‘n Vermeende renosterstroper is Sondag in hegtenis geneem, het owerhede van die Ezemvelo, die KwaZulu-Natalse natuurbewaring, gesê.
“Twee skote is laatmiddag in die Hluhluwe-iMfolozi-park gehoor,” het Musa Mntambo, woordvoerder van natuurbewaring, Maandag in ‘n verklaring gesê.
Veldwagters is gestuur om ondersoek te gaan instel en nóg veldwagters is na alle moontlike ontsnaproetes gestuur.
Om 14:45 was daar ‘n skietgeveg tussen die veldwagters en drie ongeïdentifiseerde mans.
“Een verdagte is in die skietgeveg gewond en is later in hegtenis geneem, terwyl die twee ander gevlug het,” het Mntambo gesê.
Veldwagters het ‘n horing, sak, flitslig en byl in die man se besit gevind. Die karkas van ‘n witrenoster is Maandagoggend gevind.
Dr. Bandile Mkhize, uitvoerende hoof van Ezemvelo, het sy kommer uitgespreek oor die onlangse toename in skietvoorvalle.
“Stropers is altyd gereed om ons veldwagters te skiet. Dit is baie kommerwekkend omdat dit ons veldwagters in gevaar stel wanneer hulle op stropers afkom.”
Hy het gesê Ezemvelo sal sy stryd teen renosterstropery verskerp.
Minstens 39 mense is vanjaar in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem en 63 renosters is gestroop. – Sapa

