Boer vermoor op sy plaas gevind

‘n Boer is Vrydag dood op sy plaas, Bastersput in die Kenhardt-gebied van die Noord-Kaap aangetref.

‘n Polisiewoordvoerder, Hendrik Swart het gesê die liggaam van 62-jarige Loy Farmer is omstreeks 06:00 by sy huis gevind.

Sy kop en nek was vol bloed as gevolg van ‘n wond aan die agterkant van sy kop.

Swart het gesê dit is nie duidelik op hierdie stadium hoe die wond toegedien is nie.

Niemand is nog ivm die voorval in hegtenis geneem nie.

Hawens maak gereed vir hoë graaninvoervolumes

Transnet het sy infrastruktuur by vyf hawens aangepas om voorsiening te maak vir die vervoer van ingevoerde graan, het RSG berig.

Die maatskappy het ook sy graanhanteringsvermoë in Kaapstad, Port Elizabeth, Oos-Londen en Durban verbeter.

GraanSA het vroeër gesê sowat vier miljoen ton mielies sal ingevoer moet word om voorsiening te maak vir die tekort weens die voorslepende droogte.

Transnet se hoofbestuurder vir Landbou, Ulrico Davids sê hulle berei voor vir die invoer van ses miljoen ton.

Hy sê Transnet beraadslaag met handelaars, silo-eienaars en ander rolspelers om te verseker dat alles gereed is om die invoervolumes te hanteer.

ANC ruk op na Bloemfontein ‘teen rassisme’

Die Vrystaatse ANC sal Saterdag in Bloemfontein as gasheer vir die party se 8 Januarie-feesvieringe optree.

Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, en provinsiale voorsitter, Ace Magashule, sal die hoofsprekers op die party se verjaardagsaamtrek wees wat op die hernoemde Dr. Petrus Molemela-stadion gehou gaan word.

Provinsiale sekretaris, William Bulwane, sê hulle verwag dat duisende ANC-afgevaardigdes van oor die provinsie heen die stadion sal volpak. Bulwane sê Malusi Gigaba, Lindiwe Zulu en Naledi Pandor is van die nasionale ANC-leiers wat die vieringe gaan bywoon.

Hy sê die saamtrek sal deur ‘n optog teen rassisme, asook ter ondersteuning van president Jacob Zuma, voorafgegaan word. Die optog sal vroeër die dag van Hoffman-plein na die stadion gehou word.

“Ons sal met landbou-organisasies, kerkleiers en belanghebbendes van verskillende rassegroepe vergader om rassisme te bespreek. Suid-Afrikaners is nie rassiste nie. Daar is enkele individue wat rassiste is en ons moet hulle isoleer.”

Grondgrypwet goedgekeur

Die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke het Dinsdag die gevreesde Wetsontwerp op Onteiening goedgekeur.

Die owerhede sal voortaan eienaars en belanghebbendes skriftelik in kennis stel van die voorneme om te onteien en net ‘n uitgerekte, duur hofgeding sal die staat kan keer om grond te vat.

Met die voorbeeld van grondgryp in Zimbabwe, is dit ook nie seker of die Afrikahowe meer vertrou kan word om eiendomsreg te beskerm nie.

Die eienaar en belanghebbendes het die reg om binne 30 dae geskrewe voorleggings in te dien om beswaar aan te teken teen die onteiening maar as die eiser nie regstappe teen die owerheid instel nie, sal daar aanvaar word dat die aanbod aanvaar is.

Die wetsontwerp maak voorsiening dat die hof oor ‘n dispuut oor die onteiening asook die vergoeding wat die staat aanbied, kan beslis.

Die eienaar moet binne 20 dae nadat die kennisgewing ontvang is, aandui of die staat se aanbod vir vergoeding verwerp word. Dié tydperk sal met nog 20 dae deur die staat verleng word, as die eienaar die aanbod van die hand wys.

Alhoewel die kennisgewing die eienaar sal raadpleeg oor wat as billike vergoeding beskou sal word, is hulle steeds onder geen verpligting om markverwante pryse te betaal nie.

Bejaarde in Lady Grey doodgeslaan

‘n Klag van moord word ondersoek nadat die liggaam van ‘n bejaarde man Dinsdagmiddag in sy huis in Lady Grey ontdek is.

John Bradish (80) het twee dae lank nie sy verskyning in die openbaar gemaak nie, wat ‘n buurman en vriend se agterdog gewek het.

Die buurman het daarna die polisie in kennis gestel en hulle het op sy lyk in sy woning afgekom.

Die laaste keer dat hy lewend gesien is was toe hy by sy buurman gekuier het.

Bradish was jare lank ‘n inwoner van die dorp.

Kapt. Ursula Roelofse, polisiewoordvoerder, sê Bradish is vermoedelik met ‘n onbekende voorwerp aan die regterkant van sy kop geslaan.

Slegs Bradish se selfoon word vermis.

Stropers in Namibië voer skrikbewind

Die eienaar van Emanya Lodge tussen die Etosha Nasionale Park en Oshivelo, sê sy “wil weghardloop” uit moedeloosheid omdat stropers ’n skrikbewind voer en dit lyk of die polisie nie veel daaraan gaan doen nie.

Dertien van haar 18 swartwitpense van etlike miljoene Namibiese dollar is al deur die stropers doodgeskiet, terwyl sy in die afgelope agt maande ook 35 beeste verloor het, vertel me. Nelie Lewies, wat benewens die lodge ook ’n boerdery bedryf.

Sondagnag het ’n span wat vermoedelik Maandag ook vyf beeste geslag het op die gasteplaas Sachsenheim van haar bure, mnr. en me. Gerd en Maria Sachse, by die lodge ingebreek en die rekenaarbediener asook al die sekuriteitskameras gesteel.

“Ek het by my kamervenster uitgekyk en die vier mans gewaar. Toe ek vir hulle skree ‘haai, wat maak julle hier’, het hulle nie eens weggehardloop nie,” vertel Lewies.

Volgens Maria Sachse het haar man Maandag omstreeks twaalfuur op vier vermeende stropers in die veld afgekom nadat hulle vyf beeste geslag het.

“Die stropers het gelê en slaap en hy het stilletjies terugbeweeg en my gebel sodat ek die polisie kan ontbied.”

Sy sê die polisie van Oshivelo het eers vieruur die middag daar aangekom en die stropers het toe al spore gemaak.

“Een van die polisiemanne het een van die spore geëien as dieselfde spoor wat hulle gewaar het toe hulle vroeër die dag die inbraak by Emanya ondersoek het.

“Hy het vir ons gesê die mans is gewapen.”

Volgens haar het die polisie die spore gevolg en in ’n stadium drie mans met vleis by hulle gewaar, maar die mans het hulle glo ontglip.

Sachse vertel verder dat een van die plaaswerkers verlede jaar deur ’n vermeende stroper met ’n mes in die rug gesteek is. “Ons het die saak by die polisie aangegee, want die man het gedreig om ons dood te maak, maar daar het niks van die ondersoek gekom nie.”

Lewies sê hulle het verlede jaar een aand in die restaurant by die Emanya Lodge gesit toe stropers lostrek en van die swartwitpense doodskiet. “Die werkers was vreesbevange en het in die wynkelder gaan wegkruip.”
Ook dié ondersoek het op niks uitgeloop nie, sê sy.

“Ons voel die weermag moet ingestuur word en die plase skoonmaak. Ons kan dit nie meer hou nie. Ek voel ek wil weghardloop. Aan die een kant baklei ons teen die droogte, want ons het nog nie eens 100 mm vir die seisoen gehad het. En aan die ander kant ly ons onder die strooptogte,” sê ’n moedelose Lewies.

Dit het haar N$100 000 gekos om haar rekenaarbediener en sekuriteitskameras te vervang. “Ons besoekers is meestal oorsese toeriste. Ons het nou al die inligting verloor van besprekings wat reeds gedoen is. Ek moes dadelik weer hierdie toerusting aanskaf.”

Bron: Die Republikein

Miljoene in transitoroof gebuit

Die polisie in Noordwes soek steeds na ses gewapende rowers in verband met ‘n transito-rooftoog naby Setlagoli waarin miljoene rande Dinsdag uit ‘n geldwa gebuit is.

Polisiewoordvoerder, Paul Ramaloko, sê die transito-rowers het twee wagte van ‘n sekuriteitsmaatskappy vasgebind en brandstof oor hulle uitgegooi.

Hy sê die wagte, wat onderweg was in die rigting van Vryburg, het omstreeks 13:00 van die pad af getrek nadat hulle geld by ‘n myn by Setlagoli afgehaal het.

Hulle was besig om ‘n pap band van die geldwa om te ruil toe die booswigte toegeslaan het.

Ramaloko sê die wagte is vasgebind en gedreig dat hulle aan die brand gesteek gaan word as hulle nie hul samewerking gee nie. Die booswigte het op die vlug geslaan met meer as R5 miljoen, twee vuurwapens en selfone.

Ramaloko sê die sekuriteitswagte het geen ernstige beserings opgedoen nie. Ramaloko wil nie die sekuriteitsmaatskappy se naam in die media bekendmaak nie om veiligheidsredes.

Polisiebeampte wat verkragtingdossiere glo laat verdwyn, kry borg

‘n Bloemfonteinse polisiebeampte, wat na bewering dossiere uit die hof gesteel het, en ‘n plaaslike swart sakeman verskyn na verwagting vandag weer in die plaaslike landdroshof.

Patricia Pitt, van die Parkweg-polisiekantoor, is vroeër op borgtog van R3 000 vrygelaat terwyl Thulani Qhiti in aanhouding bly.

Pitt het glo dossiere by die Bloemfonteinse landdroshof gesteel. Qhiti word in een van die gesteelde dossiere weens beweerde verkragting ondersoek.

Albei staan tereg op aanklagte van diefstal en dwarsboming van die gereg.

Drie kom om in vliegongeluk

Drie mense het omgekom toe ‘n ligte vliegtuig Woensdagoggend in ‘n park in Wattville in Benoni neergestort het.

Die nooddienspersoneel van ER24 het die drie insittendes binne die verbrande wrak aangetref met hul aankoms op die gru-toneel.

Hulle is op die toneel dood verklaar.

Die vliegtuig het op sy dak gelê.

Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend.

Droogte knou rooivleisbedryf, verbruiker

Die prys van rooivleis gaan na verwagting styg weens die ergste droogte in meer as honderd jaar.

Die voorsitter van die Wes-Kaapse rooivleisprodusente-organisasie, John Durr sê kleinskaalse boere sukkel om voer vir hulle vee te produseer en tot by hulle te vervoer.

Die voortslepende droogte gaan ook ‘n verlammende uitwerking op die ekonomie hê vanweë werksverliese in die landboubedryf sê landbou-ekonome.

‘n Verslag rakende die impak van die droogte op die rooivleisbedryf is deur die Universiteit van die Vrystaat saamgestel.

Veeboere het luidens die verslag reeds alle reserwes gebruik om hul kuddes te probeer behou, en waarsku dat dit jare gaan neem om die nasionale kudde te herbou.

Voerkrale, wat meer as 80% van Suid-Afrika se rooivleis produseer, is ook besig om af te skaal weens hoë voer-insetkostes, gekoppel aan beperkte waterhulpbronne.

Verbruikers moet hulself aanstons staal vir ‘n verhoging van 25 persent in voedselpryse, veral wat koring, mielies en rooivleis betref.

Sowat vyf miljoen ton mielies sal vanjaar ingevoer moet word, wat sal beteken dat kospryse met tussen 20 en 30 persent kan styg.

‘n Tekort aan suiker word ook verwag, terwyl die droogte ten minste tot volgende jaar tot ‘n tekort aan lewende hawe sal lei.