Meksiko se dwelmbaas dreig Trump

Meksiko se prokureur-generaal, Arely Gomez het die einde van ‘n tonnel besoek waardeur die Meksikaanse dwelmbaas Joaquin “El Chapo” Guzman Sondag uit die hoë sekuriteitsgevangenis Altiplano na ‘n huis in Almoloya de Juarez kon ontsnap het.

Dit was Guzman se tweede ontsnapping in 14 jaar. Hy is nog op vrye voet.

Mexiko se mees gesoekte dwelmbaas toon tans ‘n belangstelling in die Amerikaanse presidensiële wedloop vir 2016, nadat hy ‘n dreigende, vuil bewoorde twiet aan Donald Trump gestuur het.

Trump het vroeër neerhalende kommentaar oor Mexikaanse immigrante gemaak.

Guzman is die berugte baas van die Sinaloa-dwelmkartel. Binne ure, het hy gedreig dat hy Trump “sy woorde sal laat eet”. Die boodskap bevat talle Mexikaanse vloekwoorde.

Bekend as die “magtigste dwelmhandelaar in die wêreld” by die Amerikaanse Tesourie, is Guzman in Februarie 2014 vasgetrek. Die Amerikaanse regering het dit destyds as “die grootste soektog in die geskiedenis” beskryf.

Trump het Mexikaanse immigrante daarvan beskuldig dat hulle geneig is tot misdaad en dwelms.

“Wanneer Mexico sy mense stuur, stuur hulle nie hul beste nie,” het Trump gesê. “Hulle stuur mense wat baie probleme het. […] Hulle bring dwelms. Hulle bring misdaad. Hulle is verkragters.”

Sondag het Rupert Murdoch – die miljardêr en beherende aandeelhouer van die konserwatiewe Fox News – hom ook na Twitter gewend in ‘n aanval op Trump.

Murdoch het gesê dat Mexikaanse immigrante ‘n baie laer misdaadkoers het as “moedertaal geborenes” en bygevoeg “Trump verkeerd”.

Premier vir korrupsie ondersoek

As deel van ‘n ondersoek na korrupsie, het Roemeense aanklaers dié week aangekondig dat hulle hul premier, Victor Ponta, gaan aankla.

Dit plaas toenemende druk op die beleërde politikus om te bedank.

Ponta word van bedrog, belastingontduiking en geldwassery tussen 2007 en 2011 aangekla, nog voordat hy in 2012 eerste minister geword het. Die owerhede het op van Ponta se eiendom beslag gelê.

Ponta het Donderdag teruggekeer kantoor toe nadat hy vir ‘n maand ná ‘n knieoperasie in Turkye aangesterk het.

Hy het Sondag aangekondig dat hy uittree as hoof van die Sosiale Demokrate party terwyl hy homself teen die korrupsieklagte verdedig.

Hy het egter onderneem om as premier aan te bly.

Sanral beskuldig van misleidende advertensies

Die Bondgenootskap teen Stedelike Tol beskuldig die padagentskap Sanral daarvan dat hy belastingbetalers se geld mors deur miljoene rand te bestee aan advertensies om die publiek te mislei, het RSG berig.

Dit volg nadat die gesagsliggaam vir reklamestandaarde Sanral beveel het om ‘n misleidende advertensie oor die e-tolstelsel te verwyder.

Die gesagsliggaam het bevind dat die radio-advertensie misleidend was omdat dit luisteraars laat dink het dat die nuwe e-tolbedeling en die gepaardgaande afslag reeds aan motoriste beskikbaar is.

Die 60% afslag is egter nog nie aktief nie.

‘n Woordvoerder van die Bondgenootskap, Wayne Duvenage sê dit is ‘n bron van ernstige kommer dat ‘n staatsagentskap belastingbetalers se geld gebruik om hulle ondeurdagte plan aan die samelewing te verkoop, en dit dan ook op ‘n misleidende manier doen.

Veertienduisend skoene by grens onderskep

Suid-Afrikaanse doeane-amptenare het by die Lebombo-grenspos beslag gelê op 14 167 paar skoene wat met ‘n vragmotor en sleepwa onwettig uit Mosambiek ingesmokkel is.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens sê die straatwaarde van die besending is ‘n geraamde R11,3 miljoen rand.

Byna die helfte van die skoene was van die handelsnaam, Converse All Stars, en die res Puma, Nike en Adidas, maar volgens die SAID is daar ‘n moontlikheid dat dit vervalste of nagemaakte skoene is.

Die vragmotor is gekonfiskeer maar die bestuurder het glo op die vlug geslaan.

Ramaphosa na China vir hoëvlakbesoek

Adjunk-president Cyril Ramaphosa en ’n afvaardiging van ministers en staatsamptenare het op ’n amptelike besoek na China vertrek.

Hy voer Dinsdag onder meer samesprekings met China se vise-president Li Yuanchao.

Onder die Suid-Afrikaners is ook die minister van Openbare ­Ondernemings, Lynne Brown, en die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande.

Die presidensie sê in ‘n verklaring die besoek sal fokus op ekonomiese en handels-aangeleenthede en spesifiek hoe staatsinstellings gebruik kan word om ekonomiese groei te bevorder en armoede en werkloosheid te verminder.

Handel tussen Suid-Afrika en China — Suid-Afrika se grootste handelsvennoot — het van 118-miljard rand in 2009 tot 271-miljard rand in 2013 gegroei.

Dit het in 2014 tot 261-miljard rand gedaal.

China het intussen aangebied om Suid-Afrika se vaardighede in kerntegnologie sonder enige voorwaardes te ontwikkel.

Die aanbod is gemaak tydens bilaterale sameprekings in Beijing, met Rusland en China wat as die voorlopers vir ‘n nuwe kernkrag-projek in Suid-Afrika beskou word.

Die samesprekings het plaasgevind kort voor Ramaphosa se besoek aan die land. Hy sluit Vrydag sy besoek af.

Ebola woed voort in Afrika

Afrika se Ebola-probleem is nog steeds nie opgelos nie met rondom 30 mense wat weekliks besmet word, het die Verenigde Nasies se spesiale gesant vir die dodelike siekte, David Nabarro, Maandag gesê.

Onder normale omstandighede, sou so ‘n infeksietempo beskou word as “‘n groot, groot uitbraak,” het hy gesê.

“Waarskynlik ongeveer een derde van die mense kom nie van die kontaklys nie, wat beteken dat hulle onverwagse gevalle is, en dit is ‘n groot bekommernis,” het Nabarro gesê by ‘n konferensie gereël deur die Wêreldgesondheidsorganisasie in Kaapstad.

Die ergste aangetekende uitbreking van Ebola het reeds meer as 11 200 mense regoor Wes-Afrika se lewens geëis.

Infeksiekoerse is af van die hoogtepunt van die krisis. Maar Liberië berig dat ‘n 17-jaar-oue seun positief getoets het vir die virus op 30 Junie, byna twee maande na die land vry van Ebola verklaar is.

Liberië, die land wat die ergste onder die virus deurloop, is beskou as ‘n voorbeeld vir die naburige Guinee en Sierra Leone, wat ook sukkel om die verspreiding te stop.

Derde reddingsboei vir Grieke

Europese leiers het ‘n ooreenkoms met Griekeland bereik vir ‘n derde reddingsboei in ‘n poging om die land in die euro-gebied te hou.

Die nuwe maatreëls wat ingestel is kan egter lei tot die val die linksgesinde regering van Alexis Tsipras.

EU-leiers het eenparig besluit op ‘n Europese Stabiliseringsmeganisme vir Griekeland wat teen Woensdag sekere maatreëls deur sy parlement moet voer en duidelike tydsraamwerke vir hervormings moet voorlê.

Die ooreenkoms behels onder meer dat die Griekse parlement teen Woensdag hoër beslasting hef, pensioene verminder en nuwe indiensneming-wetgewing instel.

Eurosoneleiers het vroeër deur die nag in Brussel, België, beraadslaag in ‘n poging om ‘n kompromis te vind om te keer dat Griekeland se geldvoorraad opdroog.

Die Griekse regering is tot Woensdag tyd gegee om nuwe wetgewing deur te voer as voorwaarde vir verdere onderhandelinge oor ’n nuwe hulppakket wat die land nodig het.

Die noodberaad is ure lank onderbreek vir samesprekings tussen die Griekse eerste minister, Alexis Tsipras, die Duitse kanselier, Angela Merkel, Frankryk se president Francois Hollande en die president van die Europese Raad, Donald Tusk.

Tsipras het intussen met sy kabinet in Athene vergader om die nuwe besuinigingsmaatreëls te bespreek waaroor die Europese Unie ooreengekom het in ruil vir die reddingsboei.

Volgens berigte is ondersteuners van die Griekse premier woedend dat Griekeland die knie voor Duitsland se vereistes gebuig het.

Die ooreenkoms is met gemengde reaksie deur die res van die land begroet, met die staatsdienswerkersvakbond wat ‘n 24-uur staking afgekondig het.

Kommer dat Cosatu-kongres tot geweld sal lei

Die president van Cosatu, Sidumo Dlamini het ‘n beroep op afgevaardigdes by die Spesiale Nasionale Kongres in Midrand gedoen onopgeloste kwessies met omsigtigheid te benader.

Die tweedaagse kongres het laat Maandagaand verdaag nadat die netelige kwessies van akkreditasie en die sakelys ná ure-lange debat afgehandel is.

Sommige vakbonde wat simpatiek staan teenoor die geskorste hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi het egter die kongres vroeg verlaat.

Hulle het aan verslaggewers gesê dat hulle nie glo die kongres enigsins vrugbaar sal wees nie. Die Vavi- en Numsa-faksie is op die gebied van akkreditasie en agenda met stemme verslaan.

Cosatu se spesiale nasionale kongres het die sakelys vir die kongres aanvaar en sal dit vandag bekend maak.

Die uitslag van die stemmery is deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie bekend gemaak.

Vakbonde wat NUMSA en Zwelinzima Vavi simpatiek gesind is, wou nie die akkreditasie aanvaar totdat die nuwe metaalwerkersvakbond LIMUSA en tweede adjunkpresident, Zingiswa Losi daarvan uitgesluit is nie.

Verrigtinge hervat om nege-uur vanoggend.

Die adjunk-hoofsekretaris van Numsa, Karl Cloete, het dié vakbond se kommer uitgespreek oor, wat hy genoem het, die militarisering van Cosatu se spesiale nasionale kongres in Midrand.

Hy het aan die media gesê Numsa se leierskorps het verneem Cosatu beplan om met geweld teen afgevaardigdes van die agt rebelle-vakbonde op te tree.

Dié vakbonde, wat Numsa en die geskorste hoofsekretaris van Cosatu, Zwelinzima Vavi, steun, wou die Numsa- en Vavi-kwessies op die kongres se agenda plaas sodat hulle skorsings opgehef en hulle na die vakverbond kan terugkeer.

Prasa sê mediaberigte is misleidend

Die Passasierspooragentskap van SA (Prasa) sê mediaverslae oor sy Spaansvervaardigde Afro 4000-diesellokomotiewe is verkeerd en misleidend.

Prasa se hoofuitvoerende beampte Mosenngwa Mofi aan verslaggewers in Pretoria gesê dat die gaping tussen die minimum kontakdraad en die dak van die lokomotiewe oorskry die 150 millimeter wat in die veiligheidregulasies voorgeskryf word.

“Die bewerings in gister se Rapport en City Press is ‘n vervolg van ‘n feitelik onakkurate artikel wat op 5 Julie 2015 gepubliseer is in Rapport,” het Mofi gesê.

“Prasa beskou hierdie volgehoue ​​aanval en verkeerde inligting in ‘n ernstige lig omdat dit gemik is op die ondermyning van ‘n baie belangrike belegging om die vervoerstelsel te verbeter en die reiservaring van Suid-Afrikaners vir ewig te verander.”

Hy het gesê die lokomotiewe “voldoen ten volle” aan toepaslike veiligheidstandaarde.

Mofi het gesê die koerantartikels versuim om te erken dat Prasa toestemming gekry het van Transnet om die lokomotiewe te toets op sy 25 kilovolt en nie-elektriese lyne.

“Hierdie betrokke artikels demonstreer ‘n gebrek aan begrip van die gedetailleerde, streng, ingewikkelde en dikwels moeilike gegewens wat ontwerpoorsigprosesse vergesel.”

Hy het gesê die Afro 4000 diesel lokomotiewe is hoofsaaklik geskik at vir nie-geëlektrifiseerde lyne.

Mofi sê Prasa het toestemming verkry vir die toets en ingebruikneming van die Spoorveiligheidsreguleerder.

Prasa erken egter dat daar ná ondersoeke bevind is dat kabels wat nie onderhou is nie, op ‘n paar plekke onder sommige brûe gesak het, wat probleme vir die lokomotiewe kan veroorsaak.

Die agentskap sê die opknapping sal sowat drie maande duur.

Zuma het meer lyfwagte as grenspospersoneel

Die DA-leier Mmusi Maimane sê die aantal lyfwagte wat aangestel is om lede van president Jacob Zuma se kabinet te beskerm, oorskry die getal personeel wat aangestel is om Suid-Afrika se grensposte te beveilig.

Maimane het sowat 200 ondersteuners in Pietermaritzburg toegespreek.

Hy sê die land het ‘n noemenswaardige afname beleef sedert Zuma ses jaar gelede president geword het. Hy het onder meer oor werkloosheid gepraat en gesê die ANC het die jongmense van Suid-Afrika versaak.

Sy besoek aan Kwazulu-Natal vorm deel van die DA se Vision 2029-toer.