Rivonia-kommunis kla dat ANC buite beheer is

Die veteraan kommunis, Dennis Goldberg het weereens sy oproep herhaal dat die leierskorps van die ANC verwyder moet word.

Goldberg het die oorhandiging van die digitale oudio-leêrs van die Rivoniaverhoor in Pretoria bygewoon.

Dié destydse verhoor is gekenmerk deur wit kommuniste se komplot om Suid-Afrika deur ‘n bloedige rewolusie omver te werp wat dit sou laat lyk na ‘n swart opstand.

Goldberg sê die ANC ervaar tans ernstige leierskapprobleme en dat dit moeilik sal wees om die party te beheer met die huidige leiers in plek.

Hy het ‘n beroep op president Jacob Zuma gedoen om wat hy noem die verwoestende korrupsie en kaderskap in die party te beëindig.

Die Demokratiese Alliansie en die Ekonomiese Vryheidsvegters het uit die vraag-en-antwoordsessie van President Jacob Zuma in die Nasionale Vergadering gestap.

Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, het die DA se leier in die parlement, Mmusi Maimane, gevra om die vergadering te verlaat nadat hy nie wou stilbly terwyl Zuma besig was om ‘n vraag te beantwoord nie.

Maimane het beswaar aangeteken dat Zuma nie die vrae rakende die voormalige Minister van Finansies, Nhlanhla Nene, en die val van die rand ná Nene se verwydering wou antwoord nie.

Mbete het Maimane herhaaldelik gevra om Zuma kans te gee, maar Maimane het aangehou met sy beswaar, waarna Mbete gevra het dat hy die vergadering moet verlaat.

Die afdanking van Nene as minister van finansies in Desember en die voortslepende vendetta teen die minister van finansies, Pravin Gordhan het vrese aangewakker dat ‘n kredietafgradering op hande is.

Bewerings van korrupsie en onbehoorlike invloed deur die Gupta-familie by politieke aanstellings, wil nie gaan lê nie.

Nene wou nie kommentaar lewer op bewerings dat die Gupta-familie betrokke was by sy afdanking nie.

Hy het gereageer op die adjunk-minister van finansies, Mcebisi Jonas se bewerings dat hy Nene se pos aangebied is op voorwaarde dat hy glo sekere belange bevorder.

Jonas het skokgolwe deur die land gestuur met die bewerings dat dit rede kon wees hoekom Nene in Desember afgedank is.

Die minister van handel en nywerheid, Rob Davies het intussen berigte afgemaak dat ‘n kabinetskommeling op hande is om hom uit sy pos te verwyder.

Davies sê ministers word deur die president aangestel en slegs hy kan ministers aanstel of afdank.

Die SAKP het vroeër beweer dat Davies deur ‘n ANC LP vervang gaan word wat onlangs as parlementslid ingesweer is.

Die SAKP beweer dat so ‘n kabinetskommeling verband hou met die Gupta-familie se belange om ‘n aandeel in ArcelorMittal te bekom.

Dit volg ook nadat die adjunkminister van finansies Mcebisi Jonas onthul het dat die Guptas hom die pos as minister van finansies aangebied het. Davies het Jonas as ‘n man van eerlikheid en integriteit bestempel.

Suid-Afrikaanse banke het ‘n beroep op die regering gedoen om buitestaanders te verhinder om by die Nasionale Tesourie in te meng.

Die Suid-Afrikaanse Bankvereniging het gereageer op bewerings van die Gupta-familie se onbehoorlike beïnvloed in die aanstelling van ministers.

Die hoof van die vereniging, Cas Coovadia sê finansiële markte dra die las na bewerings dat die Guptas verantwoordelik was vir die afanking van die voormalige minister van finansies, Nhlanhla Nene in Desember.

Speaker se man verskyn weer oor moorde

Die eggenoot van Nokhaya Mjila, die ontslape swart speaker van die Mgcawu-distriksmunisipaliteit in die Noord-Kaap, verskyn na verwagting vandag weer in die Kathu-landdroshof.

Thamsanqua Mjila staar vier aanklagte van moord in die gesig, asook klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en brandstigting.

Nokhaya is op 12 Junie verlede jaar in ‘n hospitaal in Bloemfontein oorlede, nadat sy twee weke vroeër ernstige brandwonde opgedoen het.

Sy is ernstig beseer toe haar man na bewering petrol oor haar uitgegooi en haar aan die brand gesteek het in ‘n familielid se huis op Olifantshoek. Mjila het daar aangesterk nadat sy uit die hospitaal ontslaan is.

Haar twee niggies, Langa Dilodile en Masila Moyeng en haar nege maande oue kleindogter, Khanyi, wat ook in die huis was, het ook aan hul brandwonde beswyk.

Gupta-sirkus laat skaliegaswalms uit parlement opstyg

Lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en die drieparty-alliansie het hulle steun uitgespreek teenoor die adjunkminister van Finansies, Mcebisi Jonas.

Dit volg na Jonas se verklaring Woensdag wat bevestig dat die Gupta-familie aan hom die pos van minister van Finansies aangebied het, het RSG berig.

Die ANC-parlementslid, Jackson Mthembu het op Twitter gesê dat die ANC iets moet doen omtrent wat hy die arrogansie van die Gupta-familie noem.

Die minister van Toerisme, Derek Hanekom het ook op Twitter gesê dat Jonas ‘n persoon van integriteit is, en dat daar geen rede is om sy weergawe van gebeure te bevraagteken nie.

Die SAKP sê dat Jonas die waardes van rewolusionêre moraliteit bevestig, en die party se beroep vir ‘n regterlike kommissie van ondersoek na bewerings van die Guptas se invloed regverdig.

Jonas, ‘n vurige voorstander van hidrobreking in die Karoo, was vroeër LUR in die Oos-Kaap vir Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme.

Hy verkoop die skaliegasprojek as “hernubare energie” wat dit beslis nie is nie, aangesien hernubare energie nie omgewingsbesoedeling behels nie.

“Skaliegasontginning word beskou as ‘n oorgangsenergiebron, terwyl die hernubare sektor nog leer, sal innovasie en kostedoeltreffendheid toeneem, en skaliegas sal ons speen van koolstofdraende steenkool,” het Jonas in 2014 verklaar.

Intussen sal President Jacob Zuma vandag ‘n parlementêre vraag-en-antwoord-sessie moet trotseer wat beloof om vurig te wees.

Jonas het die opposisie heelwat skietgoed gegee met sy verklaring oor die Gupta-familie.

Die leier van Cope, Mosiuoa Lekota het reeds gesê dat hulle hul tot die polisie sal wend, aangesien President Zuma volgens die party nou te ver gegaan het.

Ander opposisiepartye het aangedui dat ‘n saak van korrupsie geopen sal word, terwyl ‘n geregtelike kommissie aangevra is om ondersoek in te stel.

Die EFF sê intussen hulle sal nie aan die parlementêre sessie deelneem nie, omdat hulle Zuma nie as die president erken nie.

Die party beweer ook dat Zuma die parlement in dié sessies mislei.

Plakkeroproer in Johannesburg steeds gespanne

Die rewolusionêre teoloog Beyers Naudé, se nalatenskap is lewendig noord van Johannesburg waar swart oproeriges Woensdag op ‘n plundertog gegaan het.

Die situasie is steeds gespanne in Zandspruit, nadat plakkers gewelddadig geraak het oënskynlik oor Eskom se verwydering van onwettige elektrisiteitkabels en “gebrekkige dienslewering”.

Oproeriges het egter op ‘n plundertog gegaan by sake-ondernemings in die omgewing wat nie verband hou met Eskom òf dienste nie.

Dele van Beyers Naude-rylaan en Peterweg was Donderdag steeds gesluit.

Verskeie winkels is leeggedra en gevandaliseer, waaronder ook ‘n vulstatsie.

Paaie in die gebied is steeds met vullis en gebrande bande besaai. Die gietende reën het die swart rookkolomme van die brandende bande effens geblus.

Klein groepe oproeriges het reeds begin bymekaarkom om verder amok te maak, maar ‘n groot aantal polisiebeamptes is ontplooi.

Die Johannesburgse metropolisie het motoriste aangeraai om die N14 en Hendrik Potgieter as alternatiewe roetes te gebruik.

ANC wil slegs swart boere bystaan met droogtehulp

Die ANC-regime stel slegs daarin belang om swart boere by te staan met droogtehulp.

Daar is volgens die regering ‘n “groot behoefte aan die opgradering van voerkrale vir begunstigdes van grondhervorming”. Dit beteken sukkelende swart kleinboere.

Dit is wat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming geïdentifiseer het tydens ‘n onlangse droogte-opname op 1049 plase.

Die departement sê hulle het voerkrale in Noordwes, KwaZulu-Natal en Mpumalanga geïdentifiseer wat tans herstel en opgegradeer word.

Daar word ook beoog om die voer wat verkry word deur brandbane in gebiede waar nog weiding beskikbaar is, aan swart boere uit te deel.

Voerkrale het ‘n baie lae winsmarge en moet gevolglik op ‘n hoë omset staatmaak om te kan bly funksioneer. Daarbenewens het sulke ondenemings besonder baie bedryfskapitaal nodig.

Dit is gevolglik een van die boerdery-opsies waar produksiebestuur, kosteberekenings en finansiële bestuur uitstekend moet wees.

Om dit te ondervang het meeste van die groot voerkrale ook hulle eie slagpale en slaghuise om meer waarde toe te kan voeg.

ANC-appèl teen bepalings van Roomse Statuut misluk

Die ANC is oor die vingers getik nadat die Appèlhof teen hulle beslis het omdat hulle Soedan se president Omar al Basjir laat gaan het.

Die Suid-Afrikaanse appèlhof in Bloemfontein het dié week beslis dat die regering se oortreding van ’n plaaslike hofbevel, dat Al-Basjir die land nie mag verlaat nie, onwettig was.

Suid-Afrika is ‘n ondertekenaar van die Internasionale Strafhof (IS) se Roomse Statuut, waarin misdade wat onder die jurisdiksie van die hof val gelys word asook die prosedures en die meganismes vir lande om saam te werk met die hof.

Die IS in Den Haag het voorheen lasbriewe vir die Soedanees se inhegtenisneming op grond van misdade teen die mensdom uitgereik.

Die volbank van vyf Suid-Afrikaanse appèlregters het beslis dat die regering se besluit strydig was met Suid-Afrika se internasionale verpligting en daarom onwettig was.

Die hof het beslis dat die Suid-Afrikaanse regering onder ‘n verpligting was om gehoor aan die lasbrief te gee, maar die ANC-regime het op sy beurt in hofstukke aangevoer dat dit “onwettig” is om ’n dienende president in hegtenis te neem.

Al-Basjir het in Junie verlede jaar die hasepad gekies nadat die hooggeregshof in Pretoria gelas het hy mag nie die land verlaat nie.

Al-Basjir was in Suid-Afrika vir ’n konferensie van die Afrika-Unie.

Die Appèlhofbesluit is mosterd na die maal, aangesien Soedan se leier oral kuier en hom nie steur aan die Strafhof se lasbriewe nie. Hy was onlangs in Egipte en kuier in China.

Nog Gupta-tentakels ontbloot

Etiese kwessies rakende die Guptas se tentakels wil maar net nie wyk nie. Dit wil al hoe meer voorkom asof Suid-Afrika deur ‘n buitelandse groep Indiërs oorgeneem is.

Die brandarm familie van Atul Gupta wat in 1993 hier aangeland het uit Uttar Pradesh, Indië, ‘n jaar voor die verkiesing van Nelson Mandela, is vandag miljardêrs.

Hulle het uraan-, goud- en steenkoolmyne aangekoop, ‘n luukse wildsplaas, ‘n ingenieursmaatskappy, ‘n koerant, ‘n rekenaarbedryf, en ‘n 24-uur nuus TV-stasie gebou met belastingbetalers se geld.

Die magtige Guptas besluit klaarblyklik selfs oor die aanstellings in die parlement.

In die jongste voorval moes Jacob Zuma reageer op die nuwe herrie oor die pasryk Indiese immigrante wat ontketen is deur ‘n sosiale mediagesprek.

Die voormalige parlementslid, Vytjie Mentor is glo ook deur die Indiërs genader omdat hulle haar wou “koop”.

Mentor het in ‘n inskrywing op Facebook gesê die Gupta-familie haar die pos van minister van openbare ondernemings aangebied. Die president was glo in ‘n ander vertrek.

Sy beweer dat die Guptas het gesê solank sy haar steun aan een van hul maatskappye toesê, is die werk hare.

Zuma sê in ‘n kort verklaring hy kan glad nie onthou wie Mentor is nie en kan daarom nie enige kommentaar lewer op bewerings oor haar beroepslewe nie.

Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee sal glo die naweek die beweerde invloed van die Gupta-familie op aanstellings in kabinetsposte bespreek.

Die ANC en die adjunk sekretaris-generaal van die party, Jessie Duarte het intussen ‘n klag by die pers Ombudsman teen ‘n Sondagblad gelê.

Die Sunday Times het die afgelope naweek berig dat Duarte die adjunk-minister van finansies, Mcebisi Jonas die ministerspos aangebied het.

Die koerant het ook berig dat Jonas twee weke voor Nhlanhla Nene afgedank is met die Gupta familie en president Jacob Zuma se seun, Duduzane vergader het en hom die pos onder sekere voorwaardes aangebied het.

Die ANC se woordvoerder, Zizi Kodwa sê hulle eis dat die koerant verskoning vra omdat Duarte onregverdiglik by die berig betrek is.

Kodwa het die berig as skinderpraatjies beskryf.

Video: Johannesburgse Metropolisie skop, slaan Afrikanermotoris

Die Johannesburgse Metropolisie het onlangs ‘n Afrikanermotoris geskop en geslaan omdat hy nie ‘n nommerplaat gehad het nie: dít terwyl hy ‘n nuwe nommerplaat in sy motor had omdat die vorige gesteel is. In ‘n video wat viraal op sosiale media versprei, word die laaste deel van die motoris – wat met ‘n duidelike Afrikaanse aksent Engels praat – getoon waar hy met die polisie probeer redeneer nadat hulle hom aangerand het.

‘n Vroulike metropolisielid probeer die motoris se vrou keer om die gebeure op video via haar selfoon vas te lê, maar sy staan op haar reg om die gebeure af te neem. Hier is die kort video, wat egter eers aan die einde van die aanranding begin.

SABRIC waarsku teen ATM-bedrog

Die Suid-Afrikaanse Bankrisiko Inligtingsentrum (SABRIC) het aangekondig dat terwyl kaartbedrog in 2015 met 28% gedaal het, het die bankbedryf steeds ‘n verlies van R252.2-miljoen gely.

Versekeringsmaatskappye waarsku verbruikers om op hul hoede te wees vir kaartleestoestelle en mikrokamera’s wat deur boewe ingespan word.

Waaksame verbruikers wat ander te maklik vertrou, lei dikwels tot booswigte wat voordeel geniet.

SABRIC se wenke lui as volg:

• Hou ten alle tye ‘n ogie op jou kaart.
• Moet nooit vir iemand sê wat jou PIN is nie.
• Moenie jou kaart en jou PIN bymekaar bêre nie.
• Vermy swak-verligte OTMs.
• Sleutel slegs jou PIN in wanneer die masjien dit versoek.
• Maak seker dat niemand jou dophou terwyl jy jou PIN insleutel nie.
• Staan naby aan die OTM en maak seker dat omstanders nie jou hand kan sien terwyl jy die PIN insleutel nie.
• Maak seker dat jy jou hand oor die kaartgleuf hou om te verseker dat niemand jou kaart kan neem nie.
• Verlaat die OTM dadelik indien jy onveilig voel.
• Moet nooit hulp aanvaar nie – nie eers van ‘n sekuriteitswag nie.
• Moenie toelaat dat iemand jou aandag aftrek terwyl jy ‘n transaksie by ‘n OTM doen nie.
• Maak seker dat die kaart wat jy gebruik jou eie is, beide voor en nadat jy ‘n transaksie afgehandel het.
• Moet nooit jou geld by ‘n OTM tel nie.
• Kanselleer jou kaart onmiddellik wanneer dit verlore, gesteel, beskadig of deur ‘n masjien teruggehou word.
• As een of twee OTMs in ‘n bepaalde area nie werk nie, is dit beter om nie na die naaste OTM in dieselfde area te gaan nie. OTMs word gereeld gesaboteer om slagoffers na ‘n bepaalde OTM te lei. Moenie toelaat dat iemand anders die oproep oor kaartprobleme namens jou maak nie.

ANC ruk op na Grondwethof teen Walus-vrylating

Die ANC aan die Oosrand sal Maandag in groot getalle opruk na die Grondwethof teen Janusz Walus se vrylating op parool.

Hulle, sowel as die SAKP, ANC en EFF is heftig gekant teen die beslissing om Walus vry te laat. Die optog word deur die ANC se Ekurhuleni-streek gereël.

Hy sal binnekort vrygelaat word nadat sy appèl teen die weiering van sy parool in die Hooggeregshof in Pretoria geslaag het.

Walus het 23 jaar van sy lewenslange vonnis vir die moord op die voormalige SAKP-leier, Chris Hani, in 1993 uitgedien.

Die voorsitter van die ANC in Ekurhuleni, Mzwandile Masina, sê hulle wil die kwessie van “volledige openbaarmaking van misdade” met die hof opneem.

Hulle eis dat alle ander politieke gevangenes vrygelaat moet word as ‘n gebaar aan Hani.

Die ANC se opmars word aangemoedig en ondersteun deur figure soos ene Ray Hartley, redakteur van die RDM.