Terwyl ons verheug is oor die aantal besoeke wat ons ontvang, asook die lewendige debat op die Disqus-kommentaarfunksie wat sommige artikels uitlok, wil ons lesers daarop attent maak dat die PRAAG-geselsforum soms ‘n beter plek kan wees om langdurige debatte en gesprekke tussen lesers te voer.
Die forum hou onder andere die volgende voordele in:
- Die kategorieë, onderwerpe, ens., bly permanent beskikbaar en sigbaar sodat u nie vir ‘n artikel wat moontlik weke of maande gelede verskyn het hoef te gaan soek om u kommentaar of reaksie daarop te lees nie.
- U bydrae en die inhoud wat u skep, is vir die hele internet sigbaar (“soekbaar” deur Google, Yahoo, Bing, ens.). Een van die nadele van die Disqus-kommentaarstelsel is dat kommentaar nie op Google se indekse verskyn nie.
- U bydrae sal op ‘n meer permanente basis op die forum gepubliseer bly sodat mense in die toekoms dit eintlik oor en oor sal lees, soos wat hulle deur die forum snuffel.
Lesers en deelnemers is natuurlik welkom om kommentaar wat hulle reeds onderaan artikels op Disqus gelewer het, ook op die forum onder bepaalde onderwerpe te plak, waar Google en ander soekenjins dit kan “raaksien” en kan opneem.
Binnekort sal ons poog om die forum beter met die webwerf te integreer sodat u met een gebruikersnaam en wagwoord op albei tegelyk kan inteken. Heel moontlik sal dit bloot as ‘n onderafdeling van die webwerf self kan funksioneer, afhangend van al die tegniese uitdagings wat ons teëkom. Tot dan sal u egter van nuuts af aan op die forum moet registreer en deur die administrateur gemagtig moet word (‘n anti-gemorsposmaatreël) alvorens u vrylik bydraes kan plaas.
Daar is reeds 130 gebruikers by die forum geregistreer, dus behoort dit vinnige momentum te kry indien ‘n gedeelte van die uitvoerige gesprekke wat tans op die Disqus-kommentaarfunksie plaasvind, na die forum verskuif.

“‘n Memorandum wat die Jong Kommuniste Liga van Suid-Afrika Vrydag (22/01/10) in Christiana aan die Provinsiale Onderwysdepartement oorhandig het, getuig van rassehaat en onkunde oor die Grondwet van Suid-Afrika. Om in die memorandum te vra dat Afrikaans in alle openbare skole verbied moet word en dat Engels die onderrigtaal moet wees, is ‘n miskenning van die reg op moedertaalonderrig soos vervat in die Grondwet. Hierdeur misken die Jong Kommuniste Liga al die ander inheemse tale en bevorder die taal van kolonialisme. Die Jong Kommuniste is net besig om rassehaat aan te blaas en skep polariserings soos Cosatu in Noordwes,” sê mnr. Pieter Groenewald (LP), provinsiale leier in Noordwes en hoofwoordvoerder oor Polisie van die Vryheidsfront Plus.