britse polisie se vinnige reaksie geloof.

Tillerson kondig nuwe plan aan vir Sirië en Irak

Ministers van 68 lande wat saam die koalisie teen die Islamitiese Staat voer, het in Washington vergader om president Donald Trump se planne vir die vernietiging van die oorblywende vestings van die terreurgroep te hoor.

Die vergadering is deur die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Rex Tillerson, byeengeroep.

Tillerson het gesê die Verenigde State sal “tussentydse sones van stabiliteit” oprig om te help dat vlugtelinge terugkeer huis toe in die volgende fase van die stryd teen die Islamitiese staat en Al-Kaïda in Sirië en Irak.

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake het nie duidelik maak waar hierdie sones opgerig gaan word.

“Die Verenigde State sal ons druk op ISIS en Al-Kaïda verhoog en sal werk om tussentydse sones van stabiliteit te vestig, deur skietstakings, om toe te laat dat vlugtelinge terug keer,” het Tillerson by sy eerste groot diplomatieke gebeurtenis verklaar.

Hoewel dit is onduidelik is hoe die sones sal werk, kan dié stap Amerikaanse militêre betrokkenheid in Sirië verhoog.

Trump het tydens sy verkiesingsveldtog laat blyk dat hy ‘n “geheime plan” het om van ISIS ontslae te raak.

Tot dusver het die Pentagon egter grootliks by voormalige president Obama se strategie gehou deur grondmagte te ondersteun en Amerikaanse deelname te verskerp in die aanloop tot die aanslag op Raqqa.

Trump-vertrouelinge byt vas oor Britse spioenasie-aantygings

Trump-ondersteuners gaan nie die beskuldigings teen die VK los dat hulle vir voormalige president Barack Obama gespioeneer het nie.

Beskuldigings is na vore gebring deur Regter Andrew Napolitano asook deur die Withuis se woordvoerder, Sean Spicer. En nou het ‘n ander Trump-man uitgekom en gesê die GCHQ het Trump Tower namens Barack Obama afgeluister.

Breitbart het berig dat Obama Trump met behulp van Britse intelligensie tydens die Amerikaanse verkiesingsveldtog afgeluister het.

Beide Regter Napolitano en Roger Stone, ‘n Trump-vertroueling, het gesê dat die Britse regering betrokke is. Stone het aan die DailyMail.com gesê “ten spyte van die vinnige ontkennings,” glo hy “Regter Napolitano is korrek”.

“My eie bronne hoog in die Tory-regering, wat nogal mag het, het my verseker dat daar spioenasie deur die Britte was,” sê Stone.

Intussen blyk dit dat die Britse kabinet die bedanking van die huidige direkteur van die GCHQ, Robert Hannigan skielik aanvaar het, vir “persoonlike redes”. Die Sunday Times het berig dat hy vervang gaan word deur die huidige direkteur van die MI5, Jeremy Fleming.

Die verhoudings tussen Londen en Washington het ietwat versuur, met die Trump-administrasie wat raakgesien het hoe hul Britse bondgenote met die anti-Trump skaduregering heul.

Hannigan se skielike bedanking – hy het personeel net enkele ure voor die besluit openbaar gemaak is ingelig – lyk inderdaad of dit verband hou met Britse kommer in die nasleep van Donald Trump se verkiesing tot president.

Die GCHQ is gedwing om in die openbaar te reageer na President Trump se beskuldig dat die agentskap sy fone afluister. In ‘n seldsame en ongekende skuif, het GCHQ die eise as “nonsens” en “belaglik” afgemaak, iets wat hul nooit gewoonweg sou doen nie.

In Oktober 2016, is GCHQ – sowel as MI6 en MI5 – veroordeel omdat hulle kommunikasiedata en grootmaat persoonlike datastelle versamel het op ‘n onwettige manier. Hulle het “versuim” om met die Europese Konvensie oor Menseregte rekening te hou.

Le Pen stormloop verwarde Macron in TV-debat

Marine Le Pen het met haar waarskynlike presidensiële teenstander, Emmanuel Macron, oor immigrasie, integrasie en die internasionale statuur van Frankryk gebots in ‘n TV-debat waaraan al vyf kandidate deelgeneem het.

Die voorspel tot die verkiesingsgeveg het vir drie en ‘n half uur aangehou, met Le Pen en Macron as die twee vernaamste teenstanders in terme van beleid. Sosialis Benoit Hamon, die Republikeine se François Fillon, en die ver-linkse kandidaat Jean-Luc Mélenchon het in die agtergrond vervaag.

Macron, ‘n voormalige minister van ekonomie met geen partyaanhangers nie en wat nog nooit ‘n verkose pos gehad het nie, was senuweeagtig en verbouereerd by tye met ‘n vasberade en selfversekerde Le Pen aan die oorkant. Sy het gekonsentreer op haar onervare opponent.

Sy het Macron tydens die debat oor immigrasie, werksgeleenthede en die EU gebraai. Le Pen het daarop gewys byvoorbeeld dat Macron die boerkini, die swemkous, verdedig het: “Ons het Islamiete in ons land,” het Le Pen gesê. “Die eise is aanhoudend,” het sy gesê, insluitend oor sake soos kos en klere.

Macron het verleë en onsamehangend geantwoord: “Ek is nie hier om woorde in jou mond te lê nie. Ek het nie ‘n buikspreker nodig nie.”

Hy het sy uiterste bes probeer om onskuldig en deugsaam te lyk, maar Le Pen het sy poging gekelder deur te wys op sy reputasie vir leë, langdradige toesprake.

Toe hy uitvaar oor die beskerming van Frankryk se “onafhanklikheid” het Le Pen geantwoord: “Jy het gepraat vir sewe minute, en ek het geen idee wat jy gesê het nie,” het sy gesê. “Jy het niks gesê nie. Elke keer as jy praat, is dit ‘n bietjie van hierdie, en ‘n bietjie van daardie wat jy leen, maar jy verbind jouself nooit tot enigiets.”

Nicilas Dhuicq, ‘n lid van die Republikeine party, het aan Sputnik News gesê: “Die media in Frankryk is pro-Macron, want hy is ‘n vars gesig en hy is pro-links. Hy is besig om homself as iets nuuts en modern voor te hou maar in werklikheid was sy toespraak heeltemal leeg.”

Macron het beter verhoudinge met Rusland verwerp: “Ons het ‘n lang verhaal met die Verenigde State van Amerika. Saam het ons vrede op die planeet gebou… Vandag wil ek graag meer onafhanklikheid sien. Nie nader aan [die Russiese president Vladimir] Poetin beweeg nie,” het Macron verklaar.

Maar Marine het opgemerk dat sy geensins belangstel om Angela Merkel se adjunk-kanselier te wees nie

Die eerste ronde in die presidensiële verkiesing sal plaasvind op 23 April, en die voorloper twee kandidate sal na die tweede ronde op 7 Mei deurdring. Meningspeilings wys dat Le Pen en Macron die mees waarskynlike teenstanders sal wees.

Ghana versuip in skuld maar kry 110-sterk kabinet

Die nuut-verkose president van Ghana het nie gras onder sy voete laat groei om te wys hoe lank ‘n kleptokratiese soustrein kan raak nie.

Nana Akufo-Addo, is skerp gekritiseer omdat hy 110 kabinetslede aangestel het. Die opposisie praat selfs van ‘n “olifant-grootte” kabinet.

Die 56 ministers kry nou ook 50 adjunk-ministers om die bankrot staatskas verder te plunder. Dis die grootste regering sedert die land in 1992 “demokraties” geraak het. Kennelik het demokrasie nie veel gedoen om goeie bestuur te bevorder nie.

Die duur besluit is geneem ondanks die land se reuse skuldlas van R400-miljard.

Sommige regeringsdepartemente het tot vier ministers, met adjunkminsters. Die kabinetslede is geregtig op ten minste twee motors, gratis brandstof, gratis water en elektrisiteit, opgeknapte akkommodasie, aftreevoordele, ander pakkette en les bes, persoonlike lyfwagte.

Die minderheidsleier in Ghana se parlement sê die land se beperkte bronne gaan uitgeput raak.

Die ironie is dat die nuwe president verkies is omdat hy belowe het om onnodige verkwisting te staak.

Die minister van inligting, Mustapha Hamid, verdedig egter die aanstellings en sê die president het meer ministers nodig om die land se probleme te takel.

Ghana voer goud, kakao en olie uit, maar groei het skerp in 2014 gedaal as gevolg van ‘n fiskale krisis en ‘n verswakking in globale kommoditeitspryse.

Regeringswoordvoerder Nana Akomea het gesê die kritiek sal ophou as die regering sy ambisieuse agenda gestalte laat kry.

Akufo-Addo was al in die nuus imdat hy by die Black Star plein in Accra byna sy hele aanvaardingstoespraak net so van twee Amerikaanse presidente geplagiariseer het.

Hy het geleen uit die intreerede deur die voormalige Amerikaanse presidente George Bush gelewer in Januarie 2001, asook Bill Clinton in sy 1993 intreerede.

‘Swartes steel alles’

‘n Duitse wêreldreisiger het gesorg vir ‘n herrie toe sy as gas van die Duitse uitsender ZDF, besluit het om haar ervaringe van swart mense in Suid-Afrika in ‘n bietjie meer besonderhede te beskryf.

Heidi Hetzer (79) het al die hele wêreld oor die afgelope twee en ‘n half jaar volgereis: Van Berlyn via Oos-Europa, Nieu-Seeland, die VSA, Suid-Afrika, Frankryk, Keulen, dan terug na die hoofstad Berlyn.

Maandag was sy die ZDF oggendgas, om te gesels oor haar toer – byvoorbeeld deur Suid-Afrika.

Hetzer het eers haar goeie indrukke van die land gegee. “Die afdelingswinkels het alles. En alles is goedkoper. Die KaDeWe [‘n Duitse afdelingswinkel] is ‘n gemors daarteen gemeet. En die natuur, is iets moois. So kan mens lewe!”

Byna die paradys, maar in dieselfde asem het Hetzer ook opgemerk: “Maar soos elders, is daar nadele. Diefstal. Die swartes steel selfs ‘n ou baadjie wanneer jy die motor verlaat. Hulle steel alles. My ketting het hulle gesteel, die vensters gebreek, die GPS gesteel, die hele motor leeggesteel binne, my tasse, alles.”

Die ZDF aanbieder Jana Pareigis was sigbaar onthuts deur die eerlike vertelling. Pareigis is swart.

Pareigis het gou die tante onderbreek en die onderwerp verander met ‘n kort-af “Dis net ‘n arm land.”

Pareigis, wat ook werk as ‘n aanbieder vir die Duitse Uitsaaidiens DW, het die première van hul nuwe dokumentêre program “Afro.Deutschland” gevier verlede Donderdag.

Dit gaan heel voorspelbaar oor “rassisme en diskriminasie” en hoe om dit te “bestry”. Pareignis het haar persoonlike ervarings van hoe dit is om swart te wees in Duitsland gedeel.

Rutte klop Wilders in Nederlandse verkiesing, maar koalisienagmerrie wag

Premier Mark Rutte lyk asof hy die wenner van die Nederlandse verkiesing gaan wees, maar sonder koalisievennote. Wilders het aan RTL gesê dat selfs al het hy Rutte nie geklop nie, hoop hy dat sy party sterk opposisie teen Rutte se VVD sal wees.

Met net meer as ‘n tiende van die stemme getel, het VVD Party na die wenner gelyk, voor Wilders wat in die derde plek met 20 setels is, volgens data wat deur die ANP Nederlandse nuusagentskap vrygestel is. Wilders het sy tuisdorp Venlo asook die simboliese Maastricht ingepalm.

Die finale amptelike syfers sal eers op 21 Maart bekendgemaak word.

Ondanks die feit dat die wenner, Rutte se VVD gewen het, het hulle 10 setels afgestaan, ‘n groot verlies van 41 tot slegs 31. Sy juniorvennoot in die uitgaande koalisie, Arbeid, het sy ergste nederlaang ooit gevoel. Die grootste verloorders sal na verwagting daal van 38-9 setels.

Dit laat Rutte met ‘n kopseer omdat hy geskikte koalisievennote na regs sal moet vind want hy weier om saam met Wilders te werk.

Op 81 persent, was die opkoms die hoogste in 30 jaar. In Nijmegen, het stemlokale se stembriewe opgeraak en moes kiesers meer tyd gegun word om te stem.

Die PVV, Wilders ‘n party het ‘n aansienlike verbetering van die 15 setels in die verkiesing van 2012 behaal. Wilders het getwiet: “Ons het setels! Die eerste oorwinning! En Rutte het nog nie die laaste van my gesien nie!! ”

Rutte het op die nippertjie stemme gekry weens die rel met die Turkse minister wat hy laat deporteer het. Die diplomatieke uitval met ‘n Moslemland tydens ‘n verkiesingsveldtog waarin immigrasie en integrasie sleutelkwessies was, het hom ook na ‘n anti-Moslem-kandidaat soos Wilders laat lyk.

Denk, ‘n party vir hoofsaaklik Turkse Moslems, gaan ook ‘n setel of twee wen, om vir die eerste keer ooit ‘n etniese party in die parlement te wees.

Wilders het gesê hy teleurgesteld met die resultate, maar kyk na die positiewe van die verkiesing: “Ek sou eerder die grootste party wou wees. (Maar) ons het ook setels. Dit is ‘n resultaat om op trots te wees.”

Die uitkoms is ‘n groot verligting vir EU-regerings wat ‘n golf van nasionalisme in die gesig staar. Duitse kanselier Angela Merkel se hoof van personeel, Peter Altmaier, het getwiet: “Nederland, o Nederland jy is ‘n kampioen … .. Baie geluk met hierdie groot resultaat!.”

Frankryk se sosiaal-demokratiese minister van buitelandse sake Jean-Marc Ayrault het getwiet: “Baie geluk aan die Nederlanders wat die opkoms van die verregse gekeer het.”

Paolo Gentiloni, Italiaanse premier, het getwiet: “Nee vir Nexit. Die anti-EU het die Nederlandse verkiesing verloor.”

Guy Verhofstadt, die Europese parlement se hoof Brexit onderhandelaar, het getwiet: “NL bly liberale & pro-Europese vesting!”

Martin Schulz, die Duitse sosiaal-demokratiese leier, het getwiet: “Geert Wilders kon die verkiesing [in Nederland] nie wen nie. Ek is verlig.”

Turkse moles: Pap lemoene en die verkeerde vlag

In Turkye, het lede van president Erdogan se party beswaar gemaak teen ‘n Nederlandse besluit om ‘n Turkse minister te deporteer deur lemoene pap te druk en die sap gulsig te drink. Oranje is die kleur van die koningshuis in Nederland.

Die Turkse vlag is ook kortliks gehys oor die Nederlandse konsulaat in Istanbul, maar die Nederlandse ministerie van buitelandse sake het protes teen die verwydering van sy vlag aangeteken, en die vlag is later herstel tot sy regmatige plek.

In nog ‘n opwelling van protes het ‘n groep Turke by Cumhuriyet-plein in Samsun, in die noorde van Turkye Saterdag die verkeerde vlag aan die brand gesteek. In plaas van ‘n brandende Nederlandse vlag, het hulle die Franse een gebrand, en die daad op sosiale media versprei, tot hul eie verleentheid.

Albei is blou, wit en rooi, maar die Nederlandse vlag, een van die oudstes in Europa, het horisontale strepe en nie vertikale strepe soos die Franse een nie.

Geen Nederlandse media het die Turk in Nederland wat die massasaamtrek in Rotterdam georganiseer het genader nie. Die Nederlandse tak van UETD se voorsitter Turan Atmaca, was direk betrokke by die kontak tussen die Turkse konsulaat en die ministers, maar hy kan nie ‘n woord van Nederlands praat nie.

In reaksie op die foto van ‘n see van rooi Turkse vlae in die strate van Rotterdam, het PVV-leier Geert Wilders, wat hom beywer vir die “de-Islamisering” van Nederland, getwiet: “Nederland kan sien dat hierdie mense Turke is, nie Nederlanders nie. Hulle het Nederlandse paspoorte, maar hulle hoort nie hier nie.”

Senior Amerikaanse Republikeinse kongreslid Steve King het sy steun vir die Nederlandse anti-Islam politikus getwiet: “Wilders verstaan ​​dat kultuur en demografie ons lot is. Ons kan nie ons beskawing met ander mense se babas red nie,” het hy gesê, tot die hewige ontsteltenis van linkse sosiale media.

Die Amerikaanse Republikeinse verteenwoordiger van Iowa het sy kommentaar Maandag verdedig en gesê hy “bedoel presies wat hy gesê het”.

“Dit is ‘n duidelike boodskap,” het hy aan CNN verklaar. “Ons moet ons geboortesyfers verbeter ​​of Europa sal heeltemal omskep word in ‘n halfeeu of ‘n bietjie meer. En Geert Wilders weet dit en dit is deel van sy veldtog en ‘n deel van sy agenda.”

Die tuiste van die Nederlandse ambassadeur, saakgelastigde en konsul-generaal in Ankara is Saterdagaand heeltemal afgesper in wat beskryf is as “sekuriteitsmaatreëls”.

Die Nederlandse Christen-demokratiese leier, het ‘n beroep op die EU gedoen om Turkye se toetredingsverdrag, wat dateer uit 1963, te laat vaar, ‘n besluit wat sal beteken dat Turkse burgers wat in Nederland woon hul reg om dubbele burgerskap sal verloor.

Die geskil tussen die Nederlandse en Turkse regerings volg na spanning tussen Berlyn en Ankara verlede week oor soortgelyke Turkse amptelike besoeke aan Duitse Turke. Die Turkse minister van buitelandse sake is verbied om te praat in Hamburg, waarna Erdogan die Duitsers vir “Nazi’s” uitgeskel het.

Die Deense premier Lars Løkke Rasmussen het Sondag ‘n besoek geskeduleer vir volgende naweek deur die Turkse eerste minister na Denemarke uitgestel. Oostenryk en Switserland het ook Turkse saamtrekke gekanselleer weens die toenemende konflik.

Duitse kanselier Angela Merkel het belowe om binnelandse spanning op Duitse grondgebied oor die Turke se plan om massasaamtrekke te hou, te voorkom.

Die eienaar van ‘n plek in Swede waar ‘n senior amptenaar van Turkye se regerende party ‘n saamtrek wou hou Sondag het die ooreenkom gekanselleer, het Turkye se private Dogan nuusagentskap berig.

Moslemlande veroordeel Nederlandse rel met Turkye

Verskeie Moslemlande sowel as Frankryk, het die Nederlandse owerhede veroordeel omdat ‘n Turkse minister gedeporteer is.

Die luidrugtige diplomatieke geskil tussen Nederland en Turkye hierdie naweek het aansienlike onrus veroorsaak.

Verskeie Moslemlande sowel as Frankryk, het die Nederlandse owerhede veroordeel omdat die Turkse minister teruggestuur is Duitsland toe. Die Franse minister van buitelandse minister Jean Marc Ayrault het in Metz gesê die Turkse minister se byeenkoms “is ‘n kwessie van vryheid van assosiasie”.

Yousuf Al-Koda, hoof van die Islamitiese Wasat Party in Soedan, het gesê die skuif teen Turkse ministers is ‘n skending van hul menseregte wat die idee van demokrasie soos “bepleit deur Europa” weerspreek.

Algerië se wetgewer Muhammed al-Hadi Osmaniye het gesê so ‘n “rassistiese” en “uitdagende houding dien verregse groepe” in Europa. “Die Weste wil nie die ontluiking van demokrasie in Moslem gemeenskappe sien nie,” het hy bygevoeg.

Egipte, Irak, Mauritanië en Tunisië het gister ook hul stemme bygevoeg tot ‘n internasionale Islamitiese koor van veroordeling teen Nederland omdat Turkse ministers ‘n politieke saamtrek in Rotterdam gereël het wat hulle wou verhoed.

In Rotterdam is twaalf betogers in hegtenis geneem en nog sewe mense is beseer.

Die onrus kom in die nasleep van die gedwonge vertrek van die Turkse minister Fatma Betul Kaya Sayan. Sy moes uit haar diplomatieke voertuig klim toe ‘n wegsleepvoertuig haar motor opgehaak het – 30m van die Turkse konsulaat – om haar te verhoed om binne te gaan. Sy het histeries begin gil.

Kaya is per polisiebegeleiding en helikopter na die Duitse grens vergesel.

Volgens die Rotterdam Burgemeester Ahmed Aboutaleb, moes Kaya Nederland verlaat omdat die Turke gelieg het oor die bedoeling van haar besoek.

Op 16 April stem Turkye in ‘n referendum oor ‘n aantal veranderinge aan die Turkse grondwet waarin President Erdogan aansienlike bykomende magte kan kry. Sedert die somer van 2014, kan Turke wat in die buiteland woon in Turkse verkiesings stem.

Politici in Turkye, insluitend Kaya, probeer om Turkse burgers wat in Nederland woon te oorreed om te stem vir Erdogan se voorgestelde veranderings in die referendum.

“Dit beteken vir Erdogan dat rondom 5,5 tot 6 miljoen stemme uit die buiteland kan kom,” sê Armand Sag, ‘n Nederlandse ontleder. “Dit mag dalk net die deurslag vir Erdogan wees in die referendum, waar beide partye kop aan kop is.”

Erdogan het gister gesê dat Nederland optree soos ‘n “piesangrepubliek” en sanksies voorgestel.

“Het Europa iets gedoen? Nee, hoekom? Omdat hulle nie mekaar byt nie. Nederland tree soos ‘n piesangrepubliek op,” het hy in ‘n toespraak gesê in die provinsie Kocaeli, naby Istanbul, volgens Reuters.

Vroeër, het Erdogan die Nederlanders beskryf as “Nazi oorblyfsels”.

Nederland wil nie dat Turkse ministers hul politieke veldtogte in Nederland in die openbaar voer nie. Saterdag, het die Nederlandse regering die vlugpermit van die Turkse minister van buitelandse sake, Mevlüt Cavusoglu teruggetrek.

In Frankryk, het Cavusoglu Nederland beskryf as die “sentrum van fascisme” tydens ‘n toespraak.

Na Kaya se vertrek het onluste uitgebreek by die Turkse konsulaat, waar ‘n duisend Turke versamel het. Die Nederlandse regering het probeer om die onluste te onderspeel, maar berede polisiebeamptes moes die woedende skare terugdryf en waterkannone inspan. Traangas en rubberkoeëls is ook gebruik.

Syfers van die Nederlandse Sentrale Buro vir Statistiek (CBS) toon dat uitvoere uit Nederland na Turkye sowat 1 persent van die totale uitvoere van Nederlandse goedere behels.

Turkye het reeds aangekondig dat die Nederlandse ambassadeur vir die oomblik nie meer welkom sal wees nie.

Toeroperateurs TUI en ANVR-Reisbureaus het aan die Nederlandse koerant, De Telegraaf, gesê toeriste kanselleer hul reise na Turkye.