“Dit is nou hoog tyd dat die adjunk-minister van landbou, dr. Pieter Mulder, genoeg invloed in die regering het om die regering so ver te kry om plaasaanvalle en veral plaasmoorde deurlopend so onomwonde te veroordeel dat potenisieële plaasmoordenaars die boodskap helder en duidelik kry dat dié praktyk nie die regering se stilswyende goedkeuring wegdra nie.”
So sê die leier van die Christen-Demokratiese Party (CDP) en waarnemende voorsitter van die Christen-Demokratiese Alliansie (CDA), ds. Theunis Botha.
“Ons spreek ons medelye met die naasbestaandes van die vermoorde dr. Ernest Giesekke van Ficksburg uit. Volgens berigte was hy ‘n filantroop wat tot sy aftrede in diens van die Universiteit Fort Hare was. Dit maak ‘n mite van aansprake deur onder meer adjunk-president Kgalema Mothlante dat boere deur die beweerde swak behandeling van hul werkers self die plaasaanvalle op hulle trek.
“Dit is vir ons traumaties om die een verklaring na die ander oor plaasaanvalle uit te reik, en met die naasbestaandes te simpatiseer, maar gewoonlik swyg die regering in al elf amptelike tale.
“Met die vorige Vrystaatse plaasmoorde het die Vryheidsfront Plus wel deur sy provinsiale leier en nasionale voorsitter, Mnr. Abrie Oosthuizen, sterk reageer. Plaasmoorde is egter duidelik ‘n nasionale krisis, en dit sou ‘n duideliker boodskap uitgestuur het sou Mulder as adjunk-minister van landbou, namens die minister gereageer het, of genoeg invloed op die minister uitgeoefen het dat sy self sou reageer.
“Ons pleit by Mulder om te wys dat hy van ‘n ander stoffasie is as ‘n ander wat beloof het om sekere mense se stem te wees, nie ook na toetrede tot die regering in stilte te verval nie. Plaasmoorde is ‘n te groot nasionale krisis om as slagveld vir politieke punte te dien en sodoende tot die naasbestaandes se trauma by te dra. Dit sal grootliks ontlont word as die regering die klimaat teen plaasaanvalle behoorlik en deurlopend skep.”
