‘n Taxibestuurder is in hegtenis geneem nadat ‘n man tydens ‘n woordewisseling in Johannesburg-Sentraal doodgeskiet is, het die polisie in Gauteng Woensdag gesê.
Kategorie: Suider-Afrika
Suid-Afrikaanse nuus, d.w.s. sowel nuus uit Suid-Afrika én Suider-Afrika.
Walter Sisulu-universiteit sluit weens onrus
Die besluit deur die Walter Sisulu-universiteit om sy deure onbepaald te sluit, is deur talle organisasies veroordeel.
Die administrateur, Lourens van Staden het studente aangeraai om die universiteit in Mthatha in die Oos-Kaap dadelik te verlaat. Dit sluit alle koshuise en ander akkomodasie in.
‘n Woordvoerder vir die universiteit sê die besluit is geneem omdat studente en die omliggende gemeenskap se veiligheid weens die voortslepende onrus nie deur die instelling gewaarborg kan word nie.
Daar is die afgelope vyf weke nie klas gegee nie weens ‘n staking deur die universiteit se personeel. Hulle is ontevrede oor die voorgestelde salarisverhoging van 4,24%.
Die universiteit is sedert 2011 onder administrasie. Die polisie het gistermiddag rubberkoeëls afgevuur op studente wat betoog het teen die sluiting.
Die PAC sê dit is belaglik dat die Minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande nie ingegryp het nie. – Sapa
Vermeende dwelmvervaardiger vas
‘n Nigeriese man is Dinsdag op ’n aanklag van die vervaardiging van dwelms in Germiston in hegtenis geneem, het die Ekurhuleni-metropolisie gesê.
Kaap van storms
Twee kouefronte beweeg in die rigting van die Kaap en sal na verwagting swaar reën, koue, oorstromings, sneeu, stormsterk winde en onstuimige seetoestande veroorsaak.
‘n Weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het gesê die eerste front sou die Moederstad Dinsdag getref het.
Die tweede front sal Woensdagmiddag sy opwagting maak en die provinsie tot Saterdag teister. Reënweerstoestande sal waarskynlik tot Dinsdag voortduur.
Stormsterk winde van tussen 65 km/h en 74 km/h sal vandag van Kaappunt tot Kaap Agulhas woed.
Petroljoggies staak van Maandag
Tot 72 000 petroljoggies en ander werknemers by vulstasies en motorhandelaars landwyd sal van Maandag (2 September) af staak nadat die onderskeie partye in die loononderhandelinge nie ooreen kon kom nie.
Die werknemers is almal lede van die metaalwerkersvakbond, Numsa. Volgens ’n Numsa-verklaring eis hulle ’n “menswaardige loon en verbeterde diensvoorwaardes”.
Die NUM het intussen aangedui dat hulle ‘n salarisooreenkoms met goudmynprodusente wil aangaan voor Vrydag se spertyd om ‘n staking in die bedryf te voorkom.
Die NUM se hoofsekretaris, Frans Baleni, sê ‘n staking is die laaste uitweg. Die NUM het die afgelope Saterdag aan produsente sewe dae tyd gegee om te voldoen aan sy eis vir ‘n salarisverhoging voordat hulle tot ‘n staling oorgaan.
Gesprekke tussen die SATAWU-vakbond en die SAL om ‘n einde te maak aan die lugdiens-staking van twee dae, is in Johannesburg hervat.
Die hoofsekretaris van SATAWU, Zenzo Mahlangu, sê die lugdiens wil nie sy aanbod van ‘n verhoging van 6,5% hersien nie. Hy sê SATAWU is ook nie bereid om in te stem tot enige bedrag minder as die aanvanklike eis van 12% nie.
Hy sê nog ‘n vakbond is gereed om môre tot ‘n staking oor te gaan.
Eienaar van Malema-woning ook deur SAID ondersoek
Julius Malema se halfgeboude huis in Sandown, Johannesburg, se nuwe eienaar word ook weens belastingbedrog ondersoek. Die man, ‘n vriend van Malema, het die huis op ‘n veiling gekoop.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het Dinsdag bevestig dat die bedrogsaak by die SAID aangemeld is.
“Die beweringe sal deur die nodige kanale binne die Inkomstediens ondersoek word om te bepaal of die saak enige meriete het,” het Adrian Lackay, woordvoerder, gesê.
Lackay het gesê die saak is op 22 Augustus onder die SAID se aandag gebring.
Die Sowetan het Dinsdag berig dat die koper, Norman Tloubatla, na bewering fakture vervals het om belasting te ontduik.
Volgens die koerant het Tloubatla se twee maatskappye, Lethlabile Civils en Magnified Designs (wat padtekens vervaardig), ’n aanmaning van Power Forklift Hire and Sales se prokureurs ontvang vir skuld van R40 9552,82.
Tloubatla het Malema se huis in Mei 2013 vir R5,9 miljoen gekoop.
Grondwethof gooi DA se wantroue mosie uit
Die Grondwethof het ‘n appèl deur die Demokratiese Alliansie, oor sy debat oor ‘n mosie van wantroue in president Jacob Zuma, met koste van die hand gewys.
Die DA het die mosie ingedien slegs enkele weke voor die ANC se verkiesingskonferensie in Desember verlede jaar.
Die mosie kon egter nie gedebatteer word nie, omdat die forum vir hoofswepe en die komitee belas met die parlement se program nie ‘n ooreenkoms kon bereik oor wanneer dit moet plaasvind nie.
Die adjunk-hoofregter, Dikgang Moseneke, sê die meerderheid regters het bevind dat die mosie op sigself onder verdenking is. – RSG
Vier renosterstropers doodgeskiet
Vier vermeende renosterstropers is die afgelope naweek in die Krugerwildtuin doodgeskiet, het ’n woordvoerder vir Sanparke, Ike Phaahla, Maandag gesê.
Veldwagters het Saterdag op ses vermeende stropers in die wildtuin afgekom en ’n skietgeveg het uitgebreek.
“Drie verdagtes is doodgeskiet en die ander drie is in hegtenis geneem,” het Phaahla gesê.
’n Vierde vermeende renosterstroper is Saterdag naby die wildtuin se Krokodilbrug-ingang doodgeskiet.
Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie in Limpopo, het gesê vier stropers is Vrydag in Hoedspruit vasgetrek. – Sapa
MK-veterane belowe nog ‘n Marikana na plundertog
Sowat 80 betogers is in hegtenis geneem Maandag vir hul betrokkenheid in ‘n gewelddadige protes buite die Germiston se Burgersentrum waar Ekurhuleni se burgemeester Mondli Gungubele geweier het om hulle toe te spreek.
Die protesgroep, wat bestaan uit Umkhonto we Sizwe Militêre Veterane en die Azanian People‘s Organisation, het die gebou binnegedring, en deure, vensters en toerusting beskadig.
Met waarskuwings van tonele soortgelyk aan die Marikana–tragedie, het die groep gesê hulle sal nie terugsit en wag vir die regering om sy eise aan te spreek nie.
Dit sluit beloftes in dat die ANC glo 11 jaar gelederegeringsubsidies vir hul bydrae tot die stryd belowe het asook om opgeneem te word in die polisie en weermag.
Die betogers het gesê hulle het briewe van die regering om hul eise te bewys.
Die oorblywende 70 betogers wat nog nie in hegtenis geneem is nie, het gesê hulle nie sal ophou nie totdat hulle ook in hegtenis geneem word.
Die groep het bygevoeg dat hulle nie sal stem of veg vir die ANC voor die 2014 algemene verkiesing nie.
Matriek: Regering doen weg met bevoegdheidstoetse vir merkers

Die regering het weggedoen met bevoegdheidstoetse vir onderwysers wat matriekvraestelle wil merk.
Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga het aan die parlement gesê die toetse sal slegs weer ingestel word ná samesprekings met die onderwysersvakbond, SADOU.
Die vakbond het oor die toetse gekla nadat talle van sy lede in vorige jare nie kon slaag nie.
Motshekga sê provinsiale onderwysdepartemente is gevra om eers met rolspelers te beraadslaag voordat enige bevoegdheidstoets gedoen word.
Die opdrag van die presidensiële vergoedingskomitee is intussen voltooi en in die Staatskoerant gepubliseer.
Die komitee moet die betaling en diensvoorwaardes in die openbare sektor ondersoek.
Die komitee sal uit net een lid – die voormalige hoofregter Sandile Ngcobo – bestaan.
In ’n geskrewe antwoord op ’n parlementêre vraag het pres. Jacob Zuma gesê die vergoeding van onderwysers sal voorkeur geniet.
Kwessies soos posgrade, werwing, aanstellings en bevordering en prestasiebestuur in die staatsdiens sal ondersoek word.
Die kommissie se werk is met etlike maande vertraag nadat die onderwysersvakbond Sadtu met ’n staking gedreig het.
Die vakbond het onder meer geëis dat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, bedank en haar direkteur-generaal, Bobby Soobrayan, ondersoek word vir beweerde ootredeings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.
