Van Wits se mooi voornemens kom nog brandstigting, geweld

Oproeriges het Dinsdagaand ‘n bus van die Rea-Veya busdiens aan die brand gesteek buite die hoofkampus van die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg.

Vroeër die aand is ‘n polisievoertuig aan die brand gesteek nadat die polisie skynbaar deur onlusmakers mislei is.

Die swart betogers het volgens berigte op die bus toegeslaan terwyl die polisie aandag geskenk het aan die toneel van die brandende polisievoertuig.

Die voorvalle volg op gewelddadige betogings gistermiddag waarin betogers die verkeer ontwrig en strate met klippe en asdromme versper het.

Hulle het motors met klippe bestook. Die gewelddadige betogings duur al langer as ‘n maand terwyl die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela die oproeriges aanhits omdat hulle kwansuis “regmatige griewe” het.

Wits het nou reeds verskeie seremonies met hooggeplaasdes soos Madonsela gehou ter afsluiting van die geweld waar allerlei mooiklinkende voornemens uitgespreek is, maar daarvan het dadels gekom.

Madonsela word steeds voorgehou deur die liegpers as ‘n nastrewenswaardige openbare figuur.

Swede sê hulle gaan aanhou om SA se wyne te koop

Systembolaget, drankwinkels van die Sweedse staat, het gesê hulle gaan aanhou om wyne uit Suid-Afrika aan te koop ten spyte van ‘n Deense dokumentêre program oor die swak arbeidstoestande op wynplase

“Handel in samehang met duidelike vereistes wat aan produsente gestel word, is die beste manier waarop ons kan bydra tot voordelige ontwikkeling in sulke lande,” het Ida Ingerö, adjunkhoof van kommunikasie van Systembolaget, in ‘n verklaring gesê.

“Niks sal in Suid-Afrika verbeter indien Systembolaget ophou wyn aankoop en arbeiders hul werk kwyt is nie.”

Die program Bitter Grapes – Slavery in the Vineyards deur die Deense joernalis Tom Heinemann is verlede week in Denemarke en Swede vertoon.

Wynboere word daarvan beskuldig dat werkers minder as die minimum loon betaal word, hul basiese regte ontsê word en hulle onwettige afgedank en van plase verwyder word.

‘n Kettingwinkelgroep Dagrofa in Denemarke en Groenland het daarna Suid-Afrikaanse wyne van sy rakke verwyder.

Maar Dagrofa het Maandag gesê dat nie alle Suid-Afrikaanse wyne verwyder is nie, slegs dié van Robertson Winery.

Systembolaget het Woensdag in ’n verklaring gesê die dokumentêre rolprent wat op die openbare kanaal SVT uitgesaai is, bevat verskeie foute.

“Suid-Afrika is ’n land met talle uitdagings en hoë vlakke van armoede. Arbeiders is kwesbaar en Systembolaget probeer hul toestand verbeter.”

Robertson Winery het aan Netwerk24 gesê arbeiders op intreevlak ontvang ’n pakket met koste aan die maatskappy van R4 426 per maand, wat bonusse en gratis mediese dienste uitsluit.

Al Sjabaab van AU-basis aan

‘n Selfmoordbomaanvaller van Al Sjabaab het met ‘n voertuig vol plofstof gister ‘n militêre basis van die Afrika-unie in sentraal Somalië binnegejaag.

Volgens veiligheidswoordvoerders is die ontploffing deur swaar geweervuur gevolg. Die voorval het by die Djiboetiese basis in die stad Beledweyne plaasgevind.

Al Sjabaab, met bande aan Al Kaïda, het via sy Radio Andalus mediaorganisasie, aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar en sê “baie soldate is dood en beseer”.

Al Sjabaab veg om die internasionaal-erkende regering in Mogadisjoe omver te werp en val gereeld basisse van Amisom, die AU-sending in Somalië, aan.

In onlangse weke het Ethiopiese troepe wat in ‘n nabygeleë gebied ontplooi is, sonder enige verduideliking aan hul posisies onttrek. Ná die onttrekking het Al Sjabaab-vegters die dorpe opnuut beset.

Vier dood in Australiese pretpark-rit

Twee vrouens en twee mans is gister by ‘n vermaaklikheidspark aan Australië se gewilde Gold Coast dood.

Ooggetuies het beskryf hoe mense geskree het toe ‘n vaartuig op een van die waterritte omgeslaan het.

Queensland se polisie sê die vier slagoffers is op die “Thunder River Rapids”-rit by die Dreamworld park dood.

Australië se eerste minister, Malcolm Turnbull, het sy meegevoel aan hul families getuig en gesê hulle is in sy gebede oor die “baie, baie hartseer en tragiese gebeurtenis”.

Verhoor begin van Britse bankier oor grumoorde in Hongkong

Video’s wat ‘n Britse bankier gemaak het van die marteling en gewelddadige dood van twee Indonesiese vroue wat hy na bewering vermoor het, sal vir ‘n jurie vertoon word.

‘n Regter het Maandag in ‘n hof in Hongkong gelas dat die jurie daarna kyk nadat Rurik Jutting se verhoor begin het.

Jutting het vir Bank of ­America Corp gewerk.

Jutting (31), wat aan die Universiteit van Cambridge gestudeer en skoolgegaan het aan Winchester College, een van die prestige­rykste private skole in Brittanje,­ ontken skuld op klagte van moord op grond van verminderde aanspreeklikheid.

Hy beken skuld op klagte van manslag.

Hy is twee jaar gelede in hegtenis geneem nadat twee lyke in sy luukse woonstel gevind is.

Jutting het verskeie opnames van die moord gemaak. In een kan gesien word hoe die eerste slagoffer doodgemaak word en in ‘n ander praat hy oor sy planne vir die tweede slagoffer, lui die klagstaat.

Die polisie het die lyke van Sumarti Ningsih (23) en Seneng Mujiasih (26) in Oktober 2014 in sy woonstel gevind. Albei se kele was afgesny.

Lees verder.

Mynbeserings, dodeliker as apartheid, styg

Beserings tydens mynongelukke het van meer as 2 600 tot meer as 3000 gestyg. Suid-Afrika is die tuiste van diepste myne ter wêreld waar werkers tot 4 km onder die oppervlak werk.

Die sterftesyfer wat deur mynongelukke in die land veroorsaak word, het ‘n afname verlede jaar getoon.

Dit is volgens die jaarverslag van die Nasionale Departement van Mynwese. Volgens die departement het altesaam 79 mynwerkers hulle lewens tydens die 2015/2016 boekjaar verloor, teenoor 71 in die vorige boekjaar.

In Januarie 2015 tot Desember 2015 kan daar ‘n afname waargeneem word. Die verslag dui daarop dat beserings tydens mynongelukke egter van meer as 2 600 tot meer as 3000 gestyg het.

Die departement sê herhaalde ongelukke by myne het daartoe gelei dat veiligheid- en gesondheidsinspeksies by myne drasties moes toeneem.

Statistieke wys dat goud- en platinummyne tot die meeste ongelukke in die land bydra, en die departement het hernude kommer oor die stand van mynveiligheid in die land uitgespreek.

Platinum kan nie veilig bestuur word nie omdat die myne baie diep is, met ‘n baie smal some, wat geologies onstabiel is, sê BHP se woordvoerder Ruban Yogarajah.

Die regering is bekommerd oor veiligheidsinspeksies, maar die bedryf sê inspekteurs veroorsaak arbitrêre werkstakings oor veiligheid, en dit kos miljarde rande aan verlore produksie wat werksgeleenthede op die spel plaas.

Maar die ANC sê die styging in die dodetal toon die behoefte om hul ondersoeke te verhoog. In Julie hjet die regering 38 inspekteurs bygehuur.

In 1993, die jaar voor Nelson Mandela Suid-Afrika se eerste swart president geword het, het 615 mynwerkers gesterf, baie meer as aan die hand van “apartheid” se sogenaamde polisiegeweld.

Teen 2009 het die koers tot 167 gedaal en dit het nou 77 in 2015 bereik, het die Kamer van Mynwese gesê.

Universitas is glo swakste opleidingshospitaal

Die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein is die swakste opleidingshospitaal in die land.

Dit volg nadat dié hospitaal, wat eens as die top-hospitaal bekroon is, nou die laaste plek op die ranglys beklee. Gesondheidsminister Aaron Motsoaledi sê die ranglys is opgestel nadat inspeksies deur die Kantoor vir die Voldoening aan Gesondheidstandaarde (KVGS) gedoen is.

Motsoaledi sê hy weet nie wat alles skeefgeloop het nie, maar die hospitaal se voldoening aan standaarde het van 90% tot 60% geval.

Hy het onlangs tydens ‘n mediakonferensie in Bloemfontein gesê die redes vir die dramatiese verval van standaarde moet dringend ondersoek word, veral in ag genome dat dit die Universiteit van die Vrystaat se opleidingshospitaal is.

Universitas-hospitaal het die afgelope jaar media-opskrifte gehaal vir al die verkeerde redes, soos ‘n uittog van mediese spesialiste, ‘n agterstand in die onderhoud van mediese toerusting en instandhouding. ‘n Saal wat met multi-miljoenrandse skenkings ingerig is, het ook in ‘n wit olifant verander.

Die Vrystaatse departement van gesondheid het nog nie op OFM-nuus se navrae gereageer nie.

Bron: OFM

Oproer oor paaie het nie swart inwoners se dors geles nie

Die ernstige tekort aan water weens die erge droogte in die Noord-Kaap is nou inwoners van Van Zylsrus se grootste bekommernis en nie meer paaie nie.

Swartes van dié dorp het gister met lede van die Noord-Kaapse regering se uitvoerende raad vergader.

Die John Taolo Gaetsewe streek – waarvan die dorp deel uitmaak – hou al vir jare lank betogings “oor die swak toestand van paaie”.

Maar dit wil voorkom of die paaie as verskoning gebruik word om nie skool te gaan nie. Skole in die gebied is al vir maande gesluit as gevolg van oproer hieroor.

Premier Sylvia Lucas sê die tekort aan water was egter Dinsdag een van die grootste besprekingspunte aangesien bouwerk aan paaie in die gebied fluks voortgaan.

“Gelukkig vir ons is dit minder as 30 kilometer grondpad – slegte grondpad – wat ons besig is om te herstel. Ons is op Van Zylsrus waar ons ‘n gemeenskapsvergadering gehad het. Inwoners kla oor maatskaplike euwels, grondpaaie en munisipale dienste – veral die tekort aan water” sê Lucas.

Boer gryp plaasaanvaller se wapen om dood te ontsnap

‘n Boer is op sy plaas by Rashoop naby Brits vanoggend aangeval deur swart plaasaanvallers.

Noordwes-polisiewoordvoerder se, Pelonomi Makau, sê drie swartes het by die plaashuis ingebreek teen ongeveer 03:00. Hulle het glo geld geëis.

Sy sê die 76-jarige boer is in die bobeen geskiet en het ‘n steekwond in die bors opgedoen.

Hy het daarin geslaag om die swart aanvaller se vuurwapen in die hande te kry en het op die aanvallers losgebrand. Hy het een van hulle gewond.

Makau sê die boer het daarna die bure ontbied. Beide die boer en die verdagte is na die hospitaal gehaas. Die vermeende aanvaller is onder polisiebewaking.

Makau sê die twee ander aanvallers het daarin geslaag om van die toneel te vlug met ‘n onbekende bedrag geld en selfone.

‘n Saak van poging tot moord en huisroof word ondersoek.

Intussen het meer as tweehonderd swart grondbesetters geweier om drie plase te verlaat wat hulle buite Brits in Noordwes beset het.

Die besetters, hoofsaaklik van die nabygelë Majakaneng, het in weerwil van ‘n uitsettingsbevel gisteroggend woonstrukture op die grond opgerig.

Hulle voer aan dat hulle nie genoeg kommunale grond het nie, terwyl die plase baie plek het.

Franse breek ‘Oerwoud’ af

Frankryk het gister begin om die sogenaamde “Oerwoud” migrante-kamp by die noordelike stad Calais te ontruim voordat dit opgebreek sal word.

Die migrante word nou na ontvangsentrums elders in Frankryk geneem.

Die kamp bestaan uit ‘n versameling tente en skuilings en staan op ‘n winderige moddervlakte naby Calais. Die kamp is ‘n trekpleister vir migrante wat probeer om die kanaal na Brittanje oor te steek.

Die 6 000 tot 8 000 inwoners van die kamp is hoofsaaklik Afgane, Irakese, Eritreërs en Soedanese.

Daar is gevrees dat geweld sou uitbreek oor die gedwonge verskuiwing, maar die eerste dag het glo ordelik verloop.

Die Franse owerhede is gretig om van die oogseer en kriminele nes ontslae te raak voor die verkiesing volgende jaar, maar die dorpies wat die uitlanders moet huisves is woedend en talle betogings teen die asielsoekers is reeds gehou.

Berigte van asielsoekers wat motoriste aanrand en hul motors kaap is reeds verskeie kere aangemeld.