ANC doen beroep op staatsveiligheid om Keniaanse aanval te ontleed

Dié jongspan weet blykbaar hoe om 'n winkelsentrum te laat implodeer
Dié jongspan weet blykbaar hoe om ‘n winkelsentrum te laat implodeer

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee het ‘n beroep op die departement van staatsveiligheid gedoen om die aanval op die Westgate-winkelsentrum in Nairobi te ontleed om Suid Afrika beter te beskerm.

Die party se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe sê die aanval het beklemtoon dat strenger immigrasiewette nodig is.

“Dié aanval beklemtoon die behoefte aan strenger immigrasiewette en -prosesse, om die veiligheidsmaatreëls van Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente te verbeter, asook die monitering van mense se beweging in die algemeen,” lui die verklaring uitgereik deur Mantashe.

Interpol het reeds ’n internasionale lasbrief vir Lewthwaite se inhegtenisneming uitgereik.

Die aanvallers in die Westgate-winkelsentrum in Nairobi het deur ’n dreineringstonnel onder die winkelsentrum gevlug, nadat hulle glo winkels in die kompleks gehuur het en wapens deur goederehysbakke na betrokke noduspunte geskuif het.

Die ontsnaptonnel is eers 72 uur ná die aanval ontdek. Dit is onwaarskynlik dat die aanvallers nie ondersteuning van ‘n georganiseerde staat gehad het nie.

Somalië, die vermeende tuiste van die aanvallers, is ‘n sogenaamde gefaalde staat. Minder as 40% van die bevolking oor die ouderdom van 15 kan lees en skryf. Wat vroue betref is die persentasie ongeveer 25%. Die gemiddelde kind is nie langer as drie jaar op skool nie.

Vrae oor die enorme skade aan die winkelsentrum het ontstaan nadat drie vloere van die kompleks ineengestort het. Kenners meen dit kon nie deur die aanvallers veroorsaak gewees het nie, aangesien die ineenstorting spesialiskennis sou vereis.

Die skade het egter versekeringseise moontlik gemaak wat nie andersinds sou uitbetaal nie.

Ronnie Mamoepa, woordvoerder van die departement van binnelandse sake, het gesê Lewthwaite het in Februarie 2011 Suid-Afrika met dié vervalste paspoort verlaat.

Mantashe het ook gesê identiteitsdokumente se onvervalsbaarheid moet opgeknap word en menseverkeer moet beter gemonitor word.

Die groep al-Shabaab, wat bande het met al-Kaida, het aanspreeklikheid aanvaar vir die aanval in Nairobi op 21 September. Sewe-en-sestig mense is in die aanval dood en byna nog soveel mense word steeds vemis.

Hulle is vermoedelik in die puin van die winkelsentrum begrawe.

Dit het intussen aan die lig gekom dat Kanada steun verskaf aan mense van Midde-Oosterse afkoms wat deelneem in die geweldsteater in en rondom Sirië waar die VSA al-Kaida steun.

Vlieëniers kla oor vlaag laseraanvalle

groenlaserDuisende vliegtuie by Brittanje se besigste lughawens is in gevaar want vlieëniers word verblind deur laserpenaanvallers.

Hierdie lasers kan ‘n passasierstraler uit die lug haal.

Brittanje se grootste vlieëniersunie is so bekommerd oor ‘n onlangse vlaag voorvalle, dat hulle ‘n noodbulletin aan lede uitgereik het wat hulle adviseer oor hoe om blindheid te verhoed asook verlies van beheer oor hul vliegtuie.

Balpa, die British Airline Pilots’ Association wil nou die wet verander sodat enigeen wat betrap word in die besit van sekere lasers sonder ‘n “wettige rede” tronk toe gestuur word.

Die meeste van die aanvalle is op groot kommersiële vliegtuie, maar selfs militêre vliegtuie word geteiken.

Polisiehelikopters wat misdadigers oor digbevolkte gebiede jaag, word ook gereeld getref.

In die meeste gevalle is dit jeugdiges, maar vlieëniers en sekuriteitsdeskundiges is bekommerd dat terroriste dit ook kan gebruik.

Die voorvalle is almal vervat in amptelike verslae aangemeld by die Burgerlike Lugvaartowerheid.

Vliegtuie word getref soveel soos vyf keer per dag deur hoëintensiteit laserpenne wat aanlyn vir so min as R150 gekoop kan word. Meer kragtige laserpenne kan oor langer afstande trefseker wees.

Hulle word gewoonlik gebruik as hulpmiddels deur onderwysers en dosente, maar kleinhandelaars verkoop ook die meer kragtige toestelle aan sterrekundiges en konstruksiewerkers.

Sweedse kinderombudsman wil besnydenis verbied

besnyDie Ombudsman vir kinders in Swede het Saterdag besnydenis verbied, ‘n praktyk wat hulle meen die basiese regte van seuns oortree.

“Besnyding van ‘n kind sonder mediese regverdiging of sy toestemming oortree hierdie kind se menseregte,” het Fredrik Malmberg gesê. Mediese beroepslui was mede-ondertekenare van die verklaring wat gepubliseer is in die koerant Dagens Nyheter.

“Die operasie is pynlik, onomkeerbaar en kan lei tot ernstige komplikasies,“ Malmberg gesê.

In 2001 het Swede besnyding gewettig, wat ‘n godsdienstige gesag magtig om die operasie uit te voer indien die kind onder twee maande oud is. As die kind ouer as dit, kan slegs deur ‘n dokter uitgevoer word.

Die wet vereis ook die toestemming van die ouers en vereis dat hulle ten volle ingelig is oor die werking en die implikasies daarvan.

Die wet het voorheen steun in Swede geniet en ‘n voorstel in Oktober verlede jaar om besnyding te verbied deur ‘n regse party in Swede, is deur die linkse regering verwerp.

Volgens Malmberg oortree die wet die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van die Kind.

Die Sweedse regering sê dat sowat 3000 seuns elke jaar in Swede besny word.

In 2012, het ‘n hof in Köln, Duitsland, verklaar dat die ritueel ‘n ernstige liggaamsbesering is in ‘n uitspraak wat internasionale oproer veroorsaak het.

Die Duitse parlement later onder druk geswig en besluit om die praktyk vir godsdienstige redes toe te laat.

Studies het getoon dat manlike besnyding die risiko vir MIV-infeksie in mans met sowat 60 persent verminder.  – Sapa/AFP

Beeld besluit dat dood van forensiese patoloog nie verdag is nie

uvProf. Cathy Beukes, hoof van die departement anatomiese patologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het glo haar eie keel met ’n elektriese mes oopgesny, het Beeld berig.

Beukes (64) is Sondagoggend deur haar man, prof. John Shipley, oudhoof van die departement ortopedie by die Universitas-hospitaal, in hul studeerkamer met ’n snywond aan haar keel gekry. Sy was glo al dood.

Die dagblad Beeld sê geen misdaad word vermoed nie. Dit is nie duidelik hoe die verslaggewer tot dié gevolgtrekking gekom het oor die dood van ‘n forensiese patoloog nie.

Volgens die polisie is ’n elektriese mes by haar gevind, maar daar was nog geen nadoodse ondersoek wat die koerant se gevolgtrekking kon bevestig nie.

Beukes is deur prof. Gert van Zyl, dekaan van die UV se fakulteit gesondheidswetenskappe, as ’n “warm mens” beskryf.

Van Zyl sê Beukes het op akademiese gebied aansien geniet. Hy het sy medelye teenoor haar gesin uitgespreek.

Diplomaat geskiet na agtervolging van OR Tambo-lughawe

ortambo2Eyewitness News (EWN) berig dat ’n verdagte in Bryanston, Johannesburg, doodgeskiet is nadat aanvallers waarskynlik hul slagoffer vanaf die OR Tambo-lughawe na die huis agtervolg het.

’n Diplomaat is glo beseer. Hy was Saterdagoggend van die lughawe na sy dogter se huis in Bryanston onderweg.

’n Skietery het ontstaan waarin die diplomaat raakgeskiet is. Dis nie bekend of die diplomaat ‘n Suid-Afrikaner is nie.

Volgens EWN het drie verdagtes van die toneel gevlug met baggasie, elektronika en ’n onbekende bedrag geld.

Die lughawensmaatskappy (Acsa) het ’n beroep gedoen op slagoffers van dié soort rooftog om die polisie met soveel moonlik inligting te help, volgens EWN.

Belastingverligting vir ‘huwelik’ kry lou ontvangs by Britte

David Cameron nie oral gewild nie
David Cameron nie oral gewild nie

Brittanje se regering het ‘n belastingvergunning voorgestel om huwelike aan te moedig. Dit sluit huwelike tussen mense van dieselfde geslag in.

David Cameron, Britse premier, se voorstel dat getroudes – met die uitsondering van topverdieners – belastingverligting van tot £200 pond per jaar per paartjie kry.

As die parlement die voorstel goedkeur, sal die belastingverligting dalk reeds teen April 2015 – net ’n maand voor die algemene verkiesing – in werking tree. Tot 4 miljoen getroude paartjies sal daaruit voordeel trek.

“Al wat ons sê, is dat huwelike goed is vir ons land – dis die hoogste vorm van verbintenis wat regtens moontlik is – en ons wil ons steun daaraan toesê,”  het Cameron, leier van die Konserwatiewe Party, Saterdag in ’n artikel in die Daily Mail geskryf.

Hy sê die vergunning sal ook geld vir egpare van dieselfde geslag in siviele verbintenisse en later in huwelike. Mense van dieselfde geslag kan van volgende jaar af trou ingevolge wetgewing wat in Julie bekragtig is.

Die Arbeidersparty sê ander mense word benadeel en dat die voordeel in elk geval weinig werd is gegewe die welsynstoelaes waarop Cameron se regering sedert 2010 besnoei het.

“Hy is so uit voeling uit hy meen mense sal vir £3,85 per week trou,”  het Rachel Reeves, ’n LP van die Arbeidersparty, gesê.

Harriet Harman, adjunkleier van die Arbeiders, het op Twitter daarop gewys dat die voordeel net op bestaande huwelike van toepassing is. Iemand wat geskei is en weer getrou het, sal die voordeel trek – maar nie die ouer wat na die kinders uit die eerste huwelik omsien nie.

’n Groep wat hulself Don’t Judge My Family noem, sê die plan diskrimineer ook teen weduwees en wewenaars, enkelouers en saambly-paartjies. Een uit vier Britse kinders word groot in enkelouergesinne.

“Dit gaan daaroor dat ’n denkbeeldige 1950’s-gesin bevorder word en die geld gaan nie aan die gesinne wat steun die meeste nodig het nie. In dié moeilike tye moet die regering gesinne help en hulle nie veroordeel nie,” sê die groep.

Die belastingvergunning was reeds in 2010 deel van die Konserwatiewes se verkiesingsmanifes.

Die Liberaal-Demokratiese Party, die Konserwatiewe Party se alliansievennoot, is gekant teen die voorstel, maar mag buite stemming bly wanneer die wetgewing voorgelê word.

Nick Clegg, leier van die Lib-Dems, het die plan vóór die alliansie-ooreenkoms as “minderwaardige twak” bestempel. – Reuters

Sirië se chemiese wapenafbouprogram begin volgende week

opcwDie wêreldwaghondliggaam wat chemiese wapens beheer, se kundiges sal waarskynlik Dinsdag begin om Sirië se voorraad chemiese wapens te inspekteer.

’n Ooreenkoms betreffende die wapenafbouprogram is Vrydagnag ná middernag in Den Haag, Nederland, deur die uitvoerende raad van die Organisasie vir die Afskaffing van Chemiese Wapens (OPCW) bereik.

Die organisasie het ’n beroep op lidlande gedoen om vir die vernietiging van Sirië se chemiese wapens te betaal. Die OPCW het nie self genoeg personeel om die taak te behartig nie en nog kundiges sal aangestel moet word.

Anglo-Amerikaanse intelligensiedienste beraam dat Sirië sowat 1 000 ton sarin-, mosterd- en VX-senugas het wat dekades lank versamel is en op tientalle plekke landwyd geberg word.

Kundiges meen dit gaan riskant en duur wees om die chemikalië op te spoor en te vernietig in dié land, waar meer as 100 000 mense nou al in die burgeroorlog dood en miljoene haweloos gelaat is.

Sirië se chemiese wapens moet binne nege maande vernietig word – ’n proses wat lande soos Rusland en die VSA meer as tien jaar geneem het.

Sirië moet inspekteurs se veiligheid verseker en aan hulle “onmiddellike en onbeperkte toegang” tot alle wapenopslagplekke gee. Die OPCW-inspekteurs het 30 dae om al die opslagplekke wat deur Sirië uitgewys is, te besoek.

Sirië het nie sy eie inventaris van chemiese en ander wapens beskikbaar gestel nie en sekere bergings- en vervaardigingsaanlegte is nog nie bekend gemaak nie. Alle vervaardigingsaanlegte moet teen 1 November vanjaar vernietig word.

Dis nog nie duidelik hoe en waar die chemikalieë vernietig gaan word nie. Dié proses moet teen middel 2014 afgehandel wees.

Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad stem eerskomende Vrydag oor die plan. – Reuters

 

Veiligheidsraad aanvaar resolusie oor Sirië se chemiese wapens

chemwapensDie Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het eenparig ‘n resolusie aanvaar dat Sirië se chemiese wapens onder internasionale beheer geplaas moet word met die doel om dit te verifieer en te vernietig.

Dit is die eerste keer in die konflik van langer as twee jaar dat die raad konsensus kon bereik oor enige saak wat met die konflik-geteisterde land te doen het.

Die resolusie kom ‘n paar weke nadat Amerika en Rusland ‘n kompromie bereik het oor die vernietiging van die Sirese arsenaal.

Die organisasie vir die verbod op chemiese wapens in Den Haag sal die oorhandiging van die wapens hanteer. Die sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-Moon het die resolusie verwelkom, maar sê die gruwel wat deur konvensionele wapens in Sirië veroorsaak word, duur steeds voort.

Hy sê daar word daaraan gewerk om die strydende partye in November vir vredesamesprekings in Geneve byeen te bring. – RSG

Doodse stilte oor swart-op-wit aanvalle

haatmisdaadMnr Ben Pretorius, ’n pensionaris van Stilbaai, monitor die media landswyd oor aanvalle van swart op wit. Die volgende verslag pas van hom ontvang:

Graag hou ek verslag nr. 2 aan u voor oor die voortgesette aanvalle op boere en bejaardes. Die berigte strek oor die periode 30 Augustus tot 7 September 2013 en is gerapporteer in Beeld en Die Burger. Nuus24 / News24 is nie meer beskikbaar op internet nie. Geen berigte in Rapport en Sunday Times opgetel nie, ook bykans niks op RSG  of e-TV nie.

Wat erg interessant is, is dat geen aanvalle sedert 7 September gerapporteer is nie. Was daar geen aanvalle of is die media gemuilband? Het die mediabase dalk van my vorige skrywe kennis geneem en die openbare media gemuilband? Ek verneem graag van u kommentaar in die verband.

Die volgende insidente het plaasgevind 30 Augustus  – 7 September 2013:

30/8/13:   Lena – Maria Jackson, 62 jarige weduwee, is op plaas suid van PMB met strykyster gebrand, messe gesny en  beroof / 2/9/13:   Boer, Garth Johnson, (67) Waterval-Boven, in huis geskiet. Sterf in sy vrou se arms. Niks gesteel nie / 4/9/13:  Tukkie-student verjaag 4 rowers wat hom en sy meisie aanval deur ‘n Bybelvers hard op te bely in parkie in Andriesstr, Pretoria / 6/9/13:    Twee Zimbabwiërs skuldig bevind aan moord op Nederlander, Albert De Jongh (66) op 24 Okt 2011.  Het hom met pangas doodgekap en beroof / 6/9/13: Man van Springs word by sy huis oorval en beroof 6/9/13: Martin van der Linde (67) Sasolburg, deur rowers aangeval, aangerand en probeer versmoor met duvet. Moes 43 steke kry / 6/9/13: Derick Cave en gaste aaangeval deur drie rowers in  Victory Park, JHB, tydens kragonderbreking. Een rower gewond in skermutseling / 6/9/13: Cas Calitz (84) Vereeniging, aangeval, aangerand en vasgebind deur vier rowers,  met swart plastieksak oor kop getrek en gebind om hom te versmoor. Het gat in sak gebyt om te oorleef / 7/9/13: Elsabeth du Bruyn (71) weduwee en boer, Brandfort, oorval en vermoor in haar huis.

In teenstelling met bogenoemde, verklaar die Minister van Polisie op 4/9/13 dat die Valke die moorde op Polisiebeamptes sal ondersoek. Geen melding van bg insidente nie.In dieselfde week verklaar die Kommisaris van Polisie dat almal in SA veilig is. RSG rapporteer oor oorstromings in China, die dodetal en aantal beseerdes. Ook oor bus in Guatamala wat oor afgrond stort. In detail die aantal dood, beseer, rigting waarin bus gery het en die dorp waar dit plaasgevind het.

Ook oor oorstromings in Roemenië.

Geen reaksie van die politieke partye nie.

Dit lyk asof SA en sy slagoffers nie bestaan nie.

Vir meer besonderhede, benpret@evoafrica.com.

DitsemBlits

Rioollek ‘n kopseer in Tshwane

hennops
Hennopsrivier

Die riool wat by ’n mangat in ’n verlate veld langs Nellmapiuslaan uitstroom, vloei moontlik in die Ecorivier wat aansluit by die Hennopsrivier.

’n Lekkasie by ’n mangat in Irene kan moontlik bydra tot die toenemende besoedeling van die Hennopsrivier.

Riool wat by ’n mangat in ’n verlate veld langs Nellmapiuslaan uitstroom, het moontlik in die Ecorivier gevloei wat aansluit by die Hennopsrivier.

Die ingenieursafdeling van die Tshwane metro het reeds ondersoek by die lekkasie ingestel. Een van die ingenieurs het gesê dat hy ongeveer ’n jaar gelede die lekkasie aan die metro gerapporteer het, maar die lekkasie is nie herstel nie.

Intussen het riool uit die mangat gestroom en ’n vlei in die veld gevorm.

Daar is drie mangate in dié omgewing langs die Centurionse lisensiekantore is. Een mangat is langs die pad, ’n tweede een is waar die vlei gevorm het en ’n derde een wat die moontlike verstopping veroorsaak.

Die besoedeling is onlangs deur elektrisiëns ontdek toe hulle die kragdrade in die veld herstel het.

Intussen duur die stryd voort vir diegene wat verantwoordelikheid moet neem om die besoedeling in die Hennopsrivier te prober keer. – looklocal.co.za

Amcu-staking skop af

amcu2Die staking deur die mynwerkers vakbond, AMCU by Anglo American Platinum se myn op Rustenburg in Noordwes, het begin.

Die vakbond staak oor die beplande aflegging van meer as drieduisend werkers by die Amplats-myn.

Dit volg nadat onderhandelinge oor die afleggings tussen Amplats en die vakbonde by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie vroeër vanjaar deur die mat geval het.

Verteenwoordigers van AMCU, die polisie en munisipale amptenare het gistermiddag oor die staking vergader.

‘n Polisiewoordvoerder, Thulani Ngubane, sê hulle sal seker maak dat diegene wat aan die staking deelneem, hulle demokratiese reg uitoefen en die wet respekteer. – RSG

Farlam, uit sy diepte, drink tee

Ian Farlam
Ian Farlam

Regter Tati Makgoba van die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het uitspraak voorbehou in die saak oor staatsfinansiering in die Marikanaverhoor.

Hy het belowe om sy finale uitspraak te lewer voordat die Marikanakommissie sy verrigtinge aanstaande maand voortsit.

Die regsverteenwoordiger, Dali Mpofu, wat Marikanamyners verteenwoordig, het aan die hof gesê die President, Minister van Justisie en die Regshulpraad het geen regs-, morele of logiese rede om teen die regsverteenwoordigers te diskrimineer wat die Marikanaslagoffers en hulle families by die kommissie verteenwoordig nie.

Die Marikanakommissie van Ondersoek het suksesvol vir ‘n verdere verlenging van sy verhore aansoek gedoen. Die kommissie het die aansoek aan president Jacob Zuma gerig.

Dit is die derde keer dat die kommissie ‘n verlenging kry nadat hy nie sy spertyd kon haal nie. Dit is nie duidelik hoe lank die verlenging gaan wees nie.

Die kommissie het intussen tot die 14 van aanstaande maand verdaag. Die voorsitter van die kommissie, die afgetrede regter Ian Farlam, sê daar is nog baie werk wat gedoen moet word.

Ontleders meen die drie-en-sewentigjarige voorsitter speel vir tyd, aangesien hy reeds deur die slagoffers van die slagting in ‘n morele hoek gedryf is.

Farlam gebruik glo die voorsitterstoel om ‘n ligte luim tydens die verhore te probeer skep met grappies en allerlei kwinkslae terwyl hy Mpofu aanhoudend snobeer.

Behalwe dat Farlam, wat in Kaapstad gebore is op 14 Junie 1939, uit sy diepte is om die ooglopende morele aanklag te systap, is hy besonder lief vir sy tee.

Hy loer glo nader aan 11:00 deurentyd na sy horlosie en onderbreek verrigtinge om navraag te doen oor die stand van die teepouse.

Presies dieselfde proses word teen 15:00 klokslag met elke sitting herhaal. – RSG/praag

Naas verbaas oor boikotaksie teen Blou Bulle

Naas Botha
Naas Botha

Naas Botha, ’n voormalige Blou Bul en Springbok, het Afriforum se besluit om die Blou Bulle te boikot oor rassekwotas gekritiseer. Botha het gesê kwotas “is deel van ons sport en klaar”.

“Kom ons kry dít liewers reg sodat ons nie elke jaar dieselfde gesprek moet hê nie,” het Botha gesê.

AfriForum raai rugbyondersteuners aan om wedstryde op Loftus Versfeld te boikot, nadat die Blou Bulle Maatskappy (BBM) die jongste rassekwotabesluit aanvaar het.

Die uitvoerende hoof van AfriForum en lojale Bul-ondersteuner, Kallie Kriel, het gesê die BBM het verlede week op ’n vergadering van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) vir die kwotastelsel in die Vodacombeker-reeks gestem.

Kriel het gesê hy gaan daarom nie volgende jaar sy seisoenkaartjies hernu nie.

Praag het verneem dat die swak vertoning van die span in die Curriebekerreeks – en nie die onlangse kwotabesluit nie – die verkope van kaartjies reeds negatief raak.

Terwyl Kriel dus “politieke gedienstigheid aan die ANC se rasse-ideologie” die skuld vir swak bywoning wil gee, is dit eerder die span se powere vertoning waaroor rugbyliefhebbers kla.

Die Blou Bulle het voorheen rassekwotabesluite van Saru gedienstig uitgevoer.

“Stilswyende aanvaarding van die BBM en ander rugby-unies se steun aan rassekwotas in die Vodacombeker-reeks sal meebring dat Saru dieselfde soort rassemanipulasie in die Superrugby- en Curriebeker-reekse sal wil toepas,” het Kriel aan Beeld gesê.

Kriel, wat die afgelope tien jaar ’n seisoenkaartjie-houer op Loftus is, het gesê hy wil op geen manier help om kwota-rugby te finansier nie, alhoewel hy reeds die afgelope tien jaar presies dít doen.

Die uitvoerende hoof van die BBM, Barend van Graan, het gesê dit is BBM se skuld nie.

“Ons is net ’n lid van Saru,” het Van Graan geskerm. Saru het op 15 Augustus aangekondig dat al 14 provinsiale spanne ’n minimum van sewe swart spelers vir hul wedstryd-spanne moet kies. Ten minste twee voorspelers moet swart wees.

Die spanne moet ‘n minimum van vyf swart spelers insluit.

Van Graan het vroeër, voor die jongste kwotabesluit, aan Praag gesê dat rugby in elk geval ‘n korporatiewe sport is en dat die BBM nie finansieel van individuele Bloubulondersteuners afhanklik is nie.

Hy het ook voorspel dat die sport oor tien jaar heeltemal swart sal wees.

 

 

Tweede verdagte vas oor lyk in kattebak

Robinson
Robinson

‘n 32-jarige man is Donderdag in hegtenis geneem nadat die ontbinde lyk van IT-kundige in die kattebak van sy motor by Montecasino ontdek is.

Sowat R80 000 is ná die moord uit Dustan Blom se bankrekening onttrek.

’n Ontkleedanseres het Woensdag in die hof verskyn ivm die moord op Blom.

Die 24-jarige Marushcka Robinson sal in aanhouding bly tot haar volgende hofverskyning. Robinson is ’n dag nadat die lyk ontdek is, in hegtenis geneem.

Die polisie was op soek Robinson se vriend, Jean-Pierre Malan, om hulle met die ondersoek te help.

Die tweede verdagte sal van moord aangekla word en sal binne 48 uur in die hof verskyn.

Die motief vir die moord word nog ondersoek.

Die 36-jarige slagoffer se vrou, Talita, is vroeër vanjaar oorlede nadat sy die lewe geskenk het aan die paartjie se tweeling. Die tweeling is in die sorg van Talita se familie, berig The Star. – Sapa