Prof. Cathy Beukes, hoof van die departement anatomiese patologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het glo haar eie keel met ’n elektriese mes oopgesny, het Beeld berig.
Beukes (64) is Sondagoggend deur haar man, prof. John Shipley, oudhoof van die departement ortopedie by die Universitas-hospitaal, in hul studeerkamer met ’n snywond aan haar keel gekry. Sy was glo al dood.
Die dagblad Beeld sê geen misdaad word vermoed nie. Dit is nie duidelik hoe die verslaggewer tot dié gevolgtrekking gekom het oor die dood van ‘n forensiese patoloog nie.
Volgens die polisie is ’n elektriese mes by haar gevind, maar daar was nog geen nadoodse ondersoek wat die koerant se gevolgtrekking kon bevestig nie.
Beukes is deur prof. Gert van Zyl, dekaan van die UV se fakulteit gesondheidswetenskappe, as ’n “warm mens” beskryf.
Van Zyl sê Beukes het op akademiese gebied aansien geniet. Hy het sy medelye teenoor haar gesin uitgespreek.
