Vier vermeende renosterstropers is die afgelope naweek in die Krugerwildtuin doodgeskiet, het ’n woordvoerder vir Sanparke, Ike Phaahla, Maandag gesê.
Veldwagters het Saterdag op ses vermeende stropers in die wildtuin afgekom en ’n skietgeveg het uitgebreek.
“Drie verdagtes is doodgeskiet en die ander drie is in hegtenis geneem,” het Phaahla gesê.
’n Vierde vermeende renosterstroper is Saterdag naby die wildtuin se Krokodilbrug-ingang doodgeskiet.
Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie in Limpopo, het gesê vier stropers is Vrydag in Hoedspruit vasgetrek. – Sapa
