Met gerugte dat beurtkrag die ANC in die komende verkiesing kan benadeel, het Eskom intussen die versekering gegee dat daar geen kragonderbrekings sal wees hierdie week nie.
Eskom se woordvoerder, Andrew Etzinger sê beurtkrag word nie in die vooruitsig gestel nie, alhoewel die kragnetwerk steeds onder druk verkeer.
Dit is nie bekend hoe die kragvoorsiener in die vraag sal voldoen nie. Eskom moes noodgedwonge vier dae gelede beurtkrag instel om die ineenstorting van die kragnetwerk te verhoed.
Hulle het reeds twee keer ‘n noodtoestand afgekondig omdat die steenkoolvoorraad nat geword het as gevolg van die deurdringende reën die afgelope week. Dit is egter nie die enigste rede vir die kragtekort nie, het ontleders gesê.
Die minister van Energie, Ben Martins het gesê dat Suid-Afrika dringend alternatiewe hulpbronne, behalwe steenkool vir kragvoorsiening moet oorweeg.
Hy het gesê die land is in ‘n wedloop teen tyd gewikkel om aan die stygende vraag na elektrisiteit te voldoen.
Martins het tydens die bekendstelling van ontwikkelingsprojekte in Port Elizabeth dié pleidooi gelewer.
Hy het ook gerugte ontken dat Suid-Afrika die beste gehalte steenkool uitvoer en van swakker gehalte steenkool vir sy eie behoeftes afhanklik is.
Daar is nog geen einde in sig vir die deurdringende reën wat dae reeds oor die noordelike en oostelike dele van die land uitsak nie, het RSG berig.
Dit reën reeds ‘n week lank in Gauteng en Mpumalanga. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê inwoners van dié twee provinsies moet hul regmaak vir ‘n nat naweek.
Kanse vir reën wat oor Limpopo, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en Kwa Zulu-Natal sal uitsak Sondag is 80 persent.
Die Nasionale Krugerwildtuin het die hek by Krokodilbrug en vier ander kampe weens oorstromings gesluit.
Volgens ‘n woordvoerder van die wildtuin, William Mabasa, word die meeste paaie en brue in die suide van die wildtuin geraak deur vloedgevaar en is dit gesluit om moontlike ongevalle te voorkom.
Die swaar reën in Pretoria sal waarskynlik lede van die publiek ontmoedig om die Oscar Pistorius-verhoor by te woon.
Die saak word Vrydagoggend halftien in die Noord-Gautengse hooggeregshof hervat. Mense het Donderdag sowat drie banke in die aangrensende hofsaal volgesit, maar minder word Vrydag verwag.
Die nat toestande bied ook tegniese uitdagings vir fotograwe en die uitsaai-media van regoor die wêreld. Die sewende staatsgetuie, dokter Johan Stipp sal binnekort verder kruisondervra word.
Intussen word berig dat Michelle Burger en haar man Charl Johnson die meeste aandag in die aanlyn-media kry. Volgens die media monitoreringsmaatskappy, Data Driven, kry die egpaar sowat 70 persent van die aandag.
Die twee was lank in die getuiebank en het onder kruisondervraging deurgeloop. Kevin Lerena, wat getuig het oor die voorval toe Pistorius ‘n vuurwapen in ‘n restourant laat afgaan het, het elf persent media aandag gekry.
Dr. Johan Stipp se getuienis oor hoe Pistorius Reeva probeer bybring het, het agt persent gekry.
Die media gebruik ook die woord skuldig, met verwysing na die saak, tien keer meer as onskuldig.
Polisielede het blykbaar die plundertogte by Pienaar as ‘n geleenteheid gesien om self deel te neem.
Vier polisiebeamptes is Donderdag in verband met diefstal en regsverydeling in Mpumalanga hegtenis geneem. Kruideniersware is glo tydens die onlangse onrus in Pienaar gesteel.
Kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het gesê die beamptes, tussen 30 en 34 jaar, staan tereg op aanklagte van diefstal, die besit van gesteelde goedere en regsverydeling.
Inwoners van Pienaar naby Nelspruit die polisie Woensdag in kennis gestel dat twee polisiebakkies kruideniersware by ʼn huis in die area aflaai.
Toe die polisie by die toneel opdaag, het ‘n vrou wat daar woon aan die polisielede gesê dat die vier beamptes die kruideniersware by haar huis afgelaai het. Sy het nie geld gehad om hulle te betaal nie.
Die beamptes wou R2 500 vir die kruideniersware ter waarde van R4 000 hê. Toe sy aan die konstabels sê dat sy nie die geld het nie, het hulle gesê hulle sal die geld later by haar kom haal.
Die vrou is in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde goedere. Die verdagtes het hulself Donderdag aan die polisie oorgegee.
Hulle sal na verwagting Vrydag in die Kabokweni-landdroshof verskyn.
Die Noordwes-Universiteit sal ’n ondersoekspan van vier aanwys om ontgroeningspraktyke op al die universiteit se kampusse te bestudeer, het die bestuur Donderdag gesê.
Die ondersoek is gelas na ’n ontgroeningsvoorval waarin die Nazi-saluut glo gebruik is by dié universiteit.
Beeldmateriaal is kwaadwillig geredigeer deur ‘n Naspers-joernalis, bevriend met die redakteur van Beeld, om die studente as “ongetransformeerde wit studente” voor te stel. Dié stereotipiese voorstelling het groot byval by Boerhaters gevind.
President Zuma het vroeër aangedui dat die voorvalle waar die Nazi-saluut gegee word, ondersoek moet word omdat dit onaanvaarbaar is.
“Die (universiteit se) raad het besluit om ’n onafhanklike span van vier persone aan te wys om die verwelkoming en bekendstelling van eerstejaarstudente op al drie kampusse te ondersoek,” het die raadsvoorsitter, Peet van der Walt, in Pretoria aan verslaggewers gesê.
Die span sal gevra word om ondersoek in te stel na kulturele toelating, oriëntering, ontgroening en ander praktyke.
“Hulle sal die ontvangs- en bekendstellingsprogramme op al die kampusse ondersoek en vasstel wat die beste praktyke landwyd en wêreldwyd in hierdie opsig is,” het hy gesê.
Van der Walt het gesê die ondersoek na die voorval wat Beeld se voorblad gehaal het, is voltooi en daar sal nou opgetree word. “Die dissiplinêre proses sal nou voortgaan,” het hy gesê.
HK-lede van die Noordwes-Universiteit se Puk-kampus in Potchefstroom het intussen regshulp ingewin nadat hulle verlede maand geskors is.
Nege HK-lede elk van die manskoshuis Over de Voor en die Karlien-dameskoshuis is op 11 Februarie tydelik van hul verantwoordelikhede onthef weens die “onbehoorlike” praktyke.
Chantelle Ludik, die geskorste primaria van Karlien-dameskoshuis, is nooit die kans gegun om haar saak te stel voordat sy summier geskors is nie.
Twee HK-lede het hul eie regsverteenwoordigers genader, terwyl een regsverteenwoordiger moontlik die sewe ander HK-lede se saak sal behartig.
Die minister van openbare ondernemings, Malusi Gigaba sê die huidge klam toestande wat deur die aanhoudende reën by sommige kragaanlegte veroorsaak is, is net deels verantwoordelik vir die kragnoodtoestand.
Hy sê die reën is nie die enigste faktor nie.
Beurtkrag wat deur Eskom ingestel is, sal volgens alle aanduidings nog verskeie dae kan voortduur.
Die woordvoerder van die Tshwane Metro, Selby Bokaba sê Pretoria moet regmaak vir kragonderbrekings wat minstens nog ‘n week kan voortduur. Bokaba sê munisipaliteite reg oor die land wag dat die jongste inligting oor beurtkrag afgekondig word.
Eskom het Donderdagaand weer die noodtoestand opgehef, maar volgens ‘n woordvoerder, Andrew Etzinger verkeer kragvoorsiening steeds onder ernstige druk.
Etzinger sê beurtkrag sal waarskynlik verleng moet word om die druk te verlig.
PRAAG se rekenaars was Woensdagoggend vir ‘n paar uur onverwags sonder krag.
Sieg Heil! Die leier van Svoboda Party is deel van Washington se marionetregering in die Oekraïne
Die Krim het Donderdag oorweldigend ten gunste van aansluiting by Rusland gekies, nadat die parlement in dié Russiese deel van die Oekraïne gestem het.
Westerse mediapropaganda poog om sedert die staatsgreep wat deur Anglo-Amerikaanse agente uitgevoer is, die Russiese teenwoordigheid as ‘n “inval” te beskryf.
Daar is tans 16.000 Russiese troepe in die Krim. Rusland het die reg om 25.000 van hul troepe daar te ontplooi agv van vroeëre ooreenkomste wat tussen die twee lande gesluit is. Rusland het verskeie strategiese militêre basisse in die Oekraïne.
Die nuut aangestelde Anglo-Amerikaanse marionette probeer Kiëf in ‘n ooreenkoms met die Europese Unie dwing met die hulp van Amerikaanse dreigemente van militêre optrede en sanksies teen Rusland.
Die pro-Russiese parlementslede het verder aangekondig dat hulle op 16 Maart ‘n referendum sal hou oor die moontlikheid dat Krim wegbreek van die Oekraïne.
Uit die 86 parlementslede het 76 ten gunste van nouer bande met Rusland gestem. Die marionette in Kiëf het die besluit onmiddellik as “onwettig” verklaar, terwyl die Moslem-minderheid gesê het hulle gaan die verkiesing boikot.
Die krisis wat die VSA ontketen het, is die ergste sedert die Koue Oorlog. Amerika probeer hul energiemonopolie in Europa vestig om Rusland te ondermyn.
President Barack Obama het intussen ‘n uitvoerende bevel uitgereik om kritici van die VSA-gesteunde staatsgreep in die Oekraïne toegang tot die Verenigde State te verbied.
“Toegang tot die Verenigde State van Amerika word aan immigrante of besoekers geweier van sodanige persone wat aan die volgende kriteria voldoen: (i) Verantwoordelik is vir of aandadig aan, of betrokke is in, direk of indirek, aan enige van die volgende: (A) optrede of beleid wat demokratiese prosesse of instellings in die Oekraïne ondermyn.”
Kennelik word hierdie “demokratiese prosesse” deur die VSA alleen bepaal, en sluit nie die mening in van inwoners in die land self nie. ‘n Golf neo-Nazi-ondersteuners, die Svoboda Party, in die Oekraïne het die staatsgreep moontlik gemaak.
Die VSA steun hierdie groep openlik, ten spyte daarvan dat neo-Nazi-simpatiseerders in Amerika as gevaarlike “wit suprematiste” gebrandmerk word.
Volgens CNN se Craig Bannister sal dit beteken dat enige persoon wat simpatiek teenoor Rusland is, toegang tot die VSA geweier sal word. Dit beteken ook dat vryheid van politieke assosiasie in die VSA nie meer erken word nie en dat net politieke korrektheid geduld sal word.
Min kiesers het geregistreer om te stem in die komende verkiesings. Net 80,8% van stemgeregtigde Suid-Afrikaners sal op 7 Mei hul kruisies kan trek.
Net 25 390 150 Suid-Afrikaners is geregistreer om te stem, die meeste van hulle vroulik en jonk, het Beeld berig.
Van die geregistreerde kiesers is 55% vroulik en 50% is jonger as 40.
Die hoofverkiesingsbeampte van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), het Donderdag nadat die lyste afgehandel is, die aantal geregistreerde kiesers bekend gemaak.
Alhoewel dit is 2,2 miljoen meer is as in 2009, is dit die laagste registrasiesyfer in tien jaar.
Die meeste kiesers, 6,1 miljoen, is tussen 30 en 39 jaar oud. 5,7 miljoen is tussen 20 en 29 jaar oud en 5 miljoen tussen 40 en 49.
‘n Navorser by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) sê studies toon dat kiesers nie stem nie omdat hulle glo die verkiesingsuitslag sal nie veel verander nie.
Oomblikke voor Malema se aankoms is daar vir hom ‘n erewag deur sy ondersteuners voor die hof gevorm
Hoewel die party reëlreg die teenoorgestelde politieke standpunte as die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) huldig, het Front Nasionaal ‘n verklaring by die Pretoriase Hoër Hof ingedien waarin die party die vermindering of afskaffing van die huidige verkiesingsdeposito steun.
“Ons het ‘n regstreekse belang by die saak,” het dr. Dan Roodt, woordvoerder en onderleier van die party, gesê. “Die bestaande partye word teenoor nuwes bevoordeel omdat hulle hul deposito’s met belastingbetalersfondse betaal terwyl ons ondersteunersfondse moet gebruik.”
Uitspraak is voorbehou in die saak wat deur die Ekonomiese Vryheidsvegters aanhangig gemaak is oor die verpligte registrasiefooi wat politieke partye voor die Algemene Verkiesing moet betaal. Partye moet 600-duisend rand betaal indien hulle in al 9 provinsies aan die verkiesing op die 7de Mei wil deelneem. Die EFF het by die Noord-Gautengse hooggeregshof aansoek gedoen dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie se fooi verminder of opgeskort word. Die party het aangevoer dat die deposito ongrondwetlik is en strydig is met die reg om vir ‘n amp verkiesbaar te wees. Hy sê die finansiële verpligtinge wat nuwe partye moet nakom, nie nog ‘n bykomende fooi toelaat nie. Regter Takalani Raulinga sal ‘n besluit neem vóór die OVK se spertyd vir betaling van die 12de Maart.
‘n Arbeidsontleder, Terry Bell het mynmaatskappye gewaarsku om simpatiek te wees teenoor die lot van mynwerkers, het RSG berig.
Lede van die vakbond Amcu het in Januarie begin staak. Hulle eis ‘n intreevlak-salaris van R12 500.
Die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (KVBA), het samesperkings om die staking in die platinumsektor te beëindig, vir ‘n onbepaalde tyd opgeskort omdat Amcu en platinummaatskappye sê hulle mandate laat hulle nie toe om verder te onderhandel nie.
Die drie grootste platinummaatskappye het meer as sewe miljard rand in inkomste verloor sedert die staking begin het, terwyl werkers meer as drie miljard rand in lone verloor het.
Bell sê egter dat mynmaatskappye hulle verliese sal kan verhaal, terwyl mynwerkers nie so maklik sal herstel van die staking nie.
Amcu hou vandag ‘n optog na die Uniegebou om ‘n memorandum met eise aan regeringsamptenare te oorhandig.