Vyf mense onder wie ‘n senior intelligensie-beampte wat moontlike bande met die Tsjeggiese voortvlugtende Radovan Krejcir het, verskyn vandag in die Alexandra-landdroshof, noord van Johannesburg.
Hulle staan tereg op verskeie aanklagte wat poging tot moord en regsverydeling insluit, het RSG berig.
Die intelligensie-beampte sersant Nandi Nkosi is Donderdag in hegtenis geneem omdat sy na bewering GPS-koördinate verskaf het om die spesiale ondersoekbeampte, Paul O’Sullivan en nog ‘n polisieman, kolonel Nkosinathi Ximba op te spoor.
Volgens O’Sullivan het Krejcir hom sedert 2010 minstens vyf keer met die dood gedreig.
O’Sullivan is sedert Krejcir se onwettige aankoms in die land in 2007 op sy spoor.
Die Bondgenootskap teen Stedelike Tol, Outa het ‘n beroep op die Minister van Vervoer, Dipuo Peters, gedoen om die e-tolstelsel op te skort.
Outa sê die voortdurende verset deur die publiek om op te dok vir ‘n stelsel wat nie na behore werk nie, maak dit onmoontlik om voort te gaan.
Outa se voorsitter, Wayne Duvenage, sê hy is nie verbaas dat die hoof van die elektroniese tolmaatskappy, Ben Theron, intussen bedank het nie.
Elektroniese Tolinvordering het (ETC) Vrydag bevestig dat Theron bedank het. Hy sal deur Mark Ridgeway opgevolg word.
“ETC se uitvoerende bedryfshoof Ben Theron het bedank om persoonlike redes,” het Anne Mardon hul woordvoerder in ‘n verklaring gesê.
Duvenhage het gesê die kompleksiteit van die stelsel sal selfs vir die mees ervare personeel ‘n uitdaging wees.
Die woordvoerder van die presidensie, Mac Maharaj, het verlede week in ‘n verklaring uitgereik gesê nuwe paaie te bou en opgradering van bestaande paaie, is noodsaaklik.
Duvenage het Maharaj se stelling oor die opgradering van alternatiewe roetes verwerp en sê dit is in elk geval ‘n noodsaaklike vereiste.
Regeringsamptenare van Madibengmunisipaliteit, in Noordwes sal binnekort verwittig word van hul lot na ‘n hoë-vlak ANC-vergadering Maandag.
Dit is deur die ANC se sekretaris-generaal Gwede Mantashe aangekondig ná ‘n vergadering met die munisipale amptenare in Brits.
Mantashe het gesê daar is ‘n probleem met leierskap in die munisipaliteit en bygevoeg daar moet behoorlike leierskap wees.
“Een van die gevolgtrekkings waartoe ons gekom het is dat ons ‘n leierskapprobleem in Madibeng het en dit is wat ons moet aanspreek. Ons vergader met die amptenare van die ANC in besonder om aanbevelings te maak en die kwessie van leierskap aan te spreek.”
“Die verslag praat oor ‘n verskeidenheid van kwessies soos hoe die kantoor van die speaker moet werk, hoe die munisipale bestuurder benader moet word en basies na al die aanbevelings waarna gekyk moet word en geïmplementeer moet word,” het Mantashe gesê.
Die Inkatha Vryheidsparty het ‘n beroep op die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela gedoen om haar verslag oor die veiligheid-opgraderings by president Jacom Zuma se Nkandla-woning onmidellik vry te stel.
Die voorsitter van die party, Blessed Gwala het op ‘n massavergadering, nie ver van die huis af nie, gesê belastingbetalers is daarop geregtig om te weet hoe hulle geld aangewend word.
Die Nkandla-munisipaliteit is onder IVP-beheer.
Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe, het gister gesê die verslag moet onmiddellik vrygestel word en hy hoop dat dit nie op 9 Februarie sal gebeur en president Jacob Zuma se staatsrede sal oorskadu nie.
Madonsela het vroeër gesê van die partye wat in die verslag genoem word, het vir uitstel geva. Sy sal dit volgende maand vrystel. – RSG
Die premier van Noordwes, Thandi Modise, het die watertekorte wat deur swak munisipale bestuur veroorsaak word, aan “sabotasie deur wit rassiste” toegeskryf.
‘n Boer wat na bewering ‘n waterklep laat sluit het, is te blameer vir die probleme met die watertoevoer in Swartruggens en die Boroleiodorp, het Modise Sondag gesê.
“Daar word beweer dat die boer, vergesel deur ‘n polisiebeampte, opdrag gegee het om nie water te pomp wat sy diere stroomaf kan bereik nie.”
Alhoewel sy steeds wag op ‘n skriftelike verslag oor die voorval, het sy nie op haar laat wag om die rassekaart te speel nie.
“Ons doen ‘n beroep op ons gemeenskappe om nie uitgelok te word deur woede na hierdie vermeende daad van sabotasie en rassisme wat deeglik ondersoek moet word nie.”
Vroeër het die premier se woordvoerder , Lesiba Kgwele gesê dat die watertoevoer in Mothotlung naby Brits herstel is nadat oproer tot die dood van drie mense gelei het.
Twee betogers is doodgeskiet – na bewering deur die polisie – en nog ‘n man is dood nadat hy na bewering uit ‘n bewegende Nyala-polisievoertuig gespring het in ‘n poging om te ontsnap.
Die familielede van laasgenoemde sê hy is uit die bewegende voertuig gestamp nadat die polisie hom aangerand het.
Intussen het Agang SA verklaar dat die Jericho-gemeenskap in die Madibengmunisipaliteit ook sonder water is sedert verlede jaar.
Die munispaliteit het volgens berigte sowat 35 persent van sy begroting nie bestee nie.
Die party se koördineerder , Victor Molefe , het gesê inwoners is afhanklik van die grootmaatwaterstelsel vir watervoorsiening nadat hulle die afgelope ses maande reeds sonder lopende water is.
Kgwele het gesê Swartruggens , Borolelo , Derby, Koster, Reagile en Mazista sal voordeel trek uit die implementering van die beplande watervoorsieningsprojekte.
Molefe het gesê inwoners het ‘n vergadering met premier Thandi Modise het reeds in Junie plaasgevind, maar daar is nog geen water in Jericho nie.
Modise het ‘n memorandum van verstandhouding onderteken met die minister van waterwese en alle munisipaliteite waar water skaars is.
Die memorandum sal glo verseker dat water verskaf word.
Jericho is sowat 40 kilometer van Mothutlung.
In Pienaar, oos van Mbombela in Mpumalanga, het inwoners die hoofpad na Nelspruit met klippe en bome versper weens ‘n watertekort.
Hulle beweer dat hulle sedert die begin van die jaar sonder water is.
Inwoners eis dat die Mbombela-munisipaliteit ‘n permanente oplossing vir die probleem vind.
Die Minister van Waterwese, Edna Molewa het gelas dat drie waterpompe by Brits, wat na bewering gesaboteer is, onmiddellik herstel moet word.
Die pompe het glo onklaar geraak weens ‘n gebrek aan instandhouding, sê tegnici wat met die waterwerke gemoeid is.
Minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi sê ‘n beplande veldtog deur multinasionale farmaseutiese maatskappye teen die voorgestelde Suid-Afrikaanse patentwette is “volksmoord”.
” Hierdie dokument kan baie Suid-Afrikaners ter dood veroordeel ,” het hy gesê. “Dit is geen oordrywing. Dit is ‘n plan vir volksmoord.”
Die Mail & Guardian het Vrydag berig dat die dokument glo opgestel is deur ‘n drukgroep genaamd Public Affairs Engagement ( PAE ) namens ‘n aantal multinasionale farmaseutiese maatskappye wat in Suid-Afrika sake doen.
Die multinasionale maatskappye word deur die Innovative Pharmaceutical Association of SA (Ipsa) verteenwoordig.
Volgens die koerant is die gedeelte van die konsepbeleid rakende gesondheid gemik om die beskerming vir dwelmpatente af te water.
Dit kan pryse vir ‘n verskeidenheid van medisynes, insluitend anti-retrovirale middels en tuberkulose-behandeling raak.
Die Mail & Guardian berig dat PAE poog om die openbare diskoers rondom die beleid te rig deur middel van ‘n massiewe openbare betrekkinge oefening van buite die land .
Die PAE wil Suid-Afrika se beleggingsmoontlikhede daardeur saboteer en ‘n negatiewe ekonomiese en maatskaplike beeld van die land probeer vestig.
Ipsa het glo aan die koerant gesê hulle wil “oop debat” oor die voorgestelde wetgewing aanmoedig.
‘n Woordvoerder van die Johannesburgse Metropolisie, Wayne Minnaar het motoriste afgeraai om Hoofrifweg en Corlettweg in Roodepoort te gebruik.
Protesoptrede deur die inwoners van die Princess-woonbuurt kan die roete onveilig maak, het hy gesê. Oproermakers bestook verbygaande voertuie met klippe.
Die betogers eis beter dienslewering en eis dat die regering vir hulle HOP-huise bou.
Hulle is ontevrede oor ‘n gemeenskaplike kraan wat deur talle gedeel moet word en geen behoorlike fasiliteite vir sanitasie nie.
Motoriste word aangeraai om Ontdekkersweg as ‘n alternatiewe roete te gebruik.
‘n Verslag in ‘n Britse mediese joernaal berig dat Suid-Afrika pasiënte met ‘n hoogs dwelm-weerstandige vorm van tuberkulose in die algemene bevolking loslaat.
Die studie, wat Vrydag in The Lancet verskyn het, het 107 mense met die dwelm-weerstandige TB in drie Suid-Afrikaanse provinsies tussen 2008 en 2012 opgespoor, berig Voice of America.
Die verslag het gesê 78 pasiënte in die studie is oorlede ten spyte daarvan dat hulle met tussen ses tot 10 verskillende middels behandel is.
Meer as 40 mense met die dodelike stam is egter uit die hospitaal ontslaan sonder verdere monitering.
TB is ‘n bakteriële infeksie wat gewoonlik die longe aantas en word dikwels versprei deur hoes en nies. Die feitlik onbehandelbare tuberkulose-infeksie staan bekend as XDR-TB.
Keertan Dheda van die Universiteit van Kaapstad , wat die studie gelei het, het gesê die pasiënte wat ontslaan word hou ‘n groot gevaar vir ander mense in omdat hulle kan oorleef vir maande of selfs jare terwyl hulle XDR-TB versprei.